Hoe gelukkig is jy vanmôre?  SKYFIE – Op ’n skaal van 1-7 waar sal jy jou geluk plaas?  Dink ook vir ’n oomblik oor jou rede, hoekom jy gelukkig is, of dan, hoekom jy vanmôre ongelukkig is.   

Waarskynlik het jou antwoord iets te doen met jou omstandighede.  Ek is gelukkig omdat ek… gesond is, of ongelukkig omdat ek siek is.  Ek is gelukkig omdat dit goed gaan met my kinders, of ongelukkig omdat my kinders sukkel.  Ek is gelukkig omdat ek werk het, of ongelukkig omdat ons sukkel om die pot aan die kook te hou.  En op elkeen se eie manier is ons op soek na die dinge wat ons gelukkig of dan op hierdie skaal gelukkiger kan maak. 

En die sekulêre wêreld is natuurlik besig om hierdie soeke na geluk uit te buit.  Baie subtiel word ons gebombardeer met advertensies wat geluk aan ons wil verkoop.  Neem byvoorbeeld die bemarking van BMW.  SKYFIE – We don’t just make cars.  We make joy.  The joy machine. Joy has a new address.  Koop ’n BMW en jy het heeljaar geluk! Met ander woorde, geluk is die reuk van ’n nuwe motor.   

SKYFIE – Of Coca Cola se advertensie wat ons op ’n stadium hier oor Desember so gereeld gesien het van die Happiness factory!  Wil jy gelukkig wees?  Koop vir jou Coke!  Jy sal gelukkig wees as jy maerder word, of as jou hare terug groei of as jy ‘n beter stel potte in die kombuis het.  En om hierdie geluk aan jou te verkoop, moet jy natuurlik ongelukkig wees met wat jy het.  Of ongelukkig gemaak word met wat jy het!  Want waarom sal jy nou ’n ander ding wil koop as jy gelukkig is met wat jy het?  Dis die tegniek van dissatisfaksie.  Met ander woorde, jy en ek word op ’n baie subtiele manier ongelukkig gemaak met wat ons het, sodat ons iets anders of iets beters moet gaan soek om te koop.  Kyk na hierdie advertensie van ’n boekhouer of ouditeur.  Dit maak mense bewus van die ongelukkigheid in hulle werk sodat hulle eerder ’n ander werk moet gaan soek.  En so leef ons in ’n wêreld wat heeldag op soek is na ’n ander winskopie om gelukkig te wees.  Van die een winskopie na die ander, net om ‘n rukkie later weer iets anders te gaan soek wat gelukkig kan maak.    

Jesus sit met sy spannetjie van 12 daar langs die see van Galilea op die berg.  En saam met hulle is ’n skare mense wat agter Jesus begin aanloop het.  Kom ons wees eerlik, baie het Hom ook maar net gevolg omdat hulle gedink het Hy kan hulle gelukkig maak.  Hy kan die lewe vir hulle makliker maak.  Hy kan dan die brood en die vis meer maak en die lammes laat loop en die siekes gesond maak.  Hoe gelukkig om so Iemand by ons te hê!  Dink net hoe lekker sal ons lewe wees as ons net agter hierdie Jesus aanloop en Hy die lewe vir ons maklik maak!  Vriende, daar is teologieë gebou en kerke geplant op grond van hierdie siening.  As jy net agter Jesus aanloop sal jy altyd net gelukkig wees.  SKYFIE Jy sal altyd gesond wees, jy sal ryk wees, jy sal wys wees en dit sal jou gelukkig maak.  En dan leer Jesus hulle van geluk as Hy sê:    

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.  Die Ou Vertaling sê mos welgeluksalig.  Hierin hoor jy die woordjie geluk.  Die woordjie in die Grieks is: makaroi, met die stamwoord, makar wat beteken happier.  Letterlik sou ons kon sê: gelukkiger is die mens wat afhanklik van God is. 

Afhanklik is letterlik vertaal: arm van gees.  In Lukas 6:20 waar hierdie bergrede ook opgeteken is, staan daar: Geseënd is julle wat arm is.  Vir Lukas gaan dit hier oor fisiese armes ook, oor die arm mense wat dikwels verwerp en op neergesien is.  Dit is die mense waaroor God Hom ontferm en na omsien.  Matteus voeg ’n geestelike betekenis by as hy sê: arm van gees.  Nie net letterlike armes nie, maar ook dié wat nie op hulleself staatmaak nie, maar wat voor God arm is, met ander woorde wat weet dat hulle in alles van God afhanklik is!  Arm voor God beteken dat ons in alles bakhand voor Hom kom staan!  Dit is die gelukkige mense! 

Dit is so anders as wat ons rondom ons sien!  Afhanklikheid is nie noodwendig vandag vir mense ’n seën nie.  Dit is nie noodwendig iets wat ons wil hê nie.  Dit is nie iets wat ons gelukkig maak nie.  Inteendeel, mense smag na onafhanklikheid!    Ons wil vir onsself sorg, ons wil nie bakhand staan nie!  Ons wil vir niemand ’n las wees nie!  Ons wil in niemand se oë kyk nie!  Ons wil self regkom!  En nou kom sê Jesus vir die skare wat op soek is na geluk: jy is gelukkig as jy afhanklik is! 

Jy sien, Jesus kom leer iets anders oor die lewe.  Hy kom gee ’n ander perspektief op wat ons mag dink geluk is.  Gelukkig is dié wat arm is, dié wat nou honger het of wat huil of dié wat gehaat en verstoot en uitgeskel word.  In ons boek kan dit tog nie ’n gelukkige lewe wees nie!  Want in ons boek is jy net gelukkig as dit met jou goed gaan, nie as dit met jou sleg gaan nie.  Hoe verstaan ons dit?  Hoe werk hierdie nuwe lewe van Jesus dan? 

Kom ek deel vanmôre met u iets uit my eie lewe.  Verlede kwartaal was vir my persoonlik nie so gelukkige en lekker kwartaal nie.  En om die een rede, naamlik dat ek half oorweldig is deur die nood en hartseer van mense rondom my.  Dit het my gevang dat daar soveel mense is wat swaarkry, wat worstel met pyn en hartseer en bekommernis.  En dit is maklik om te sê: los die werk by die werk, maar ander se swaarkry en ander se pyn en ander se hartseer en ander se probleme word op ’n manier ook myne.  Ek word ook daardeur geraak.  Paulus sê mos: “dra mekaar se laste!”  Dit is deel van ons liefde en omgee vir mekaar.  En by elke siekbed, of worsteling wil ek ook maar net hê dit moet beter gaan en wil ek ook maar net hê die mense moet weer gelukkig wees.  En hoe meer ek probeer hoe minder kry ek dit reg om die ongelukkiges gelukkig te maak.  En dit was vir my vreeslik sleg en onbevredigend. 

So sit ek verlede week op my stoep by die see in die donker en reflekteer oor al hierdie dinge.  En ek vat my selfoon om Bybel te lees, want die lig is af en dit is mos nou gerieflik in die donker om op jou selfoon Bybel te lees.  En ek lees die een paragraaf na die ander tot ek uitkom by Matteus 5:4: Geseënd is dié wat treur want hulle sal vertroos word.  En ek dink  by myself, maar hierdie geluk van Jesus is heeltemal anders as dit waarvoor ek so veg.  Dit lê op ’n dieper vlak! Maar in die praktyk, vra ek toe steeds, maar hoe kan die familie in Griekwastad vandag volgens hierdie teks dan gelukkig wees?  En toe lees ek Vrydag in die begrafnisbrief in die Volksblad hierdie een sinnetjie raak wat die familie geskryf het: “Hierdie stuk seerkry is nie vir ons maklik nie, maar hierdeur kwalifiseer ons vir Sy troos.” 

En vriende, presies hierdie gedagte was die gedagte waarmee die Here my getroos en versterk het nou die aand in die donker op die stoep!  Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word!  Gelukkig is hulle wat swaarkry, wat moedeloos is, wat bekommerd is, want hulle kwalifiseer daarvoor dat God op ’n baie besondere manier by hulle sal wees! En dit is ’n ander geluk as net ’n glimlag! 

En ek het daardie aand so in die donker net daar ’n paar sms’e gestuur aan mense wat ek weet swaarkry, net om te sê: ek weet dit is swaar, ek wil, maar kan dit nie vir julle beter maak nie, maar julle is eintlik baie gelukkig, want die Here is by julle, Hy sal julle help!  En so sit daar baie ander vanmôre vir wie ek hierdie sms sou wou stuur, maar vir wie die Here dit sommer vanmôre persoonlik kom sê.  Baie kry swaar.  Baie huil vanmôre oor siekte, oor die dood, oor bekommernis, oor geld en kos.  Jou hartseer en bekommernis het ook ’n naam!  Maar weet jy, jy is werklik gelukkig, omdat jy kwalifiseer vir God se liefdevolle sorg en teenwoordigheid!  Hy het nou die geleentheid om jou te troos!  SKYFIE Om jou te seën met Sy troos en te troos met sy seën! 

Slot:

Miskien moet jy en ek in die week ’n bietjie gaan nadink oor ons geluk?  Waar gaan koop jy jou geluk?  Wat maak jou gelukkig of wie moet jou gelukkig maak?  Jou skatte, jou gesondheid, jou onafhanklikheid?  Hoeveel van hierdie goedkoop winskopies wat die wêreld bied koop ons nie om ons gelukkig te probeer maak nie, net om ’n rukkie later weer ons geluk te moet aanvul met iets nuuts of iets anders? 

Miskien kom leer Jesus ons ook maar weer vanmôre van hierdie vreemde geluk.  Anders as die wêreld, ’n vreemde geluk wat Hy op Golgota vir ons bewerk het.  In ’n hartseer, onregverdige moord vind ons hierdie vreemde vreugde en ’n ewige blydskap in die liefde van Jesus wat ons altyd omvou.    

Liewe kind van die Here, God se seënende teenwoordigheid bring op vreemde maniere en op vreemde plekke ware geluk.  En die goeie nuus vanmôre vir jou en vir my is: hierdie geluk is op uitverkoping!  Nee, dit word verniet weggegee omdat die prys daarvoor reeds betaal is!  Die goeie van die evangelie is vanmôre: jy is geseënd, jy is gelukkig want jy kwalifiseer vir Sy sorg en Sy leiding en Sy liefde en Sy beskerming!  En daar is nie ’n groter vreugde as om te weet: Geseënd is jy as jy weet hoe afhanklik jy van God is!  Amen