“Ek dink daarom is ek”, so het René Descarte die mens ’n paar honderd jaar terug probeer definieer.  Jy sien, die menswetenskappe is eeue lank reeds besig om mense en menslike gedrag te bestudeer.  Dokters, sosioloë, sielkundiges, psigiaters, dominees, arbeidsterapeute, maatskaplike werkers – so gaan die lysie aan – almal met ’n bepaalde aanslag op wie die mens is, hoe die mens reageer in verhouding tot homself, die mense rondom hom en in verhouding tot God. 

Ons vul toetse in oor ons persoonlikheid en gedragstyle, maar ’n afgehandelde studie oor die mens sal ons ontwyk.  Want so goed as wat ons dink ons die mens verstaan, so sleg ken ons eintlik mense.  Daar is ’n onbekende faktor wat maak dat ’n volkome verstaan van die mens jou altyd sal ontglip.  Madame Anne-Louise de Staël het in 1766 gesê: “Hoe meer ek van die menslike natuur sien, hoe liewer word ek vir my hond.”  Mense stel teleur, mense maak seer, mense kan vernietig.  Ten spyte van ’n hoogs tegnologiese era en gevorderde wetenskap is die mens seker die mees ontembare stukkie skepping.    

Hierdie drie verse se opskrif is eenvoudig: Jesus ken die mens.  Aangrypend, natuurlik omdat Jesus self mens was, maar ook omdat Jesus God is en God mense verstaan omdat God mense gemaak het. 

’n Paar verse terug doen Jesus die wonderwerk deur water in wyn te verander by ’n troue.  Die eerste wonderwerk waarvan Johannes skryf.  En intussen het mense seker agter gekom, hierdie Jesus kan wonders doen.  Hierdie Jesus kan vreemde goed doen.  Vers 23 sê daar het baie mense tot geloof in Hom gekom, juis omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy doen! 

Om agter Jesus aan te loop moes ’n besondere ervaring gewees het.  ’n “Miracle worker” wat kos meer maak, siekes laat opstaan, storms stilmaak, skole visse laat vang.  En dit is vandag nog so: mense hou van aksie!  Hulle hou daarvan om op plekke te wees waar goed gebeur wat die verbeelding aangryp.  Dit is miskien een van die redes waarom baie mense kerke vir ander kerke verruil.  Mense stroom van een plek na die ander omdat daar dikwels meer aksie is.  Meer goed wat gebeur.  Dit is wat baie van hierdie volgelinge agter Jesus laat aanloop het! ’n Geloof wat aan die gang gehou moes word deur aksie, deur wonders en tekens.  Hulle het agter Jesus aangeloop oor die sensasie van dit wat Hy kan doen!  En interessant, juis daarom gaan Jesus baie versigtig met wonders om, want Hy ken mense!

In Johannes 6, net nadat Jesus nog ’n wonder doen en die brood vermeerder het, wil die skares Hom met geweld koning maak.  Maar dan lees ons dat Jesus die vreemde ding doen en Hom onttrek en teen die berg opgaan om alleen te wees.  Hoekom?  Want Hy ken mense!  Hy het geweet dat hulle waarskynlik redeneer: Iemand wat vir ons feitlik uit niks oorgenoeg kos kan gee… so ’n man moet ons koning wees!  Want dan kan Hy elke dag vir ons kos gee!  Hoe lekker kan dit nie wees nie!  Ons sal net agter Hom aanloop en nooit hoef te werk nie!  Dit sal voordelig wees om Hom ons koning te maak, want wat ’n moeitelose lewe sal ons dan nie hê nie! 

Jesus ken mense!  “Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.” (v25) Op sulke mense, mense wat net agter Hom aanloop vir die wonders, het Hy Hom nie verlaat nie omdat Hy geweet het hoe hulle almal is (v24).  Letterlik, Hy het Hom nie aan hulle commit nie.  Waarskynlik omdat Hy geweet het hulle het hulleself ook nie regtig aan Hom commit nie.  Die scary gedagte van hierdie verse is dat selfs daardie mense aan wie Jesus Hom nie verbind nie, gelowiges genoem word!    

Jy sien, geloof in die Johannes evangelie word nie altyd gebruik vir reddende geloof nie.  Mense wat bloot net positief teenoor Jesus was en saam met Hom beweeg het, word ook gelowiges genoem.  In 8:44 noem Jesus uiteindelik sulke gelowiges kinders van die duiwel, omdat hulle Hom nie regtig gedien het nie!  So as vers 23 sê mense het tot geloof in Hom gekom, beteken dit nie hulle het Hom as Verlosser aanvaar nie, maar bloot net ’n volgeling geloof gehad.  Agter Jesus aangeloop nuuskierig om te sien wat Hy kan doen en wat Hy vir hulle kan beteken.  En aan so ’n geloof het Jesus Hom nie commit nie.  Want Hy wil nie net agterna geloop word op grond van dit wat Hy kan doen nie.  Hy wil in verhouding met mense lewe. 

Jesus ken mense, Hy weet wie die mense is wat Hom volg. 

Ek dink hier is in hierdie gedeelte troos en konfrontasie

  1. Troos – omdat Hy my ken.  Ps 139 nog voor ek gebore is.  Hy ken my sit en opstaan.  Hy ken my gedagtes.  Hy ken my seer en my pyn en verlange.  Hy kan vanaand sien waar niemand anders kan sien nie, en luister waar niemand anders kan hoor nie.  Ja, Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.  Hy ken al die dae van jou lewe, ook dit wat onbekend voor jou uitgestrek lê.  En dit is ’n ongelooflike wete dat God my ken.  ’n Wete wat jou ontbloot en ontnugter, maar tog ook diep kan troos.  God ken my, Hy verstaan my.
  2. Maar hierdie gedeelte konfronteer jou met jou eie menswees.  As Jesus dan so diep kan kyk, wat sien Hy raak?  Wat sien Hy agter die mombakkies wat ek opsit?  Ook die geloofsmombakkies wat ek opsit wanneer ek godsdienstig voorkom en selfs gelowig Hom volg?  Wat sien Hy in my hart, wat is die motief agter die feit dat ek Hom volg?  Dit is waarna God kyk!  Hoekom loop ek agter Jesus aan? 

Ds Bertie het vanmôre gesê dat baie mense God gebruik soos ’n produk wat jy van ’n rak afhaal omdat dit iets vir jou kan beteken.  Jy sien, dit is presies soos die volgelinge waarvan Jesus Hom onttrek het.  Hy onttrek Hom van hulle wat net agterna geloop het omdat Hy die lewe vir hulle maklik moes maak en moes doen wat hulle vra.  En die stukkie konfrontasie is die vraag of ons nie ook maar dikwels agter Jesus aan loop bloot net met die verwagting dat Hy elke klip voor ons moet wegrol en elke bord vir ons moet vol skep nie?  Soek ons ook nie maar dikwels vir Jesus op ter wille van ’n gemakliker lewe, beter gesondheid of meer in die bank nie?  Net soos die mense waarvan Hy Hom onttrek het! 

Jy sien, om so agter Jesus aan te loop beteken niks.  Trouens, Hy commit Homself nie aan so ’n geloof nie.  Jesus sê vir Nikodemus in die volgende verse dat die mense aan wie Hy Hom wel commit is hulle wat hulle harte vir Hom gee.  Wat hulle lewe vir Hom gee!  Wat in ’n verhouding met Hom wil lewe.  Wat Hom dien omdat Hy God is. 

Jy sien, as Jesus sê Hy ken mense, beteken dit nie net dat Hy weet wat mense doen of nie doen nie, of hoe mense geneig is om op te tree of nie op te tree nie.  Dit beteken ook nie net dat Hy mense verstaan en begrip vir ons het nie.  Wanneer Jesus sê Hy ken mense kyk Jesus diep tot in die volgelinghart.  Hy kyk deur en verby die uiterlike klere van godsdienstigheid en Hy sien hartsmotiewe raak. 

Die wêreld is vinnig om te sê God is ver en onbetrokke, selfs dood omdat Hy nie wonderwerk op wonderwerk doen nie.  Omdat Hy nie vinnig genoeg goed reg maak en spring as mense hulle vingers klap nie.  Selfs ons doen dit partykeer as ons wonder hoekom Hy so lank neem om in te gryp of so lank neem om goed in my lewe te laat omdraai.  Maar ons moet onthou wat Petrus gesê het.  Ons geloof word getoets.  En lyk vir my selfs die gelowiges word van mekaar geskei! 

Party glo aan Hom as ‘n “Miracle worker”, ’n produk op die rak wat afgehaal word om iets te beteken.  Iemand wat net die lewe vir ons gemaklik moet maak.  En aan so ’n geloof onttrek Hy Hom.  Hy verbind Hom nie aan so ’n geloof nie. 

Maar jy sien, ’n ware dissipel en ware geloof is om agter Jesus aan te loop bloot net omdat jy Hom liefhet.  Om agter Jesus aan te loop omdat Hy jou liefhet.  ’n Ware gelowige dissipel van Jesus is iemand wat in hierdie vreemde wêreld vrede vind in die koestering van ’n goddelike Teenwoordigheid wat met ons in ’n verhouding lewe.  Wat in hierdie God se teenwoordigheid vrede vind, selfs al maak goed nie sin nie en al gebeur goed nie onmiddellik nie.  Vrede in God se teenwoordigheid selfs in die stil en donker noutes van die lewe.  Dit is in daardie harte wat Jesus kyk en dit is aan daardie harte waaraan Hy Hom verbind.  Ware gelowiges wat Hom opsoek en dien omdat Hy God is.  En dit is daardie harte wat God ken, waar God tog ook ons behoeftes raaksien, ons swakheid begryp en wonder bo wonder wonders in ons lewe doen. 

Hoe volg ek en jy vir Jesus?  En wat sien God as Hy vanaand sê: Hy ken jou?  Amen