TabernakelOns kamp die laaste paar jaar graag in die Desembervakansie by Santos in Mosselbaai.

Dit is ‘n lieflike atmosfeer en wonderlike kampgangers. Maar die staanplekkies is nie so baie groot nie, daarom moet jy versigtig kamp opstaan dat jy op jou erfie plek het vir die karavaan en jou tent en ‘n parkeerplekkie vir die motor – sonder om jou tentpennie op de buurman se grond in te kap!

Numeri is die reisverhaal van hoe die geloofsgemeenskap vanaf Sinai waar hulle die Wet van God ontvang en die verdere reis.

Om bv hierdie verhaal te lees, is soos om ‘n ou kalender/dagboek te neem en daarin rond te blaai. Wat kry jy in so ‘n dagboek? Jy kry herinneringe uit die verlede. En elke sekonde van daardie verlede was gelaai met genade en dinamika.

As jy nou die verhale lees, dan is daar mooi herinneringe en daar is verhale met teleurstellings.

Die mooi verhale inspireer. Dit roep jou op om dieselfde pad te loop.

Die slegte verhale waarsku om nie dieselfde pad te loop nie. Jy probeer om daardie pad te vermy.

Die begin van Numeri teken vir ons ‘n verhaal oor die wyse waarop die geloofsgemeenskap georden word. En daarom is die belangrikste miskien die prentjie wat dit vir ons teken van hoe die volk kamp opslaan. Die uitleg van die kamp vertel vir ons meer as net van waar die tentpenne ingeslaan moes word.

Skriflesing

Die beskrywing van die kampplan by die berg Sinai vertel vir ons meer as wat op die oog af blyk.

Dit vertel vir ons van prioriteite en roeping.

Hoe lyk die kampuitleg?

Reg in die middel van die kamp word die tabernakel opgeslaan.

Dit is die sentrale fokuspunt van die kamp.

Tog interessant hoe die uitleg van dorpe met die jare verander het. In die kleindorpse uitleg het die kerk aanvanklik sentraal gestaan. Sy toring het duidelik na bo gewys en was van ver af sigbaar.

Mettertyd het die ander geboue daar rondom groter en groter geword en uiteindelik is die kerktoring verdwerg langs die wolkekrabbers van die materialisme.

Uiteindelik is dit die malls wat die sentrale fokuspunte van die gemeenskap geword het.

 

Hier met die vestiging van die nuwe reisende geloofsgemeenskap, kry hulle die wette wat die gemeenskapslewe moet normeer:

So moet julle leef! Dit is die reisreël! Dit is die leefreëls. 10 van hulle.

En dan die uitleg van die “Stadsbeplanner”:

Die tabernakel van God as die simbool van Sy teenwoordigheid reg in die sentrum.

Rondom die tabernakel – die Leviete se kamp.

Die Leviete slaan hul kamp op rondom die tabernakel, nie net om te dien nie, maar ook om te keer dat die volk se kinders en kwajongens nie daar kom rondspeel en sterf as hulle wederregtelik aan die tabernakel kom vat nie.

God is heilig en ons onheilig. Onverskillig naby aan Hom kan jou dood kos!

En daar rondom die Levietekamp, in ‘n baie spesifieke volgorde, elkeen van die ander 12 stamme

– elkeen met sy veelkleurige vaandel om hul identiteit en plek te merk.

‘n Mens kry amper die indruk van ‘n feestelike karnaval-kampeer-atmosfeer.

 

En ek wonder tot watter mate God en sy teenwoordigheid nog so sentraal staan in ons lewens as wat dit behoort te wees?

Die feit dat jy vandag in die kerk is, vertel vir my daarvan dat God nog vir jou ‘n sentrale moment in jou lewe verteenwoordig.

Miskien nou nie “dead-centre” sentraal nie, maar tog!

God figureer nog prominent in jou lewe.

En so kom nooi Numeri ons om onsself weer opnuut aan God te kom oriënteer.

 

Die interessante van die boek Numeri is dat die boek vir ons vertel van gebeure daar 1250 vC met die uittog uit Egipte.

Toe is baie van die verhale so broksgewys op skrif gestel en baie in vir eeue mondelings oorgelewer.

Dit is egter eers in die jare 580 vC, aan die einde van die ballingskapstyd dat die boek deur sy laaste redakteurs saamgevoeg en geredigeer is.

Nou wonder ons:

Waarom was die geloofsverhale van Numeri dan belangrik vir die terugkerende ballinge?

Hulle moes skielik ‘n nuwe geloofsgemeenskap in Jerusalem gaan vestig.

Jerusalem is verwoes. Daar is nie ‘n gemeenskapslewe nie. Daar is nie formele gosdiensbeoefening nie. Alles moes nuut van die grond af kom. Die liturgie moet nuut gevestig raak.

Daarom gryp hulle terug na die vestigingsjare van die Jahwistiese geloofsbeoefening.

Jerusalem kan net weer ‘n sentrum word vir geloofsbeoefening as God self sentraal staan.

Daar moet weer ordening kom in hul aanbidding.

En daarin speel die simboliek van die Sianai-kampuitleg ‘n besondere rol.

 

Selfs in die gestaltegewing van die nuwe Suid-Afrika sedert 1994, sou dit tog kosbaar kon wees as ons weer kon vra:

“Waaraan normeer ons hierdie nuwe gemeenskap met die nuwe brose norme en

ontwikkelende strukture?”

Al sou ons nie meer tabernakels oprig nie, sou ons tog kon doen met ‘n duideliker geestelike sentrum:

Die erkenning van die sentraliteit van die lewende en genadige God.

En Hy het ‘n duidelike stel norme waarvolgens geleef moet word.

 

Nou is hier ‘n tweede belangrike saak:

Dit is die identiteit en roeping van die Leviete en die priester.

Die priesters was deel van die Leviete, en wel die afstammelinge van die priester Äaron.

Hier hoor ons hoe hulle aangewys word vir die tabernakeldiens:

En ek vra in hierdie tyd vir die Here: “Here, wat is my roeping? Waartoe het u my geroep?”

En die Here stuur my terug na die verhaal van Numeri.

“Jy is geroep om daar te wees waar God aanbid moet word.

Jy moet My aanbidding help fasiliteer.

Jy moet meewerk daartoe dat Ek sentraal in die sentrum gestel word – al slaan jy ook net

jou blytentjie daar neffens My aanbiddingsplek op.

Jy moet as’t ware die buffer wees tussen My en die volk.

Jy is geroep as priester om offers te bring tot My verheerliking.

Wees daar om My te dien – dit is jou grootste verantwoordelikheid.”

En nou word die identiteit van die Leviete verder belig:

Hulle is die eiendom van God!

Hoe het dit gebeur?

Al die eersgeborenes uit die volk behoort aan God.

Onthou julle die eersgeborenes wat in Egipte gesterf het?

Net die Israeliete se eerstelinge het bly leef – uit God se genade.

En daarom het God hulle “opgeëis” (vs 13). Want Hy het hulle begenadig!

Nou vind hier ‘n interessante ruiltransaksie plaas.

God ruil die eerstelinge van al die stamme vir die Leviete.

Die eerstelinge in die ander stamme moet aangaan met boerdery en handeldryf.

Selfs waar daar ‘n paar Leviete (273) te veel was wat losgekoop kon word deur

die Leviete, word ‘n loskoopbedrag vir hulle bepaal.

Die Leviete is nou uitgeruil vir voltydse diens van God.

Dit is die identiteit van die Leviete:

Hulle behoort aan God.

Hulle lewe trouens, net ogv God se uitreddende genade.

Hulle roeping is daarom om God te dien.

 

Nou sou jy vandag kon sê: Gelukkig is ek nie ‘n Leviet nie!

Ek het vir jou slegte nuus:

1 Pet 2:5   “Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”

En vers 9:

“Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”

 

En wie is die ‘julle’?

Die NT se verlostes!

Ek en jy!

Sien: ons is eintlik op dieselfde manier losgekoop:

Ons was bedoel om te sterf agv ons sonde, maar God kom ruil ons skuld vir Sy Seun Jesus Christus wat aan die kruis sterf.

So behoort ons aan Hom, net soos die Leviete van ouds.

En waartoe roep hy ons?   Om priesters te wees!

Jy hoef nie ‘n dominee of ‘n monnik of ‘n non te word nie.

Wees jy maar net die een wat jou tentjie naby God en die kerk opslaan.

Wees jy die een wat die donkiewerk doen as God en Sy volk op reis gaan. En God en sy volk is op reis!

Wees jy ook die buffer tussen die heilige God en die onheilige volk. Tree vir die wêreld in by God se genadetroon.

Bring jou offers – op allerlei verskillende maniere – soos God jou daarvan oortuig.

Hier ‘n lam, daar ‘n bok,    hier ‘n maaltydoffer, daar ‘n lof-wierookoffer…

Bring ten diepste jouself as ‘n dankoffer!

Ek sluit af:

Jesus staan in die drievoudige amp van Profeet, Priester en Koning.

Wanneer ek en jy deur die geloof deel word van Hom en Sy bediening, dan kry ons ook hierdie drievoudige diensterrein:

Numeri 1-3 help ons om ons priesterlike rol beter te verstaan.

Amen

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.