Die storie word vertel dat die kaptein van die Titanic op ’n stadium, toe hy gesien het die ou bootjie gaan dit nie veel langer maak nie, die bevel aan sy manne gegee het: Nou is dit elkeen vir homself!  En weet jy, partykeer dink ek dit het die noodkreet van ons tyd geword!  Ek dink op ’n manier posisioneer mense hulle al hoe meer met hierdie selfde benadering: ons gaan sorg vir onsself, sorg dat ons genoeg het, sorg dat ons veilig bly, sorg dat ons kinders versorg is.   En dit is veral in moeilike omstandighede dat so ’n elkeen-vir-homself benadering kop uitsteek.

Dit is wat in die tyd van Haggai gebeur het.  Kom ek vertel jou hoekom.

Die Israeliete was mos in ballingskap vir baie jare.  En toe gebeur dit op ’n dag dat Kores koning word in Babilonië.  En anders as sy voorgangers was hy nogal ’n akkommoderende ou.  Hy het ‘n bevel van godsdiensvryheid uitgevaardig.  Met ander woorde, skielik was daar die vryheid dat elkeen sy eie god kan aanbid.  Nou in ons tyd het godsdiensvryheid natuurlik vreeslike opskudding veroorsaak want ons was gewoond dat Christene beskerm is.  Maar in daardie tyd was dit wonderlik vir die Jode dat hulle nou ook die reg en vryheid gehad het om tot God te bid.  Deel van Kores se toleransie met die Jode in ballingskap was dat hy toe sê dat hulle maar kan terugkeer na hulle land toe om die tempel van God in Jerusalem te gaan herbou.  En hy doen verdere moeite, hy stuur Sesbassar, saam met hulle om te gaan help en op ’n manier selfs hulle veiligheid te verseker.  Wonderlik dat dit gebeur het!  Daarom word dit vandag nog gereken as een van die groot ingrypinge van God in die geskiedenis van sy volk!

So, toe die Israeliete die geleentheid kry om terug te gaan, was nie almal daaroor opgewonde nie.  Inteendeel, heelwat van hulle het eerder gekies om in Babilonië agter te bly.  En die wat agtergebly het was of die rykes, wat al ’n lekker lewe gemaak het daar, of die jonges wat nie eers meer vir Jerusalem kan onthou nie.

Maar die wat tog gekies het om terug te gaan het eintlik na niks teruggegaan.  Want Jerusalem was op daardie stadium yl bevolk, amper ’n tipe spookdorpie.  Die huise was geplunder en die tempel verwoes.  En toe hulle daar land was dit natuurlik vir hulle ’n prioriteit om aan hulle huise te begin bou, dit mooi te maak en gerieflik in te rig.  Dit klink in elk geval na ’n goeie plek om te begin, jou eie huis.  Maar die probleem was dat hulle so besig geraak het met hulleself en hul eie woonplekke dat die tempel, die plek waar die Here bly vervalle gelaat is!  Daar is aan hulle eie huise gebou, maar nie aan die koninkryk van God nie!  En interessant, alhoewel hulle hulself al hoe geriefliker ingerig het, het die lewe nie vir hulle sin gemaak nie.  Dit was nie vir hulle bevredigend nie.  Ons lees in vers 6: “julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie; julle het gedrink, maar dors gebly; julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie; julle is soos ’n dagloner wat sy loon in ’n stukkende beursie steek.”  Iets het geskort.  Something was missing in hulle lewe.  En Haggai kry die geleentheid om die Woord van die Here te bring.  Vers 9: “Waarom? Vra die Here die Almagtige.  Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk.”

Dit wat in julle lewe kort, is die Here!  Vriende, wanneer ’n mens jou lewe inrig sonder God of waar Hy ’n randfiguur in jou lewe word, is dit moeilik om sin en betekenis in die lewe te vind.  Selfs al het jy alles en bly jy gerieflik!  Jy sien vriende, dit gaan hier oor prioriteite.  Natuurlik moet jy aan jou eie huis werk.  Natuurlik moet jy na jouself kyk.  Maar wat is vir jou die belangrikste?  Waar lê jou prioriteite?  Net by jouself, jou eie belange, jou stukkende beursie wat nooit genoeg kry nie of kom die Here eerste?  Is die Here se teenwoordigheid vir jou prioriteit!  Prioriteite raak deurmekaar agv verskonings!  Jy sien, die Israeliete sou seker ’n klomp verskonings kon uitdink waarom hulle eerder na hulleself moet kyk en nie die werk van die Here kan doen nie.  En ek moet vir jou sê die verskonings klink verbasend bekend.  Hulle sou kon sê: ons is in ’n resessie, ons het nie nou geld vir bou nie.  Ons tyd en mannekrag is beperk.  Ons moet seker eers na onsself en ons eie mense kyk?  Ons werksomstandighede is van so aard dat ons nie nou tyd aan die tempel kan spandeer nie.  Ons het seker nodig om so bietjie te gaan rus ook.  Jy sien, mense het oor die algemeen nog altyd baie verskonings wanneer dit gaan oor prioriteite, die plek van die Here in hulle lewens en hul eie eer en gemak.  Want jy sien, eiebelang maak van die Here ’n randfiguur in mense se lewens.  As my eie eer en eie geluk en eie gemak en eie gerief en eie voordeel vir my belangriker is, dan raak God al hoe minder belangrik.

En vriende, as ons net ons oë oopmaak en rondom ons vandag kyk sal ons sien hoe mense veel eerder aan hul eie koninkrykies bou.  Nee, miskien moet ons sommer na onsself kyk. Ons maak veel eerder ons eie huise grander en mooier, ons sal eerder die lewe vir onsself meer gemaklik inrig, ons sorg veel eerder vir onsself, dit broers en susters, terwyl die koninkryk van die Here in puin lê.  Terwyl die Here al hoe meer op die rand van ons samelewing geskuif word!  Hoekom?  Omdat die Woord van die Here nie meer ’n prioriteit vir sy kinders is nie.  Omdat die Woord van die Here nie in lewens gesien en gehoor en geleef word nie!  As gevolg daarvan dat Christene in mooi huise sit, met devils fork en elektriese heinings sonder om sout en lig buite die heinings van hulle eie huise te gaan wees.  Die Here se huis lê in puin, terwyl kinders van die Here met skeefgetrekte prioriteite druk besig is om aan hulle eie huisies te bou.  Mag ek jou vanmôre vra: vir wie bou jy?  Wie se huis is vir jou die belangrikste?  Jou eie of God s’n?

Die mooie en wonderlike van hierdie profesie is dat die mense gereageer het op die Woord van die Here.  In vers 12 lees ons: “almal wat van die volk oorgebly het het ter harte geneem wat God gesê het en die volk was vervul met ontsag vir die Here.”  Wat het gebeur?  Die oomblik toe hulle wegkyk van hulself, weg van hul eie bankrekening en eie gerief en eie belange is hulle vervul met ontsag vir die Here!  Die oomblik as jy onder die indruk kom van wie die Here is, verander jou prioriteite!  Want as jy ervul word met ontsag vir die Here, dan raak jy kleiner en minder en God groter en belangriker in jou lewe.  Die besef van wie God is het vir die volk op daardie stadium weer sin en betekenis in die lewe gebring.  Hulle het besef, ons leef nie net vir onsself nie, ons werk nie net vir onsself nie, die lewe gaan nie net oor eet en drink en aantrek nie, ons is hier ter wille ’n groter doel ter wille van die eer van God!  Ons is messelaars in sy koninkryk wat geroep is om vir Hom te bou!  Die lewe draai nie net om my nie.  Elke treetjie wat ons gee, elke steentjie wat ons lê, hoe klein of gering of krom en skeef, word gedoen ter wille van die eer en koninkryk van God.  Ek gaan werk toe ter wille van die koninkryk van God, ek is ’n pa of ma in my huis ter wille van die eer van God, ek dra my stukkende beursie ter wille van die eer van God.  Jy sien, wanneer ons koninkryksbouers is is ons prioriteite reg.  Dan maak die lewe sin en kry dit ware betekenis.

Slot

Ons lees hierdie wonderlike woorde in vers 14 oor die werk van die Heilige Gees in mense se lewens wie se prioriteite verander het: “die Here het die volk aangevuur en hulle het die werk aan die huis van hulle God, die Here die Almagtige, aangepak.”  Toe die eer van God vir hulle die belangrikste word, die fokus in hulle lewe word, het die Heilige Gees hulle aangevuur om te begin werk en te begin gee en te begin bou!  Toe gaan haal hulle hout op die berg en begin stene pak, want die Gees van God kon hulle beweeg!  Die Gees van God het hulle aangevuur en kon hulle gebruik!

Vanmôre wil die Heilige Gees ons aanvuur om vir God te bou.  En Hy doen dit deur hierdie tekens van die feesmaal.  Die Here het vir ons hierdie maaltyd gegee sodat ons gevoed en versterk kan word vir die bouwerk in sy koninkryk.  Nagmaal herinner ons vanmôre aan die prys wat Jesus vir sy koninkryks-messelaars betaal het.  Om jou ’n bouer te maak, was duur!  Nagmaal herrangskik as’t ware ons prioriteite wanneer ons sien en proe dat ons vir God so kosbaar is dat Hy sy Seun vir ons gegee het.  Daarom bring nagmaal ons weer tot die besef hoe belangrik God vir ons behoort te wees.

Jy is uitgekies, gekoop om vir God te bou.  Mag hierdie fees jou vanmôre versterk tot bouwerk aan die Here se huis!    Amen