Ons wil nie vandag net fees vier oor ‘n gebeure van 500 jaar gelede nie. Ons wil fees vier oor die hervorming wat juis hier en nou omoet gebeur. Dit moet nuut gebeur in 2017.

En ons he ‘n klein juweeltjie gelees in Mat 9:27-31

Tema: Hervorming: Om opnuut helder te sien en duideliker te leef.

Ons begin by die eerste groot hervormings-aksent

I. Sola Scriptura (Alleen die Woord)

En hoe sou “blindes” soos ek en jy in ons eie persoonlike radeloosheid geweet het dat daar hoop en ‘n nuwe uitsig is deur Jesus Christus?

Dit sou miskien moontlik wees dat mense dit vir 2000 jaar mooi noukeurig kon oorvertel. Maar ons ken telefoontjie speel – die een wat na die ander ‘n boodskap in die ry se oor af fluister. Te midde van al die groter verhale van die Bybel sou hierdie juweeltjie waarskynlik verlore raak.

Dis die verhaal van twee blindes wat tastend in die donker radeloos skree:
“Ontferm u tog oor ons.”

Gelukkig het God dit so beskik dat ene Matteus aan die groot Skrywer, die Heilige Gees, gehoorsaam is en dit op skrif sou stel vir ‘n Antiocheense gemeentetjie noord van Palestina.

En dit het deel geword van ons Bybel – die Woord van God.
Vir blindes gaan daar in die Woord nuwe lig op en kom God se genade in fokus.

En omdat die donkerte geneig is om ons deurentyd weer te bekruip, is dit nodig om die Woord weer gereeld en met ‘n verwagting te lees.

Die volgende kunswerk is vir my baie simbolies.
Dit vertel van die Woord wat ons omhels sodat ons vrede en ‘n nuwe uitsig kan kry.
– Met menslike oë wat God weer kan raaksien in ‘n tevrede glimlag.

Litanie:
Voorganger: En as ons nou in die Woorde van die Heidelbergse Kategismus die Bybel se boodskap sou opsom, wat is die drie kernwaarhede van God se Woord?

Gemeente:
1. Hoe groot my sonde en ellende is.
2. Hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word.
3. Hoe ek ’n dankbaarheidslewe kan leef omdat ek verlos is.

II. Solus Christus (Alleen Christus)

Maar hierdie teks laat die lig veral op Jesus val.
Al kon die blindes nog nie eers sien nie, het Jesus vir hulle in fokus gekom.
Wanneer Jesus vir ons dof en uit fokus raak, dan het dit tyd geword vir ‘n nuwe hervorming…. veral hier binne en in ons oog!

Jesus is nie ‘n stukkie kultuur-geskiedenis nie.
Hy is nie net die een wat in die verre verlede saam met sondaars en blindes kom loop het om verlossing en lig te bring nie.

Hy is, vandag hier – deur Sy Gees, steeds op soek na mense wat verlossing en lig nodig het.

Jy het die geleentheid om Jesus nie net in fokus te kry nie, maar om deur Hom vasgehou te word.

En as jy mooi kyk en fyn voel, dan sal jy ook nou Sy arms rondom jou voel.
Wees vandag weer ‘n kindjie wat in Jesus se arms van liefde troos en vrede en nuwe inspirasie vind.

Liturg: In ons litanie vra ons saam met HK Vr 29:
Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Gemeente: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos, en ons hoef by niemand anders saligheid te soek of te kry nie.

III. Sola Fide (Alleen geloof)

In ons teks is daar ‘n sterk klem op geloof.
Geloof sluit eintlik die wonder-sig vir hierdie blindes oop.

Jesus vra: “Glo julle dat Ek dit kan doen?”
En hulle antwoord is ‘n eenvoudige: “Ja, Here!”

Nou moet on sook raaksien dat hul geloof en hul teologie nie so suiwer was nie.

Hulle noodroep is na die “Seun van Dawid”.
‘n Gelaaide politieke term.
Maar Jesus roskam hulle nie oor hul swak teologie en onvolmaakte geloof nie.
Al wat Hy verwag is geloof soos van ‘n ou mostertsaadjie.
En dit sluit vir hulle volmaakte almag van God oop.
Ons onvolmaakte geloof ontsluit Jesus se volmaakte almag.
“Our imperfect faith unlocks His perfect power.”

Met ons swakke geloofsarmpies hou ons desperaat aan Jesus vas –
omdat Hy ons vashou!

In ons litanie is Jesus se vraag vanoggend:
Liturg: “Glo jy dat Ek dit kan doen?”
En ons antwoord is ‘n eenvoudige:
Gemeente: “Ja, Here, ons glo opnuut!”

IV. Sola Gratia (Alleen genade)

En is daar enige grond waarop ons kan appélleer op God se liefde?
Het ons enigiets om mee te betaal?
Is ons so oulik of soet dat God ons moet beloon?

Nee, inteendeel!
Ons pleit net soos hierdie twee blindes met desperate bak hande en ‘n onvolmaakte geloof: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!”

Met leë hande kan ons maar net ons kop op Jesus se skouer laat rus.

En as, in ons litanie gevra word:
Liturg: Op watter gronde staan jy en waarmee gaan jy betaal?
Dan is jou appél op genade bloot:
Gemeente: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!”

V Soli Deo gloria (Aan God alleen die eer)

Vir die twee eens-blindes en vir ons as missionale kerk, klink Jesus se opdrag vreemd:

“Hiervan moet niemand hoor nie.” Matteus sê: “Hy het hulle streng beveel…”

Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel.”

Jesus moes op daardie moment in die geskiedenis redes gehad het om hulle te verbied om oor die genesings te praat.
Miskien sou mense Hom voortydig sommer wou kroon tot politieke koning. Ons ken nie Jesus se motiewe vir die verbod nie.

Maar hoe kan jy stilbly as iets so groot in jou lewe gebeur het?
Dit moet vertel word! Dit moet nuut weerklink.
– Tot by die punt van ongehoorsaamheid!

God se eer is ons hoogste roeping.
En dit vat eintlik die ander “sola’s” saam.

Johannes Calvyn het gesê hierdie wêreld is een groot teater waarin ons God se heerlikheid en glorie elke dag sien afspeel- soos in ‘n teater-skouspel.

Ons kan die spreiligte wees wat in hierdie teater die eer van God moet belig. In ons getuienis. In ons leefstyl.
Sodat die “hele omgewing” (soos in Mat 9) van God kan hoor…
Aan God al die eer! … ook in ons loflied van oorgawe.

En die gemeente sê in sy litanie:
Gemeente: “Soli Deo Gloria!”
                    “Aan God al die eer!”

Amen