SeenSKRIFLESING:  Gen 12:1-9

Genesis 12 is die oorgang tussen die Bybels verhale oor die oertyd en die verhale oor die geloofsvaders.

Die verhale van die oertyd is die verhale wat iets van die skepping vertel, van die sondeval, die groot watervloed van Noag en die verklaring vir die verskeidenheid van volkere op aarde –  maw die Babelverhaal.

Kom ons noem dit kategetiese verhale vir die Joodse kinders.

Van Gen 12 af kry ons verhale met historiese figure wat geplaas kan word in die jare 2200 –1200 vC.

Dit is die verhale wat vertel hoe God begin het om vir Hom ’n verbondsvolk bymekaar te maak.

En waar begin God?

Met die roeping van ’n enkeling vir wie Hy opdrag gee om weg te trek uit sy bekende omgewing – ’n groot avontuur vir hierdie Abraham en sy uitgebreide gesin!

As ons nou lees, let op die rol van die woorde “seën” of “seëning” in die teks.

Tema: Geseën om te seën.

Miskien het jy nog nooit doelbewus na iemand geloop, jou hande op die persoon gelê en gesê: “Ek seën jou.” nie.

Miskien het niemand dit nog ooit met jou gedoen nie.

Maar elke keer as jy na ’n erediens gegaan het, het jy gesien hoe die predikant aan die einde van die diens die gemeente uitstuur met die groot-arend gebaar met die hande en dan is die seën van God oor jou uitgespreek.

En wanneer dit ook in die toekoms gebeur, moet jy weet dat dit nie maar net ’n goedkoop mooi wens is wat uitgespreek word nie, maar God wat jou verseker van Sy teenwoordigheid,  jou toerus en bemagtig vir die pad vorentoe.

Hy gee inderdaad vir jou Sy seëninge.

En wanneer God spreek, dan is dit skeppingswoorde.  Sy woorde het skeppingskrag.

Wanneer God spreek, dan laai Hy in feite daardie genade, liefde en Sy teenwoordigheid af in jou lewe.

Ons as Gereformeerdes het nie juis ’n tradisie om self mense te seën nie, miskien op grond van ’n bepaalde nederigheid en eerbied.  Ons sal liewer vir die seën van die Here bid.

En tog kry ons dit gereeld in die Bybel. Geloofsvaders in die Bybel seën hul kinders. Gaan lees weer Gen 49 waar einste Abraham sy kinders een vir een seën op sy sterfbed.

Die belangrike in die Bybel is egter die ontdekking dat God die seënende God is.

En wat beteken dit?  Dit beteken dat God goeie gawes vir die wêreld wil gee.

Want God is lief vir hierdie wêreld.

Wanneer die God “seën” dan omvat dit die grootste en beste gawes wat God in sy hemelse skatkamers het.

 

En waar begin God om dit uit te deel?

By ’n enkeling wat op ’n avontuur gestuur word:

“Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.”

 God roep Abraham tot ‘n avontuur.

‘n Avontuur is ‘n ontdekkingstog met duisende verrasssings.

Dit is verrassings wat jou verryk laat verder trek.

En wanneer jy verder trek, dan dra jy hierdie sak vol verrassings en rykdom met jou saam en jy verloor daarvan langs die pad – by ander mense en op verskillende plekke.

En hulle word daardeur verryk.

En hulle sal op hulle beurt weer van hierdie rykdom verder versprei.

Hierdie seëninge kan jy egter nie ontvang as jy in jou gemaksone tuis bly sit nie.

Abraham moes trek.

Sonder dat hy die bestemming op sy GPS kon intik.

“Waarheen Here?”

“Moenie worry nie, Abraham.  Ek sal vir jou wys.”

“Maar waarheen moet ek my treklorry se neus draai as ek begin oplaai, Here?”

“Abraham! … Vertrou my net!  Laai op!  Start!”

Die reis begin by geloof.  Onvoorwaardelike geloof.  Om God blindelings te vertrou omdat jy net weet … God is daar!  Hy ken die pad! En Hy het ’n groot sak vol seën.

En soos die reis vorder kry Abram al meer seëninge:

Wat is die seëninge alles:?

Die les is:  Waag dit uit met God/wees gehoorsaam…. en jy sal verbaas wees oor hoe Hy vir jou al meer vergesigte gee.   En jou bemoedig en seën op die reis!

Verlede Sondag het ds Danie vir ons vertel van Josua wat later met die volk deur die Jordaan moes trek.

“Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

‘n Opdrag, gehoorsaamheid … en God se seën:  Ek gaan saam!

Dit is eintlik dieselfde gedagte hier by Abraham.

In ons preekteks word daar vir Abraham 7 beloftes gegee (die volmaakte getal van die Bybel):

In die laaste seën-belofte sien ons al die Messias.

In daardie laaste belofte sien ons ons eie gesigte.

Want Abraham sou die draer wees van die verbond op grond waarvan ons elkeen vandag gedoop is.

 

Sien julle God se droom?

Dit begin by een man se roeping en dit kring uit.

Abraham word geroep tot ’n groter en nuwe droom.

Hy moet net gelowig uitstap in die geloof.

 

Maar kom ons zoom nou in op een fasset van hierdie beloftes.

Reg in die middel van die beloftelys is daar ’n belangrike element wat die oog moet vang.

“…en jy moet tot ‘n seën wees.”

In die oorspronklike Hebreeus is die werkwoordvorm (“wehyeh”) hier uitsonderlik.

Dit kan op twee maniere vertaal word:

“… en jy sal tot ‘n seën wees.”  of “… en jy moet tot ‘n seën wees.”

In eersgenoemde geval sou dit beteken dat God só met jou sal besig wees dat jy nie iets anders as ’n seën kan wees nie.

Ek dink dit sluit aan by God se NT pinksterwerk deur die Heilige Gees.

God is met ons besig.  Hy is deur die Heilige Gees besig om ons te verander.

Waar ons lewens deur die sondeval verbuig was om ’n vloek te wees, daar is die Gees besig om ons reg te buig sodat ons aan sy droom kan beantwoord, nl om te kan seën.

Ons word dus die instrumente waarmee God Sy droom wil uitvoer, nl om die wêreld te seën.

Ek en jy is die kanale van seën vir ander en vir die gemeenskap.

En ons word doelbewus deur die Gees omvorm tot ’n seëning.

En God gee hierdie seëning (jou en my) vir die wêreld.

Ons word God se lewegewende woord van liefde vir ander.

Eintlik is dit die wonderlikste gedagte in hierdie liewe SA van ons.

Ons kan nie sê dat ons gemeenskap/samelewing nie seëninge nodig het nie.

Ek dink daar is baie gemeenskappe in die wêreld waar gelowiges nie hierdie roeping so sterk sou voel nie.  Dit maak sulke gemeenskappe geestelik steriel.  Sonder uitdagings.  Sonder die avontuur wat ons so hard aan ons Suid-Afrikaanse deure voel klop.

 

Die tweede manier om die teks te vertaal is

“… en jy moet tot ‘n seën wees.”

Dit is in die opdragvorm soos in ons huidige 1983 vertaling.

Dit verwoord ’n opdrag:  “jy moet…”

Dit is nie altyd vanselfsprekend dat ’n mens jou roeping uitleef nie.

Voorbeeld:

Dit help nie jy is ’n bruikbare waterspreier, maar jy wyer dat die nat water deur jou vloei nie.   Dan bly die tuin droog en sal die plante verwelk sonder om die blomme te dra waaroor die groot Tuinier droom.

Ek en jy staan onder opdrag om tot seën te wees.

Die Droomgewer is ook die Opdraggewer.

En die wëreld wag vir die seën.

 

Wat is die seën wat ons gemeenskap vandag nodig het?

Ek dink dit is dieselde seën wat Abraham moes uitdra:

Dit is wat ons ook in missionale gemeentes doen en moet doen:

Ons seën mense

….  wat in Afrika wag vir ’n Afrika-uitreik en ’n Woord oor ’n roepende God.

….  sonder huisvesting om minstens op ’n Vrydag ’n bord kos en ’n woord van hoop hier te kry.

….  wat moedeloos langs die pad sit deur ’n bemoedigende hand op die skouer.

…. wat niks verwag nie met “random acts of kindness”.

….  die moedeloos student word geseën met aantekening en opsommings wat

die eksamen meer haalbaar maak.

 

Ek sluit af:

Die teks praat van twee handeling:

Ons ontvang seëninge uit God se hand.

Ons seën ander mense rondom ons.

Dit beteken ontvang en gee.

En dit wat jy ontvang sal gewoonlik korreleer met dit wat jy moet gee.

 

Voorbeeld:

As jy die gawe van musiek ontvang, dan seën jy die gelowiges met jou musieknote.

As jy geld in jou sak het, dan seën jy ander en jou gemeente met ’n deel daarvan.

As jy die gawe van te luister ontvang het, dan gee jy jou ore vir mense wat net graag  vir iemand wil vertel.

Daarom, gaan tel jou seëninge.  Gaan bekyk hulle deur die vergrootglas.  Waaruit bestaan jou seëninge?

Gaan dan en gaan deel dit uit waar die nood daarvoor is.

Die geloofslewe is een van ontvang en gee.

Van geseën te word en te seën.

Een hand bakhand om van God te ontvang en die anders hand seënend op ’n ander se skouer.

Dit is hoe jy hierdie avontuur aanpak.

 

Amen