Lee genade-handeDie Here is altyd besig met hervorming.

Sy hervorming beteken dat hy mense innerlik verander om al meer aan die beeld van Christus gelyk te word (Moses se gesig begin blink, eks 34 en 2 Kor 3:18).

Maar God se hervorming gebeur ook in strukture.

So is die Here besig om ook die kerk in SA te hervorm.

Ons kom uit ’n era van weet en sê en heers.

God is egter met ons op ’n pad van hervorming van te dien en te bemoedig.

Ons praat in die kerk van ’n missionale karakter.  Dit gaan oor die gestuurdheid  na (veral) ons konteks waar ons die Evangelie moet indra om hoop en verandering te bring.

Ons doen dit met dienende karakter van leegheid in onsself, maar hande en harte wat vol is van God deernis, omgee en liefde.

Interessant dat hier vier opeenvolgende perikope in Lukas 18 is waar verskillende gestalte van leë hande na vore kom.

SKRIFLESING:  Lukas 18:9-14

Tema:   Jou leë self se bakhand-staan by God. 

 

Vir ’n predikant is dit die wonderlikste voorreg om ’n stukkie van God se Woord te preek.

Dit is altyd die wonderlikste voorreg om om al is dit net ’n klein stukkie van God se hart met mekaar te kan deel.

Maar hierdie teks maak hierdie predikant bang.

Hierdie teks kom baie naby aan  my lyf.

En net miskien staan jou lyf ook nie so ver van my lyf af nie.

Waarom sê ek so?   Kom ek verduidelik:

Hierdie teks plaas die vergrootglas baie helder op kerkmense.

En vertel my nou vandag wie is groter kerkmense in hierdie gemeenskap as juis ons?

As ek vir die ou buite in die straat of by jou werk vra:  Wie is die kerkmense?

Dan gaan almal die vinger by hierdie kerk se deure kom insteek.

Nie dat dit verkeerd is om as “kerk-mense” bekend te staan nie.

Nee, ons vier eintlik elke dag fees daaroor.  Ons is God se mense!

Maar die Fariseërs was ook God se mense….

En in hierdie teks word vertel hoe Jesus besorg is oor “mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het”.

Dit gaan dus oor geestelike selftevredenheid wat op ’n eie troontjie sit.

Skerper gestel:   Dit gaan oor geestelike arrogansie en hoogmoed.

En dit lyk my dit is ’n kanker wat kerkmense stil-stil kan bekruip en infiltreer en verrot.

Dit het met die pragtige vroom party van die Fariseërs gebeur.

Waarom sou Satan dan nie ook die “kerkmense” van 2013 teiken nie?

Om natuurlik seker te wees dat jou saak met God reg is, is nie verkeerd nie.

Trouens, sekerheid van jou kindskap van God is ’n wonderlike voorreg en dit gee jou vrede en vrymoedigheid om as kind van God met oorgawe te leef.

Dit probleem kom in by die deel wat sê:  “…en wat op ander neergesien het”.

En dit is waar ons nou eerlik met onsself moet wees.

En ek wonder of meeste van ons nie tog maar by die kerkvensters uitkyk en dink…. “ek is tog gelukkig nie soos die ouens hier buite nie.”

Of waar die dominee (ek) heimlik dink:  “ek is tog tog nie die vrotste dominee as ek so na die ander spul kyk nie!”

Jy sien hoe gevaarlik die teks is!

 

In die gelykenis gee Jesus vir ons twee prentjies wat met mekaar gekontrasteer word.

Die Fariseër en die tollenaar.   Ons weet teen die tyd waarom hul teenoor mekaar staan in die gelykenis.

Maar kom ons kyk na die kontraste en dan kom ons terug na die sleutels wat hierdie situasie omdraai.

Die gelykenis sluit nou aan by die vorige oor volhardende gebed waar Jesus die praat oor die vrou wat so volhardend en aanhoudend ’n oorlas van haar maak totdat die regter aan haar reg laat geskied.

As ons dan so kermend by die Here pleit, kan ons vertrou daarop dat God ons ook sal verhoor.   Hy het dit trouens nou weer met die vreeslike droogte begin doen!

En nou kom beide ons rolspelers tempel toe om te kom bid.   Mooi so!

Die probleem by die Fariseër is dat hy “by homself” bid – nie afhanklik, nederig en gelowig tot God nie.

Hy praat met homself.  Hy formuleer sy CV!

En dan dra hy die informasie aan God oor  ….  en hy verduidelik in detail hoedat hy eintlik baie meer doen as wat van ’n vroom gelowige verwag word (kom ons los al die detail daarvan).

Hy is beslis ’n trappie bo die ander sondaars waarvan hy ’n lysie kan maak.

En terwyl hy so bid/of “brag”, kan hy nie help om so met die een oog ook die ellendige tollenaar daar neffens hom raak te sien nie.

En hy dank die Heer dat hy beter is as die ellendeling.

Die tollenaar se prentjie is net die omgekeerde:

Hy staan maar daar ver weg, kop onderstebo, te skaam oor sy situasie.

Hy probeer hom nie eers meet aan ander mense soos die kerkman daar anderkant nie.

Hy besef net voor God se heiligheid sy onheiligheid.

Sonder groot omhaal van woorde stotter dit oor sy lippe:

‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

Letterlik: “Wees my, die sondaar (to hamartolo), genadig.”

Ek is die sondaar by uitstek / par exellance.

Ek is nie maar een van die sondaars nie, Here, ek is DIE sondaar.

So staan hy daar gebroke, verpletter.

Hy pleit net vir ‘n stukkie van God se genade.

En juis dit is een van die Hervorming se groot aksente:

Genade alleen.

 

Wat is genade?

Genade is eintlik maar God se glimlag vir ons – vir ons wat sy oordeel verdien.

“Dit is sy konkrete guns wat telkens aan ons gegee word na die mate waarin ons dit nodig het.” (prof Willie Jonker).

Die genade waarvoor hierdie tollenaar bakhand gebid het was God se vergewende guns van vryspraak.

Dit was om sy sondaar-skuldigheid weg te was en vir hom ‘n regmerkie te gee:

“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is”  (:14)

Hy het dit gewaag om met verwagting bak-hand by God te gaan staan.

Die genade wat ons nodig het kan baie gestaltes aanneem.

En dan hoor ons die woorde van die Here aan Paulus in sy uitdagende situasie:

“My genade is vir jou genoeg.”  (2 Kor 12:9)

Die Hervorming het tog die kerk bietjie gehelp om weer genade te ontdek en daaroor fees te vier.

Dit is die genade wat sê ek verdien nie een krieseltjie daarvan nie.

My hande is total dolleeg. Ek het total niks om dit te koop of daarvoor te betaal nie.

En wanneer ek daarvan bewus word dat God ons hande vollaai van genade, dan word daardie hande die kanale waardeur God ook gende kan uitdeel vir die leë bedelaarshande rondom ons.

Ons noem dit dankbaarheid.

 

Ek wil afsluit met ‘n verhaaltjie van Gypsey Smith:

“Gypsey Smith was by ‘n getuienisgeleentheid waar mense mekaar bemoedig het met die verhale van hoe genadig God hulle gered het.

Een person het opgestaan en gesê:  “Ek het 20 jaar tronkstraf uitgedien vir moord, maar God het my vergewe en my gered.”

‘n Ander het vertel van sy lewe van dronkenskap en hoe God in sy genade hom bevry het.

‘n Ander het vertel hoe gierig hy was, hoe hy geld vervals het en ander mense bedrieg en besteel het.  “Maar God was my genadig en het my lewe kom verander.”

Toe staan Gypsey Smith op en sê:

“Mense, God het vir julle groot wonders gedoen en ek dank Hom daarvoor.

Maar God het vir my as sigeunerseun nog meer gedoen as vir enigeen van julle.

Hy het my van kindsbeen af genade betoon ….. en my bewaar daarvan dat ek so ver soos enigeen van julle gegaan het.”

 

As dit vandag jou getuienis is, dank die Here vir daardie genade.

Maar weet ook, dit is nie die troontjie waarop jy mag klim om hoogmoedig op enige ander mens af te kyk nie.

Dit is maar net die vriendelike glimlag-genade van God wat Hy in bedelaars se bak hande plaas.

Vra vandag vir God om jou verder te hervorm.

Vra dat Hy jou van hoogmoedstroontjies sal bewaar

en eerder vir jou sal leer om bakhand te leef – uit sy GENADE!

En net miskien begin jy ook missionaal raaksien hoe daar ‘n klomp bakhande na jou uitgehou word.

Amen

Sing oor God se genade alleen:   FLAM 10 “Daar is geen grens aan U guns en genade

                    Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.