hart en handSKRIFLESING: Jeremia 7

Simbole is vir ons geloofslewe baie belangrik.

En dan praat ek nie net van die simboliek in die kerk – soos kanselklede, embleme, lampe, kerse, kleure en kruise nie.

Dit sluit in ook die sakramente wat die Here Jesus self vir ons ingestel het …

En dit alles vir mense wat nie so maklik glo sonder om te sien nie.

Maar hier kom vandag ‘n interessante uiterlike simbool by: die gebou waar ons by mekaar kom om te aanbid: Vir ons is dit ‘n gebou met ‘n toring wat na BO wys, die Christusmonogram kunstig in die kerktoring ingebou, sentraal die kansel met die oop Bybel daarop, die kerkklok wat roep…

Maar, moet ons steeds vir mekaar herinner, “dit is nie die kerk nie. Die kerk is die mense wat verlos is deur die bloed van Christus Jesus.”

Tog is die kerkgebou nie vir ons onbelangrik nie.

Dit is immers waar hierdie mense, ons met die goddelike identiteit, by mekaar kom om

In Jerusalem was daar ook ‘n aanbiddingsplek, die tempel.

Hierdie gebou was vir die gelowiges simbool van God se teenwoordigheid en hulle het oor baie jare daar met opregtheid aanbid.   En vir baie jare was daar ook nie soveel opregtheid as wat daar moes wees nie. En hierdie geestelike agteruitgang het al sterker gegroei – ten spyte van God se profetewoorde van waarskuwing.

Maar die volk was doodgerus.

Hulle het geredeneer: “God het ons uit Egipte uit gelei en die tempel staan hier tussen ons. Ons sal niks oorkom nie! Ons is veilig!”

Hierdie gevoel van sekuriteit is bevestig deur ‘n gebeurtenis wat 100 jaar vantevore plaasgevind het. In 701, nadat die Assiriër ook vir Samaria (die Tienstammeryk) verower het, kom hulle en beleër vir Jerusalem. Hulle kon egter nie toe vir Jerusalem inneem nie en het die aftog geblaas.

Dié gebeurtenis het in die volksmond ‘n legende geword en die populêre oortuiging laat ontstaan dat, solank as wat die tempel in Jerusalem is, sal die volk veilig wees.

So lank as daar godsdienstige rituele in die tempel is, sal God hulle beskerm en bewaar.

Dit was die volk se vals sekuriteitsgevoel.

In Jeremia se sterk tempelrede ontmasker hy dan hierdie vals sekuriteit.

Hy sê basies vir hulle dat hulle nie kan voortgaan met hul onverskillige leefwyse en dan verwag dat die Here hulle voortdurend sal beskerm nie.

Hy skok sy hoorders in hul vals gerustheid.

Hy vra sy luisteraars om in hul gedagtes terug te gaan na Silo toe (:12).

Silo was die volk se eerste aanbiddingsplek. Maar dit het hulle nie teen die Filistyne beskerm nie. Trouens, Silo was nou bloot ruïnes. Skokkend!

Die droewige tekens daarvan dat jy nie jou sekuriteite kan stel bloot in uiterlike dinge nie.

Deur die eeue was ‘n vals gerustheid ‘n bedreiging vir die kerk:

Miskien die naam van gereformeerdheid en ‘n kerkverband, ‘n “lewendige en dinamiese” gemeente, baie mense se meelewing, dankoffers doen darem nog die ding, ons het die nodige fasiliteite, ek kom darem nog kerk toe (soms!), ek lees nog af en toe my Bybel en ek bid nog gereeld (veral as ek in die nood is!)

 

Terug na die tempel:

As ons in die tempel van Jerusalem sou instap, sou ons baie kon leer uit hul liturgië.

Daar was ‘n praktyk van herhaling in die liturgie – waarvan ons ook iets oorgehou het.

Frases, refreine, belydenisse wat herhaal is.

Ons kry dit ook meer kere in Jeremia:

Byvoorbeeld:  Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar niks is reg nie. (Jer 8:11)

Herhaal die leuen totdat jy dit glo.

Hier hoor ons dit ook:

Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” (7:4)

Herhaal dit en herhaal dit … totdat jy dit glo … en jou vertroue daarin stel!

 

Maar wat was nou die probleem?

Die probleem was nie soseer in die liturgie nie.

Die liturgie raak problematies as ons harte by godsdiens is en nie by God nie.

Jeremia benader dit egter vanaf die kant van die lewe.

Die probleem was in die lewe, die etiek.

Vers3:

“So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land.”

Hoor jy die bedekte dreigement?

Ons aanbly ook in hierdie sekuriteit van Universitas en in hierdie land, hang af van ‘n lewe en dade wat reg is voor God.

Ons mandaad is om ons roeping te bly leef.

As ons dit nie doen nie, moet ons nie verbaas wees as God ons “tempel” wegvat nie.

En wat is die tempel wat vandag in Jerusalem staan met sy groot goue koepel?

Dit is, helaas, ‘n Moslem tempel!

Twee verse later word die selfde oproep herhaal… met ‘n uitspel daarvan in die praktyk:

“Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is,

moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring. As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het.”

 Die lewe het twee kante gehad wat problematies geword het en dit gaan oor hierdie basiese twee dinge:

Die vorige preek oor Jeremia 3 het ons opgeroep om onsself passievol te gee vir die God… die God wat nie ‘n leeu is nie en ook nie ‘n teddiebeer is nie.

Nou kom aksentueer God daarby vir ons ons roeping teenoor ander mense.

In die veel gedebatteerde Belydenis van Belhar help dit ons tog as die kerk daarin bely:

Ons Glo in God wat “in `n wêreld vol onreg en vyandskap op `n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help…”

Dit is presies die taal van Jeremia 7.

Ons as gelowiges sal ‘n sensitiewe oog – en al meer gewillige hande – moet ontwikkel vir mense in nood.

As daar nie in die gemeente meer plek en tyd is vir die swakkes, die bejaardes, die siekes en die ontmagtigdes nie,   wanneer net die “ekonomies nuttiges” gereken word, dan verloën ons ons God. Want dit is waar Sy hart lê.

As ons help by ‘n gemeentetjie en skooltjie in Lesotho, dan is dit om geleenthede te gee vir kinders wat andersinds nooit geleenthede sou kon gebruik nie.

En so sou ons baie van die bedienings in die gemeente kon noem: Chochuis en Yade, die kinderhuis en Kusamala Blindeskool, siekebesoeke en Diabeteskliniek.

En omgee vir mense met pleisters en depressiepille.

Interessant dat vreemdelinge ook so prominent genoem word. Dit is die mense wat ontwortel is. Dit is mos die mense wat nog nie kon tuiskom nie. En ons was almal daar.

Dit raak, vreemd genoeg, die mense wat dikwels ‘n baie verrykende invloed op die kerk en gemeenskap kan hê.

Nuwe lidmate, nuwe kulture, mense wat so bietjie “anders” is as die meeste van ons.

Stanley Hauerwas skryf oor die taak van die kerk en die rol van die “vreemdelinge”.

Hy sê die kerk se taak is om te help “… transform fate into destiny, so that the unexpected, espesially as it comes in the form of strangers, can be welcomed as a gift.”

Ons wonder ook soms: waarom het die noodlot ons in Afrika geplaas?

Miskien juis sodat ons die onverwagte kan ontvang. En die onverwagte kan gee.

Die manier waarop ons dit ontvang is dikwels wanneer ons ruimte maak vir mense wat anders as ons is, die “vreemdelinge”.

 

Ek sluit:

Jeremia sê: nie die simbool nie, maar die hart en die hand.

Jou hart by God en jou hande ontfermend by mense.

Die erediens se liturgie en aanbidding is nie onbelangrik nie.

Want liturgie en lewe gaan saam. Jy mag dit nooit skei nie.

Dit wat in die erediens gebeur moet oorvloei na die lewe – opreg voor God en deernisvol by mense!

Dit is waar ‘n gemeente se sekuriteit lê. Nie bloot in simbole of ydele herhalings nie.

Of soos die Here Jesus dit saamvat:

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’

Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

Amen

Daar is tyd vir stilte en sit aan die Here se voete.

Gebed:

Danke Heer vir die kruis van lydenstyd.

Dankie Here Jesus dat u lewe ook nie net praatjies gebly het nie, maar dat dit daad geword het, ‘n kruisdaad.

Laat lydenstyd ons bring, nie net tot by ‘n nuwe stilword by die kruis nie, maar tot by nuwe dade van gekruisigde hande.

Help ons om nie net deel te wees van ‘n liturgie nie, maar deel te word van die lewe – U lewe!

Amen

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.