André Oosthuizen  andrej@webafrica.org.za

Picture1Ek dink nie daar is iemand wat nie daarvan hou om bederf te word nie.  Dit is nou wanneer daar iets spesiaals vir jou doen gedoen word.  Party bederfdae word in ons kalenders ingeskryf by valentynsdag, vadersdag, moedersdag, verjaardag, huweliksherdenkings.  Dan word presente gekoop, blomme opgemaak en etes voorberei om iemand spesiaal te laat voel.

Behalwe spesiale bederfdae waar ons bederf word, is ons natuurlik ook baie lief daarvoor om onsself te bederf.  Pa’s bederf hullself met gholftoere en jaguitstappies en nuwe motors.  Ma’s bederf hulleself natuurlik baie meer gereeld as pa’s met allerhande onnodighede soos skoene en rokke en selfs nuwe kombuise.  Feit is, ons almal hou daarvan om bederf te word of om onsself so ’n bietjie te bederf.  Dit is die mooie en goeie van die lewe wat ons kan geniet waarvan die Prediker ook praat.  En die verhaal van Jesus se salwing in Betanië is, behalwe die feit dat dit ’n heenwysing is na Jesus se kruisdood, op ’n manier ook vir my ’n bederf-verhaal.

Op ’n manier het Jesus ’n besondere band met Betanië gehad.  Dit was die plek waar Hy sy vriend Lasarus uit die dood opgewek het en waar die twee sussies Marta en Maria gebly het.  En nou kry ons Jesus weer in Betanië aan huis van Simon, ’n melaatse, waar Jesus gaan eet het.  Marta was soos gewoonlik maar in die kombuis doenig terwyl Maria meer gereeld by sy voete gesit het.  En dit was die einste Maria wat toe ’n besondere en spesiale ding daardie dag aan Jesus doen.  Sy vat ’n halfliter nardusolie en gooi dit op Jesus uit.

Nardusolie was verskriklik duur.  Dit het van Indië af gekom en is van ’n wortel van ’n Nardusplant geneem.  ’n Halfliter was buitengewoon baie en was ongeveer ’n hele jaar se salaris vir ’n gewone werknemer.  Nou dit moes sekerlik ’n paar jaar se spaar gewees het om hierdie halfliter bymekaar te maak!  Ek reken Maria sou haarself baie jare lank daagliks kon bederf met ’n bietjie reukolie.  Maar toe doen sy die vreemde ding en gooi al hierdie baie duur reukolie oor Jesus uit.  Matteus en Markus vertel sy het dit oor sy kop uitgegooi en Johannes sê sy het dit oor sy voete uitgegooi en met haar hare afgedroog.  Maar al drie die evangelies wil dieselfde boodskap gee, sy wou Jesus met hierdie liefdesdaad op ’n baie spesiale manier eer.  Sy wou iets spesiaals vir Jesus doen.  En daarom gee sy haar beste vir Hom.  Trouens, sy gee sommer alles wat sy gespaar het!

En Judas, die man wat die beursie gedra het, se mond hang oop.  Johannes sê sommer reguit hy was ’n dief.  En 300 goue munte sou vir hom ’n paar geleenthede gee om van die armes se geld te vat.  En dan antwoord Jesus hom: Laat staan haar, die armes het julle nog altyd by julle.  Nou die opmerking oor die armes klink aanvanklik baie kras en selfs harteloos.  Maar met hierdie woorde verstoot Jesus nie die armes nie.  Hy doen  twee dinge.

Want jy sien vriende, liefde vir jou naaste is belangrik, maar dit kanselleer nie liefdesbewyse teenoor God nie.  Ja, dis belangrik om vir ander lief te wees, dit is belangrik om vir jouself en vir ander te sorg, dit is belangrik om vir ander te gee, dit is belangrik om vir ander lief te wees, maar die eerste gebod bly – om God bo alles lief te hê!  En Maria kom wys met hierdie spesiale liefdesdaad nie hoe belangrik ander is nie, maar hoe belangrik Jesus werklik vir haar is!

En vriende, ek wonder toe hierdie week oor ons liefde vir God en die spesiale goed wat ek en jy vir Jesus doen as ’n gestalte van ons liefde vir Hom.   En daar is sekerlik baie voorbeelde van spesiale goed wat jy vir Hom doen waarvan ander nie eers weet nie.  En ek dank die Here daarvoor!  Maar aan die ander kant wonder ek of ons nie dalk meer spesiale dinge vir onsself as vir God doen nie?  En kom ek vra dit reguit vanmôre: Is jy en ek bereid om soos Maria, iets spesiaals op te offer ter wille van Jesus?  Maria het iets spesiaals van haarself weggeneem om vir Jesus te gee!  Sy het haarself iets baie besonders ontneem, om Jesus mee te eer.

En in hierdie tyd waarin ek en jy leef, waar mense hulleself gerieflik en gemaklik wil inrig, gereeld wil bederf omdat ons so hard werk en swaarkry en gereeld moeg word, het ek sommer gewonder of hierdie opoffering ter wille van Jesus nog enigsins deel van ons geloofslewe is?  Ek bedoel, moet ons nie partykeer ook iets opoffer ter wille daarvan om vir Jesus iets spesiaals te doen nie?  In plaas daarvan om nog ’n flatscreen te koop of ’n naweek weg te gaan, of nog ’n ekstra paar tekkies, los dit en gee die geld vir Here of daar waar sy werk en koninkryk dit nodig het.  Hoekom is hierdie liefdesdade of opoffering so vreemd vir ons?

Ek gesels hierdie week met iemand in Veritas wat vertel hoe Christene in Angola klein kalkoentjies koop en hulle groot maak om weer te verkoop sodat hulle hulle opleiding kan betaal en ook vir ander kan help om die Bybelskool by te woon en Jesus te ontmoet.  En ek dink by myself, dit is nou iets spesiaals wat hulle vir Jesus doen!  Hulle offer van hulle eie tyd en geld op ter wille van Jesus.  Hulle maak kalkoentjies vir Hom groot al sou hulle dit eerder self kon eet omdat hulle dikwels nie eers genoeg vir hulleself het nie! Iets spesiaals vir Jesus!

Jy sien, die geloofsbeginsel wat ons in Maria raaksien is dat sy vir ’n slag nie net aan haarself gedink het nie. Sy wou iets spesiaals vir Jesus doen.  En vriende, die Heilige Gees moet jou en my oortuig wat dit kan wees, maar daar is baie geleenthede en maniere.  Jy kan van jou tyd opoffer, jy kan van jou geld opoffer.  Miskien kan jy iets opoffer sodat jy iets spesiaals kan gee hierdie 10de maand.  Ja, nie almal het ’n halfliter olie wat iewers net rondstaan nie, maar as ons koop maak ons allerhande slim planne om dit gekoop te kry.  Moet ons nie ook maar probeer om ’n paar planne te maak om iets spesiaals vir Jesus te gee nie?

Weet jy wat val my toe die meeste op in hierdie verhaal?  Die woorde van Jesus in vers 13: “Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.”

Dit was vir my ’n ongelooflike gedagte dat Jesus hier erkenning gee vir wat sy gedoen het!  Die griekse woord herinner aan ’n monument.  Hy sê dat dit wat sy gedoen het, soos ’n monument sal wees wat die res van die wêreld vir baie lank sal onthou.  Hoe wonderlik dat God dankbaar is vir die spesiale liefdesdade wat sy kinders aan Hom doen!

Hy kon so maklik, as die rykste Koning in die hele wêreld vir haar gesê het: Ja, ja, kry net klaar met jou ou olietjies, Ek het nog honderde liters daarvan in my skatkamers.  Maar dit is nie wie Hy is nie!  Hy waardeer wat sy doen en gee erkenning aan haar liefdesdaad!

Interessant, die gedagte dat Jesus erkenning gee vir mense se liefdesdade vind ons nogal op ander plekke in die Bybel ook.  Ons lees dat Jesus vir die vroutjie by die offergawekis wat ’n paar sent ingegooi het, raaksien en waardeer wat sy gedoen het.  In Handelinge 10:4, die verhaal van Petrus en Kornelius lees ons dat God ’n engel na hom stuur en vir hom sê: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink.”

Met ander woorde, God sien raak wat mense vir Hom doen!  Hy sien raak wat jy vir Hom doen en die wonderlike is dat Hy dit waardeer!  Hy is dankbaar daarvoor!  Elke liefdesweldaad hoe klein of hoe groot dit ookal mag wees gaan nie ongesiens by Hom verby nie, dit maak sy hart bly.

Slot:

Dank die Here vir geleenthede om iets spesiaals vir Hom te doen.  Geleenthede waarin ons ons liefde vir Hom op praktiese maniere kan wys.  Mag die Heilige Gees ons in hierdie week verder lei om na te dink oor my liefdesdade teenoor God.  Liefdesdade wat somtyd vra dat ek iets moet opoffer, iets moet inboet, miskien myself te kort doen ter wille van Jesus.  Liefdesdade wat Hom vereer as die Een wat ek liefhet bo almal en selfs bo alles wat ek het.  Dit is die liefdesdade, liefdesoffers wat God raaksien en waardeer.  Amen