Markus evangelis skryf net 1 vers oor Jesus se hemelvaart.

“Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.”

Verder skryf net Lukas oor Jesus se hemelvaart in sy twee werke, nl die Evangelie en Handelinge, onderskeidelik net 4 verse en 3 verse.

HemelvaartEn ons kan begin dink:

Die hemelvaart is toe nie so ’n groot gebeurtenis nie! Dit is maar net Sy afskeid!

Om die waarheid te sê:  Die gemiddelde gelowige is nie vreeslik opgewonde oor die hemelvaart nie. En as jy vir kerklidmate sou vra wat jy weet van die hemelvaart, dan sal hulle ook nie vir jou veel kan sê nie, behalwe dat Hy “weg is hemel toe”.

Oor die teologiese betekenis daarvan sal ons nie veel woorde hê nie.

 

Ons ongeërgdheid het sekerlik te make met die idee dat Jesus nou sy kerk verlaat het.

Is die hemelvaart dan nie ’n demonstrasie daarvan dat Hy ons nie net verlaat het nie, maar selfs in die steek gelaat het?

Miskien moet ons so ’n bietjie langer na die hemelvaart kyk.

Handelinge se weergawe van die hemelvaart maak trouensbaie van die begrippe van “sien” en “kyk”.  Trouens toe Hy wegvaar, lees ons dat die dissipels nog vir ’n tyd “stip na die hemel kyk”.

Miskien help hierdie hemelvaartfees ons om bietjie langer stip na die hemel te kyk

– sodat ons bietjie beter kan verstaan,

–       sodat ons kan verstaan dat dit nie net ’n afskeid was nie,

–       sodat ons kan verstaan hoe die Here Jesus nou met ’n nuwe fase van Sy bediening begin.

Ons moet goed kyk juis omdat so min vir ons vertel word.

 

Vir die kinders het ons in die erediens verduidelik dat Jesus 3 dinge doen vanuit die hemel:

–       Hy regeer,

–       Hy stuur die Heilige Gees en

–       Hy tree in gebed vir ons in.

Maar dit is totaal te min gesê!

Kom ons kyk net eers na Lukas se teks hieroor.

 

Lukas sê Jesus lei die dissipels uit na Betanië – so twee km anderkant die Olyfberg.

Waarom Jesus hulle daarheen gelei het, weet ons nie.

Dit was wel ’n bekende plekkie waar Lasarus en sy susters gewoon het.

Maar miskien is dit belangrik dat Jesus hulle doelbewys (soos die teks sê) “uit die stad” wou uitlei.

In die stad is daar te veel dinge wat hul aandag kan aftrek.

Daar moet ruimte wees vir hulle om op te kyk en om ’n rukkie langer stip na die hemel te kyk.

–       Net soos ons ook vanaand na die dag se baie geskarrel eers hier in die alleenheid saam met ander gelowiges in die kerk oor hierdie gebeure moet kom nadink … en opkyk.

Wat gebeur by Betanië:

Drie dinge:

  1. Jesus vaar seënend op na die hemel.
  2. Sy dissipels aanbid hom met blydskap.
  3. Die dissipels gaan terug na die tempel en daar prys hulle die Here … blykbaar vir geruime tyd.

Die Griekse terme wat hier gebruik word is interessant:

Jesus seën hulle – eulogeo.

Hulle aanbid Hom – proskuneo.

Hulle gaan prys Hom in die tempel – weer eulogeo.

Letterlik beteken eulogeo om goeie woorde te spreek.

Jesus se hele bediening was om goeie woorde te spreek – oor God se liefde en genade oor ’n moedeloos-sondige wêreld.

Wanneer Hy nou opgeneem word in die hemel, dan is Hy steeds besig om goeie woorde oor hulle te spreek.

Hy is besig om seënende woorde te spreek.  Die uitsteek van sy hande dui daarop dat Hy nie net vir hulle inligting oordra nie, maar letterlik hierdie goeie dinge toesê en dit dus oor hulle uitstort/op hulle aflaai – met die oop hande na onder.

Dit is om deur Jesus geseën te word.

Dan aanbid hulle Hom (proskuneo).

Om die Here te aanbid is om Hom  te erken vir wie Hy is.

Dit gaan oor eer wat toegesê word.

Hulle is eintlik alreeds besig om weer goeie woorde oor Hom te spreek, soos hulle dan ook in die tempel gaan doen in hul lofprysing.

Waar aanbidding meer die karakter dra van ’n intieme binnegesprek, is die lofprysing miskien meer ’n openbare erkenning en verering.

 

Wat egter hier opval is dat die karakter van die gebeure nie morbied is nie.

Dit is nie ’n hartseer afskeidsgeleentheid nie.

Nee, hul gemoedstoestand is een van blydskap.

En dit is net moontlik omdat hulle die sin en die triomf van hierdie gebeure verstaan.

Ons moet onthou dat Jesus vir 40 dae sedert die Paasgebeure dikwels met hulle gepraat het oor die koms van die Koninkryk van God.

Hier gebeur dus presies wat Jesus hulle voor voorberei het met sy gesprekke.

 

Maar kom ons staan ’n bietjie vandag stil by Jesus se afwesigheid en tog ook sy vreemde nuwe teenwoordigheid by ons…

Vers 51 sê duidelik dat Jesus van hulle af weggaan en in die hemel opgeneem word.

Nou is dit belangrik om ons verstaan van die hemel reg te kry.

Die Bybel praat soms van die hemel as die uitspansel wat ons bo ons kan sien. Dit is  deel is van die fisiese skepping.

Maar dan praat die Bybel ook oor die hemel as die woonplek van God.

Dit is onsigbaar.  Dit is nie “daar bo êrens” nie.

Dit is waarskynlik veel nader aan ons as wat ons dink!

Dit is die geestelike dimensie bo ons, rondom ons, in ons.

En dit is na hierdie geestelike dimense waarheen Jesus teruggekeer het.

Dit is die lewe saam met die Vader en die Heilige Gees waarheen Jesus terugkeer toe sy bediening in sy sigbare gestalte afgehandel is.

Die grens tussen die sigbare en die onsigbare wat Jesus op Kersfees-aand oorgesteek het, het Hy pas met sy hemelvaart weer oorgesteek. In die teenoorgestelde rigting.

Maar die engele vertel ook van die feit dat Jesus met sy wederkoms uit daardie dimensie na ons sal terugkom … en elke oog sal hom sien!

 

Maar, kom ons wees eers eerlik.

Jesus is nie meer sigbaar teenwoordig nie.  En dit voel ook soms vir ons of Hy afwesig is.  Dit sou vir ons makliker wees as Hy sigbaar hier tussen ons was.

Daarom moet ons leer om beter te kyk.

Ons moet in die geloof leer om Hom raak te sien in die hemelse dimensie wat sekerlik nie so ver is as wat dit vir ons voel nie!

Daar sit Jesus in die regeerposisie waarvandaar alles in die heelal (sigbaar en onsigbaar) regeer word.

Hy plaas van daar af alles in ’n nuwe verhouding met die hemelse troon.

Ook ons ou blyplekkies en leefplekkies moet nuut gedefinieer word in verhouding tot hierdie hemelse troon.

Trouens Hy is besig om ons (deur die Gees) te help om ons eie geografie nuut te sien. Ons moet leer om ons omgewing nuut te beskryf in die lig van Sy droom van nuutheid vir hierdie wêreld.

En hierdie nuutheid en hierdie droom is miskien nie so ver weg as wat ons normaalweg dink nie.

 

Nou hoe is Jesus deesdae teenwoordig?

Ons moet onthou dat die hemelvaart en die Pinkstergebeure eintlik deel is van een prentjie.

Met die uitstorting van die Gees van Christus is dit Christus self wat in ons lewens kom intrek neem – baie nader as wat die sigbare Jesus aan sy dissipels kon wees.

 

Maar tog vervang die Heilige Gees nie Jesus en sy plek nie.

Ons het nie ’n “Replacement Theology” waar Jesus onbetrokke raak en die Gees nou al Sy werk moet oorneem nie.

Lees maar weer in Handelinge waar Jesus aktief besig is met Sy bediening:

Die Jesus wat op die regeerposisie sit is vandag nog in ons lewens besig. Hy is onsigbaar teenwoordig in hierdie hemelse dimensie rondom ons.

Nou vir die verrassing waarmee ek wil afsluit:

Ons het gesê Hy is in die hemelse dimensie onsigbaar en dienend teenwoordig.

Hy is ook onsigbaar deur die Heilige Gees by ons teenwoordig.

Maar Jesus is sigbaar … op meer maniere… by ons teenwoordig.

 

Hy is teenwoordig deur

Die sakramente – op ’n besondere manier is Hy in die sakramente teenwoordig. (Die Roomse Kerk maak meer daarvan.)

F  Die Woord en die verkondiging daarvan.  As iemand die lewende Christus wil ontmoet, is die beste plek om Hom te gaan soek in Sy Woord.  Of raker gesê:  In die erediens van die gemeente waar die Woord  lewend gepreek word in die krag van die Gees.

Deur sy kerk.

As Jesus opvaar na die hemel, dan bevind die dissipels hul alleen op die verhoog.  Hulle word die rolspelers wat Jesus teenwoordig moet stel aan die wêreld.

Die Bybel praat van ons as die “liggaam van Christus”.

En daar is net een rede waarom Jesus nie tydens sy aardse bediening alles gedoen en afgehandel het nie:

            Dit is omdat Hy sy kerk deel wou maak van die bediening.

En as die wêreld vandag na Christus soek, dan kyk hulle eerste na die kerk.

Hulle soek Sy liefde, Sy genade, Sy oë en Sy hande deur eerste na ons te kyk.

Ongelukkig kyk hulle ook nie altyd baie lank na die kerk nie, omdat ons hulle dikwels teleurstel.

Maar Jesus het deur Homself van die verhoog te verwyder, die kollig ten volle op ons geplaas.

Ons weet die gehoor kyk na ons.

Daarom moet ons nie net toneelspelers wees nie.

Ons het nodig dat God regtig in ons gestalte kry sodat die gehoor God regtig kan raaksien.

Ons mag nie toelaat dat die gehoor Christus kamma-kamma sal raaksien nie.

Hulle soek die “genuine” Christus se gesig.

 

Daarom is Pinkster nodig en dat ons “vervul sal word met die hele volheid van God” – en dit is dan ook die Pinkster-tema van Sondag-oggend af.

Amen

 

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.