André Oosthuizen: andrej@webafrica.org.zaPicture1

Ek wil vanaand vir julle ’n storie vertel.  Dit is die “lovestory” van hoe ’n man ’n vrou gekry het. 

Ons het nou die aand by die studentesel oor verhoudings gesels.  Hoe weet jy of dit die regte een is en watter beginsels behoort daar te geld binne verhoudings?  Dit was ’n interessante gesprek en dit het my maar net weer laat besef hoe nodig dit is vir jongmense, maar ook vir getroude mense om die beginsels van ’n Christelike verhouding nie net te hoor nie, maar ook toe te pas.   Ek gaan vanaand nie die storie van Isak en Rebekka volledig lees nie, ek gaan die storie vir julle vertel, maar ek nooi jou uit om die storie tog weer ’n slag later in die week te gaan lees.  Uit hierdie storie gaan ons ’n paar beginsels haal.

Gebed:

Dit was tyd dat Isak ’n vrou moes kry.  Daar kom mos ’n tyd in ’n mens se lewe waar jy weet, dit is nou tyd.  Ek is reg vir ’n verhouding.  Maar in daardie tyd het dit so gewerk dat ’n pa en ma baie meer betrokke was as vandag in die uitkies van ’n geskikte vrou.  Kyk, vandag kom jy mos net by die huis aan met die meisies of  die ou en dan moet pa en ma maar dikwels hulle opinies vir hulleself hou en net bid dat dit in sommige gevalle nie sal uitwerk nie.  Maar in daardie tyd het dit anders gewerk.  Ouers het dikwels vroue vir hulle seuns uitgekies.  En so roep Abraham sy slaaf en stuur hom terug na hulle geboorteland toe om vir Isak ’n vrou te gaan haal uit die mense wat hulle ken.

Die slaaf pak toe ewe gehoorsaam sy donkies en kamele, neem presente saam om vir die nuwe aanstaande bruid te beïndruk, en daar gaan hulle op die vrouejag!  Maar in hierdie slaaf se agterkop was die tergende vraag: hoe gaan ek nou die regte vrou terugbring?  Want dink nou net, my smaak is nie noodwendig jou smaak nie.  En as jy nou al hierdie moeite gedoen het om so ver te reis en jy bring die dametjie daar aan, dan is dit nou so, dit is nou jou vrou.  Dit is soos ’n lucky packet, jy moet dan maar vat wat jy kry.

Die ander ding waaroor hierdie slaaf bekommerd was, was of die meisie saam met hom sou teruggaan.  Sal sy nou haar familie los, dit wat vir haar bekend is, haar vriendinne om saam met ’n vreemde slaaf, na ’n vreemde land te gaan om met ’n vreemde man te gaan trou?  So hierdie opdrag was nie so maklike een vir die slaaf nie.

Maar dan lees ons hierdie gerusstellende woorde in vers 40 waarmee Abraham sy slaaf uitstuur.  Dit is die woorde wat die fondament vorm van hierdie storie en uiteindelik deurslaggewend is in die verhouding tussen Isak en sy voornemende vrou.  Daar sê Abraham: “Ek leef naby die Here.  Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy ’n vrou vir my seun sal kan gaan haal.”  Met ander woorde, die Here gaan self die vrou vir jou wys!  Hy gaan vir jou ’n vrou help uitkies!  En dit het die slaaf gerus gestel.

En so kom die slaaf toe by die dorpie aan!  En dit was juis die tyd van die dag toe al die meisies by die fontein bymekaar gekom het om water te skep.  En toe tref die benoudheid hom weer.  Watter een van hierdie klomp?  Watter een kies ek nou?  Daarom bid die slaaf in vers 12: “Here, laat daar vandag iets met my gebeur…Hier staan ek by die fontein.”  Here help my om die regte een te kies.  En die slaaf se pad kruis met ’n oulike meisie wat nogal mooi en hulpvaardig is en dit loop uit op ’n ouers-vraery en nie lank nie toe is sy op die kameel oppad na Isak toe.  En die storie eindig soos  in ’n goeie lovestory met ’n omhelsing en ’n troue.

Daar is vir my drie goed wat in hierdie verhaal uitgestaan het en wat ons kan beskou as belangrike beginsels in verhoudinge.

  1. Nooi vir God om jou te help kies!

Die eerste en miskien die belangrikste, is die rol wat God speel in hierdie verhaal.  Abraham verseker sy slaaf dat hy hom nie hoef te bekommer oor wie die vrou gaan wees en hoe hy haar gaan kry nie, want die Here sal dit wys en uitsorteer.  En dit het toe nou ook so gebeur.  En dan die mooi in vers 48 waar die slaaf kniel en dankie sê: “Ek het gekniel en tot die Here gebid.  Ek het Hom die God van Abraham geloof omdat Hy my reg gelei het…”

So julle, die Here se hand was in hierdie hele lovestory.  Die Here het Rebekka vir Isak help uitkies.  God kies mense vir mekaar uit.   Hy bring twee mense bymekaar.  Ons lees dit in Genesis 2:18.  Nadat God alles gemaak het het Hy elke keer gesê dit is goed, behalwe toe Hy die mens gemaak het.  Toe het God gesê, dit is nie goed… dat die mens alleen is nie,Ek sal vir hom iemand maak om hom te help, sy gelyke.  En jy sien, die Here weet wie om wanneer vir jou te gee!  Hy weet wie jy nodig het.  Nodig, nie net om jou te help nie, maar ook om jou aan te vul.  Iemand om jou te help met die goed waarmee jy dalk nie so goed is nie, iemand om jou lief te hê en te ondersteun.  Ons lees dit so mooi aan die einde van hierdie storie (v67) “Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad.  So is Isak vertroos na sy ma se dood.”  Die Here het geweet wie om wanneer vir Isak te gee.  En hulle kon mekaar liefhê en bystaan.

Jy sien, jy kan alleen probeer kies, of jy kan die Here nooi om jou te help.  En ouens, as jy nie oor ’n meisie of ’n ou kan bid nie, as jy nie julle verhouding aan die Here kan opdra nie, is dit tien teen een nie die regte verhouding nie.  ’n Geseënde verhouding is een waar die Here genooi en toegelaat word om te help kies.

  1. Omdat die Here help uitkies, pas ons mekaar op

Opvallend in hierdie hele verhaal is die wedersydse respek wat daar was.  Die slaaf hanteer hierdie vroutjie met waardigheid, nie as ’n besitting nie.  En sy tree respekvol op teenoor die slaaf en uiteindelik ook teenoor Isak wanneer sy hom ontmoet en ‘n sluier oor haar kop trek as teken van haar respek teenoor hom.

Respek is nogal ’n baie belangrike beginsel vir die Here in enige verhouding, veral ook ’n liefdesverhouding.  Paulus skryf in Ef 5, “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.”  Hierdie onderdanig beteken dat ons mekaar sal respekteer.  Dat ons mekaar se belange op die hart sal dra.  Dat die een die ander hoër sal ag as hy/haarself.  Dit beteken nie dat die een die baas is en die ander moet eenvoudig inval en opdragte uitvoer nie.  Nee, ons respekteer mekaar omdat hierdie maatjie iemand is wat deur God aan my gegee is om op te pas.  En dit is die tweede beginsel.  Die maatjie waarmee ek in ’n verhouding is hateer ek met liefde en respek omdat God hom/haar oor my pad gebring het.  Ek pas dus die maatjie namens God op.

Dit is die basiese motivering hoekom 2 mense in ’n huwelik aan mekaar onderdanig is.  Ons pas mekaar op, ons bou mekaar op, ons vertroos en vertroetel mekaar omdat dit die maatjie is wat God vir my gegee het om op te pas.  En ouens, ek wil vir julle wat nog nie getroud is nie dieselfde sê.  As kind van die Here Jesus het jy die verantwoordelikheid om in elke verhouding waarin jy is, jou maatjie op te pas.  Hoekom, want as jy die Here in daardie verhouding ingenooi het, glo jy die Here het hom/haar vir jou gegee en daarom pas jy hom/haar op, al is dit net vir ‘n rukkie.  Al trou jy nie met haar nie, jy moet haar oppas.  Jy pas haar in die eerste plek op omdat sy Jesus se kind is en in die 2de plek, as sy nie jou vrou word nie, word sy iemand anders se vrou.  En dan het die Here jou gebruik om hom/haar te vorm en voor te berei vir die regte maatjie.

En daarom moet jy in die verhouding waarin jy staan dink oor die vraag: Hoe gee jy haar aan?  Verinneweer, seergemaak, gebreek of kan jy sê, ja sy is nie my trouvrou nie, maar ek het haar met waardigheid en respek behandel, want daar is ’n duur prys op hom of op haar geplak.  En ek pas dit wat God vir my gegee het met liefde en respek op!

  1. Deel dieselfde waardes

Die derde ding wat vir my uitstaan is die interessante feit dat Abraham vir sy seun ’n vrou gaan soek by die mense wat hulle ken.  Hy stuur die slaaf terug na sy geboorteland (v4): … jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar ’n vrou gaan haal vir my seun Isak.”   Gaan soek ’n vrou by ons eie mense.  Trouens, toe Jakob (een van hulle seuns)  later trou het hy ook teruggegaan na Laban toe, Rebekka se broer, so sy oom.  Hy gaan soek ’n vrou by die mense wat hy ken.

Julle sien, dit gaan hier ten diepste vir my oor waardes.  Dit gaan daaroor dat hulle dieselfde waardes moet deel wat belangrik is.  Ja, mense is uiteenlopend.  Hulle het uiteenlopende persoonlikhede, kom uit verskillende huise en verskillende agtergronde.  Maar die een ding wat twee mense aan mekaar bind en bymekaar hou is die geloofswaardes wat hulle  deel.  Waardes wat gegrond is in ‘n verhouding met die Here Jesus.  Hierdie gesamentlike waardes, hou mense bymekaar en vorm die fondament van ‘n verhouding.  Dit word weer die waardes van julle gesin.

Ek teken altyd ’n driekhoek.  God man en vrou.  Hoe nader ons aan God beweeg hoe nader beweeg ons aan mekaar.  Daarom julle is ’n gelukkige huwelik, ’n gelukkige verhouding een saam met God en een waar twee mense geloofswaardes deel.

Slot:

Ons leef in ’n weggoooi kultuur.  Ons maak nie sommer goed reg nie, dit is te veel moeite en vat dikwels te lank.  As iets stukkend is, vervang ons dit.  Ons doen dit met verhoudinge ook.  As dit nie uitwerk nie, skryf ons af en gooi ons weg.  Ons kry ’n ander een.  Maar God se plan met ’n verhoudig tussen ‘n man en vrou is anders.

Dit is een waar Hy ons wil herinner dat Hy deel wil wees van die uitkies.  Jy moet Hom net nooi.  En omdat God deel is van elke verhouding pas ons mekaar op en respekteer ons mekaar en bou ons ons verhouding op die geloofswaardes wat ons deel.

As ons soos God oor verhoudings dink sal daar in ons wêreld meer gesonde, heel en vreugdevolle mense en verhoudings wees.  Jy weet wat God wil hê, mag jy dit dan so gaan doen.  Amen