Koring en  drabokHierdie is ‘n teks wat my verrassend begin help het met my worstelinge en frustrasies in ons SA konteks.  Want ek soek die helse vuur oor renosterstropers en korrupte amptenare!

Maar eers op ligter noot:

So word daar destyds deur ’n dame op die radioprogram ingebel. Haar probleem is: sy het in ’n nuwe huis ingetrek. Die erf is verwaarloos en oorgroei. Sy soek raad. Hoe onderskei jy tussen die blomme en die onkruid in hierdie oorgroeidheid?

Die raad is eenvoudig: Skoffel alles uit. Dit wat weer opkom is die onkruid!!

Dit is klink amper iets van hierdie gelykenis van die Here Jesus.

Die gelykenis is deel van ’n hele reeks gelykenisse oor die Koninkryk van God.

Die tema “Koninkryk van God” sou die sentrale tema van Jesus se prediking genoem kon word.

Daar is egter in Matteus se weergawe ’n baie interessante woordgebruik:

Matteus vertel dat Jesus preek oor die “Koninkryk van die hemele” en nie oor die “Koninkryk van God” nie.      Waarom so?

Die rede daarvoor is waarskynlik die Joodse agtergrond van die eerste lesers.

Hulle was so bang dat die derde gebod oor die misbruik van God se naam oortree sal word, dat hulle verkies het om God se naam liewer glad nie te gebruik nie. Daarom word “Koninkryk van die hemele” eerder gebruik as die “Koninkryk van God”.

Wat word dan bedoel met Jesus se leer oor die Koninkryk van God/hemel?

Dit gaan oor die omvattende nuwe bedeling waar God se koningskap op alle terreine van mense se lewens duidelik sal word.

Jesus se koms sou hierdie nuwe bedeling inlei.

Die tema van die koms van God se Koninkryk is nog net so relevant vir ons vandag.

Ons almal verlang seker op ’n manier na die koms van die Koninkryk en dat God erken en gedien sal word op alle lewensterreine.

 

Die manier waarop die Koninkryk moet kom is die saak waaroor die lering van Jesus handel.

Dit is interessant hoe Matteus vir ons die verhaal vertel.

Eers handel hy oor die rede waarom Jesus die stylvorm van die gelykenisse gebruik.

Sodat ook die outjies wat stadig van begrip is, die groot geestelike waarhede kan verstaan.

Dan vertel Jesus die gelykenisse van die saaier, die onkruid (ons fokusteks), die mosterdsaadjie en die suurdeeg.

Eers na ’n verdere opmerking oor die gebruik van gelykenisse, kom Matteus terug na die gelykenis oor die onkruid.

Die dissipels kom vra uit oor die gelykenis. Hulle verstaan dit nie so lekker nie.

Oënskynlik is hulle nie so vlug van begrip nie of die saak is ’n bietjie meer kompleks as wat hulle gedink het.

Miskien is hier ’n groter verkondigingsmoment as wat ook ons sou verwag.

Ek sou ook nie die teks gepreek het as dit nie vir my self ’n verrassende moment ingehou het nie!

Daarom moet ons vanoggend bietjie langer by hierdie verduideliking stilstaan.

Die saak op die tafel is baie aktueel.

Dit gaan oor God se karakter, dit gaan oor ons verwagtinge oor hoe die Koninkryk kom en dit raak self die heel praktiese bediening in die gemeente.

 

Mense sê soms oor die prediking: “Dominee, kap hulle ’n bietjie!”

Dit beteken: wees ’n bietjie kwaai en VERTEL hulle!

Agter so ’n opmerking lê daar nie net ’n passie vir die koms van die Koninkryk nie, maar ook ’n bepaalde Godsberip. Daar agter lê ’n idee van hoe die bediening behoort te geskied.

Dit is iets van ‘n “zero tolerance” en ongeduld met die huidige bedeling en sy sondigheid.

Interessant dat Johannes die Doper hierdie styl van bediening gehad het. Sy terminologie is dié van “slange”, “die byl lê al teen die stam” en die vuur wat wag vir die kaf.

Daar was ’n verwagting dat Jesus die Koninkryk sal laat kom met magsvertoon en ’n onmiddellike omkering van sake.

Hy moes sommer gou die moeilikheid en moeilikheidsmakers uitsorteer

Dit was ’n persepsie wat ook by die dissipels geheers het, tot laat in Jesus se bediening.

Net voor sy hemelvaart vra hulle vir Jesus:

“Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (Hand 1:6)

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring is egter ’n lering oor Goddelike geduld.

Dit lyk my of geduld en genade deel is van God se karakter.

Die staatsgreep-tipe styl van magsvertoon pas nie by God nie.

 

Die storie:

Die vyande het gekom en in die nag onkruidsaad tussen die koring gesaai.

Dit was nie ’n vreemde sabotasiestrategie tussen vyande nie.

Hulle saai onkruidsaad tussen die koring.

Die onkruid is nie sommer allerlei onkruid nie.

Die Griekse zizania verwys na ’n tipe onkruid wat aan ons heel onbekend is in SA.

Dit kom in die Midde-Ooste en Noord-Afrika voor.

In Afrikaans word dit “drabok” genoem. (Eng: darnell grass, Wetenskaplike naam: Lolium temulentum.)

Die probleem is dat dit as jong plante amper net soos gewone koring lyk. Daarom is dit nie wenslik om die geel koring op jong ouderdom te probeer uittrek nie. Eers as hul sade gevorm worm, word die verskille duideliker. Draboksaad is donkerder tot swart, terwyl koring heuning-kleurig is.

’n Verskil wat nie met die oog sigbaar is nie, is dat die draboksaad matig giftig is.

Geen wonder dat dit as Satan se saaisels beskryf word nie.

Die klem val egter nie hier op Satan en sy strategieë nie, maar op God en sy geduld.

Die skeiding sal eers kom by die eindoordeel.

Tot dan is dit genadetyd.

As ons hierdie gelykenis lees, dan bring dit ons by ’n eerlike ondersoek oor hoe ons oor die Koninkryk van God dink.

Wil jy nie heimlik ook ’n magsvertoon hê nie?

Wil jy nie ook hê dat God die onkruid met mening moet uitkap en uitroei nie?

Daaragter skuil dikwels dat ons so ongeduldig is met die onkruid en sondaars omdat ons nie bereid is om te sukkel tussen die sonde en onkruid nie.

Miskien moet ons meer ruimte maak vir God se plan. Dit

Al verdruk die draboksaad en sonde ons in ons rustige bestaan.

Dit is ’n plan met ’n groot skep geduld.

“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”   (2 Pet 3:9)

God se geduld het niks te make met verdraagsaamheid van die sonde nie.

Dit is God se uitdeel van genadetyd vir die sondaar om tot bekering te kom.

Die afsnypunt en oordeel sal beslis kom.

Die verhaal vertel vir ons van die moeite waarmee tussen die draboksaad en die koring onderskei word.

Nou is dit nie so vanselfsprekend dat ons die koring is en die sondaars die draboksaad nie.

Die skeiding tussen koring en onkruid loop ongelukkig reg deur ons eie harte.

In elkeen van ons se harte skuil daar ’n klomp drabok.

Ek vertel eers vir julle van ‘n Russiese Nobelpryswenner vir letterkunde. Alexander Solzhenitzyn. Hy was kritikus van die Russiese kommunistiese regime. So het hy met daardie regering gebots. Hy is gevange geneem en het jare lank in ’n interneringskamp moes deurbring waar hy ook dwangarbeid moes verrig. Hy het uiteindelik politieke asiel by die VSA gekry en het daarheen kon vlug.

In die interneringskampe kon hy genoeg van die menslike natuur gesien om te kon onderskei tussen “goed” en “sleg”, of dan, tussen drabok en koring.

Hy skryf aangrypend daaroor: “If only there were evil people somewhere insidiously (verraderlik) committing evil deeds, and it were necessary only to seperate them from the rest of us and destroy them. But the line deviding good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?”

Jy sien, dit is die diepe moeilikheid: nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart.

Wanneer ons dit verstaan, dan kry ons nuwe waardering vir God se geduld met die saailand.

Dan hou ons op om saam te skree met die koor van stemme wat God aanpor om dinge nou dadelik reg te ruk en sy vuur los te laat. Daardie vuur kan vir my en jou baie seer skroei.

 

Nou kom ons by die wonderlikste stukkie evangelie.

In die natuur kan drabok nie in koring verander nie.

In God se Koninkryk is dit egter moontlik!

God kan drabok-harte in koring-harte verander.

God het hoop vir drabok.

God nooi drabok om in te kom na sy Heilige Gees se laboratorium dat hy die metamorfose kan doen.

Hy kan nuwe Goddelike gene oorplant in drabok-harte.

Die Here Jesus praat van wedergeboorte en Hy praat van bekering.

 

Waar begin hierdie proses?

Dit begin by die laaste vers van die verduideliking:

“Wie ore het, moet luister.”

Luister na God se genade-hart.

Luister ook na die oordeelsaankondiging en neem dit ernstig.

Maar kom dan in na die laboratorium van die Heilige Gees.

Waar dit gebeur, lees ons die wonderlike word:

“Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.” (:43)

 

Ek sluit af:

Hoe reageer ons as sy kerk nou op hierdie verhaal van die koring en die drabok?

Daar kan meer maniere wees om te reageer.

 

  1. Leer om meer met God se geduld te wag vir die wonders om te gebeur.

As dit nou van my en jou afgehang het, het ons in hierdie Suid-Afrika al ‘n paar groot vuuroonde gehad. En dit is nie privaat braaivleisvure nie!

Miskien moet ons meer vir God vertrou dat Hy besig is met ‘n oesplan wat meer vrugte gaan dra as wat ons verwag.

 

  1. Raak maar weer bewus van die drabok in jou eie hart. Omarm die wonderlike liefde geduld en genade van Jesus.

Hy droom oor jou dat jy geheel en al ‘n koringhart sal kry.

Hy droom dat jy sal skitter soos die son. (:43)

 

  1. Begin om medewerker te wees in Jesus se saailand.

Nie om die onkruid rondom jou uit te trek nie. Want dan gee jy hulle nie kans om te verander nie!!

As jy wil onkruid uittrek en die wêreld wil regruk, doen dit in jou eie hart.

 

Daar is egter grond wat geploeg moet word.

Daar is saad wat gesaai moet word.

Daar is water wat gelei moet word.

So kom die Koninkryk van God…..

Genadiglik, veranderend, stelselmatig, verrassend nuut, maar ook met geloofsvolharding en gehoorsaamheid.

Amen.

 

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.