Andre Oosthuizen  andrej@webafrica.org.za

Ek het op die platteland groot geword.  My pa was die dominee van die NG Kerk.  Een van die eienaardige goed wat ek as kind onthou, is dat ek nooit verstaan het waarom al die maatjies nie in ons kerk is nie.  Daar was die NG maatjies … en dan … die ander maatjies.  Hulle was in ‘n ander kerk omdat hulle, soos ek dit daardie tyd verstaan het, kerk toe gegaan het sonder ‘n pak klere en ‘n wit das en met ‘n kitaar en dromme in die kerk gesing het.  Ek het gehoor hulle was die happy clappies.  En het verstaan happy clappies is mense wat dit geniet om in die kerk te sing, anders as waaraan ons gewoond was.        

Later het die happy clappies net ‘n grander beskrywing gekry.  Ek het gehoor ‘n mens noem hulle charismaties.  Of as jy wil sommer van die … charismate.  En ek het agtergekom charismaties verteenwoordig dikwels alles wat ons uit ons kerk uit wil hou.  Dit was nou dinge soos om sonder ‘n das kerk toe te gaan of om met ‘n kitaar te sing, of om hande te klap en selfs jou hande op te lig in die kerk.  Vandag weet ek charismaties beteken, om onder die kragveld van die Heilige Gees te sing, te bid, te loop, te dink, te praat, te leef. So anders as wat ek eens gedink het.

Punt is vriende, ons hou daarvan om mense in groepe te verdeel of in boksies te sit.  Ons het voorverlede week gelees dat Levi die tollenaar in ‘n bepaalde boksie gesit is en verlede week gehoor oor Nataniël en Filippus en vooroordele.

As die Here Jesus nou vir sy dissipels oor gebed leer, noem Hy hier ‘n geloofsdissipline wat om verskeie vreemde redes – wat ek nie vanmôre oor kan uitwy nie – , nie noodwendig in ons boksies pas nie.  Dit is die geloofsdissipline van vas.

En dit is ‘n lang relaas om vanmôre te sê dat ek jou nie sal kwalik neem as jy sê, hierdie jong domineetjie is nou besig met happy clappy goed in ons kerk nie.  Maar kom ek sê net dit by.  Die waarheid word nie getoets of dit in ons boks inpas nie.  Die waarheid word altyd getoets alleen aan een maatstaf en dit is die Woord van God.  Dit is wat Gereformeerd beteken.  En ons vier dit hierdie jaar met die 500ste herdenking van die Reformasie.  In hierdie Geloofsentrum Universitas moet alles wat ons doen en alles wat ons sê net een toets deurstaan en dit is of dit Bybels is.  Skrifgefundeerd!

Ons lees op heelwat plekke in die Ou en Nuwe Testament dat kinders van die Here hulle vir Hom afgesonder het om te bid.  En deel van hierdie afsondering was om vir ‘n tyd lank nie te eet nie.  Dit is ook wat die Hebreeuse en Griekse woord vir vas beteken.  En in hierdie tyd waarin daar nie geëet word nie, word daar gebid.  Vas het dan beteken dat ‘n ete of etes oorgeslaan is om in daardie tyd te bid en jouself voor die Here te verootmoedig.  Daniël byvoorbeeld het gevas deur nie vleis te eet vir ‘n sekere tyd nie.  Maak nou nie saak hoe dit ingeklee word nie, vas is ‘n manier wat God gegee het om by Hom uit te kom.  Om jou in nouer kontak met God te bring in gebed.  En enige mens sal verander na voortdurende kontak met God!

Ek het net ‘n paar gedeeltes uit die Bybel gehaal waar mense gevas het.

“Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer.”

 

“Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien.  Toe sê Samuel: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle tot die Here bid.”  Hulle het by Mispa bymekaargekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Op daardie dag het hulle gevas en daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig.”  Samuel het die Israeliete in Mispa onderrig oor wat reg en verkeerd is.”

 

“Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê.”

Ons kry baie verwysings in die NT, ook die gelese gedeeltes vanmôre waar Jesus self sy dissipels van vas leer.  En die eerste gemeente in Handelinge is om baie redes vir ons ‘n voorbeeld van ‘n gemeente wat onder die kragveld van die Gees geleef het – charismaties!  En deel van hulle kragtige getuies is die feit dat hulle erns gemaak het met vas en gebed.

“In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.”

“Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”

Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.”

Wat ‘n wonderlike getuienis dat ‘n gemeente vas, erns maak met God, wanneer belangrike besluite geneem moet word!  Johannes Calvyn, die groot gereformeerde kerkvader, skryf ‘n hele hoofstuk in sy Institusie oor vas en gebed.  En die waarde van vas in die voorbereiding vir gebed.

Jy sien vriende, om op God te fokus en om God te hoor met al die geraas van die wêreld rondom ons, is nie altyd so maklik nie.  En dikwels is die geraas nie net rondom ons nie, maar ook binne in ons koppe.  En as ons met al die geraas na God toe gaan, gebeur dit dikwels dat ons God nie hoor nie, of dalk so met ons eie gedagtes besig raak dat ons nie by God se gedagtes uitkom nie.  Dit is dikwels dan wat ons se, God hoor nie of Hy antwoord nie.  Francois Fenelon skryf: Gebed is om op te hou om na jou eie gedagtes te luister en God se gedagtes te begin hoor.

Vriende, vas is eenvoudig ‘n geloofsdissipline wat ons voorberei vir ons gebed.  Vas kan nie sonder gebed verstaan word nie!  Vas opsig self beteken niks.  Vas is om jou in te stel om die Here se aangesig te soek en Sy gedagtes te hoor.

Dit is nie iets waarmee jy die Here se arm draai nie.  Dit is ook nie ‘n dieet nie.  Jy doen dit ook nie om deur ander raakgesien te word nie.  Trouens, dit is Jesus se hele protes teen die Fariseërs in Matteus.  Hulle doen dit as ‘n wet of verpligting en om deur mense raakgesien te word.  Maar wanneer jy vir ‘n tyd lank nie eet nie en jou so afsonder vir God in gebed, leer jy nie net meer van wie God is nie, maar wys jy ook jou totale afhanklikheid van God.  Jy honger na God!  Jy is meer afhanklik van Hom as van die kos wat jy eet!

Vriende, elkeen van ons kom op plekke en in situasies waarin ons die Here se aangesig op ‘n besondere manier moet soek.  Tye waar ons nodig het om Sy gedagtes te hoor.  Tye waarin ons nie weet watter kant toe nie.  Waar ons besluite moet neem, waar ons oorweldig word deur hartseer of bekommernis.  Waar die lewe ons eenvoudig radeloos, moeg en moedeloos laat.  Tye waarin dit vir ons voel of ons nie beheer het nie.  Wat maak jy in sulke tye?  Die wêreld begin raas en rumoer en neem dikwels hul toevlug tot kos en drank, maar die Here gee vir ons ‘n ander geloofsdissipline van vas en gebed.  Want ons het God nodig!  Hoe anders as die wêreld!

As ons sê ons leef in afhanklikheid van die Here, dan beteken dit mos dat ons geen ander toevlug het as God nie.  En ons gebedsdissipline of ons gebedslewe is die grootste teken van ons afhanklikheid van die Here.  Jy sien, ons sal baie vining sê ons het gebid oor ‘n saak, maar het ons regtig?  Het ons regtig tussendeur al die geraas binne ons en rondom ons, ons in erns afgesonder, soos die Here Jesus dikwels ook gedoen het, om God se aangesig te soek en Sy gedagtes te hoor.

Ons leef nie in ‘n tyd van dissipline nie.  Alles moet vining en maklik kom.  So ook die leiding en die antwoorde wat ons van God verwag.  Maar somtyds lê die groei nie alleen in die antwoord of in die uitkoms nie, maar in die soek en luister na God.  En wanneer jy God se aangesig soek en ophou na jou eie gedagtes luister, sal jy God se gedagts begin hoor.  En jy sal met die krag van God vervul word en selfs meer kry as wat jy ooit voor kan bid of dink.  Amen.

Gebed: Here gee dat my lewe meer en meer in die teken sal staan van ‘n lewe in afhanklikheid van U.  Help my dat ek deur die geestelike dissipline van gebed U inniger en intiemer sal leer ken.  Dit sal groei bring in my eie lewe.  Amen