Picture1Prediker: André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za

Genoeg is genoeg!  Miskien is dit woorde wat jy die afgelope tyd gehoor of selfs al iewers in jou binneste gesê het.  Dit is ’n interessante sê-ding né, want die betekenis van genoeg is genoeg word uit die aard van die saak bepaal deur die konteks waarbinne dit gesê word.

Byvoorbeeld, as my pa vir my na sy studeerkamer toe geroep het met die woorde: Kyk, genoeg is nou genoeg, het dit met pyn gepaard gegaan!  Genoeg is genoeg is ook nie net ’n individuele sê-ding nie.  Mense sal met mekaar saamstem dat genoeg genoeg is.  Genoeg van hierdie swak diens, geweld en korrupsie is nou genoeg!  Dit het ’n tipe kollektiewe betekenis ook!

Genoeg is genoeg konfronteer ’n mens ook sommer heel prakties in jou lewe.  Wanneer is genoeg geld genoeg?  Of wanneer is genoeg pensioen genoeg?  Wanneer is genoeg tyd aan jou vrou of jou kinders genoeg?

Maar dan is genoeg is genoeg ook ‘n intens emosionele uitdrukking.  Miskien sit jy vanmôre hier en diep in jou hart dink jy, genoeg is nou genoeg.  Ek het nou genoeg gehad van al hierdie bekommernisse.  Ek het genoeg gehad van sukkel, ek het genoeg gehad van seerkry, ek het genoeg gehad van hartseer.  Genoeg is nou genoeg!  Dit is ’n moeilike plek om te wees, maar ’n plek waar ons somtyds ’n rukkie gaan kuier.

Dit is waar Paulus was.  Genoeg is nou genoeg, was die plek waar ons hom kry in 2 Kor 12.

Nou ons moet eers ’n bietjie van die agtergrond van Paulus se situasie vanmôre verstaan.  Ons lees in 2 Kor 10-12 dat Paulus in ernstige gesprekke betrokke is met die gemeente in Korinte.  Nou moet ek vir jou sê, dit was nie altyd die maklikste gemeente om in te werk nie!  Daar was in Korinte nogal heelpartykeer allerhande probleme wat hanteer moes word.  Goed soos ongeruimdhede by die nagmaal, die orde in die gemeente, verdeeldheid en hofsake tussen gelowiges en die tug wat toegepas moet word.  Jy moes jou storie ken om Korinte te bedien!

En in hoofstuk 10-12 is dit duidelik dat daar ’n tipe vendetta teen Paulus was in Korinte.  Ons lei af dat daar mense was wat eenvoudig nie van hom gehou het nie.  Ons lees in 10:1 dat mense gedink het hy is skynheilig, want hulle sê as Paulus by hulle is is hy so mak soos ’n lammetjie, maar laat hom nou toe om ’n briefie van iewers anders aan hulle te skryf dan moet jy hom hoor!  Paulus herhaal dit wat hulle van hom sê in 10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is.’  Ander het gedink dat hierdie Paulus so bietjie van ’n windbol is en het hom beskuldig daarvan dat hy gereeld op homself roem.  En hy erken dit ook in 10:8 as hy sê: “Al het ek my miskien ’n bietjie te veel beroem op daardie bevoegdhede wat die Here my gegee het…”  Nou al hierdie goed het nie vir Paulus baie vriende gemaak nie.

Om die hele pakkie so bietjie meer onsmaaklik te maak was daar ook ’n gevoel dat Paulus nie regtig in dieselfde klas is ander apostels nie.  Hy was in hulle oë nou nie die skerpste potlood in die sakkie nie en ook nie die beste spreker wat hulle al gehoor het nie.  Ons lees dat Paulus homself hierteen verdedig in 11:6: “Al is ons miskien nie sulke gladde sprekers nie, in die kennis staan ons nie agter nie.”  En dan lyk dit amper vir my of Paulus hom so bietjie vererg hier aan die einde van hoofstuk 11.  Dit klink of hy nou keelvol geraak het vir die mense wat hom verneder en nie wil erken vir wat hy doen  nie.  En alhoewel hy weet dit is nie die slimste of beste ding om te doen nie, ryg hy die lysie goed in waarop hy kan roem in vers 21: “nou praat ek soos ’n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem.’  Hy kom uit die regte volk, hy het harder gewerk as enige iemand anders, was meer in die tronk, is meer geslaan, het swaarder gekry, was meer kere honger en koud.  So, hy staan ten minste nie terug teenoor enige iets of enige iemand anders nie.

Nou behalwe die persoonlike aanvalle teen hom, al die opofferings wat hy maak, die moeilikheid in Korinte, het hy ook nog al die ander besorgdhede oor die ander gemeentes gehad.  En asof dit nie genoeg was nie, het Paulus nog die ekstra las van ’n doring in die vlees ook gehad!  Nou ons weet nie wat hierdie doring was nie.  Heel waarskynlik was dit een of ander gesondheidsprobleem.  Maar die feit is, vir Paulus het hierdie doring gevoel soos ’n boodskapper van Satan wat hom met die vuiste slaan.

En iewers saam met al die probleme en aanvalle en doring in sy vlees het hy op ’n punt gekom waar hy gesê het: genoeg is nou genoeg!  Ons lees dit in 12:8: “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word.”  Die “dit” waarna hier verwys word is die doring in die vlees.  Drie maal is hier, soos op baie ander plekke in die Bybel, simbolies van die volmaakte getal.  Hy het nie net drie maal gevra nie, maar aanhoudend gevra tot hy ’n antwoord gekry het.  Want genoeg is genoeg!

Vriende, ek dink dit is nie onbillik om vanmôre die doring in die vlees ’n naam te gee nie.  Want dit was iets baie prakties of konkreet wat Paulus tot moedeloosheid gedryf het.  Die doring in jou vlees kan enige iets wees wat jou kwel, wat die lewe vir jou ongemaklik maak, wat jou moeg en moedeloos maak, wat jou laat swaarkry.  Die doring is enige iets wat jou laat sê: genoeg is genoeg.

En Paulus bid soos ons oor dorings bid.  Here vat dit weg!  Here vat die doring weg!  Here, haal die doring uit!  Want eintlik is die som maklik, die oplossing is voor die hand liggend!  As die Here net eenvoudig al my dorings, my vrese, my bekommernisse, my probleme, my hartseer, my onsekerheid, my ongemak wegvat, dan het ek mos nie probleme nie!  Maar toe kry Paulus ’n antwoord van die Here wat hy sekerlik nie verwag het nie.  Jy sien, die Here verras ons mos gewoonlik met antwoorde anders as wat ons gedink het.  Maar Hy sal altyd antwoord!  En die Here antwoord deur vir Paulus te leer van genoeg is genoeg. Vers 9: “Sy antwoord. was: “My genade is vir jou genoeg.”

SKYFIE Genade is genoeg!  Vriende, dink vir ’n oomblik oor God se genade in jou eie lewe!  Dink hoe genoeg is dit vir jou!  Dink aan die genade om ’n kind van God te wees.  Dink aan die genade om verlos te wees.  Dink aan die genade om vir ewig en ewig in God se teenwoordigheid te wees.  Dink aan die genade om te kan lewe, die genade om te kan eet, die genade om te kan werk.  Dink aan die genade van die Here oor al die jare van jou lewe!  Die genade van die Here in tye van swaarkry en beproewing!  Ja, God se genade is inderdaad genoeg!  Dit was nog altyd vir jou genoeg, en dit sal vir altyd vir jou genoeg wees!

En weet jy, dit is juis wanneer ons sukkel, dit is juis wanneer ons swaarkry, dit is juis wanneer die dorings van die lewe ons steek en seermaak en irriteer dat ons besef – God se genade is genoeg!  Ja, ons smeek dat Hy moet wegvat, maar Hy antwoord deur genoeg genade te gee!  Want God se krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.  Dit is juis wanneer jy swak is, dat genoeg genade genoeg is.

Slot:

Daarom sê Paulus in vers 9: “ek sal baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”

Wanneer jy oorweldig word deur jou eie swakheid, die swakheid om die dorings van die lewe te hanteer, sal God jou beskut.  Die griekse woordjie wat hier vir beskut gebruik word, roep die beeld op van ’n tent wat as beskutting oor iemand opgeslaan word.  Is dit nie ’n wonderlike beeld nie!  In jou swakheid, in jou hartseer, in jou bekommernis, sal die Here sy tentjie oor jou kom opslaan.  Dit is genade!  Dit is genade wat genoeg is!  Genade om te weet, God slaan sy tentjie oor my op om my veilig te laat sit onder sy beskerming.  Genoeg genade is vir ons genoeg om hoopvol en blymoedig te bly lewe!  Daarom kan ek sê, as ek swak is, is ek sterk, want genoeg genade is genoeg!  Amen