Visie-ligHoe donker moet dit raak voordat jy God kan sien?

Hoe lig moet dit raak voordat jy sal gaan?

Ons het pas Pinksterfees gevier. Ons het fees gevier oor die totstandkoming van die kerk van Jesus Christus wat die Heilige Gees ontvang.

Juis daarom kon hulle begin om getuies te wees – in Jerusalem en Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

Dit was dan ook hul roeping of missie: om getuies te wees.

Dit is is steeds ons roeping.

Baie jare vantevore het die Here God ook ‘n getuie nodig gehad: ‘n profeet wat oor God kon praat.

Jes 6 beskryf die roeping van hierdie profeet: Jesaja.

Hierdie teks was deel van my eie roepingsuitklaring.

Daar in die Moederkerk op Oudtshoorn in my dienspligjare het die Here my een aand aan die hand van hierdie teks ontmoet en vir my gevra:

“Wie sal Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?”

En net soos met Jesaja kon ek nie weerstand bied nie.

Wat egter nou, by die herlees van die teks, vir my duideliker opval, is die visie op God wat hier so groots en duidelik geteken word.

Ja, Jesaja het ‘n missie gekry.

Maar hy sou nie gehoorsaam kon wees aan die missie sonder die visie op God nie.

(Ons kom nou-nou daarheen terug.)

Hierdie Godsverskyning vind egter op ‘n baie spesifieke tyd in die geskiedenis plaas.

Vers 1 sê dit is “…in die jaar van koning Ussia se dood”.

Die dood van koning Ussia was ‘n baie belangrike keerpunt in die geskiedenis.

Koning Ussia was ‘n goeie en gelowige koning.

Dit was tot op hierdie punt ‘n bloeitydperk in Israel se geskiedenis.

Nou is die bloeitydperk verby. Trouens van hier af het Assirië al meer dreigend op die horison verskyn en uiteindelik is die volk in ballingskap weggevoer.

Van Ussia se dood af het die gevoel van hooplosheid al meer onder die volk posgevat.

Op ‘n vreemde manier is dit juis die wanhoop van die volk wat ‘n deur oopmaak vir ‘n nuwe visie op God.

En dit is hierdie visie van wie God is wat die volk toe nodig het om

Wanneer dit donker raak, dan raak die behoefte aan lig al groter.

Wanneer jy alles verloor en dit net God is wat oorbly, dan raak God vir jou al belangriker.

 

Wat sien Jesaja?

“Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel (Lett: “paleis”) gevul.

By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

Die troonvisioen vertel vir ons dat God regeer.

Die troon is ook baie hoog. Ons kan skaars tot daar bo sien.

Wat Jesaja egter op sy eie vlak mooi kan raaksien, is die soom van God se koninklike kleed.

Dit is so groot dat dit die troonkamer vol lê!

Dit vertel iets van God se grootheid in die oortreffende trap.

Hier loop die godsdienstige terminologie en die koningsterminologie ineen.

God is ook Koning. Die tempel is eintlik Sy paleis.

En net miskien is dit die een saak waarmee ons die meeste sukkel. Want ons maak mos vir God so sakpasformaat. Hy is so groot (of klein?) dat ons Hom sommer self kan hanteer.

En as Hy ‘n bietjie te groot word vir ons geloof en geloofsbegrip, dan krimp ons Hom tot Hy hanteerbaar is.

Want sien, ons sukkel mos met verwondering!

Dit raak selfs ‘n risiko vir ons selfstandigheid as God te groot sou wees.

Dan mag Hy ons lewe miskien so insluk dat ons identiteit in Hom opgaan.

Daarom verkies ons God nie TE GROOT nie.

 

Jesaja se visioene sê: Die troon was baie hoog!

Doen jouself ‘n guns en gaan lees vanaand Openbaring 4 se troonvisioen.

Die prentjie is ongeveer dieselfde met net nog ‘n klompie NT-detail by.

Dit is opmerklik dat Jesaja God self nie sien nie. Of liewer, hy sê hy sien God, maar daar is geen beskrywing van God self nie. Hy beskryf net die uiterlike elemente van die troonverskyning: die troon, die kleed, sy teenwoordigheid en die omstanders.

Ons moet onthou dat daar die OT-tradisie was dat as jy vir God sou sien, dan sou jy sterf.

Die Moses-verhale maak baie daarvan.

Hier “sien” Jesaja vir God, maar tog ook nie werklik nie.

Dit klink vir my soos ons geloof-sien.

Ons glo, ons weet, maar die retina vertel dit nie vir ons nie.

Die beeld is net te veel vir die retina.

Die serafs hier is hier baie interessant.

Die serafs is moontlik iets anders as engele. Dit klink vir ons amper na vurige draak-agtige skepsele. In Openbaring se troonvisioen is daar baie omstanders en lewende wesens.

Wat belangrik is, is egter hul getuienis oor God:

‘Die serafs het mekaar telkens toegeroep (oor en weer): “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (letterlik: “heerlikheid”).”’

Hulle sing oor God.

Hulle verlustig hulle vreugdevol oor God.

 

Twee sentrale momente van die lied:

God se heiligheid het waarskynlik meer te make met God se andersheid.

Sy andersheid beteken ook dat daar afstand is tussen God en ons.

Waar ons te na aan hierdie Heilige God kom, daar raak dit selfs riskant vir ons.

En tog lees ons dat God genoem word die “Heilige van Israel”. Maw hy is die God wat terselfdertyd met mense in verhouding wil tree.

Maar hierdie verhouding kan weens God se heiligheid nooit ‘n familiariteit word nie.

Dit sal altyd met eerbied gepaard gaan.

God se heerlikheid (Grk: kabod) is in ons Bybels (bietjie swakker) vertaal met “sy magtige teenwoordigheid.”

Die Afrikaans help ons miskien met die HEER-likheid en die hEERrlikheid in die term.

Hy is die Heer wat eer verdien.

Hy het ‘n regmatige aanspraak op die regering. Hy het die mag. Hy sit immers op die troon.

En Hy moet sodanig erken word.

 

Selfs as koning Ussia sterf en alles verval in wanorde, selfs as die lewe vir mense onseker word, dan regeer God steeds.

En dan sien ons miskien vir God nog beter raak. Hy is die helder Lig in die donkerte.

Heilig en heerlik! Hy sit op die baie hoë hemel-troon.

Vir ons as NT pinkstermense is dit nodig om weer vir God raak te sien.

Maar nie in ons sakpasformaat nie. Ons moet Hom raaksien sonder verkleining – soos Hy regtig is.

En dit is net die Heilge Gees wat deur die Woord ons daarmee sal kan help.

Dit is ook net die Heilige Gees wat ons sal kan oortuig van ons onheiligheid. Want dit is dan Jesaja se spontane reaksie.

Vers 5:

Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

Maar God reinig hom. God vergewe hom. God maak hom bruikbaar.

Dit is ook net die Heilige Gees wat ons dan sal kan lei tot ‘n lewe van gehoorsaamheid.

Vers 8:

Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?”

Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

 

En sluit af:

Miskien is die grootste taak en roeping van die kerk vandag om

En wanneer ons God raakgesien het, ander mense se aandag te trek vir wat ons gesien het:

“Kom kyk hier! Kyk daar bo! Daar ver bo! Dis God! Heilig en heerlik!

Maar ook hier onder! God het mens geword! Jesus het onder ons kom woon! Ons het sy liefde en omgee gesien!

Want sien – dit raak al donkerder. En ons raak al meer gespanne oor die bedreigings wat al groter raak.   Ons het Lig nodig.

Die kerk van Christus het lig nodig.

Suid-Afrika het lig nodig!

Want ons het nie meer ‘n aardse koning wat kan sorg vir welvaart en die orde nie.

Ons het dit nodig om ons Koning op die troon te sien.

Amen

Prediker: Ds Retief Botha.

Reageer gerus na rrbotha@hotmail.com