traneVrydag van die kruisiging is ‘n swart dag.

Dit is ‘n dag van rou. Of is dit miskien ‘n Goeie Vrydag?

Dit is ‘n dag waar ons meer oor trane moet dink.

Trane is gewoonlik uitdrukking van intense emosies….

               Gewoonlik trane van hartseer, maar soms ook trane van vreugde of verligting.

As jy al die lydensfilm, The Passion of the Christ, gekyk het dan sal jy onthou hoe die afgryse van die kruisgebeure oorspoel in trane – ook jou eie.

Eintlik is dit ‘n mengsel van skok en hartseer wat hierdie trane-reaksie ontlok.

In Jeremia, waarby ons nou ‘n paar keer stilgestaan het, vertel Jeremia 8:18-9:2 vir ons van ‘n groot tranesessie.   God se tranelvloed. Sy profeet, Jeremia, se tranevloed.

Lees die teks.

                         Tema: Die dag toe trane nie meer tel nie.

Skrifverklaarders wys daarop dat hierdie hartseer en trane nie net na Jeremia verwys nie.

Dit verwys ook na God.

Die woorde van God en die woorde van Sy profeet vloei hier ineen.

Dit word onskeibaar.

 

Die profeet se trane het nie maar net te doen met sy nasionalistiese gevoel oor die ondergang van sy volk nie.

Nee, Jeremia huil as’t ware God se trane oor die volk.

Jeremia se hartseer is ook God se hartseer.

Dit is God wat oorweldig word deur emosie.

God se hart breek oor die afvalligheid van sy mense. God ly oor sy mense se afvalligheid en vergeetagtigheid.

Die profeet, of is dit nou God? Gebruik die treffende beeld:

“Ag, was my kop maar vol water en my oë ‘n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het.” (9:1)

God kan nie klaar gehuil kry oor hierdie hartseer nie.

 

Ek het begin wonder oor trane.

Wat is dit? En waarom huil ‘n mens?

Ek het bietjie gaan lees:

Hierdie biologiese masjien wat ons die liggaam noem, is ‘n wonderlike skepping.

Dit gee op verskillende maniere uiting aan verskillende emosies.

Een daarvan is om te huil.

Maar waarom huil mense?

Waarom sou ‘n peutertjie huil as hy in ‘n doring getrap het?

Een teorie wil dat dit die liggaam se manier is om homself op een of ander wyse te herstel. Iemand gaan die skree hoor en die doring kom uittrek.

Dit illustreer ook sommer dadelik die tweede teorie. ‘n Persoon wat huil, ontlok by ander ‘n troosreaksie. Jy word as kind opgetel en vasgehou. Selfs lank nadat die pyn verby is en die trane klaar gevloei het wil jy nog vasgehou en getroos word.

Maar die trane by volwassenes word nie altyd deur hierdie teorieë genoegsaam verklaar nie.

Ek dink daar is ‘n ander verklaring. Dit is dat hierdie biologiese masjien blootgestel word aan allerhande stressore en traumatiese ervarings, veral emosioneel.

Om te huil, is wanneer hierdie biologie sê: “Hierdie trauma is net te groot om te hanteer.”

Trane is dan die manier waarop hierdie liggaam sê: “Ek het nie die nodige hanteringsmeganismes (coping meganisms) om hierdie trauma te hanteer nie. Dit is genoeg! Ek kan dit nie hanteer nie!

                                                 Ek breek uit mekaar uit!”

       Wanneer die liggam sê “Ek breek uit mekaar!” dan huil hy …. hartverskeurend en ontroosbaar en sonder hoop!

 

Ek weet van twee keer wat Jesus gehuil het:

Joh 11 beskryf die dood van Lasarus en die opwekking van Lasarus uit die dood.

Jesus was ‘n huisvriend van Lasarus en sy twee susters. Martha en Maria. Vers 5 sê dat Jesus hierdie gesinnetjie liefgehad het.

Maar daar sterf Lasarus en Jesus se taxi is nie so vinnig nie, sodat hy eers 4 dae na Lasarus se dood daar aankom.

As Hy daar aankom dan kom val Maria huilend aan sy voete. En rondom haar is daar baie vriende wat haar ondersteun.

Vers 33 vertel dat Jesus “se gemoed toe vol skiet” en dat Hy “aangedaan was”.

Vers 35 sê “Jesus het gehuil.”

Waarom sou Jesus huil? Tog nie omdat Lasarus dood is nie. Want Hy het tog geweet dat Hy Lasarus uit die dood sou opwek. (Hy het dit ook al vantevore voorspel.)

Nou waarom huil Jesus dan. Daar is net een verklaring voor: Medelye, eg menslike medelye.

             Jesus treur saam met Maria en Martha.

             Hy huil oor hul hartseer.

             Jesus bars in trane uit oor hierdie hartseer ….. en al die hartseer wat oor eeue en geslagte mense se trane sou dreineer.

Vir my troos dit om te weet dat Jesus simpatie met my het in my hartseer.

Hy is ontsteld saam met my ontsteltenis, kwaad saam met my kwaad, hy huil saam met my huil … want Hy wil nie dat mense se lewens so traumaties uiteenskeur nie.

Die woord simpatie beteken letterlik: saam – treur/saam-hartseer wees /saam huil.

               Dit is hoe lief God ons het.

Hy slaan net sy arms rondom ons en huil saam met ons.

 

Maar daar is ‘n tweede geleentheid waarvan ek lees dat Jesus gehuil het.

Dit is net na Lukas 19 se beskrywing van die triomfantelike intog n Jerusalem. Dit is die dag van palmtakke.

Maar skielik is die Hosanna weg.

Jesus steek vas en kyk na die stad. Hy sien meer as net argitektuur. Hy sien meer as mense. Hy kyk dieper as die uiterlike:

Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.” (Luk 19:41 ev)

En in 70 nC is de stad beleër , ingeneem met een van die grootste bledbaddens in die geskiedenis. 1 miljoen mense is vermoor.

Jesus huil oor ‘n stad …. en sy verspeelde kanse.

Jerusalem het ‘n geleentheid gehad om Jesus te verwelkom, maar dit ingeruil vir vyandskap en ‘n uitroep van “Kruisig Hom!”

Jesus is daaroor baie hartseer. So hartseer dat sy liggaam dit nie kan hanteer nie, daarom huil Hy.

Die laaste sin praat van die betekenis van die tyd wat hulle nie mooi verstaan het nie. En hulle het hierdie tyd (letterlik die “kairostyd”, die tyd van beslissing) nie reg gebruik nie.

Die geskiedenis is vol van verspeelde kanse.

Die geskiedenis is vol mense wat goeie geleenthede nie reg kon beoordeel nie en dit daarom nie reg kon gebruik nie.

           En dit is die grootste tragedie van miljoene mense se lewens

                     Dit is so traumaties dat dit Jesus se trane-reservoir oopspoel.

 

Miskien roep hierdie Kruisdiens ons om meer saam met mense oor hul traumas te treur.

             Miskien moet ons ook treur oor verspeelde kanse: ons eie en ander s’n.

 

Ek wil afsluit:

Miskien klink dit nou baie emosioneel vir Goeie Vrydag.

En volgens die beskrywing van die Evangelies is dit ook te emosioneel.

Want in die evangelies kry ons ‘n ‘n baie sober en bykans feitelike weergawe van die kruisgebeure.

Miskien wou die evangeliste vir ons sê dat die kruisgebeure nooit emosioneel beoordeel kan word nie.

Die implikasies en betekenis van die kruisgebeure kan nie met emosies en trane beskryf word nie.

       Dit is veels te diep. Daarom die feitelike beskrywings

Dit is die dag toe trane nie meer tel nie, net dade. Kruisdade.

Die kruisdaad was dan ook ‘n daad van gee.

Die kruisdaad is een wat Jesus breek.

Die kruisdaad is een wat Jesus nie net laat huil nie, maar waar Hy Hom liggaamlik laat breek…. juis om ons gebreektheid heel te maak.

Die naaste aan ‘n hartseer emosie waaraan ons in die Evangelies kom, is die feit wat gestel word dat God duisternis oor die aarde gestuur het.

Amper asof die evangeliste wil sê:

       God se trauma oor sy Seun is so groot dat ons net ‘n swart duisternis-kombers daaroor moet trek…

                     Die Goddelike emosies van die Golgota-gebeurtenis is te veel om sigbaar te wees.

                                 Dit is te goddelik om met menslike trane te verbeeld.

Daarom lees ons nou aan die einde van hierdie erediens een so ‘n evangeliese kruisverhaal.

En die beste wat ons daarmee kan maak, is nie om oor Jesus en die kruisgebeure te huil nie.

           Dit is ook nie om daaroor kwaad of selfs korporatief skaam te wees nie.

Miskien pas geskoktheid (soos by Passion of the Christ) beter.

           Of miskien is geloof en stille verwondering ons heel beste reaksie ….

 

Lees

 

Uitblaas van die Christuskers –

Ons gaan huistoe wetend dit is nie die einde van die verhaal nie, ook nie die einde van die paas-erediens nie.

Die Paas-erediens word voortgesit op Paassondag-oggend met sonsopkoms.

Mag vandag en môre vir jou ‘n dag van stilte wees,

                     ‘n dag van nadenke,

                           ‘n dag van uitsien na Paassondag se verrassing.