Prediker: André Oosthuizen

Ons praat heeltemal te min oor God. Ons praat dikwels met God. Ons praat ook gereeld oor godsdiens en oor die kerk, soos ons twee weke terug gehoor het. Maar hoe gereeld is God deel van ons gesprekke? Ek het ‘n idee dat die nuus en facebook dikwels ons gesprekke oorheers en sommer vroeg in die dag reeds ons gemoed bepaal.
Miskien moet ons meer in die geloofsgewoonte kom om oor God te praat. Om oor God te praat in ons huise, tussen ons vriende, by die werk, met ons werksmense. Hoe jammer is dit dat ons so moeilik oor God praat. Miskien moet ek en jy moeite doen en dit aanleer om iewers in ‘n dag, al is dit net in een gesprek, God deel te maak van waaroor ons praat. Ons praat met God, maar te min oor God.
En ons moet vanmôre uit Miga twee baie belangrike dinge van God leer. En hierdie 2 sake is kern in ons verstaan van wie God is, en gevolglik hoe ons ons lewe inrig.
Skriflesing: Miga 6:8-13, 7:1-10, 18-20

Ons het verlede week gehoor dat die Here hier aan die einde van Miga, in ‘n hofsaak betrokke raak. Aan die een kant staan Miga – wat die volk verteenwoordig, en aan die ander kant staan God – wat die volk aankla. En soos hierdie hofsitting opgestel word, is daar eintlik net een verloorder. Want die volk se sonde-klagstaat is oorweldigend! Die Here het van hulle net 3 dinge gevra:
• Hulle moes reg laat geskied
• liefde bewys
• bedagsaam voor God lewe.
Die evangelie is eenvoudig! Die Here vra nie honderde wette en reëls wat nagekom moet word nie. Die volk wou Hom nog paai met offers en uiterlike rituele, maar God soek nie rituele nie, Hy soek hulle harte!
En Miga weet aan die begin van hoofstuk 7 die vonnis is verdoemend. Hy sê ook: “Ellende wag vir my…” Die volk het nie ‘n kans in hierdie saak nie. Want die slagoffers van hulle liefdelose en onbedagsame lewe is die getuies teen hulle. Al was hulle uiterlik godsdienstig, al het hulle godsdienstige dinge gedoen, was hulle aandadig aan die verrotting van die samelewing. ‘n Samelewing van:
• korrupsie, waar mense mekaar in besigheid verkul het
• waar daar nie wedersydse respek was in verhoudinge nie
• waar kinders hulle ouers beledig en in opstand kom en
• waar huismense vyande van mekaar word.
Dit klink soos die Volksblad.
En dan is die vraag: wat maak God met so ‘n samelewing? Wat maak God met mense wat nie hou by die eenvoudige dinge wat Hy van hulle verwag nie? Die antwoord is: Hy herinner hulle aan wie Hy is.
En dit wat die Here ons vanmôre aan herinner is dat Hy regverdig en genadig is.
So reg aan die begin moet ons vra wat beteken regverdig en genadig?
• Regverdig/geregtigheid is om te kry wat jy verdien.
• Genade is om te kry wat jy nie verdien nie.
En alhoewel hierdie 2 begrippe aanvanklik uiteenlopend klink, kom hulle saam in die wese van God. God is regverdig en genadig.
1. God is regverdig of geregtig
Met ander woorde vriende, God kan nie sonde net laat verbygaan nie. Dit is teen Sy wese. Hy kan nie net toekyk hoe mense doen wat hulle wil en in die proses die mooi wat Hy geskape het vernietig nie. Die Here sê dit self in 6:10,11:
“…moet ek die verkeerde maatlyn bly verdra, of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat? Moet Ek die eienaar van ‘n onbetroubare weegskaal vryspreek, een met ‘n sak vol vals gewigte?”
Dit is teen God se wese dat ongeregtigheid seëvier en sonde ongestraf bly. 6:13 sê dit:
“Daarom het Ek jou begin straf;”
Hy moet mos sonde straf en vir sondaars gevolglik gee wat hulle verdien. Anders is God nie geregtigheid nie.

2. God is genadig
Maar dan gaan God verder as die regverdige verdienste. Dit is wat Hom God maak! Hy gee vir mense dit wat hulle nie verdien nie, genade.
En jy sien, die kruisiging van die Here Jesus vertel vir ons iets van die wese van God. Baie mense vra hoe kan ‘n liefdevolle God so wrede ding doen om sy Seun te offer? Was ‘n kruis regtig nodig? Maar in die kruis van ons Here Jesus kom geregtigheid en genade bymekaar. Jesus dra onskuldig die regverdige straf vir sonde, maar verkry daardeur die genade van vergifnis vir hulle wat dit nie verdien nie.
As God sou vergewe sonder die kruis was God genadig maar nie regverdig nie. En as God net sonde gestraf het, was Hy regverdig, maar nie genadig nie. Paulus praat in Romeine 3 ook oor God wat regverdig en genadig is.
(3:4) “U is regverdig wanneer U uitspraak doen en U wen u saak wanneer U aangekla word. Ons verkeerde dade laat dus blyk dat God regverdig is.” (3:23) Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (3:26) “Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.”
As jy in Jesus glo bly die oordeel regverdig, want Jesus het jou straf gedra en daarom ontvang jy God se genade. As jy nie in die Here Jesus glo nie, is die oordeel ook regverdig, want dan dra jy self jou straf. God is altyd regverdig en genadig!
En toe Miga dit snap, bars hy uit in ‘n loflied in 7:18:
“Wie is ‘n God soos U?
U vergewe sonde,
U straf nie die sonde van dié
wat uit u volk oorgebly het nie.
U bly nie vir altyd kwaad nie,
U betoon liefde.
Hy sal ons weer genade betoon,
Hy sal ons sonde tot niet maak,
U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.”

Vriende, regverdig en genadig is die wese van God. Dit is hierdie wese van God wat Hy ook in jou en my gesit het. Dit beteken dat jy jou lewe op ‘n bepaalde manier sal inrig sodat die wese van God in jou mens-wees sigbaar sal wees. Dit het implikasies in ons lewe. Kom ek gee net ‘n paar voorbeelde om jou verder hierdie week te help dink:
• Verhoudinge deesdae kan baie oppervlakkig raak. Mense wil dikwels net die vrede bewaar sonder om ongeregtigheid en selfs sonde in liefde aan te spreek. As jy net die hele tyd die vrede bewaar sonder om die onreg of verkeerde uit te wys en aan te spreek is jy genadig sonder om geregtig te wees. Liefde is juis om mekaar op die regte pad te help en om genadig met mekaar se foute te wees. As jou vriende dit nie so kan aanvaar nie, verstaan hulle nog nie die wese van God nie.
• In die manier hoe jy jou kinders groot maak moet daar geregtigheid en genade wees. En dit is nie altyd ‘n maklike balans om reg te kry nie, maar jy kan nie net genadig wees sonder om somtyds ook te straf nie. Want dan maak jy kinders groot wat nie die wese van God verstaan nie.
• Hoe jy by die werk of teenoor jou werksmense optree moet regverdig en genadig wees. Jy moet vir hulle gee wat hulle verdien, hulle moet werk daarvoor, maar somtyds moet jy ook vir hulle gee wat hulle nie verdien nie, omdat jy genadig is en liefdevol optree.
• Wanneer iemand iets teen jou het of verkeerd teenoor jou opgetree het, beteken dit nie jy sê net alles is oraait kom ons vergeet net daarvan en gaan aan nie. Dit is net die genade deel. Die regverdig is om dit wat jy verkeerd gedoen het, reg te maak. Vergifnis is nie net genade nie! Dit is nie! Dit is genade in aksie! En Jesus het dit vir ons geleer. As Jesus die vrou se owerspel aanspreek in Johannes 8, wys Hy genade deur haar nie met klippe te gooi nie, maar Hy sê vir haar, gaan doen nou wat reg is en moenie dit weer doen nie – dit is geregtigheid.
En dit is die wese van God, genadig en regverdig, wat ook in ons lewe neerslag moet vind.

Slot:
In die laaste sin van sy profesie ontvang die volk ‘n belofte. Hierdie is ‘n verbondsbelofte. Met ander woorde, dit is bedoel vir mense wat deel is van God se volk. Hulle wat Hom aangeneem het en in Hom glo.
7:20:
“U sal getrou wees teenoor Jakob,
liefde betoon aan Abraham,
soos U in die voortyd aan ons voorvaders
met ‘n eed beloof het.”

Die doop vanmôre wat ons bedien aan ‘n baba, is die teken vir mense wat deel is van God se verbondsbelofte. Die babatjies wat vanmôre gedoop word se ouers is gelowige mense. Daarom sluit God kinders van die begin af in by sy liefde en trou. Hy gee die belofte dat Hy getrou sal wees teenoor hulle en ook aan hulle sy liefde sal betoon al verdien of verstaan hulle die nie alles nie. Dit is die genade deel van die verbond. (Wanneer ouers kinders inseën is dit presies die bedoeling)
Maar die verbond reflekteer ook die wese van God. Hy het gesê met die verbondsluiting in Genesis 17:7: “Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. 17:9: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle geslagte.”
Die verbond is nie net genade nie, dit bring ook ‘n verantwoordelikheid. Ek verwag dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde sal bewys en dat jy bedagsaam voor God sal lewe. Jy sien, die verbond is ook genade en geregtigheid! Daarom is die doop vir niemand ‘n paspoort hemel toe nie, want die genade moet beantwoord word met geloof en bekering en ‘n lewe van geregtigheid.
En Pa’s en ma’s en ouma’s en oupa’s, ons moet ons kinders oor God praat. Praat oor Jesus se liefde en genade en leer ook van die verwantwoordelikheid om bedagsaam voor God te lewe. Dit is die wese van God wat Hy in ons en ons kinders gesit het.