André Oosthuizen

As daar nou een sinnetjie is wat in my huis meer as enige iets weergalm is dit: Maak gou! En dit is nogal skrikwekkend as jy daarna begin oplet, hoe ons die spoed van ons lewens opdraai.

Die oomblik as my kinders hulle oë in die môre oopmaak word hulle gegroet met die gedagte dat spoed nodig is.

Fast food is’n mooi opsomming van ons tyd. Kos moet vinnig gemaak word, vinnig afgelewer word, vinnig geëet word.  Ons lewe is in fast forward!

En hierdie fast food en fast forward mentaliteit spoel ook oor in ons verhouding met die Here Jesus. Daarom is een van ons grootste worstelinge, waarom maak die Here nie gou nie? Hoekom vat Hy so lank om te antwoord of so lank om uitkoms te gee?

En vriende, ons dink nie genoeg hieroor nie. Spoed is een van die groot redes waarom ons lewens ongebalanseerd is. Ons sien uitbranding, moegheid en irritasie, verbrokkelde verhoudings, gebrekkige kommunikasie. En dit is alles op ‘n manier simptome van hierdie vinnige lewenstyl. En kyk, ons kla almal daaroor, maar wat doen jy daaraan? Wat het jy al gedoen om jou gejaagde lewe stadiger te maak, behalwe om daaroor te kla?

En ons moet vanmôre daaroor saam dink. En Paulus het vir my in die week gehelp.

In Ef 5:9 sê Paulus ons is mense van die lig. En mense van die lig het ’n bepaalde lewenstyl. ’n Bepaald manier van lewe. En hierdie lewenstyl is in kontras met die wêreld, met die duisternis. Dit lyk anders, dit het ander waardes. Dit word anders ingerig.

Daarom sê vers 10, om so lewenstyl te hê moet ons onsself voortdurent afvra of iets vir die Here aanneemlik is. Met ander woorde, jy moet toets of dit waarmee jy besig is en dit wat jy doen vir God aanneemlik is. Engels praat van “pleasing to the Lord”.

Wanneer laas het jy die dinge in jou lewe waarmee jy besig is getoets?

En ek reken dit is een van die hoofredes waarom die lewe partykeer so vinnig spin dat ons nie kan byhou nie en uiteindelik moeg uitsak. Ons toets nie gereeld dit wat ons doen of waarmee ons besig is nie. En dit is Paulus se gedagte in vers 10: “Vra julle gedurig af of iets vir die Here aanneemlik is.” Toets gedurig! Ons sou ook kon sê toets deurlopend. En partykeer moet ons eers in ’n hospitaal beland of totaal ingee voordat ons kom by die punt waar ons toets of evalueer waarmee ons besig is.

En hierdie toets is eenvoudig. Dit het net twee vrae of dan twee beginsels:

  1. Die skaal moet balanseer

Balans in die lewe is eenvoudig: As jy iets bysit moet jy iets wegvat. En omdat ons nie gereeld toets of evalueer nie, is die siekte van ons tyd, ons vat by sonder om weg te vat! Ons laai op sonder om af te laai. Want ons wil wys ons kan baie dinge doen. Ons wil wys ons kan cope en ons is sterk. Ons wil mense tevrede hou en skuil agter die verskoning dat ons sukkel om nee te sê. En dan tip die skaal.

  1. Toets dit wat jy opsit!

Daarom, om gebalanseerd te lewe volgens die waardes van die lig, moet jy toets wat jy opsit! Liewe kind van die Here, jy kan nie enige iets bysit nie! Die Here het in hierdie week vir my geleer dat sy kinders suinig moet wees met wat ons bysit. Dit wat jy bysit moet die toets deurstaan of dit goed en reg en waar en aaneemlik vir God is. Maw, kinders van die Here Jesus sit selektief by. Hulle raak selektief betrokke. Hulle is uiters kieskeurig met wat hulle bysit en waar hulle betrokke raak. Want dit wat jy bysit en daar waar jy betrokke raak moet die toets slaag of dit pleasing to the Lord is! Dit moet vir God aanneemlik wees! Dit moet die lig helderder maak. Dit moet tot voordeel van God se kerk en sy koninkryk wees. Anders is dit vrugteloos (useless) sê vers 11. En vrugtelose praktyke waarmee jy jouself besig hou mors net jou tyd en maak jou moeg. En jy moet dit weggooi, of los!

Ons toets te min! Ons doen dinge en sit goed by sonder om te toets of dit die moeite werd is!

En vriende, daar is eenvoudig goed wat ons moet doen. Maar daar is ander goed in ons lewens waarvoor ons JA sê wat maak dat ons so besig is of so moeg raak dat ons uiteindelike vir God dan NEE sê as Hy ons vir iets wil gebruik.

Ek het so ’n opsomming agter op die afkondigings gesit. Miskien moet ons fisies neerskryf waarmee ons besig is en toets of dit vir God aanneemlik of vrugteloos is.

Byvoorbeeld:

Pa en ma, ons moet toets of ons kinders gebalanseerd is. Ons moenie hulle skaaltjie ongebalanseerd laai nie. Kinders se skaaltjie tip al van kleins af. En so maak ons volwassenes groot met ongebalanseerde lewenskaaltjies!

Daar behoort ’n ongeskrewe reël in elke huis te wees. As jy iets byvoeg, moet jy iets wegvat. Dit is mos wat balans beteken! Dit wat die een kant opgesit word, moet die ander kant weggevat word. Dit is ‘n gebalanseerde lewe!

Jesus is ’n baie goeie voorbeeld van ’n gebalanseerde lewe. Mense het baie van sy tyd, energie en aandag gevra, maar dan het Hy mense uit sy lewe weggevat. Hy het Hom gereeld van mense onttrek. Hy het eenkant gaan sit, of op ’n boot weggevaar of alleen op die berg gaan bid.

Deel van God se skeppingsplan is balans! Dit is soos Hy ons gemaak het.

Dit wat Prediker leer oor tyd, is niks anders as ’n gebalanseerde lewe nie. Balans is die lewensritme wat God ons wil leer. Ek het dit al gesê, maar so byvoorbeeld is die 4de gebod oor die Sabbat juis gegee om ons te help met balans. Om ons te help en te leer om stadiger te lewe, maar ook om weg te vat.

Baie mense het hierdie balans verloor en lewe volgens ’n ander ritme. Daarom is dit nie snaaks dat die spoed van die lewe ons vang nie. Want ons ignoreer die balans en lewensritme wat God daar gestel het.

 

Slot:

Uitbranding, moegheid, vrugtelose praktyke (useless goed) waarmee mense besig raak, is vandag’n simptoom van ‘n ongebalanseerde leefstyl aangejaag deur die “maak gou”- mode. Maar as kind van die lig stuur die Here ons om te gaan toets of dit waarmee ons besig is, die beste is wat ons met ons tyd kan doen.

Hoe lyk jou skaaltjie?

Wanneer laas het jy getoets of hy balanseer?

Miskien moet jy wegvat. Of miskien moet jy juis iets meer sinvol bysit. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, maar toets dit alles en probeer te wete kom wat die Here wil hê wat jy moet doen en waarmee jy moet besig wees. Amen