Matteus Evangelie het ten doel om ons meer van Christus Jesus te vertel.

En as ons dit wil reduseer tot ’n eenvoudige formulering, dan is dit die blye boodskap dat God by ons is.

Trouens, Matteus begin sy Evangelie met hierdie gedagte net na die geslagsregister (waaroor ons in die adventstyd gehandel het).

“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.”

Die naam beteken God by ons.

Maar Matteus sluit ook sy evangelie met hierdie gedagte af in Mat 28:

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Hierdie mag vir ons bekende uitsprake wees, maar daaragter sit ’n stuk misterie wat nie maklik deurgrond kan word nie.  Dit gaan oor die vraag wie Jesus regtig is.

En dit gaan ook oor die vraag of Hy nou God of mens is.

Net om dit so bietjie moeilik te maak en jou antennas oor Jesus vandag te prikkel, die volgende gedagtes wat wys hoe die kerk oor die jare geworstel het met die vrae oor wie hierdie Jesus regtig is.

Die ou kerkvader Melanchton was die eerste sistematiese teoloog wat nou saam met Luther en Calvyn gewerk het tydens die Reformasie van die 16e eeu.

Hy het gesê:  “Om Christus te ken is om sy weldade te ken.”

Hy wou daarmee die klem laat val dit wat Christus so ryklik vir ons kom doen het.

As ons weet wat Hy alles vir ons kom doen het, dan weet ons ook sommer wie Hy is.

Hy het aangevoel dat Christus se wese is soveel anders en vreemd dat ons nie te veel oor sy wese moes spekuleer nie.  Hy moes eerder aanbid word, sonder om te veel uitsprake te maak oor Sy wese.

Nog ander kerkvaders het gesê:  Tree  liewer in verhouding met Jesus, dan sal jy uit die verhouding al meer agter kom Wie Christus is.

 

En tog wil die Woord van God vir ons meer sê.

Die Woord wil vir ons meer sê oor Jesus se wese en wie Hy is.

Uiteraard is sy inkarnasie (Sy Goddelike menswording in Jesus) vir ons totaal te diep en te vreemd om te verstaan, kan tog kan ons meer oor Hom as persoon sê.

Wanneer Petrus in Mat 16:17 byvoorbeeld gevra word oor wat hy verstaan van Jesus, dan antwoord hy nie net oor die betekenis (waarde) van Jesus nie.  Hy antwoord ook nie in terme van die liefdesverhouding nie.  (Daaroor sou hy rondom die kruisgebeure met die liefdesvraag moes rekenskap gee.) Hy antwoord oor sy verstaan van Jesus se persoon:

“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

En so kom die kerk mettertyd tot formulerings oor Jesus se ware aard/Sy persoon.

So waag die kerk dit om oor Jesus te sê dat Hy twee nature het:

’n Goddelike en ’n menslike natuur.

Maar wat is die verhouding tussen hierdie twee nature?

Is een van hierdie nature nie dominant oor die ander nie?

En by die Konsilie van Chalcedon (451 nC) verstaan die kerk dit so dat hierdie twee nature van Jesus onvermeng, onveranderd, ongedeel en ongeskei is.

Dit is te pragtig om, as jy hierdie teologie en die geskiedenis lees, te sien hoe diepgaande die kerk oor Jesus nagedink het.

Miskien het ons baie by hulle te leer.

Miskien is ons te oppervlakkig en bang om oor God en oor Jesus na te dink.

2.      Terug na Matteus se evangelie en die manier waarop dit vertel word.

Wat hier vir my opgeval het in die lees van die teks is die feit dat Matteus by herhaling na die OT terugverwys met ’n refrein wat sê: ”Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: …”

In die teks vanaf 1:18 tot 3:2 gebeur dit nie minder as 6 maal nie.

Wat sê dit vir ons?

Dit sê dat God met ’n doelbewuste plan aan die werk was vanuit die OT/vanuit die vroegste tye.

God is God met ’n plan, en Hy is God wat getrou bly aan sy beloftes.

Jesus se koms is deel daarvan.  En jy is deel van daardie plan.

Maar dit beteken ook dat ons nie ’n wispelturige en onbetroubare God het soos die Griekse panteon waar mense maar net die “kos vir die gode” was nie.

Ons is nie uitgelewer aan ’n godheid met klomp giere en liefdelose verrassings nie.

Daar is by God Jahwe ’n getrouheid en bykans voorspelbaarheid in sy liefde.

Ons hoef nie paniekerig rond se skarrel as die die gebeure vir ons vreemd en traumaties raak nie.   God bly getrou.

Hy doen wat Hy beloof.

3.  Nou wat vertel Matteus vir ons alles oor Jesus?

In die eerste twee hoofstukke hoor ons:

So vertel Matteus vir ons baie oor die wese en herkoms van Jesus.

En miskien moet ons meer moeite doen om te verstaan wie Jesus is, dat ons Hom ook daarvolgens kan aanbid en vereer.

’n Tweede groot moment:

Jesus se koms is egter midde-in die tipiese spanningsveld van die geskiedenis.

Kan jy jou die trauma en ontwrigting van die volgende twee situasies voorstel?

Josef, vroom en godvresend.  Hy loop ’n reguit pad.  Hy droom oor sy troumeisie.  Hy ontmoet haar.  Sy is net die droommeisie vir hom!  Hy sien uit na hul huwelik, hul huisie opsit … ’n gesinnetjie met ’n skrynwerkwinkel.

En dan die teleurstelling:  Sy verloofde is swanger.  En hy is definitief nie die pa nie.

So land ons ook dikwels in die teleurstellingsvelde.

Ons voel ons verdien dit nie.

Selfs mense die naaste aan ons stel ons teleur.

Ons weet nie meer of ons mense kan vertrou nie.

Ons wonder of liefhê nie ’n al te groot risiko is waar ons kan seerkry nie.

Maar midde in hierdie heel menslike emosionele teleurstlling sou Josef mettertyd ontdek dat God teenwoordig is.

Trouens dit word die emosionele kraamsaal waar God geïnkarneer word juis om vir ons hoop te gee en om mettertyd te leer om in Christus Jesus weer mense te leer vertrou.

Of meer nog, om die onderdak van tweede kanse en vergifnis aan mense te bedien – al voel jy dat jy dit soms teen jou beterwete doen.

Dit is waar God ook in ons dag geïnkarneer word.

Dit is tipies van ons leefwêreld waarin Jesus kom as die Vredevors.

Dit is waar Hy gestalte kry.

Waar ons as sy liggaam die arms vertroostend en bemoedigend rondom die sondaars slaan, waar ons mense bedien met hoop en menswaardigheid – al voel jy soms hulle verdien dit nie regtig nie.

2.  Die tweede situasie wat Jesus se kraamsaal tipeer is juis die wraaksug, woede en moordlus van ons generasie.

Die malle bloedlus en afguns het in Herodus se tyd ook maar bestaan.

Die afgelope jaar het ons dit gereeld gesien, daarvan gelees en hopelik nie aan die lyf gevoel nie.

Kom laat ons nie doekies omdraai nie: grusame moord is ‘n algemene aktiwiteit in SA: 2580 moorde per jaar – in die Wes-Kaap alleen!!!

Dit is die omgewing waarin God nuut gestalte moet kry (geïnkarneer moet word).

 

Ek wens elkeen wil die fliek van Nelson Mandela, Long walk to Freedom, gaan kyk.

Daarin word uitgebeeld (daar in die tagtigerjare) dat die  klein binnekring van die ANC op Robbeneiland eenparig stem daarvoor dat die verandering in SA gewelddadig moet raak.

Nelson Mandela stap egter uit die stemming uit en sê:  “Ek sal doen wat reg is.”

Reg teen die meerderheid van sy binnekring in.

Christus se koms na hierdie malle gekke moord- en geweldswêreld maak dat mense ook in ons dag teen die stroom kan opstaan en sê: “Ek sal doen wat reg is.”

3  Laastens:  Die fokus op die Immanuel-naam.

“God-met-ons”.

Kan jy onthou hoe jy as klein kindjie in daardie dreigende lang donker gang van jul huis afgestap het.

Jy het geweet die monster gaan jou êrens vanuit sy donker skuilplek vang.

Totdat jy paniekerig en skreeuend vir jou pa gaan vra om saam met jou te kom stap.

Die donker was nie weg nie, maar jou vrees is grootliks besweer.

Hier was een by jou wat sterk genoeg is om die donker en die monster te uitoorlê.

Dit is Immanuel.

“God met ons” is verbondstaal:

Dit is die refrein wat die Israeliete deur die geskiedenis telkens moes hoor

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Toe sê Jesaja: “Luister, geslag van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei?

Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

En nou ook vir ons in 2014:

God is nie apaties en afsydig nie.

Hy was trouens so ernstig-desperaat om hierdie teenwoordigheid op ’n konkrete/menslike wyse vir ons te wys dat Hy uit sy Drie-eenheidsvrede uit geklim het om in die ellende van hierdie wêreld in te klim – en hoop en lig te bring.

Hy doen dit deur die menswording van ons Here Jesus Christus.

Hy dra ook nie verniet die naam Jesus nie.

As die donkerte van die sonde op Golgota sy dieptepunt bereik, dan betaal Hy met sy God-menslike natuur daarvoor in die dood.

Maar dan is dit sy Goddelike opstandings-almag wat die donker oopbreek vanuit Sy opstandingskrag – sodat die Epifanie-fees van Sy verskyning kan voortduur.

En ons kan die fees van Sy verskyning bly vier.

Nie net op 25 Desember nie.

Nie net 6 Januarie nie…. elke dag.

Sluit:

In die middel van die Evangelie kom hierdie Immanuel met ’n verrassende gedagte.

Dit is dat Hy vir hom ’n nuwe liggaam bymekaarmaak.

Mense wat vyande en opponente is, word “broers” en “susters”.

En in daardie konteks sê Hy:

 “ …waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” (Mat 18:20)

 As SA dan in 2014 gaan vra:  Waar is God?

 Dan sal dit nie help dat ons net met mooi woordjies vir hulle vertel van “Immanuel”,                  

                        verbondstaal en die twee nature van Christus nie.

 Dan soek hulle om Sy hande en Sy liefde en Sy omgee te voel.

 En dit is jou en my hande.

 Ons is God se inkarnasie in hierdie donker wêreld.  Ons is Sy liggaam.

 Ons is Sy “met-julle” in hierdie omstandighede.

Ons is Sy missionale/gestuurde kerk na ons konteks toe.

 En as jy nie regtig lus is vir daardie uitdaging nie, of as jy dink jy gaan nie genoeg energie hiervoor hê nie, hoor die Here Jesus se heel laaste woorde in die Mat-evangelie.

 Hy sê Hy stuur ons na die wêreld toe…

   “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Amen

Prediker:  Ds Retief Botha

Reageer gerus na rrbotha@Hotmail.com