Dawid geloofsdansShall we dance”. Dit is die naam van die besondere rolprent wat in 2004 verskyn het met Richard Gere en Jennifer Lopez in die hoofrolle.

Dit handel oor die man met die goeie werk en gelukkige familie, maar wie se lewe so bietjie vaal en eentonig geraak het. Totdat hy een aan op die trein terug van die werk hierdie mooi vrou by die dansskool se venster sien staan. Hy word gefassineer deur die lewelose uitdrukking op haar gesig. Uiteindelik doen hy die vreemde ding om hom by die dansskool in te skryf. Hy raak so opgeneem in die kuns van dans dat hy aan nasionale danskompetisies begin deelneem. Hy raak verlief op die kuns van dans. Dit bring vir hom nuwe betekenis en energie in sy vervelige lewe. Dit maak dat ook die dans-instruktrise, sy dansmaat, met die eens doodse uitdrukking op haar gesig, nuwe betekenis vind in haar lewe.

Die ritme van die dans en die sirkels van die dansbewegings bring vir hulle nuwe betekenis en sin in die lewe.

So het dans ‘n gevolg gehad.

By die dans van koning Dawid voor die ark word die volgorde omgekeer.

Die dans bring nie betekenis nie.

Nee, die dans is uitdrukking van nuwe betekenis wat gevind is.

Die dans is die gevolg van ‘n nuwe geloofsoorgawe en vreugde.

Dit is ‘n vreugdedans oor die wonder van God wat teenwoordig is in ‘n nuwe fase van die geskiedenis van die verbondsvolk.

God kom tuis in Jerusalem.

Koning Dawid vestig Jerusalem as die nuwe hoofstad van die verenigde 12-stammeryk.

Hy het die stad met die swaard afgeneem by die Jebusiete en hy maak daarvan die Dawidstad.               Daar was dan ook bloedige veldslae teen die Filistyne.

Dawid se koningskap oor die hele Israel word nou erken, maar dit sou meer gewig dra as die sentrum vir die Jahwistiese godsdiens ook tuiskom in Jerusalem.

Daarom laat haal hy die ark waar dit nog in Juda was.

Maar die eerste poging om die ark in te bring na Jerusalem loop skeef.

Die osse wat die wa met die ark trek, struikel daar op ‘n gladde dorsvloer en Ussa probeer die ark keer om nie af te val nie.

Dit lyk na iets onbenulligs. En God slaan hom dood oor iets wat hy goed bedoel het.

Maar agter hierdie man se dood lê daar ‘n twee ongelukkighede: Twee sondes:

  1. Hulle het nie die ark op die skouers gedra soos God dit oorspronklik beveel het nie.
  2. Ons lees nie daarvan dat Dawid die Here oor hierdie spesifieke situasie raadpleeg nie.
  3. Dit wil voorkom of hier ‘n stuk eiesinigheid ingesluip het.

Daarom hierdie vreemde reaksie van God op hul ongehoorsaamheid.

Ja, God vra gehoorsaamheid tot in die fynste detail.

Hy vra om verreken te word in alles wat ons doen.

Dawid is egter diep ontstel deur Ussa se dood. Hy verstaan nou kastig nie so mooi nie…..!

Daarom parkeer hy die ark eers in Obed –Edom.

Uiteindelik blyk dat God die nuwe staanplek van die ark by Obed-Edom seën en dit oortuig Dawid om weer te probeer om die ark Jerusalem in te bring.

God seën mense.

God se genade is groot en Hy kyk deernisvol na mense.

Dit is die eerste groot dinge wat ons hier van God leer.

Dawid moes ook hierin iets van God se genade en sondevergifnis verstaan.

Hy het immers Ussa se dood op sy gewete.

Al fouteer ons, is daar weer genade by God. Hy gee tweede kanse en derde kanse!

Hierdie keer verloop alles glad met die inbring van die ark. God seën die gebeure.

Die simbool van God se teenwoordigheid kom Jerusalem in.

Dit is na al die traumas van die oorloë, die vestiging van die nuwe hoofstad, die eiesinnigheid met die ossewa en die ontsteltenis met Ussa se dood.

Die inbring van die ark bring by hulle ‘n klomp vreugde.

Dawid en die volk se vreugde ken geen perke nie.

Dit is die feesdag der feesdae! 1 Kronieke 16 vertel ook van hierdie feesvierings en selfs van al die geskenke en lekkernye wat toe daar uitgedeel word.

 

En nou gebeur daar ‘n ding wat die Israeliete nooit sou vergeet nie:

Dawid dans voor die ark!

En dit is iets wat ons weer moet hoor, want dit nooi ons ook in tot die dans

             – ons eie vreugdedans oor God se teenwoordigheid.

En Dawid dans dit “met volle oorgawe” (:14).

Hierdie dans raak egter uniek omdat Dawid se kleredrag die wenkbroue laat lig.

Hy dans “met net ‘n linneskouerkleed aan”.

Nou wat was die linneskouerkleed?

Dit was deel van die ampsdrag van die priesters. Dit is gewoonlik oor die gewone klere gedra.

Party verklaarders sien dit as net onderklere wat hy aangehou het.

(So het ons dit ook gesien in die YouTube video.)

Presies wat die situasie was, is nie heel duidelik nie, maar ons weet wel dat sy kleredrag bietjie gewaagd was vir ‘n statige ou soos die koning.

Miskien sou mense by ‘n prosessie soos hierdie juis ‘n statige koning met gepaste koninklike klere verwag het. Miskien met ‘n hele militêre parade, op ‘n vurige swart perd of saam met die koningin op ‘n strydwa.

Maar nee!

Dawid gooi alle tradisies oorboord.

Selfs sy waardige koninklike klere bly in die slag.

Hy dans en dans – sy vreugdedans, sy geloofsdans, oor God se teenwoordigheid.

En dit is dan hierdie situasie wat fyn bekyk word deur die koningin se venster.

En sy is diep geskok. Verontwaardig.

Haar man, die koning, is vir haar ‘n verleentheid.

Hy gedra hom, volgens haar, totaal onwaardig en sy skroom nie om hom daaroor te

konfronteer by die eerste die beste geleentheid nie.

 

Die verhouding tussen Dawid en Saul se dogter was baie problematies.

En duidelik kyk sy en Dawid nie deur dieselfde venster nie.

Sy verdediging in hierdie gesprek is:

“Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans.”

“Voor die Here wat my verkies het, … ja, voor die Here sal ek dans.”

Dawid dans ekstaties voor sy God. Die dans word gebore uit ‘n verhouding.

Hy staan basies ontbloot voor God.

Hy dans as’t ware die dans van Adam en Eva in die paradys – sonder klere!

Sonder inhibisies. Sonder skuldgevoelens.

Hy dans op die ritme van God se hart van harmonie. Soos in die paradys.

En daar is vreugdevolle harmonie tussen hom en God.

God vestig sy koningskap.

God het die vyande aan hom onderwerp.

God kom maak nou liturgies van Jerusalem sy woning.

En God is lief vir Dawid!

Ook die volk is mal oor hierdie Dawid! Hulle het lank uitgesien na hierdie Dawid.

En na sy dood het hulle vir eeue na hom verlang.

Hy is koning en priester!

Hy dra nie net sy koningsklere nie, maar ook sy priesterlike klere!

Tot by die punt van verleentheid vir ander te wees.

Dawid word met hierdie dans eintlik voorloper van Christus wat homself verneder.

Dawid maak hom kwesbaar vir kritiek en aanvalle, net soos Jesus later sou doen.

Ja, voorloper van Christus wat naak mens word in ‘n stal

en naak aan ‘n kruis hang op Golgota.

En wanneer ons so vir Jesus in die die dansende priester-koning Dawid raaksien, dan hoor ons in ons harte die Heilige Gees se uitnodiging na die dans.

Jy word vandag uitgenooi om voor God te dans.

Jy word uitgenooi om ook voor mense te dans – selfs diegene wat dink jy ruk darem so jou naam en jy is ‘n verleentheid.

Waag dit om te dans – met volle oorgawe!

Jou Jesus het opgestaan! Hy leef! Hy sit op die troon! Hy regeer!

Dit gee vir ons nuwe hoop.

 

Ek wil afsluit.

Dit moes darem vir Dawid ‘n wilde/hectic dag gewees het.

Die opwinding. Die dans. Die inbring van die ark. Die kritiek en konflik van Mikal.

En dan wonder ek hoe ons te midde van al ons vol programme voor God gaan dans.

Jy het miskien net so min fisiese ritme in jou lyf soos ek – vir ‘n gewone dans.

Miskien is dit ook die laaste ding wat jy sou wou doen om fisies op oud-Oosterse wyse soos Dawid te dans.

 

Maar ons geloofsdans voor God lyk waarskynlik heel anders…. Hoe?

Maar jou dans stop nie hier nie.

En die volgende uitnodiging vir die groot dans is volgende Sondag weer hier.

God vra vandag vir jou: Shall we dance?

Net miskien het jy baie meer rede om te dans as koning Dawid.

Ons is immers Nuwe Testamentiese kerk!

God het die ritme van die Gees en die melodie van die liefde in jou hart gegee vir hierdie dans. Dit spoel energiel tot in jou voete en hande.

En dit maak dat jy nie anders kan as om energiek, vreugdevol ….

en selfs uitspattig te gaan dans nie!

Dit maak nie saak wat ander sê nie!

Amen           Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.