Picture1Prediker: André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za

Iemand het eendag vir ’n wyse ou man gevra: Waar in die wêreld kry ‘n mens lewensvreugde?  Toe vertel hy hulle van ‘n jongman wat op ‘n dag so ontevrede met sy omstandighede geraak het dat hy besluit het om na lewensvreugde te gaan soek.  Dit was ‘n lang en uitputtende reis, oor berge en riviere en oseane.  Orals het die jongman na lewensvreugde gesoek, by rykes en armes, magtiges en eenvoudiges.  Hy het die hele wêreld deurkruis, maar tevergeefs.  Sy soektog het niks opgelewer nie.  Toe hy een oggend wakker word, besef hy skielik dat hy 75 jaar oud geword het en nog steeds nie lewensvreugde gevind het nie.  Hy besluit daar en dan om terug te keer na sy dorp en sy huis.  Toe hy die deur van sy huis oopmaak, wat sou hy sien?  Daar, by sy eie tafel, in sy eie huis, in sy eie land en in sy eie dorp, daar sit lewensvreugde toe al die tyd!  Was sy soektog dus tevergeefs?: het die leerling die wyse man gevra.  Nee, het hy geantwoord, die man het geleer dat lewensvreugde nie ver weg van jou af is nie, nie in ander lande en in ander omstandighede nie, maar naby jou, so naby soos die tafel waarby jy sit en eet.

Ouens, net soos hierdie jongman kan ons ook deur die lewe gaan, so ontevrede met wat ons het en waar ons is, so ontevrede met ons omstandighede dat ons altyd opsoek is na vreugde op ander plekke.  Dit laat my dink aan wat Prochnow gesê het: “Ons is so besig om te kla oor wat ons nie het nie, dat ons nie tyd het om te geniet wat ons het nie.”  Ons is ons lewe lank opsoek na iets beters, na iets lekkerder, na iets meer gemaklik, na iets met minder stres, na iets met meer vreugde.  Lewensvreugde dink ons, is altyd iewers anders, dit kan tog nie hier en nou wees nie!  Dit kan tog nie in my eie huis om my eie tafel wees nie!  Met die gevolg dat ons bitter min kere tevrede is met vandag, daar waar ons nou is.

 

As jy vir Israel sou vra was die woestyn die laaste plek waar jy vreugde en hoop sal vind.  En kan ons hulle kwalik neem?  Die woestyn is in Bybelse sin meer as net ‘n plek van letterlike verlatenheid, meer as net ‘n droë gebied met skroeiende sand onder jou voete en ‘n gloeiende son bokant jou kop.  Dis ook ‘n simbool van ‘n harde wêreld, ‘n plek waar die duiwel listig ronddwaal en dit vir gelowiges moeilik maak.  Dit is ‘n plek waar jy uitgelewer is, sonder beskerming.  Die woestyn is ‘n plek waar jy so vinnig as wat jy kan van wil wegkom.

 

En daarom dat Israel aan die begin van die hoofstuk vir mekaar sê: Ons gaan nie lewensvreugde hier in die woestyn vind nie!  Kom ons maak dat ons wegkom!  En toe begin hulle kla.  Ons wil eerder terugdraai op ons spore.  Dinge was baie lekkerder in die verlede.  “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet!  Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”   Hoe hartseer dat hulle verkies om eerder saam met die Egiptenaars deur die Here se oordeel en plae getref te word.  Hoe jammer dat hulle alles miskyk wat die Here vir hulle gedoen het om hulle tot hier te kry!  Nee, eerder terug na Egipte, uit hierdie woestyn uit!

 

En so word ons swerwers wat in alle rigtings vlug net om weg te kom van die woestyn waarin ek my dalk bevind.  Hoe gereeld dink en redeneer ons nie: As ek net uit hierdie woestyn kan kom, sal dit beter gaan.  As ek net uit hierdie land uit kan kom.  As ek net weg van my omstandighede kan kom, weg uit my lyding, weg onder die kruis wat ek moet dra.  Ag, as my lewe maar net so kon verander, of as my werk net kan verander, of my bankrekening, dan sal ek gelukkig wees, dan sal ek lewensvreugde vind.  As hierdie stuk beproewing net van my afgelig kan word, of hierdie doring net uit my vlees gehaal kan word, dan sal ek tevrede wees, versadig wees, vergenoegd wees.

 

Jy sien, son ontwikkel ons ‘n lewenslange stryd om uit die woestyn te kom!  En daar is vanaand slegte nuus.  As jou lewe daaruit bestaan om uit die woestyn van omstandighede te kom, het ek slegte nuus.  Jy kan nie uit die woestyn uit wegvlug nie!  Jy gaan jou lewe lank in die woestyn moet bly!  Want ons is nog nie by die oase van die beloofde land nie.  Ons is nog nie by die nuwe hemel en die nuwe aarde nie. Inteendeel, ons lees in Openbaring 12 dat die Here sy kerk juis in die woestyn wegsteek.  Want om in die woestyn te wees is deel van ons navolging van God.  Wie sy of haar kruis dra agter Jesus aan doen dit in die woestyn, nie op ‘n geplaveide paadjie omring deur blomme en spuitfonteine nie.  Vir 40 jaar moet ons trek, of 70 of 80 as ons sterk is, en dié is vol swaarkry en leed.  Om in die woestyn te wees is sinoniem met Christen wees.

 

Luther skryf in die verband:

 

Jy mag jou die lewe van ‘n Christen nie voorstel as ‘n staan en rus nie; eerder as ‘n vertrek en ‘n opweg wees van klag tot deug, van insig tot insig, van krag tot krag.  En wie nie onderweg is uit die land Egipte deur die woestyn, dit wil sê op die weg van die kruis en die lyding na die beloofde land nie, moet jy nie reken as ‘n Christen nie.

 

En ouens ons moet dit hoor vanaand, dit kan gebeur dat jy na 30 of 50 of 80 jaar wakkerskrik en agterkom dat jy jou lewe lank opsoek was na ‘n plek waar die woestyn nie is nie, opsoek na lewensvreugde buite jou huidige omstandighede en dan was jy nog nooit gelukkig was nie.  Want jy kon nie in die woestyn van vandag, daar waar jy nou is, vreugde vind nie!

 

En miskien dink en redeneer ons ook soos die Israeliete dat ons nie lewensvreugde of geluk in die woestyn kan kry nie.  Daar sit iets merkwaardigs in die uitspraak van Aaron in vers 10:  “Nadat Aaron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.”

 

Waarom moes hulle na die woestyn toe omkyk?  Hulle moes omkyk na die woestyn om die teenwoordigheid van God te sien!  Die volk moes sien dat God in die woestyn saam met hulle is.  Die wolk van die Here se teenwoordigheid kom staan juis oor die woestyn!  Want dis hoe God is: Hy is juis daar waar ons dink Hy nie is nie, juis daar waar ons dink ons moet wegvlug is die Here op ’n besondere manier teenwoordig.  Die Here kom slaan tent op in jou beproewing.  Die Here kom woon daar waar mense swaarkry, waar mense seerkry, waar mense moeg en moedeloos en bekommerd is.  Die woestyn is die plek waar God wonders doen, waar die water uit die rots vloei en die brood uit die hemel val en die kwartels laag vlieg.

En daarom ouens, vind jy vreugde in jou woestyn vanaand!  Jy vind lewensvreugde nie op ‘n ander plek as waar jy vandag is nie.  Daar is vandag vreugde in jou huis by jou eie tafel omdat die wolk van God se teenwoordigheid ook daar oor jou hang.  Lewensvreugde is nie om die woestyntye te ontglip nie, maar om God in die woestyn te sien!

 

Slot:

Kyk na jou woestyn vanaand en jy sal God in die woestyn saam met jou sien!  Jy sal die manna van seëninge rondom jou en jou huis soos sneeu sien lê.  Want die Here sorg elke dag ook vir jou.  En die Here se teenwoordigheid in jou woestyn sal vir jou vreugde gee.  Wees tevrede met vandag en oppas dat jy nie so op soek gaan na omstandighede buite die woestyn dat jy nie die goeie van die lewe vandag geniet nie.

 

Mag jy vandag lewensvreugde vind by jou eie tafel, in jou eie huis wanneer jy God daar saam met jou sien sit om jou soos ‘n wolk te omvou en te oorlaai met Sy teenwoordigheid!  Kyk vanaand soos Israel om en sien God in die woestyn.  Dit sal vir jou hoop en lewensvreugde gee.  Amen