Ek het iets saamgebring vanmôre om die preek te verduidelik.  Potlode!  Hier is kort potlode, lang potlode, maer potlode, vet potlode, ou potlode en nuwe potlode.  Hier is geeles, rooies, wittes, swartes.  Hier is verskillende soorte en vorms, maar daar is een ding wat al die potlode het.  Wat is dit?  ’n Uitveër!  Weet julle hoekom moet my potlode uitveërs hê?  Want ek maak so baie foute.  Ek maak amper elke dag foute.  Ek skryf verkeerd of teken verkeerd en dan moet ek my potlood omdraai om dit wat ek verkeerd gemaak het, uit te vee. 

Julle sien, dit is hoekom party van hierdie potlode se uitveërs op gebruik is.  En wat sal gebeur as jy nou ’n fout maak en die fout probeer uitvee met ’n potlood sonder ’n uitveër?  Daar sal niks gebeur nie!  Die foute sal op die blaai bly!  En jy sal elke keer dink aan die foute wat jy gemaak het, want jy kan dit nie uitvee en daarvan vergeet nie!  Ek dink die potlood kan selfs die blaai nog leliker maak of skeur.  En eintlik beteken hierdie potlood sonder ’n uitveër niks.  Ek kan dit maar net sowel weggooi né. 

Weet julle ouens, hierdie potlode het my aan mense laat dink.  Kom ek vertel julle hoekom.  Mense kom ook in verskillende groottes en vorms en kleure.  Jy kry groot mense en klein mense, maer mense en vetter mense, lang mense en kort mense, bruin mense en wit mense.  Net soos die potlode wat almal anders lyk, so lyk mense ook almal anders.  Maar weet julle waar is ons almal dieselfde?  Ons maak almal foute!  SKYFIE En ons maak partykeer sommer baie foute en dom foute.  Watter foute maak ons?  Ons luister nie as mamma praat nie, ons is ongehoorsaam by die skool, ons praat lelik met ons maatjies, ons jok partykeer, ons wil nie ons goed met ander deel nie.  Omdat ons so van mekaar verskil, maak ons mekaar kwaad en dan gebeur dit dat ons later jammer is oor dit wat ons gedoen of gesê het.  Wie van julle het al goed gedoen of gesê wat jy later gedink het, o gaats, ek moes dit nooit gedoen het nie.  Of, ek wens ek het dit nooit gesê nie?  Ek wens ek kan dit uitvee en oor begin! 

SKYFIE Weet julle, dit is wat Jesus aan die kruis kom doen het.  Hy het ons foute, ons sonde kom uitvee!  Wanneer ons foute maak, sonde doen en ons vra Jesus om ons te vergewe en ons is regtig jammer oor dit wat ons gedoen het, dan kom Jesus en Hy vergewe ons.  Hy vee ons sonde uit!  Cool né.  Oor en oor en oor vee Hy ons sonde uit!  Hy vee dit so skoon uit dat jy nie eers kan sien daar was iets nie!  En anders as hierdie simpel potlode, raak Jesus se uitveër nooit op nie.  Nee, Hy bly nie kwaad vir ons nie, Hy is lief vir ons en Hy vergewe ons sondes. 

SKYFIE Ons lees in hierdie gedeelte van ’n oom, sy naam is Petrus.  Hy het gelukkig ook geweet dat Jesus mense se sonde en foute kan uitvee.  Maar daar was iets wat Petrus nie mooi verstaan het nie.  Hy het nie verstaan dat ons ook mekaar se foute moet uitvee nie.  Hy het nie verstaan dat ons nie vir altyd vir mekaar moet kwaad bly nie.  Want julle sien, soos wat Jesus ons sonde uitvee en nie kwaad bly nie, so vra Jesus weer dat ons, mense met uitveërs sal wees.  Dat ons ook mekaar sal vergewe.  Julle sien, as iemand ons kwaad of ongelukkig maak doen ons gewoonlik net mooi die teenoorgestelde as wat Jesus vra.  Ons bly kwaad of vertel vir mense hoe sleg daardie een is.  Maar Jesus verwag dat ons die grootste foute van ander sal vergewe net soos Hy ons grootste foute ook vergewe. 

Jesus leer ons mos ook bid: vergewe ons ons sonde, soos ons hulle vergewe wat foute maak teenoor ons.  So, as Jesus jou sonde uitvee, dan wil Jesus ook hê moet jy ander se foute uitvee.  Dit is wat kinders van die Here doen.  Hulle is mense met uitveërs!  Hulle vee ook ander se foute uit en laat ander mense ook oor begin. 

SKYFIE Petrus vra vir Jesus: Jesus hoeveel keer moet ek iemand se foute uitvee voor my uitveër op is?  En ewe trots sê Petrus, ek sal dit tot 7 keer doen.  Ek sal 7 keer iemand vergewe en foute uitvee voor my uitveër opraak.  En weet julle wat antwoord Jesus hom?  SKYFIE Nie 7 keer nie, 70×7 keer.  Dit is so moeilike som dat ek nie eers weet wat die antwoord is nie.  En as jy moet optel elke keer as jy iemand vergewe tot jy by 70×7 se antwoord kom gaan jy so deurmekaar raak dat jy nie eers weet hoeveel keer jy nou daardie iemand vergewe het nie!  En dit is presies wat Jesus wil sê!  Dit maak nie saak of jy kort of lank, wit of swart, vet of maer is nie, almal het nodig dat Jesus ons sonde en foute sal uitvee.  Maar net so het ander mense weer nodig dat ons ook uitveër-mense sal wees.    

Ek wonder hoeveel van ons kan vanmôre dink aan iemand wat jy eintlik behoort te vergewe, maar wat jy nog nie vergewe het nie.  Iemand vir wie jy dalk baie lank al kwaad is.  Julle sien, ons is stout.  Ons wil graag hê Jesus moet ons foute uitvee, maar vee moeilik ander mense se foute uit.  En dit is wat Jesus vir Petrus leer.  As jy ’n kind van Jesus is en jy wil hê Jesus moet jou sonde uitvee, moet jy ook ander se foute kan uitvee.  Oor en oor en oor, 70×7 keer, totdat jy nie eers meer kan onthou hoeveel keer jy vergewe het nie!  SKYFIE Want ons moet vergewe omdat Jesus ons vergewe! 

Die laaste ding wat ek wil sê.  Weet julle, wanneer ons mekaar seermaak, lelik is teenoor mekaar, is dit soos wanneer jy spykers in ’n stuk hout inkap.  Elke keer wanneer ons mekaar seermaak word nog ’n spyker ingekap.  Ek wil julle wys hoe seer maak ons mekaar baie keer.  (Kap die spykers in).  Maar weet julle, as Jesus ons leer van uitvee en vergewe dan beteken dit dat Hy die spykers, die seer kom uithaal en wegvat wanneer Hy ons vergewe.  En wanneer ons mekaar vergewe, trek ons ook die ou nare spykers uit en dan gaan die seer ook tussen mense weg.  Maar weet julle wat, as ek die spyker uitgetrek het is dit nie meer seer nie, maar daar bly ’n gat agter.  Ons moet passop dat ons nie sê: ons moet maar maklik oor en oor en oor vergewe sonder dat ons dit bedoel en regtig jammer is nie.  Want selfs al vergewe jy iemand, bly daar ’n gat oor wat die seer gemaak het. 

Gaan ons probeer om soos uitveër mense te lewe.  Ja!!!