Dit is darem wonderlik hoe die Bybel ’n Goddelike dimensie het wat maak dat jy op verskillende tye die diepte en waarheid daarvan anders ervaar. Neem nou byvoorbeeld die bekende gelykenis van die saaier. Ek het groot geword met die gedagte dat die gelykenis gaan oor mense wat gered is en mense wat nie gered is nie. Hulle wat die Woord aanneem en hulle wat dit nie aanneem nie. Toe ek dit weer lees besef ek, maar dit gaan tog ook oor groei. Dit gaan oor vrug dra. Dit is natuurlik hoekom Jesus gelykenisse vertel het. Sodat mense in ‘n eenvoudige storietjie ’n dieper dimensie kan ontdek en raaksien en daardeur ’n boodskap oor God en sy koninkryk kan kry.

SKYFIE: Een van ons gemeente se kernwaardes is groei. Ek lees iemand skryf, die hoogste doel in die lewe is nie om te wen nie, maar om te groei en te dien. Aan die begin van die jaar met doelwitte wat gestel word en persoonlike voornemens wonder hoeveel het jy in die jaar wat verby is gegroei? Nou nie in sentimeters nie, maar in jou geloofslewe en in jou vertroue en verhouding met die Here Jesus. Kan jy vanmôre sê: weet jy, ek het in die jaar wat verby is ook my geestelike doelwitte bereik. Ek het soveel van die Here Jesus geleer dat dit my verander het. Deur die genade van die Here het ek geestelik gegroei en gevorder. Al is dit net ’n klein treetjie, maar ek het gevorder. Gevorder in my toewyding aan die Here, gegroei in my vertroue in die Here, miskien het my manier van dink verander, of het ek dit reggekry om sekere slegte gewoontes te laat staan. Jy sien, as jy nie geestelik groei nie, en nie vir jouself sekere geestelike doelwitte stel nie, is jy besig om agteruit te boer. As iets nie groei nie, is dit besig om dood te gaan. Jesus skets 4 senarios in sy storie oor die saaier se saad wat moet groei. En vanmôre dien dit as 4 voorbeelde van hoe ons self geestelik moet groei. En ek is ook nie so seker of hierdie 4 tonele altyd 4 verskillende mense is nie. Miskien kry jy in een lewe op verskillende tye, meer as een van hierdie senarios. Kom ons luister weer na Jesus se storie: Skriflesing: Lukas 8:4-15 Gebed Saad wat op die pad val en “dit is vertrap en die voëls het dit opgepik…..” Dit is mense wat die Woord hoor maar nie tot geloof kom en gered word nie. So wil ek glo, dit is die mense buite die deure van die kerk vanmôre. Dit is die mense na wie Jesus sy dissipels stuur. Na harte waar die Woord nog nie ontkiem het nie. Selfs na mense wat nog nie die saad van die Woord eers ontvang en gehoor het nie! En dit is vreeslik interessant, hoe die Saaier saai. God is die Een wat saai, maar tog stuur Hy ons ook met die saad van die lewe na die saailand, die wêreld toe. Die Saaier saai nogal slordig en verkwistend. Gewoonlik kyk jy waar jy saai, want saad is kosbaar en jy mors dit nie sommer net nie. Maar die Saaier saai, maak nie saak hoe verkwistend dit lyk en waar dit val nie. Want jy sien, die Saaier wil hê almal moet die kans kry om die Woord te hoor! Miskien is dit ’n groot lewensles. Ons hoef nie selektief en spaarsamig te saai nie. Want dit is nie hoe God saai nie! Hy wil vir elke mens die geleentheid gee om gered te word. Daarom hoef ons nie altyd net te wag vir die regte mense en regte geleentheid of die regte tyd of die regte strategie of die regte kommissie of die regte besluit om die Woord te saai nie. Ons kan maar die saad uitsaai! Ons kan dit maar verkwistend uitgooi daar waar ons loop, genooid en ongenooid, tydig en ontydig. Dit sal nooit opraak nie en in die proses laat God dit dalk net iewers onverwags ontkiem! Sommige van hierdie saad sal op klipbanke val… Ek het ’n ander verrasing in die teks ontdek. Ek het altyd gedink die rede waarom die saad opkom, maar nie verder groei nie is net omdat die grond te vlak is. En dit is sekerlik ook deels waar. Maar soos ek dit lees is dit is nie die vernaamste rede waarom daar nie groei is nie! Die rede is aan die einde van vers 6: “omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.” Jesus sê in vers 13, dit is die mense wat die Woord met blydskap aannneem, maar hulle geloof hou net ’n tydjie. Die oomblik wat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op. Die oomblik as dinge net ’n bietjie swaar gaan, nie uitwerk soos hulle gedink of gehoop het dit moet nie, verloor hulle hoop en daarmee saam sommer hulle geloof ook. Met ander woorde, hulle glo, die saad ontkiem en die plantjie van geloof kom op, maar dan verdroog dit. En dit verdroog omdat die saad van geloof nie water gegee word nie! Ek het al baie plante gesien groei in vreeslike vlak grond tussen omtrent net klippe. Maar dan kry die plantjie gereeld water. En in Jesus se storie gaan die nuwe plantjie dood juis omdat dit nie genoeg water kry nie! Om te groei het jy gereeld water nodig. Broers en susters, as jy nie jou geestelike lewe water gee nie sal jy ook geestelik verdroog! As jy nie die plantjie van geloof wat deur die genade opgekom het in jou hart, water gee nie sal jy hierdie jaar geestelik verder verdroog en meer sukkel om die Here te vertrou. Maak nou nie saak hoe diep die grond is waarin jy geplant is nie, want ek dink die grond se diepte verskil, dis hoekom Matteus sê party het 30, ander 50 en ander 100 voudig gegee. Die vraag is of dit wat jy ontvang het genoeg water kry?SKYFIE En hoe gee jy dit water sodat dit kan groei? 1. Jy kweek goeie geestelike dissipline. Jy hou gereeld stiltetyd en jy kom gereeld kerktoe en soek nie verskonings om laat te slaap nie! 2. Maar jy gaan ook nie net deur die motions van kerk en Bybellees om jou gewete te sus nie. Jou geestelike doelwit moet wees om in die Woord te verdiep! Om in kennis van God te groei! Daarom moet jy elke geleentheid gebruik, of jy stiltetyd hou of kerk toe kom, om meer en meer te ontdek wie God is. Jou geestelike lewe kry water wanneer jy honger en dors om Hom inniger en beter te leer ken en in die proses raak te sien wie jy voor hierdie God is. En elke druppeltjie getroue geestelike dissipline laat die saadjie groei in geloof en vertroue! ’n Ander deel val tussen die onkruid… en die onkruid groei daarmee saam en uiteindelik, wie wen? Altyd die onkruid! Ek het ’n groentetuin. Dit lyk altyd so lekker om jou eie groente te gaan pluk. Ek het die gras daar laat uithaal en dit skoongemaak, ’n heininkie omgespan, die besproeing gestel om gereeld daar nat te maak. Ek het saad gaan koop om die regte goed op die regte tyd van die jaar op die regte diepte te plant. Ek het wonder bo wonder gesien dat dit opkom. Ek het die naweek ’n foto van my groentetuin geneem. Dit is soos dit nou daar lyk! Tot my eie skande! Ek is skaam oor my groentetuin! Ek was net te lui om die bossies uit te trek. Ek het my groentetuin verwaarloos en die onkruid het oorgeneem. En ek kon mos nie verwag om groente te oes in so ’n bedding nie! Nou hoe op aarde verwag ons dat gelowiges vrugte moet dra in lewensbeddings wat besaai is met onkruid? Jesus noem dit in vers 14 onkruid van sorge en rykdom en die genietinge van die lewe. Nou ons almal het sorge. Maar weet jy wanneer word sorge onkruid? Wanneer jy jou daarin verknies en wanneer jy toelaat dat die bekommernis al hoe groter en groter groei totdat dit uiteindelik die geloof verdring en jou van God en sy almag laat vergeet. Wanneer bekommernis groter as geloof raak, dan is dit onkruid in jou lewe. SKYFIE Ons het ’n traak-my-nie agtigheid oor onkruid in ons lewe! Ons is lief daarvoor om dit te paai en te pamperlang, want dit is lekker, die geld en genietinge van die lewe. Ons dink, ag wat, hierdie stukkie onkruid kan tog niks doen nie. Daar is baie erger dinge as dit! Met die gevolg, ons sleep sonde saam! Jaar in en jaar uit! Ons maak die onkruid in ons lewe groot, ons laat dit groei. Ons gee dit water, omdat ons dit nie hardnekkig uitroei in ons lewe nie! Jesus het ’n sekere robuustheid oor sonde wat ongelukkig nie altyd in sy kinders se lewens sigbaar is nie. Hy sê in Matteus 9:43: as iets jou pla en van God afvallig maak, kap dit af! Roei dit uit! Kap jou hand af wat die knoppie druk, of ruk jou oog uit wat op verkeerde plekke loer, sny jou tong af wat so afbreek! Dit moet die gesindheid wees teenoor sonde in ons lewe, as ons wil groei! As ons wil hê dat die saad wat God in ons lewe geplant het, moet groei en vrug dra, dan moet ons oorlog verklaar teen sonde in ons lewe! Anders verdring die onkruid die saad. Om hierdie jaar te groei moet jy eerlik gaan sit en jouself afvra: wat is die onkruid in my lewe? Wat is besig om my geloofslewe so te verstik dat ek nie groei nie? Wat hou my weg van ’n sinvolle verhouding met God? Watter sonde sleep ek saam, watter sonde maak ek groot? En dan moet jy die Here bid om dit uit te haal. Bid om krag en genade wanneer jy die vurk vat en begin spit. Al is dit swaar en moeilik. In die goeie grond…. Dis ook interessant dat die Saaier sê ’n deel val in die goeie grond. Nie al die saad nie…net ’n deel val in goeie grond. Toe wonder ek by myself, ons lewensakkertjies het seker nie net goeie grond nie. In een akker sal daar seker dele of tye wees waar ons geloof minder water kry en ander tye waar die onkruid meer staan, ander tye wat ons hoor, maar nie doen wat ons hoor nie, ander tye wanneer die Woord vassteek in die goeie grond en ons verander en groei. Dit maak nie saak hoe jou lewensakker vanmôre lyk nie, want God wil daarin werk. Hy breek nie die geknakte riet of vergeet of vernietig dit wat Hy laat opkom het nie. Hy wil versorg, omspit en natmaak sodat jy meer vrugte kan dra. Mag hierdie jaar vir jou ’n jaar van groei en verandering wees! Dank die Here vanmôre vir geloof wat in harte ontkiem het. Laat ons verwkistend saai! Mag jy die geestelike dissipline hê om gereeld jou geloofsplantjie die water te gee wat nodig is om te groei. Wees waaksaam teen onkruid wat wil verstik en vernietig. Mag die saad vanmôre op goeie en opregte harte val. Harte met die wil en begeerte om te groei en lewens wat wil vrugte dra in God se koninkrykstuin binne hierdie wêreld. Amen.