ChaosJeremia 4:23-26 is ‘n gedig.

Dit is ‘n vreemde gedig.

In die Valentynsdag-gees, sou jy verwag dat ons by ‘n gedig van liefde of erotika stilstaan.

Maar nee! Hierdie is ‘n skokgedig.

Digters is van die gawes aan ‘n gemeenskap, net soos komponiste, skilders en sangers, wat die gemeenskap help om ‘n nuwe kyk op die lewe te kry.

(En om te “kyk” is ‘n belangrike betekenisdraer in Jeremia,)

Partykeer sal so ‘n kunsvorm help om die mooie te sien en te waardeer.

Soms is die bedoeling om sosiale kommentaar te lewer om bv mense bewus te maak van onreg in die gemeenskap.

Hierdie gedig is bietjie vreemder: Dit wil skok. Dit wil laat wakker skrik.

Dit begin telkens met die opmerking:

“Ek het gekyk…”

 Lees  vers 23-26

Jeremia kyk na die wêreld. En dit wat hy sien, kan met een woord opgesom word: chaos!

In die gedig kry ons iets anders as in die skeppingsverhaal waarvan ons in Gen 1 lees.

Dit is eintlik presies die teenoorgestelde.

Die skeppingsverhaal vertel van chaos wat tot orde gebring word.

Jeremia se verhaal, daarenteen, is dié van orde wat besig is om tot chaos te verword.

Die ordening word chaotisering.

‘n Mens kan sê dat Jeremia soos ‘n dokter na die wêreld kyk en dan ‘n diagnose maak:

Die wêreld is siek en sterwend!

 

Wat sou nou die rede wees vir die hartseer diagnose?

Dit is nie in die eerste plek fisiese verval of swak politieke bestuur nie.

Nee, ten diepste is die rede vir die terminale toestand teologies van aard:

Die mense van die land het die Here verlaat.

Later sal ons sien dit is ook nie bloot ‘n kerklike ding nie, maar ‘n hartsding!

In Jeremia se tyd hardloop mense skaamteloos agter ander gode aan.

En die skokgedig wil die idee dat alles reg is die nek inslaan.

Alles is nie so OK soos party priesters en kenners voorgee nie!

As die Here ons roep om na ons eie situasie te kyk, dan sou ons naas die godsdienstige chaotisering ook ander fasette van chaotisering op verskillende vlakke kon raaksien:

Op die fisiese vlak kry ons dit:

Die ekologiese krisis neem chaos-afmetings aan.

Daar is te veel mense. Daar is aardverwarming wat balanse buite beheer ruk.

Die aarde word uitgehol en leeggepomp vir hulpbronne.

Die aarde is besig om onbewoonbaar te word.

Die see versmoor en die walvisse is uitgevang.

Die pragtigste renosters word uitgemoor – vir niks.

Stede word met ‘n enkele atoombom ‘n puinhoop.

Die aarde is fisies aan die sterf!

Maar daar is ook chaotisering op sosiale vlak:

Kriminaliteit neem toe.

Gesinsgeweld en gesinsmoorde skok ons van week na week.

Onverdraagsaam, korrupsie en parlementêre prosesse wat ontwrig word raak algameen en amper vermaaklik.

Dit voel of die wêreld sosiaal besig is om te verbrokkel!

Op persoonlike vlak ken ons ook die tekens:

Jy raak al meer hooploos!

Die vraag is hoe reageer gelowiges op hierdie hooploosheid en chaos?

Ons kan verskillend hierop reageer:

Drie moontlike reaksies:

Dit lyk vir my na baie politici se strategie.

Maar dit gaan ons nie ver bring nie. Dit is alles skynoplossings.

Wat was Jeremia se reaksie op hierdie skokkende ervarings?

“O die krampe in my ingewande, o die benoudheid in my hart! My hart bons wild, ek kan dit nie tot bedaring bring nie…” (:19)

Jeremia treur oor die sterwing van die wêreld.

Jeremia treur in empatie oor die sterwing van die wêreld.

nie net oor SA nie, maar oor die hele wêreld!

Ons humor red ons mos soms van totale depressie: Ek lees die Whats Up:

“Ten minste het die Titanic se ligte nog gebrand toe hy gesink het…”

Maar die vraag is: Treur ons nog oor die skokkende dinge wat aan die gebeur is?

In ‘n belangrike psigologiese studie van die Mitscherlich’s het verskyn waarin gewys word op die wydverspreide onvermoë van die Duitse volk om oor die gruweldade van die Tweede Wêreldoorlog te treur. ‘n Mens vermoed dat ‘n soortgelyke studie in SA tot dieselfde gevolgtrekkings sal kom – ook oor 20 jaar!

Dit lyk of ons ‘n onvermoë het om te treur.

Ons blok dit uit!

Miskien is die beste ding wat ons kan doen, juis om te treur …. saam met Jeremia…

en saam met God.

Ja, God is nie net kwaad oor die sterwing van die wêreld nie. Hy treur ook!

Want Hy is passievol lief vir die wêreld!

Maar die teks laat ons nie in wanhoop nie!

As jy op hooploosheid se hopie geland het, dan het jy waarskynlik vandag meer as treur nodig.

Hier is ‘n verrassende sinnetjie te midde van die trane en die oordeel:

“Ja, so sê die Here: Die hele land sal verwoes wees, maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.” (:27)

Daar kom oordeel, ja!, want die wegloopkinders moet terugdraai na God toe!

Maar God se oordeel is nie twv wraak nie.

Dit is twv terugnooi. Soos in die verhaal van die verlore seun wat tot inkeer moes kom en terugkeer na die vader en die vaderhuis.

En by Jeremia is dit dieselfde God wat tweede kanse gee.

Daarom hierdie terughoudendheid.

Daarom die genade wat begin deurskemer: “… maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.”

Dit wys ons iets van God se hart. GENADE.

Want sien: God wag dat die kinders van die chaos weer sal terugkom na Hom.

En as hulle terugkom, dan het God net een droom, en dit is dat Hy hulle en hul leefwêreld

weer tot orde sal terugvorm.

 

Die boodskap van die kruis help ons een treetjie verder.

Die verhaal van die kruis vertel van geweld en oordeel en dat dit noodsaaklik was.

Maar juis deur die kruisdood van Jesus raak ons bewus van ‘n ander visie:

Nie net ‘n stad in puin nie, maar van ‘n nuwe Jerusalem.

Daar is ‘n visie van ‘n wêreld wat genees word deur God se liefde.

Daar is ‘n visie waar God die trane van die oë afdroog.

En dit is waarna ds Andre ons vanaand neem met die prentjie van hoe dit in die hemel is (Openbaring 4).

 

Sluit:

Miskien is God in sy genade tog groter as ons wanhoop!

Miskien is Sy troos genoeg vir ons trane.

Miskien is Sy ordening sterker as ons chaotisering.

Miskien is Sy genade genoeg vir ons wanhoop.

Miskien help dit ons (as die Here se profete) om nie net te treur nie, om nie net te bid vir nuwe terugkeer en orde nie, maar…

deel te wees van die ordening van hierdie wêreld.

Gaan soek vandag ‘n stukkie chaos om te orden:

Al is dit net een verhouding.

Al is dit net een glimlag.

Al is dit net een stukkie rommel wat jy langs die straat optel.

Ek gee vir jou vandag ‘n brief dat God groter is as ons mensgemaakte chaos!

Amen

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.