Prediker: André Oosthuizen

Inleiding
Levitikus is een van daardie boeke wat ons begin lees en na die eerste paar verse besluit om eerder te skip! Want daar is net te veel rituele en offers wat ons dink glad nie meer op ons betrekking het nie. Tog is dit die boek in die Bybel, met die meeste Godswoorde. Meer as enige ander boek in die Bybel, praat God direk en word Sy direkte woorde opgeskryf.
Ons sal kort-kort in Levitikus lees: “Die Here het gesê…”
So eintlik is Levitikus die boek om te lees as ons wil hoor wat God sê en wil weet hoe God wil hê ons moet lewe. En dit is in wese waaroor Levitikus gaan. Oor ‘n heilige lewe. Die woord heilig kom 152 keer in Levitikus voor! En ‘n heilige lewe beteken eenvoudig dat ek en jy in alles wat ons doen of sê of besluit sal wys aan Wie ons behoort. Deur die besluite wat ons in ons gesinne neem, in die beslissings oor ons sedelike gedrag, in ons verhoudings in die wêreld, moet ons duidelik wys aan Wie ons behoort! Dan leef ons heilig!
So, as jy wonder of jy heilig leef of optree is die vraag eenvoudig: Kan iemand nou sien, in dit wat ek sê of doen, dat ek aan God behoort? En hiermee help Levitikus ons. En ons gaan vandag by een aspek van ‘n heilige lewe stilstaan. ‘n Heilige lewe is ‘n lewe waarin ons dankbaarheid gesien kan word.
Skriflesing: Levitkus 2:1-16
In 1 Petrus 2:5 staan daar: “Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”
In Romeine 12:1 lees ons dieselfde gedagte: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.”
Met ander woorde vriende, offers is die hart van ons verhouding met God! Wanneer ons offers aan God bring, hetsy materiële offers of offers deur ons keuses en optredes, doen ons iets wat vir God aanneemlik is! Dit is vir God lekker (welgevallig) om ons offers te ontvang! Offers is dus nie net ‘n Ou Testament saak nie, dit is, soos ons in die Skrif lees, die wesenlike van die godsdiens wat ek en jy moet beoefen.
En reeds in Levitikus leer God sy volk dat offers deel van hulle verhouding met Hom moet wees. En ons weet die sondeoffers wat hulle moes bring is nie meer nodig nie, want Jesus is die finale offer vir sonde. Maar daar is ander geestelike offers waarvoor God wag!
In die eerste 2 hoofstukke van Levitikus lees ons van vrywillige offers wat ons aan God kan bring. Die volk word nie verplig om dit te bring nie, jy bring dit wanneer jy so voel of ‘n behoefte daaraan het. Dit is ‘n offer waarmee jy vir God dankie sê vir wat jy van Hom ontvang het. En baie interessant, hoewel dit nie ‘n verpligte offer is nie, verwag die Here tog dat dankbaarheid deel van Sy kinders se lewensritme moet wees. En ek sê dit is ‘n ritme, want dankbaarheid kom nie altyd gereeld en spontaan by ons nie. Dankbaarheid is nie noodwendig deel van ons daaglikse ritme nie. Kla en bekommer en onvergenoegdheid is eerder die ritme van die lewe. Meer hieroor volgende week. Dankbaarheid is dus deel van ‘n heilige lewe, volgens Levitikus. As jy dankbaar lewe, wys dit aan Wie jy behoort!
Ek wil vanmôre een voorbeeld van ‘n dankbaarheidsoffer uitlig en dit is die graanoffer. En hoewel ons nie graan vir die Here gaan offer op ‘n altaar nie, is daar ‘n baie belangrike beginsel van dankbaarheid wat ons uit hierdie graanoffer moet leer.

Nou die graanoffer was ‘n geskenk van die een wat alles ontvang het aan die Een wat alles gegee het. Dit was dus ook bedoel om vir God dankie te sê vir alles wat Hy gedoen het.
• Dankie Here dat U laat groei het en dankie Here vir die vermoë wat U gegee het om dit te bewerk.
• Dankie Here vir seën op my arbeid
• Dankie Here dat U vir my sorg en sal bly sorg.

En dan, om dit simbolies te wys het hulle ‘n graanoffer gebring. Nou hierdie offer het 4 bestanddele gehad:
• koring of mielies wat gemaal en gesif is,
• olyfolie wat uit olyfpitte gepers is en
• wierook.
Ons lees in vers 11 dat hierdie offer nie suurdeer of heuning in kan hê nie, want suurdeeg en heuning was ‘n simbool van slegte of heidense gewoontes wat jou verhouding met God sal versuur of bederf.
Maar daar was ‘n 4de bestanddeel wat altyd moes bykom, vers 13: “Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God;” Op 2 ander plekke in die Ou Testament word daar ook gepraat letterlik van die soutverbond. In Numeri 18:19 en 2 Kronieke 13:5. Ongelukkig word dit in die 1983 vertaling weg vertaal met “onverbreekbare verbond”. Maar die soutverbond het ‘n baie besondere boodskap in terme van ons dankbaarheidsoffers.
As die Here die opdrag gee om sout te gooi by ons offers, voeg Hy diepte en geestelike betekenis aan ons dankbaarheid! Nou sout was destyds ongelooflik skaars en waardevol. Dit is ook anders gebruik as net in kos of tequila drankies saam met suurlemoen! Sout is gebruik:

1. Om ‘n kontrak te sluit
As jy destyds ‘n kontrak of ‘n ooreenkoms met iemand wou sluit, het jy een van twee goed gedoen. Jy het of saam met die persoon sout geëet of jy het voor die persoon gaan staan en elke party het sout oor sy skouer gegooi. Dit was soos ‘n handtekening onder ‘n kontrak. Sout het ‘n ooreenkoms bekragtig. Ons het in afrikaans ‘n spreekwoord wat dit verwoord: om sakke sout saam op te eet. Dit beteken ons het ‘n ooreenkoms of ‘n verbintenis om aan mekaar getrou te bly en ons sal alles doen om hierdie ooreenkoms te eerbiedig.

Jy sien, liewe kind van die Here Jesus, een van die mens se mees basiese behoeftes is die behoefte aan sekuriteit. Dit is hoekom ons orals kontrakte sluit. En God kom bied hierdie sekuriteit. Hy kom sluit met jou ‘n kontrak. Hy verbind Homself aan jou en belowe om jou God te wees. Het jy al gedink hoe wonderlik dit is dat die Almagtige Skepper Homself sonder enige rede Homself aan jou kom verbind? En met hierdie verbintenis kom sê Hy, Ek sal die Een wees wat jou beskerm, Ek sal die Een wees wat jou deur die vuur en die water dra. Ek sal jou tot in Ewigheid lei. En hoewel God weet dat ek en jy nie die ander kant van die kontrak altyd getrou sal kan nakom nie, maak dit niks aan Sy liefde vir ons nie. Dit is genade alleen dat God Homself aan my verbind!

Dit is die eerste betekenis van die soutverbond!
2. Sout was uiters waardevol
Behalwe dat dit ‘n preserveermiddel was, was sout so ‘n skaars kommoditeit dat baie mense met sout betaal is. So is die soldate van Rome byvoorbeeld met sout betaal voor daar ‘n geldstelsel was. Die woord salaris kom direk van die Latyns salarium, wat soutgeld beteken. Dit is waar die uitdrukking vandaan kom: om jou sout te verdien of om jou sout werd te wees. Sout was dus geweldig waardevol en kosbaar!

Jy sien, dit gee nuwe betekenis aan Jesus se woorde as Hy sê ek en jy is die sout vir die aarde. Hy sê daardeur nie net wat ons moet gaan wees nie, Hy sê wie ek en jy is! Jy is die sout! Jy is kosbaar vir God! Jy is waardevol vir God! In God se oë is jy jou sout werd, want Jesus het met Sy lewe vir jou betaal!

Jy sien liewe kind van die Here Jesus, behalwe die behoefte aan sekuriteit het ons ook die behoefte om spesiaal of waardevol te voel. Mense soek dit in alle verhoudings. En dit is veral wanneer die lewe sy rug op jou draai dat jy moet onthou hoe spesiaal en kosbaar jy vir God is. In Sy oë is jy jou sout werd! So waardevol en kosbaar vir Hom dat Hy nooit sy oog of sy oor van jou sal draai nie. God kom gee met die soutverbond vir jou die erkenning dat jy vir Hom kosbaar is!

3. Voorsiening
Die derde betekenis van sout is dat dit bevestig dat God vir jou sal sorg. Wanneer die volk die offers vir die priesters gebring het, het ‘n deel van die offer aan die priester self gegaan vir sy lewensonderhoud. Die sout wat daaroor gegooi is het hulle dan herinner dat God vir hulle sal sorg.
Die derde basiese behoefte van die mens is die behoefte aan versorging. En die soutverbond herinner ons juis daaraan dat God vir ons sal gee wat ons nodig het, ons daaglikse brood.

Wonderlik dat die soutverbond die drie basiese behoeftes van die mens aanspreek! Sekuriteit, erkenning en voorsining! En omdat God sy sorg met die soutverbond kom bevestig, verwag Hy dat ons dankbaar sal wees! Want wat op aarde het ons dan meer as dit nodig?

Daarom maak die Here dankbaarheid en dankbaarheidsoffers deel van ons lewensritme. Nie net omdat dit vir Hom lekker is om ons offers te ontvang nie, maar ook sodat ons onsself kan herinner dat ons niks meer nodig het om dankbaar te wees nie! God het alles reeds vir ons gegee. Meer hieroor volgende week.