Skriflesing: Gen 18:16-33

Luister Die verhaal van God se uitreik na Abraham fassineer my steeds. Eintlik was dit die begin van die Jahwe-verhaal soos wat dit gestalte kry in die verhouding tussen Jahwe en die volk van Israel. Dan lees ons die kosbare gebeure van hoe God by Abraham en Sarai kom huisbesoek doen. Drie besoekers kom by hulle aan. Later blyk dat een van die persone niemand minder is as God self in menslike gestalte nie. En die twee mense, self al baie oud, rol die rooi gasvryheidstapyt uit – min wetend wie hulle ontvang. By die vertrek gebeur daar ook iets besonders. God voer so iets van ‘n binnegesprek: “Waarom sal ek nie maar vir Abraham (die vader van die gelowiges) inlaat met wat aan die gebeur is nie? Sodom is so sondig dat Ek hulle wil uitdelg. Kom ek vertel tog maar vir Abrham wat gaan gebeur!

Daaruit blyk reeds God se behoefte om in verhouding met die mens te tree. God soek mense as sy gespreksgenote. God geniet dit dat mense in verhouding met hom staan/leef. Maar die verhouding is nie monologies, eenrigting nie. Terwyl die ander twee figure verder gaan, bly God by Abraham agter. En God vertel vir Abraham van die nood en die toestand in Sodom. En God vertel vir hom dat die klagtes teen Sodom baie hard – en ten hemel skreeu! Dan lees ek die aangrypendste vers: ” … Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan. Die vraag is: Waarom bly staan God by Abraham? Daardie staan van God by Abraham is niks anders as ‘n geduldige uitnodiging nie.

God wag dat Abraham met Hom sal praat. God wag dat Abraham die uitnodiging sal raaksien en die geleentheid sal gebruik. In terapeutiese sessies is stiltes baie belangrik. Die terapeut sal nie sommer stiltes verbreek nie. Die stiltes, wat selfs ongemaklik sou kon word, word ook in sulke situasies die uitnodiging vir die pasiënt om verder te praat…       Dieselfde gebeur hier!

Dan lees ons hoe Abraham die geleentheid gebruik: “Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig?”” Dit klink of Abraham nader draai en reg voor God kom staan. En dan word die gesprek verder gevoer. Abraham waag dit al verder om met God te praat en om genade te pleit. Dit klink soos ‘n omgekeerde vendusie-veilig? Hy stry God af om asseblief nie vir Sodom te vernietig nie. 50 regverdiges?   45? 40? 30? 20? 10? En Abraham besef: God is baie genadig, maar God het ook rede om Sodom te vernietig. Die belangrike hier is egter die wonderlike ontdekking dat God mense innooi om oor groot sake met Hom te praat. Maar (en dis die belangrike punt vandag) voordat ‘n mens met God praat, praat God eers met ‘n mens. Hy praat eerste. Hy neem die inisiatief. Hy praat met ons om ons in te nooi tot ‘n geloofsverhouding. Jy kan dit ook noem ‘n verbondsverhouding.

Dit is wat in Ur van die Chaldeërs gebeur het toe God om een of ander rede ‘n wildvreemde ou met die naam Abram geroep het. Lees weer Gen 12. God roep hom om uit sy land uit te trek na ‘n wildvreemde land. God praat met hom oor gehoorsaamheid en beloftes. God praat oor sorg. God praat oor ‘n groot nageslag En, soos ons ook in hierdie teks sien: God praat met hom selfs oor ander mense by wie hy nie juis veel betrokke is nie. Sonder God wat praat is daar ook geen antwoord en geen gebed wat kan plaasvind nie. Miskien is die belangrikste ding wat kan gebeur dat ons soos ‘n jong Samuel sal leer sê: “Spreek Here, U dienskneg luister.”   Partykeer is daar egter baie geraas wat maak dat ons nie kan hoor nie:

Miskien moet ons soos God by Abraham bly staan het, ook tyd maak om self by God te bly staan totdat ons God se hartklop langs ons kan hoor.

Ek sluit af: In die aangrypende Franse film: “Of Gods and Men” Is daar in die 90er-jare van die vorige eeu ‘n 8-tal Christen monikke wat in Noord Afrika die gemeenskap dien. Daar is egter fundamentalistiese Moslem-rebelle wat die klooster bedreig. Die regering adviseer die monikke ook om die klooster te ontruim en na Frankryk terug te keer. Dit veroorsaak by hulle ‘n groot wroeging – om uit te vind wat God se wil is. Moet hul hul roeping versaak bloot uit vrees vir hul lewe? In een aangrypende toneel staan die dokter van die gemeenskap, ou vader Luc, en kyk hy aandagtig na ‘n skildery van die Messias aan die kruis. In ‘n poging om te hoor wat in Jesus se hart klop, gaan staan hy al luisterend teen die skildery – met sy oor op die Jesus-figuur se hart! Miskien is dit waar ons hoort: Met ons ore op die hart van ons gekruisigde Messias. Met ons ore in die Woord van die Here. Want dit is waar jy hoor hoe die Here nie net vir jou op die naam roep nie. Dit is waar jy gaan hoor dat God ook met jou praat oor die Sodom en die nood van die omgewing. Hy sal met jou praat oor jou groot nageslag, die kerk. Hy sal met jou praat oor die kerk wat nie sy roeping mag versaak nie. En dan kan jy nie nalaat om na God toe te draai nie. Amen