Die Olimpiese sportskouspel was vir die gelowiges aan die einde van die eerste eeu nie ongewoon nie.

Hulle het geweet van atletiek en stoei  –   en ons kry dit in die teks wat ons nou gaan lees.

Die Olimpiese Spele was al in die 8ste eeu vC deel van die kultuur in Olympia, Griekeland.

       Dit was oorspronklik ’n spele ter ere van die hoofgod, Zeus.

Die interessante vir die Christendom is dat die spele beëindig is in die 4de eeu nC toe keiser Thedosius I of II die praktyk beëindig het as deel van sy veldtog om die Christendom tot keiserlike staatsgodsdiens af te dwing in die Romeinse Ryk.

    En die Olimpiese Spele ter ere van Zeus was dus ’n bedreiging vir hierdie passie.

In die 6de eeu is die stad Olympia deur ’n aardbewing verwoes.

En so was daar geen Olimpiese Spele tot die tweede helfte van die 1800 toe die Olimpiese Spele weer met die entoesiasme van individue begin is, eers ’n Spele in Athene in 1859 en later onder die Internasionale Olimpiese Komitee ook in Athene in 1896.   Dit was die begin van die moderne Olimpiese Spele.

Miskien het die ou Grieke nie geweet van kleiduifskiet, waterpolo en snelroei soos ons dit vandag het nie, maar hulle het genoeg geweet van Olimpiese spele, hoofsaaklik die atletiek-items, boksgevegte en strydwa-resiese.

    En so kon hulle dit as metafore – ook vir die geloofslewe- te gebruik.

En dit is presies wat ons hier in Heb 12 kry.

 

SKRIFLESING: Heb 12:1-12

        Prediking: Ligvoets vasberade Olimpiese Geloof

Seker van die grootste momente van ’n Olimpiese kompetisie is die ekstase van die wenner.

Na die jare-lange voorbereiding en harde werk en verbete stryd om eerste te eindig, is die vreugde van die wenner normaalweg van die grootste Olimpiese oomblikke.

Vir ons as kassie-kykers wat dit weer en weer kan kyk, fassineer dit waarskynlik meer as die wenslag self: nie net die groot oomblik van Chad le Clos wat sy vingerpunte voor Michael Phelps indruk teen die wen-paneel nie, maar die uitbundige vreugde wat dit by hom as die wenner van goud ontlok. 

   

En elke wenner reageer anders!

Ons het dit ook gesien by Cameron vd Burgh en by die snelroeispan.

Hul vreugde ken bykans geen einde nie en hul soek na maniere om uitdrukking te gee aan hierdie mees ekstatiese oomblik in hul lewens.

 

Die Hebreër-skrywer praat van ’n soortgelyke vreugde wat deel kon word van die Here Jesus.

“Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur…”  (vs 2).

       Dit is ’n vreugde wat vir Jesus in die vooruitsig was toe hy die uitmergelende kruis-marathon moes voltooi.

Terwyl Jesus so die lydens-pad moes deurveg, het Hy geweet van ’n groot vreugde wat vir Hom voorlê.

Hy was die groot Olimpiese Atleet wat goud gevat het.

En nou het ek baie gewonder oor die spesifieke moment/e van vreugde vir die Here Jesus?

Miskien was die opstandingsmoment so ’n ekstatiese moment vir Jesus.

Miskien was die hemelvaart en die gaan-sit-aan-die-regterhand-van-die-Vader so ’n vreugde-meoment.

Die uitstorting van die Heilige Gees moes ’n besondere goue oomblik vir Jesus wees.

Maar hierdie vreugde-ekstase van die Here Jesus is nie iets van die verlede nie.

 

Dit is iets wat van dag na dag nog aan die gebeur is!

Nou was dit juis nie vir die geadresseerde tweede-geslag gelowiges met wie die brief praat so maklik om in die geloof te volhard nie.

Die versoeking was vir hulle baie groot om die handdoek in te gooi en terug te val na die ou gebruike van vroeër.

En dit was omdat die geloofsresies vir hulle te moeilik geraak het.

Ook vir my en jou kom daar tydstippe dat ons voel:  Nou stop ek!

                     Die inspanning is te veel!  

                      Dit vra te veel van my!

                        Ek sien nie verder kans hiervoor nie!

                         Die prys is te hoog!

 

Met die uitdun vir die 3000 m hindernis (sg “steeple chase”) val die Portugese meisie Cruz oor ’n hindernis en sy moet in een breukdeel van ’n sekonde besluit of sy gaan bly lê en of sy gaan opspring en verder deelneem….. en sy doen dit en sy voltooi die resies in ’n goeie tyd!

As ons so moeg word en soms neerslaan, kan ons op een van twee maniere reageer:

  1.  Knorrig& onvergenoeg& moedeloos tou opgooi – langs die baan gaan lê              
  2.  
  3. Opspring, vasbyt, en verder hardloop.

As jy daardie moment daar op die grond lê in jou geloofswanhoop:

                                      Kyk na Jesus!   Kyk weer ’n slag na Hom met Sy vasbyt en sy vreugde!

                   Laat Hy die Held wees wat as Rolmodel vir jou inspireer.

“Laat ons die wedloop met volharding hardloop…”

Die wonderlike is dat die Here ons nie in ons geloofswedloop alleen los as ons in ons moedeloos nerf-af geskoktheid langs die baan land nie.

Allereers gee Hy vir ons Jesus – ons rolmodel  – voor ons!

Die Heb-skrywer verwys na die “skare geloofsgetuies” vanuit die geskiedenis waaroor hy so uitvoerig gehandel het in die vorige hoofstuk – ’n Henog, Noag, Abraham, Moses, Josef, ’n Ragab, ’n Dawid….

Hulle sit (miskien saam met jou oupa en ouma) op die hemel-pawiljoen en hulle moedig jou van daar aan.

Hulle moedig jou nou aan om die toekoms te gryp en in te hardloop!

Maar die Here gee ook vir ons geloofshelde nou rondom ons.

Dit is die geloofskamerade wat hier in die gemeente of in ’n ander geloofsgemeenskappe saam met jou aan die geloofs-wedren deelneem.

Dit is waarom iets soos ’n selgroep of wyksgroep so belangrik is.

Jy het “comrades” nodig wat by jou inhak en jou aanmoedig.

Partykeer is hulle jou beste afrigters en mentors,

want hulle leef naby aan jou!

 

Sien hoe goed die Here vir jou is!

Sien jy hoe belangrik die Here jou geloof ag!

           Hy gee die geloof!

 

’n Laaste stukkie vermaning:

“Gooi af die laste en die sonde!”

Nou weet ons dat die antieke olimpiese atlete het nou nie met hul kortbroekies gehardloop nie.

Om so gemaklik as moontlik te beweeg het hulle selfs minder as moderne “skins” gedra.

Daar kan dinge in jou lewe wees wat jou verhinder om jou beste te kan lewer  – soos ’n groot weermagjas sou doen .

Die skrywer hou die vermaning doelbewus vaag:  “laste” en sonde”.

Hy hou dit so vaag omdat hy jou wil uitdaag om oor jou eie lewe te gaan nadink/te gaan bid: 

“Here, wys vir my die dinge wat maak dat ek nie so goed vaar in die geloofswedloop nie.

En leer my om van hulle ontslae te raak.

Leer my om die laste uit te trek – tot by die punt waar ek vir myself ’n verleentheid word,  –  maar vir die Here ’n vreugde!

 

Sluit,

En die wonderlikste is dat ons almal goud kan kry!

             …. ’n onverwelklike oorwinnaarskroon.

Die goue medalje is sekelik ’n goeie plaasvervanger vir die lourierkrans – want na 100 jaar sal dit nog nie verwelk het nie.

Na ’n 1000 jaar sal ons nog die Olimpiese goud in die lug ophou en van oor tot oor glimlag.

Na ‘n 1000 jaar sal daar nog vreugde in die hemel wees en sal die Here Jesus steeds van oor tot oor glimlag.

 

                                                  Koester jou geloof!

 

En gaan leef so ’n impak in jou wêreld – al is die uitdagings groot.

Amen

 

Geloofsbelydenis: Nicea

Slotlied: FLAM 118:1-3 (Bly volhard soos atlete)