VF7Z0075Ek wil vanaand met julle iets deel wat hierdie week met my gebeur het.  Een van die goed wat ek gehoop het ek nooit sou sien of moet hanteer nie, het Maandag oor my pad gekom.  Ek moes langs ’n swembad by ’n ma sit terwyl die lykie van haar 3 jarige dogtertjie toegegooi langs haar lê.  Deur al die trane het ons net die voetjies en die een armpie gesien lê.  Ek het saam met die dokter en die ma net ’n gebed gedoen en gevra dat die Here haar sal vashou en sal troos.  Sulke goed bly mos by jou.  Dit is asof daardie tragiese prentjies iewers vassteek en jy sukkel om daarvan ontslae te raak. 

Toe ek die aand langs my eie twee lewendige dogtertjies op die bed sit, het ek die Here gedank vir my kinders.  Ons moet nooit vergeet om elke dag dankie te sê vir dit wat ons het nie, dankie vir die lewe.  Hoe dit gewoonlik werk is dat die kinders ’n Bybelstorie uitkies wat ons dan vir hulle lees.  Wel, toe kies hulle die storie van Lasarus wat uit die dood opgestaan het (ds Retief het verlede week oor Lasarus gepreek).  Ons oudste dogtertjie kan baie diep en ernstige vrae vra.  Sy vra toe: pappa, maar hoekom bid ons nie dat Jesus die dogtertjie wat verdrink het lewend maak nie?  Hy kon dan vir Lasarus lewend maak!

En weet julle wat, daardie oomblik kom daar so ’n koue rilling oor my!  Ek het nooit eers daaraan gedink om langs daardie swembad vir die Here te vra om die dogtertjie lewend te maak nie!  Ek het nie eers daaraan gedink nie!  En hoe meer ek daaroor dink hoe meer het ek besef, ek het nie eers vir die Here die geleentheid gegee om haar lewe te red nie!  Ek het Hom nie eers gevra om dit te doen nie!  En ek het daardie aand gewonder: wat sê dit dan van my geloof as ek nie eers gedink het daaraan dat die Here die onmoontlike kan doen en haar opwek nie?

Ek sukkel toe om te slaap en vat die Bybel en lees die verhale een vir een deur van die Here Jesus se wonderwerke, hoe Hy siekes gesond maak en dooies opwek.  Toe kom ek by hierdie storie in Markus 9 wat ons vanaand saam lees.

Skriflesing: Markus 9:14-29

Hier is ’n pa, benoud en bekommerd oor sy seun.  Hy het een of ander siekte gehad, maar het gelukkig nog geleef.  Nou in daardie tyd was siekte baie keer direk gekoppel aan bose geeste.  Ons lees daarvan op verskillende plekke in die Bybel.  Dit is egter baie gevaarlik om vandag sommer net sulke direkte lyne te trek tussen bose geeste en siekte.  Want dan kan dit gebeur dat jy in enige verkoue die duiwel sien!  So, ons moet onderskeidend met hierdie goed omgaan.

Maar hierdie pa kom ook met ’n klomp twyfel na Jesus toe.  Hy het Jesus se dissipels al gevra om te help, maar hulle kon nie.  En die skrifgeleerdes het natuurlik die situasie uitgebuit en met hulle begin redeneer.  So kom Jesus op hierdie debat af en vra in vers 16: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”

Uit die verhaal lei ek af dat dit vir Jesus eintlik ’n verleentheid was dat die dissipels nie instaat was om hierdie pa en sy seun te help nie.  Want Jesus sê in vers 19: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees?  Hoe lank moet ek julle nog verdra?”  Jesus is hier half geïrriteerd met die ongeloof van die dissipels!  En dan draai Jesus na die pa.  Net soos Jesus in baie situasies elke keer na sy kinders draai.  Hoe lank is die seun al so?  Hoe lank sukkel julle al?  En hy antwoord, van kleins af en dan hierdie woorde in vers 22: “as U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

Jesus moes nou net deal met die dissipels se ongeloof en nou sê die pa, “as U miskien tog iets kan doen”.  Nou sien ek al vir Jesus wanneer Hy die woorde van hierdie pa herhaal, so asof Jesus daardeur wil sê; luister bietjie wat sê jy.  Luister hoe dink jy.  Luister hoe glo jy (vers 23): “As U iets kan doen.”  Dit is asof Jesus wil sê: glo jy nou dat Ek iets kan doen, of glo jy nou nie?  Make up your mind!  Want of jy glo dit of jy glo dit nie.

As U iets kan doen!  Toe ek Maandagaand sit en dink was die woorde van hierdie pa eintlik beskrywend van my eie geloof.  En ek het myself die vraag maar weer afgevra: Glo ek regtig dat niks vir die Here onmoontlik is nie?  En wag so bietjie voor jy maklik antwoord.

Jy sien ouens, ons leef in ’n tyd van realisme.  Van die harde werklikheid.  Ons word daagliks met die realtiteit gekonfronteer dat mense siek word, doodgemaak word, dat net ’n handjievol werk kry en ’n klein persentasie huise en motors het.  Realisme laat ons soek na feite en bewyse en wetenskap.  Ons glo nie sommer enige iets of enige iemand nie.  En as ons iets of iemand glo, moet daar bewyse voor wees.  Ons glo realisties!  En saam met die realisme kom baie keer pessimisme.  Dit is vir ons makliker om te glo iets gaan nie gebeur of nie verander nie as om te glo dat dit kan verander.  Dit is vir ons makliker om te glo dat die Here niks gaan doen aan ’n bepaalde situasie nie, as om te glo en te verwag dat die Here wel iets gaan doen.

Dit is makliker vir mense om vandag te glo Suid-Afrika gaan ’n volgende Zimbabwe word as om te glo dat die Here hier is en dat die Here ons land kan verander.  Hoeveel keer het jy nie al in situasies beland waar jy vir jouself gesê het, ag die Here gaan in elk geval niks hieraan doen nie.  Jy bid daaroor, maar het eintlik alreeds besluit, die Here gaan nie doen wat ek Hom nou vra nie.

Johannes Calvyn skryf oor hierdie verhaal en dan praat hy van twee geloofs-fondamente.  Hy sê die 1ste fondament van jou geloofslewe is “to embrace the boundless power of God”.  As gelowige kind van die Here moet jy lewe met die wete (of dan geloof) dat die mag en krag van die Here enige iets kan doen!  Selfs al lyk dit onmoontlik!  Al lyk die uitkoms menslik gesproke of realisties onmoontlik, vir God is alles moontlik!  Geloof, ouens, vra dat ons die onmoontlike van God verwag omdat ons die “boundless power of God embrace!”  Calvyn sê dit moet die fondament van jou geloofslewe wees.  Met ander woorde, ons moet die Gees van God bid dat Hy ons in elke situasie sal herinner dat niks vir ons God onmoontlik is nie!  Want ons vergeet dit!  Ons word vasgevang in hierdie wêreld en al sy dinge en vergeet daar is ’n God groter as dit alles!  Soos wat ek dit langs daardie swembad vergeet het.  Trouens, Jesus sê dit vir die pa.    “… vir die een wat glo, kan alles.” Vir die een wat glo, kan alles.

Ouens, daar staan nie, vir die een wat glo gaan alles nie.  Daar staan, vir die een wat glo, kan alles.  Jy sien, wanneer jy dit waag om te vertrou op die boundless power of God, beteken dit nie dat die Here in alles vir jou uitkoms gaan gee soos jy vra en verwag nie.  Ongelukkig werk dit nie so dat ons altyd kry wat ons wil hê nie.  Somtyds genees mense, ander tye bly hulle siek.  Somtyds verdwyn probleme, ander tye moet ons nog ’n ruk daarmee worstel.  Somtyds word kindertjies uit ‘n swembad gered, ander kere gaan hulle dood.  Dit is die onverklaarbare van die geloof en die onverklaarbare van die lewe.  Maar die feit is, dit mag ons nie daarvan weerhou om die Here te vra en te vertrou en selfs die ontmoontlike te bly verwag nie!

Jy sien, ons is baie kere bang vir teleurstelling.  Die meeste van ons is al in ons geloofslewe teleurgestel op een of ander manier omdat ons of nie gekry het wat ons voor gevra het nie, of gedink het die Here moes op ’n ander manier ingryp.  Met die gevolg, ons is bang ons kry nie waarvoor ons vra nie, daarom vra ons eerder nie meer nie!  Ons het baie keer hierdie vrees dat die Here nie gaan antwoord nie, of dat die Here nie die wonderwerk gaan doen nie, daarom vra of verwag ons dit eerder nie van Hom nie.  Maar hier sê Jesus, “vir die een wat glo, kan alles.”  Daar is ’n kans!  Daar is ’n moontlikheid dat die Here dit kan gee waarna jy vra.  En is geloof nie juis om ’n kans te vat nie?  Om te sê: Here, ek weet U kan.  Of U gaan, dit weet ek nie nou nie, maar dat U kan, dit weet ek, en dat U altyd die beste vir my wil hê, dit glo ek, daarom vra ek Here!  En ek weet U antwoord gaan die beste vir my wees!

Ouens, miskien moet ons dit meer waag in ons geloofslewe om ’n kans te vat!  En ek bedoel dit in die mooiste sin van die woord.  Ek moes langs daardie swembad gebid het dat die Here die dogtertjie lewend maak.  Ek moes vir die Here die geleentheid gegee het om ’n wonderwerk te doen.  Gee ten minste vir die Here ’n geleentheid in jou lewe!  Gee vir die Almagtige Here die geleentheid om ’n doodloopstraat oop te breek, of om hartseer weg te vat of om die onmoontlike moontlik te maak!  Geloof verwag van die Here die ontmoontlike!

Jesus sê in vers 29: Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.  Dit is natuurlik nou ’n verwysing na die bose geeste.  Maar Calvyn sê so mooi oor die tweede fondament naamlik gebed:  “raise it above all opposition that our prayers are not in vain.”

Met ander woorde as jy glo in die boundless power of God moet jy so bid dat jy sonder twyfel kan sê jou gebede is nie tevergeefs nie!  Ek bid, want ek weet en ek glo dat die Here kan!

Slot:

Die pa sê so mooi en opreg in vers 24: “Help my in my ongeloof.”  Dit is wat ons ook maar moet bly bid.  Here help my in my ongeloof!  Help my waar en wanneer ek so sukkel om die onmoontlike van U te verwag.  Help my Here om nie ’n realistiese geloof te hê nie, maar ’n geloof wat veel meer verwag as dit wat vir ons werklik en haalbaar lyk!

Kind van die Here, waag dit om te glo, waag dit om te bid, waag dit om te vra, waag dit om die onmoontlike van die Almagtige Here te verwag.  Want vir die een wat glo, kan alles!  Amen