knielen_bij_kruis_2Levitikus is een van daardie Bybelboeke wat ons gereeld oorslaan.  Die boek met al die reëls en al die offers en voorskrifte, die ellelange verduidelikings oor rein en onrein, en al die verskillende feeste wat gehou moet word.  Maar agter dit alles sit die grootheid en heiligheid van God.  Hy is die gans andere, daarom moet sy volk ook anders wees! Hy is heilig, daarom moet sy volk heilig en op ’n bepaalde manier lewe.

Vanmôre wil ek vir ’n oomblik stilstaan by sonde.  So as jy aan die slaap raak, sal jy darem weet die dominee het oor sonde gepreek en vir die rekord: ek is daarteen! 

Ek wil julle nie vanmôre vermoei met al die verskillende offers nie, maar stilstaan die skuldoffer.  Kom ons lees vanmôre net een gedeelte uit Levitikus 5:14.

Skriflesing: Levitikus 5:14-6:7

Ek wil julle vanmôre eers so bietjie op ’n toer vat deur die tabernakel.  Die tabernakel was natuurlik daardie tent wat die volk moes saamdra deur die woestyn tot in die beloofde land.  Later is die tydelike tabernakel-tent vervang met die tempel.  Maar by elke kampplek is hierdie tabernakel opgeslaan.  Dit was die plek waar die volk gaan offer het.  Kom ek wys net vir julle hoe dit gelyk het.

Nou gewoonlik het dit so gewerk: wanneer jy gesondig het moes jy ’n offer bring.  Want jy sien, sonde het jou verhouding met God versteur.  Sonde het jou van God afgesny en al hoe jy weer met God verbind kan word, was as jy ’n offer bring.  Met ander woorde, dit het van jouself afgehang of jou sonde vergewe gaan word of dan nie!  Die volle verantwoordelikheid het op jou gerus om die saak tussen jou en God reg te stel.  Daarom het die mense dan offers gebring om God se guns en goedheid as’t ware terug te wen.

So het jy dan ‘n dier, dit kan nou ’n bul of ’n ram of ’n ooi of selfs duiwe wees, hang af van jou sonde en jou status of finansiële posisie, na die priester toe gebring.  Hy het dan by die altaar gestaan en dan het die priester sy hand op die kop van die dier gesit, ’n gebed gedoen dat God die offer sal aanneem, die dier net daar geslag en die bloed opgevang.  Die bloed is dan oor die altaar gesprinkel en party keer sommer geheel en al oor die altaar uitgegooi.  Somtyds selfs in die tempel ingedra en aan die horings van die verbondsark gaan smeer.

So vriende, sonde en die vergiffenis daarvan het ’n baie groot deel van daardie mense se lewe in beslag geneem.  Want dink net vir jouself; as jy nou elke keer as jy oortree en ongehoorsaam was, ’n skaap moes offer – teen die huidige skaappryse, ek is seker jy sou twee keer gedink het.  Jy sou nie sommer net ’n onbesonne ding aangevang het nie, want dit sal jou kos!  Behalwe dat sonde vir hulle ’n definitiewe finansiële las was, was daar natuurlik ook die las om nou die dier te gaan soek, te vang, te sorg dat dit die beste een is sonder gebreke en dan nog saam te bring en in die ry te staan waar al daardie diere geslag en verbrand is.  Om nie eens te dink hoe dit daar by die altaar gelyk het nie!  Dit was effort om te offer en effort van sonde ontslae te raak.  Daarom was mense bedag op dit wat hulle gedoen en dit wat hulle gesê het!  Jy het nie sommer net gesondig nie!  En natuurlik is dit presies wat God wou hê.  Dat sy kinders heilig lewe omdat Hy heilig is!

En in Levitikus 5 word maar net nog voorbeelde van sonde genoem.  Sonde teen die heiligdom (vers 14) wat eintlik daaroor gaan dat jy sondig wanneer jy aan die Here minderwaardige offers bring.  Wanneer jy met die tweedebeste ding by die Here aankom om te offer.  Wanneer jou dankoffer nie die beste is wat jy kan gee nie.

Daar word genoem van sonde wanneer jy die gebooie van die Here oortree (vers 17) en dan in hoofstuk 6 die sonde wanneer jy vat wat jou nie toekom nie, wanneer jy mense bedrieg of inloop, maw jou verhouding met mense.

En uit hierdie voorbeelde van sonde en dan die offers om daarvan vrygespreek te word, wil ek drie goed met julle deel:

  1. 1.      Ernstig met sonde

Vriende, het ons vandag nog ’n vrees vir verkeerd doen?  Of kom ek stel dit anders, is sonde nog vir ons ’n ernstige saak?  Is ons nog werklik bedag en sensitief oor die manier hoe ons praat, dit wat ons doen, ons verhouding met God en met mense rondom ons?  Of het sonde, die oortreding van wat God wil hê, vir ons net te maklik geword?  Tiperend van ons tyd is dat mense maar net sê en doen soos hulle wil.  Ons het die vryheid van spraak, vryheid van menseregte, vryheid van opinie.  Weet jy, dit is sonde om mense sleg te sê en te beledig, dit is sonde om van mense te skinder, dit is sonde om te vloek en sonde om te jok, dit is sonde om te bedrieg, dit is sonde om te vat wat nie aan jou behoort nie.  Sien ons nog die erns van sonde of vriende het ons dit eenvoudig afgewater tot ’n gebedjie voor my oë toeval: vergeef my al my menigvuldige sondes AMEN.  Daarmee is die saak vir ons afgehandel.

Dank die Here dat ons nie vanmôre met bokke en beeste en duiwe kerk toe gekom het en dat ek of ds Retief dit moet slag nie!  Dank die Here vir die volmaakte offer van Jesus wat ons vry maak van hierdie las wat sonde bring!  Maar vriende, in die lewe werk dit ongelukkig mos so dat as jy iets maklik en verniet kry, kan jy dit net so maklik verwaarloos en nie meer waardeer nie.

Sonde is vir God nog net so ernstige saak.  Sonde versteur net soos in die tyd van Levitikus steeds mense se verhouding met God.  En daarom haat God sonde.  Of ons sonde altyd soos God haat, weet ek nie.  Daar kan ongelukkig ’n stuk roekeloosheid in ons sondebesef wees.  Soveel so dat ons maklik oortree omdat ons dink ons word maklik vergewe.  En dit was nie vir Jesus maklik nie.  Ons kan die offer van Jesus se bloed goedkoop maak omdat ons sonde goedkoop afmaak.  Levitikus leer ons dat sonde ’n prys het.  En miskien moet ek en jy vir ’n slag gaan dink oor dit wat ons doen.  Gaan ons nie ook maar roekeloos met sonde in ons lewens om nie.  Is sonde nog sonde vir my?  Is ek nog jammer en spyt oor die goed wat ek wetens en onwetens verkeerd doen.  Of oortree ek sommer baie maklik, omdat ek dink ek word maklik vergewe?

  1. 2.      Dubbele dosis vergiffenis

Die tweede ding wat ons leer uit Levitikus is dat wanneer ek dan teenoor mense oortree of fouteer, oortree ek ook teenoor God.  Dit is die wet van die Here, liefde teenoor God, maar ook liefde teenoor mekaar wat onlosmaaklik aan mekaar verbind is.  En wanneer jy iemand anders te na kom of benadeel of seermaak, doen jy dit ook teenoor God!  Dit is wat 6:2 leer: “Dit kan gebeur dat iemand sondig en trouloos handel teen die Here deurdat hy sy volksgenoot bedrieg…”   So jy sondig eintlik dubbeld, teenoor die mens en teenoor God.

Wanneer dit dan kom by die belydenis van hierdie sonde, is dit ook ’n dubbele belydenis!  As ek vir God om vergiffenis vra, het ek ook die verantwoordelikheid om die ongeregtigheid wat ek aan ander gedoen het te gaan regmaak.  Ons lees in 6:5: “Op die dag dat sy skuld bekend word, moet hy alles terugbetaal aan die persoon aan wie dit toekom, en hy moet nog ’n vyfde bysit.”  20% belasting op dit wat ek gevat het!  Maw vriende, wat die Here vir sy kinders van die begin af geleer het is dat sonde en vergeffenis tweeledig is.  Dit is nie net ’n ding tussen my en die Here nie.  Jy kan nie net stilletjies vir die Here om verskoning vra sonder dat dit nie ook die onreg lof hartseer regstel teenoor ’n broer of ’n suster nie.  Sonde en vergiffenis is nie net ’n persoonlike en geheime saak nie.  Wanneer ek teenoor iemand en dan teenoor God oortree, bring dit by my ‘n sosiale verantwoordelikheid.  Ek moet dit gaan regstel.  Ek het die verantwoordelikheid om te gaan regmaak waar ek verkeerd gemaak het.

Dit is die deel wanneer ons bid, vergeef my soos ek ook vergewe.  Dit is wat Jesus sê: “as jy iets teen iemand het, draai by die trappies van die kerk om en gaan maak eers reg.”  Of “as julle vergewe, sal Ek julle ook vergewe.”  Om vergiffenis te ontvang, moet jy ook vergiffenis kan gaan uitdeel.

En dit het verrykende implikasies in ons lewe.  Want dit is maklik om in die aand gou vir die Here te vra: vergewe my waar ek vandag so lelik met my vrou was.  Dit is een deel, maar die ander deel is om van jou knieë af op te staan en vir jou vrou te gaan jammer sê.  Of om terug te gaan gee wat jy gevat het, of om die leuen te gaan regstel.  Jy sien, dan neem jy sonde ernstig op.  En so word die heiligheid van God in jou lewe gesien wanneer verhoudinge herstel word teenoor God, maar ook teenoor mekaar.  Om vir God om vergiffenis te vra herstel nie die verhouding met die een teenoor wie jy oortree het nie.  Daarom gee kinders van die Here ook ’n volgende tree om te gaan regmaak.

  1. 3.      Sonde het name

Die laaste ding wat Levitikus ons leer is dat sonde name het.  Daar is lyste en lyste sondes wat by die naam genoem word.  En daar is ’n rede voor.  Heiligmaking beteken dat ek afstand doen van wat vuil en verkeerd is.  Hoekom, omdat ek meer wil word soos wat Jesus is.  En jy kan dit net doen as jy weet waar my foute en tekortkominge is, as jy dit identifiseer.

Ons is geneig om jare lank met sonde saam te lewe omdat ons nie sonde by die naam noem nie.  Ons identifiseer dit nie.  Ons vra net vergiffenis vir die menigvuldige sondes.  Maar die probleem is, as hierdie sondes nooit name kry nie word dit nooit uitgewys en uitgeroei nie.  Ja, die Here hou nie boek van die sonde nie, maar weet jy, partykeer moet ons boekhou!  Partykeer is dit nodig dat ons raaksien wat die goed is waarvoor ek elke keer vergiffenis moet vra.  Sodat ek, saam met die Heilige Gees kan bid en werk dat dit in my lewe sal minder word en uitgeroei sal word sodat ek heilig sal wees, soos God heilig is.

Slot:

Weet jy, op die ou einde gaan dit nie oor sonde nie, want die sonde is oorwin, dit gaan oor ’n lewe voor die aangesig van God.  Omdat Hy heilig en sonder smet is, wil Hy ook hê dat ons so moet lewe dat iets van sy heerlikheid en reinheid in hierdie wêreld weerspieël sal word.  In ’n land waarin mense maklik oortree, maklik bedrieg en beledig, maklik vermoor en seermaak maak Christene erns met sonde. Dank die Here vir die kruis, vir verlossing en vergiffenis.  Maar hoor as die Here jou oproep tot ’n heilige lewe.  Amen