Jou oë is die vensters van jou siel.  Daardeur bedoel ons dat oë op ’n manier ’n storie vertel.  Hierdie foto van ‘n Afganistan meisie het die harte en verbeelding van die wêreld ’n paar jaar terug aangegryp.  Seker een van die bekendste foto’s.  Baie interpretasies is hiervan al gemaak, maar haar oë was die storie wat vertel is.  Ons het die afgelope week in Mosambiek ook oë gesien wat uiteenlopende stories vertel het.  Baie oë was oud en dof, maar daar was ook oë vol moedeloosheid en hooploosheid, oë vol desperaatheid.  En dit is hierdie stories wat oë vertel het, wat ons aangeraak het en wat ons op ’n manier terug roep om verder te gaan help.   

Jesus vertel in Lukas 11 dat jy nie in ’n donker kamer ’n lamp opsteek en dit dan wegsteek of toemaak nie.  Ons weet dit!  As jy in die donker ’n lig aansit, sorg jy dat die lampskerm skoon is sodat die lig die hele kamer kan verlig.  En so gebruik Jesus hierdie beeld om te sê dat Hy die donker wêreld ingestap het.  1 Johannes 1:5 sê: “God is lig en in Hom is daar geen duisternis nie.”  Jy sien, die dag toe Jesus die donker kamer van jou hart ingestap het, was dit lig in jou lewe!  Daardie oomblik het Jesus die lig aangesit en die donker finaal verdryf.  Die Lig het na die wêreld toe gekom, en dank die Here vanmôre dat ons die lig kan sien!  Dank die Here dat daar mense onder die bome van Mosambiek sit, wat vanmôre die Lig saam met ons kan sien omdat ons lewe in die lig wat Jesus gebring het!

Maar vriende, dit lyk vir my uit hierdie gedeelte, daar is twee maniere waarop jy op die lig kan reageer.

As jy in ’n vliegtuig oorsee vlieg, gee die lugwaardin vir jou ’n pakkie.  In die pakkie is daar onder andere ‘n oogklappie.  Jy kan dit op jou oë sit sodat daar nie lig kan inkom nie.  Dan kan jy lekker slaap.  Vriende, ongelukkig is daar mense wat die lig sien, wat weet of wat gehoor het dat die Lig na die wêreld toe gekom het, maar wat oogklappe aansit sodat die lig nie hulle lewens kan verander nie.  Johannes praat daarvan as hy sê dat die Lig na die wêreld toe gekom het, maar dat baie eerder kies om in die donker te lewe!  Jesus verwys in Lukas 11 na die fariseërs wat Hom tog gesien het, wat na sy woorde geluister het, maar wat toe nie die Lig in hulle donker lewens wou toelaat nie.  Mense gaan vandag verlore omdat hulle eerder vir die donker kies.  So die eerste reaksie is om die lig uit te blok.

Maar daar is ’n tweede, miskien gevaarliker manier om met die lig te handel.  “Die lamp van jou liggaam is die oog.  As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig.  Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.  Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie.” sê Jesus.  Daar is mense wat die Lig aangeneem het, maar in wie se harte en lewens die lig so stukkie vir stukkie dowwer word.  Amper soos die skakelaars in ons huise wat jy kan draai om die lig te verdof (dimmers), so word die lig in ons lewens ook stukkie vir stukkie dowwer gemaak.

Lig wat donker word.  Die lig van Jesus wat stelselmatig dowwer word in ons lewens.

’n Katarak is ‘n ding wat lig keer.  Dit maak die lens van jou oog dof sodat jy stukkie vir stukkie slegter begin sien tot op ’n dag wanneer jy besef, maar dis nou donker!

En jy sien, presies dit gebeur in ons geestelike lewe en in ons verhouding met die Here Jesus.  Trouens, dit is waarteen Jesus waarsku as Hy sê: Pasop dat die lig nie donker word nie!  As ons ons geestesoë verwaarloos, dan gebeur dit dat ons visie op God verdof!  As jy toelaat dat die katarakte oorneem, gaan jy God later nie meer so duidelik raaksien nie.  En wanneer jy God nie in jou lewe of in jou omstandighede of in jou bekommernisse of in jou hartseer baie duidelik raaksien nie, raak dit vinnig donker in jou lewe.  Want Hy is die Lig!

En daarom moet ons dalk vanmôre vir mekaar vra: Hoe goed is ons oë?  Miskien is dit nodig dat ek en jy ook weer vir ’n slag ons oë toets.  Toets hoeveel van Jesus se lig laat ons toe in ons lewe! Kan die lig van God nog ons lewe vrylik binnekom en die donker in ons lewens verlig en uitwys of verander?  Of keer ons die lig?  Hoeveel lig sien ons, of is ons oë al so toegegroei deur die katarakte dat ons saam met die wêreld in die donker van negatiwiteit en pessimisme vasval omdat ons oë nie meer vir Jesus as die lig kan sien nie?

Jy sien vriende, as jy nie gereeld jou oë toets nie, gebeur dit maklik dat jy gewoond raak aan die donker.  As jy vanuit die lig in ’n donker kamer instap is dit mos net ’n rukkie dan pas jou oë by die donker aan.  En kort voor lank weet jy waar jy is en wat rondom jou aangaan en kom jy op ’n manier reg in die donker.

Juis dit is die gevaar van geestelike katarakte.  Dit is Jesus se waarskuwing: Passop dat julle nie gewoond raak aan die donker nie!  En ek moes hierdie week vir myself eerlik die vraag afvra: Is ek nie dalk al so gewoond aan die donker, so gemaklik met die sonde in my lewe, dat sonde nie meer vir my sonde is nie?  Is ek nie dalk so gewoond om saam met die sonde te lewe, so gewoond aan ’n flouerige verhouding met die Here Jesus dat ek al daarmee vrede gemaak het om met ’n sonde-katarak saam te lewe nie?

As ons die lig van Jesus in ons lewens ten volle toelaat, vra ek jou: sal daar dan soveel huwelike wees waar sonde soos ontrouheid en deesdae selfs pornografie toegelaat word om verhoudinge te verwoes?  As ons oë die lig van Jesus baie duidelik sien, sou daar dan soveel Christene wees wat in die donker wêreld van losbandigheid en oneerlikheid verdwaal?  As ons oë die lig van Jesus in ons huise en gesinne raaksien, sal ons dan nog die geestelike versorging van ons gesinne verwaarloos en Jesus op ons prioriteitslysies afskuif?  As ons oë die lig van Jesus so nodig het, sal daar dan soveel blinde mense steeds wees wat net hulleself raaksien en vir hulleself lewe?  Baie kinders van die Here is maar tevrede om met ’n flouerige liggie te lewe waar Jesus se lig net skyn in sekere vertrekke van hulle lewe.  Die lig word Sondae aangesit, maar iewers in die week word dit gedim en word ’n lewe in die donker gemakliker as ’n lewe in die lig.

Miskien moet ons toelaat dat Jesus met sy ondersoek liggie vir ’n slag in ons oë kom skyn sodat ons kan gaan dink oor die geestelike katarakte in ons lewe wat die Lig keer en ons visie op God verdof.

Jesus sê: “As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig.  Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.”

Twee oë kan op 2 verskillende maniere na dieselfde ding of situasie kyk.  Jy kan met ’n donker oog na enige iets kyk en net donker sien, of jy kan lig sien selfs in die donker waarin jy is.  Jy kan met ’n donker oog kyk en gevolglik ’n donker gemoed hê, of jy kan met ’n oog kyk wat lig sien, en lig in jou gemoed hê.  En weet u, dit is een van die merkwaarigste goed wat ek in Mosambiek beleef het.  Die absolute dankbaarheid in oë vir die eenvoudigste goed soos kos, ’n bril, ‘n tennisbal of ’n fiets om op te ry.

Ek het terug gery en gedink, my oog moet meer lig sien.  Ek moet vir ’n slag kies om met ’n goeie oog te kyk.  ’n Oog wat nog die mooie raaksien en dit waardeer.  Daarom wil ek vandag dankie sê vir kos, vir ’n huis, vir gesondheid, sê dankie vir jou gesin, vir jou ouers, vir jou huweliksmaat, vir jou kinders, sê dankie vir jou werk.

As jy kies om met ’n oog te kyk wat lig sien sal jy nog baie kry om oor dankbaar te wees.

Slot:

Vrydagoggend toe die hele saaltjie volgepak is met mense wat weer kan sien, het ek die voorreg gehad om ’n paar woorde te kon sê.  Ons het die Here gedank vir mense wat blind was, maar wat nou weer kan sien.  Ek het gesê daar is mense wat kan sien, maar wat geestelik blind is.  En dit is die mense waarheen die Here hulle stuur met die getuienis dat Hy hulle blindheid genees het, maar ook  geestelike blindheid kan genees sodat mense die lig en die hoop kan sien wat daar in Jesus Christus is.

Ek lees toe Vrydag van die oogsentrum in Hospitaalpark met die naam Horizon Eye Care Centre.  En die naam het sy oorsprong by ’n aanhaling van Ralph Emerson: “The health of the eye demands a horizon.  We are never tired, as long as we can see far enough!”  Jesus wil katerakte verwyder sodat sy kinders met helder, blink oë kan gaan lewe.  Ons is geroep vriende, om in hierdie wêreld ver te kan sien, verder en selfs verby die donker van die hier en die nou.  En omdat ons ver kan sien, mag ons blink oë nie dof raak nie, nie net ter wille van onsself en ons eie uitsig op die Here Jesus nie, maar veral ook ter wille van ’n wêreld wat in die donker leef sonder die Lig en hoop van Christus Jesus.  Gaan lewe dan met blink oë, want julle is die lig vir die wêreld. Amen

Gebed: FOTO

Opvallend van die oogkliniek is die gidse wat saamkom.  Dit word daardie mense se oë.  Jy sien, want as die katerakte oorgeneem het, kan jy nie op jou eie kom by die plek van genesing nie.  Jy het iemand nodig.  Iemand wat jou by die hand kan neem en jou kan begelei.  Vanmôre kom die Heilge Gees en neem jou by die hand.  Hy wil jou lei sodat jy weer die lig kan sien.  Miskien moet jy vanmôre bereid wees om die teater in te stap sodat die Geneesheer sonde-katerakte kan verwyder.  Miskien moet Hy net weer vir jou ’n ander bril opsit sodat jy die Lig kan sien in die donker.  Miskien moet Hy oogdruppels ingooi sodat jy weer met helder, blink oë vir Hom kan gaan lewe.  Tyd vir gebed.