Hoe graag sal ons nie vandag die wonderwerke wil sien wat die Israeliete destyds gesien het nie!  Ek bedoel, net om die 10 plae te sien gebeur moes iets ongeloofsliks gewees het!  En dan die see wat oopgaan en weer toegaan en die Egiptenare wat saam met hulle perde en waens voor hulle oë wegspoel!  Dink net, as ons vandag sulke wonderwerke gesien het, hoe sou dit ons lewe verander het.  Ons sou makliker geglo het.  Ons sou seker minder getwyfel het of die Here bestaan.  Op ’n manier is ons soms jaloers op hulle omdat hulle al hierdie sigbare tekens van God se grootheid kon sien, maar ons moet glo sonder om te sien!

Miskien het jy vandag so ’n sigbare teken of wonderwerk in jou lewe nodig.  Miskien bid jy al vir weke of maande net om iets van die Here se teenwoordigheid in jou lewe te ervaar.  Miskien soek jy net bevestiging van die Here se teenwoordigheid in terme van jou  gesondheid of in jou huwelik of in jou gesin of by die werk of in jou finansies.  Hoe bevrydend sal dit nie wees as die Here weer in ’n wolk verskyn of in die vuur soos Hy destyds gedoen het net om te sê dat Hy nog daar is en dat Hy my raaksien, en dat Hy vir my sal bly sorg.

Wel die interessante is, ten spyte van al hierdie tekens het dit nie veel aan die geloof van die Israeliete verander nie!  Want na al die plae en die see wat oopgaan en die bitter water wat soet geword het by Mara, lees ons in die eerste paar verse van hoofstuk 16 dat die hele volk kla omdat hulle dink die Here gaan hulle laat doodgaan in die woestyn.  Ek het aanvanklik gedink dit is net ’n paartjies wat gekla het.  Een of twee wie se geloof hulle in die steek gelaat het.  Maar almal, die hele gemeente kla in vers 2!  Ek het ou Moses so jammer gekry, want ek weet hoe dit voel as een of twee kla, maar dit moet hel wees as ’n hele gemeente kla! “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet!”

Nou vriende, hoe verstaan jy dit?  Hoe werk dit dat hulle al hierdie wonderwerke sien, dat die Here in wolke en vuur aan hulle verskyn, maar steeds dink hulle die Here gaan hulle vir die dood los?

Weet jy, ons leer iets baie spesiaals van die Here in hierdie gedeelte.  Die Here het besondere geduld en genade met hulle gehad.  Hy het geduldig met hulle twyfel en ongeloof gehandel.  Opvallend in hierdie gedeelte was vir my 2 goed oor die Here.  Die eerste is dat die Here hulle twyfel en ongeloof en selfs in hierdie geval verset en gemoan opgemerk het.  Die Here het nie ’n dowe oor na hulle gedraai soos ons somtyds met mense maak waarna ons nie wil luister nie.  Hy het hulle nie geïgnoreer nie.  Inteendeel (vers 11): Die Here sê vir Moses: “Ek het die verset van die Israeliete opgemerk.” Letterlik beteken hierdie opmerk, om aandagtig van iets kennis te neem.  Met ander woorde, die Here luister aandagtig na dit waaroor mense ongelukkig is.  Hy luister aandagtig na dit waarmee mense worstel.  Hy luister aandagtig selfs na mense ongelowige reaksies.  Hy luister aandagtig wanneer mense sukkel om te glo!

En die tweede ding: dan doen die Here iets daaraan.  Hy wys vir hulle sy magtige teenwoordigheid.  Vriende, die Here het nie vir hulle kwaad geword nie.  Nee, Hy was geduldig met Abraham se twyfel en Moses se verskonings en nou vir die soveelste keer verseker Hy sy kinders dat Hy vir hulle sal bly sorg, dat Hy sal beskerm, dat Hy sal lei.

Ja, die lewe maak ook nie altyd vir ons sin nie.  Ons verstaan nie die rede vir ons paadjies deur die woestyn nie.  Ons sukkel ook somtyds om raak te sien waar die Here is in dit wat met en rondom ons gebeur.  Ons vergeet ook dat Hy gesorg het en tog weer sal sorg, net soos die Israeliete.  Ons raak ook bang en dikwels twyfelagtig en onseker.  Maar weet jy, die Here raak nie vir jou daaroor kwaad nie.  Ons dink dat die Here geïrriteerd en kort van draad en ongeduldig moet wees, soos wat ons is.  Kyk, as dit ek was, sou ek lankal die spulletjie teruggejaag het om in Egipte te gaan swaarkry.  Dit was vir my ’n wonderlike oomblik toe ek hierdie gedeelte lees en opnuut maar net weer besef: die Here het Goddelike geduld met menslike twyfel en ongeloof!  Hy verstaan dit!

Daarom vriende, nadat hulle hulle knuppeldik geëet het, kom die Here met hierdie interessante opdrag in vers 31-36.  Skriflesing:

Moses moet manna in ’n fles bêre vir die nageslag sodat hulle die kos kan sien wat die Here vir hulle in die woestyn gegee het.   En hierdie fles-manna was anders as die ander manna.  Want die manna wat elke dag op hulle gereën het kon nie langer as ’n dag hou nie dan het dit suur geword.  Maar hierdie fles manna was ’n blywende teken van God se sorg wat hulle vir jare saamgedra het!

En hoe ongelooflik is dit nie dat die Here in hulle geloofsbelewenis plek maak vir tekens!  Ten spyte van wolke en vuur en plae en rotse wat water uitspuit kry die volk hierdie eenvoudige teken van brood in ’n fles om hulle elke dag aan die sorg en liefde van die Here te herinner!

En ek het hierdie week oor hierdie fles manna nagedink.  Ek wonder of dit nie vir die volk ’n dubbele betekenis ingehou het nie.  Elke keer as hulle die fles uitgehaal het, het hulle eintlik hulle twyfel en ongeloof in ’n bottel gesien!  Ek bedoel, hulle moes sekerlik dan daaraan gedink het dat hulle vir die soveelste keer nie die Here vertrou het nie!  Hulle moes seker onthou het hoe hulle geloof hulle in die steek gelaat het.  So,  op ’n manier het die Here eintlik hulle ongeloof gebottel!  Kyk hier, onthou julle die tye toe julle so in My getwyfel het?  Het julle nie dalk toe daarin iets van My geleer nie?

Ons het ’n praatjie bygewoon oor celebrating failure, waar dit gegaan het oor die wonderlike ding dat ’n mens eintlik net leer uit die foute wat jy maak.  En dat ons daarom die vreemde ding moet doen om jou foute te vier as ’n proses waarin jy groei en leer en verander.  En dit is vir ons vreemd, omdat ons foute wil wegsteek, wil beperk en van vergeet.  Foute is nou nie iets wat ons graag wil vier nie.

Maar geloof vriende, is nie net om die goeie te vier en te onthou nie, maar juis ook om die fles uit te haal en te onthou van die tye toe ons in die woestyn was en getwyfel het.  Te onthou toe ons swaar gekry het, toe ons oor die Here en sy teenwoordigheid in ons lewens gewonder het. Toe ons die plan van die Here vir ons lewens nie so duidelik kon gesien het nie.  Jy sien, ons praat te maklik ons ongeloof en twyfel en geloofsvrae en krisisse weg.  Ons wil te maklik daarvan vergeet en aangebeweeg met die gevolg dat ons die geleenthede mis om daaruit te leer en te groei en te verander.

Hier bottel die Here die twyfel en ongeloof, juis sodat die volk kan leer en kan ontdek en kan onthou wie hierdie getroue God is.  (Stap af na die nagmaalstafel)

Die manna in die fles, was aan die ander kant ook ’n wonderlike teken en herinnering van hoe die Here sorg.  (Haal die fles uit) En hulle kon die fles uithaal en vertel hoe goed die Here is.

Vriende hoe lekker sou dit nie gewees het om vandag plae en wolke en vuur en water as tekens van God te sien nie.  Maar wat ’n wonderlike voorreg dat ons vandag een van die kosbaarste tekens van God se blywende sorg en liefde met die Israeliete kan deel.  ’n Fles met brood in!  Paulus skryf in 1 Kor 10:3 van die geestelike manna wat ons kan eet en wat ons voed met die brood van die lewe.

Nagmaal is hierdie fees van die gebottelde ongeloof en die brood wat geloof kom voed.  Wat jy vanmôre in hierdie tekens moet onthou is die vele kere se twyfel, die vele kere se sonde, die baie verkeerde keuses, die vrae, die woestyne, die worstelinge, die ongeloof.  Maar wanneer jy jou hand in die fles insteek herinner die Here jou met hierdie teken aan sy geduld en liefde vir jou.

Hierdie fees is ’n diep persoonlike ontmoeting met die lewende Here.  Dit is ’n teken van die Here vir jou!  En wanneer jy met jou ongeloof handjies die brood uithaal om te eet, kom sê die Here vir die soveelste keer maar net weer: selfs al was jy die enigste een op aarde, sou Ek nog steeds vir jou gesterf het.  En as jy ’n teken soek, ’n teken van die Here se geduld en liefde en teenwoordigheid, hoef jy vanmôre nie verder te kyk as die brood en die wyn nie.

(Breek die brood) Wanneer jy van hierdie brood eet, herinner dit jou nie aan die brood wat sagkuns soos sneeu uit die hemel geval het nie, maar aan ’n liggaam wat stukkend gebreek is vir jou.  En wanneer jy drink, is dit nie van ’n helder stroompie water nie, maar van ’n liggaam waaruit lewegewende bloed gevloei het.

Hier is die teken vanmôre.  Mag hierdie fees jou voed en versterk tot ’n lewe van geloof en vertroue.  Amen.