TitanicIn die fliek, Titanic, is daar ‘n aangrypende moment na die sink van die boot terwyl mense in die yskoue water van die Noord-Atlantiese Oseaan besig was om te verkluim.

Rose lê op ‘n wrakstuk en die liefde van haar lewe, Jack, is besig om in die water te verkluim terwyl hy aan dieselfde wrakstuk vasklou. Sy laaste woorde aan haar is dan bibberend:

“Promise me that you will survive!

       That you won’t give up, no matter what happen, no matter how hopeless.

                                                    Never let go”

Haar belofte is: “I’ll never let go Jack, I’ll never let go.”

In ons teksgedeelte word vertel van ‘n vrou, al ‘n baie bejaarde vrou, wat ook nooit opgegee het nie.   Haar naam was Anna. (Die beter tekslesing is eintlik “Hanna”.)

Sy het nie opgegee aan die hoop wat in haar geleef het nie.

Sy het gehoop dat God Sy belofte van die Messias se koms sal waar maak.

Haar geestelike leuse was waarskynlik iets soos

“I’ll never let go! I’ll never let go of hope!”

 

Die nood was groot.

Nie net Jerusalem nie, maar die hele mensdom was baie diep in die nood.

Die vervulling van die Messiasbelofte kon nie langer uitgestel word nie.

Op hierdie Adventsondag van Hoop, is dit ‘n baie gepaste gedeelte om by stil te staan.

 

Die teks sluit baie nou aan by die voorafgaande gedeelte wat handel oor die ou vader Simeon. Simeon en Anna se verhale vloei saam met ‘n hele aantal paralelle.

Beide sien uit na die koms van die Messias.

Beide was, soos kinders, bang dat hulle die eerste Kersfees sal mis.

En God is vir hulle baie goed.

Kersdag breek aan vir die twee ou mense as hulle die Kindjie, Jesus, vir die eerste keer in die tempel raaksien.

Ja, dit was hul eerste Kersfees.

‘n Mens wonder oor die rede vir hierdie vertelling deur Lukas-evangelis.

Daar moet ‘n goeie rede/s wees waarom Lukas kies om hierdie insidente (eintlik is dit een insident) in sy evangelie op te neem.

 

Lukas doen baie moeite om die Evagelie te skryf met die klem op die randfigure: die besetenes, die verlamdes, die siekes, die tollenaars …

En nog ‘n kategorie randfigure was die bejaardes.   Soos in ons tyd ook maar gebeur, is bejaardes nie al te ernstig opgeneem nie. Hulle is bietjie uitgeskuif na die rand toe.

En die vroue, gegewe die kultuur van daardie tyd, is uitgeskuif tot op die verste randjie.

Daar word getuies gesoek wat kon getuig oor hierdie baba se identiteit.

Een getuie sou ook nie deug nie. Die OT sê: Dit is eers in die mond van twee getuies, wat dieselde ding getuig, dat ‘n getuienis as geloofwaardig aanvaar sou word.

Simeon en Anna is hierdie twee getuies.

 

Maar kom ons fokus bietjie fyner in op Anna, die vrou met hoop.

Ons weet nie baie van Anna nie. Ons het net drie versies oor haar.

Maar in hierdie drie verse het ons ‘n baie volledige agtergrond- en karakterskets.

Die een gebeure in haar lewe wat haar hele geskiedenis gestempel het, was die groot teleurstelling van die dood van haar man – sommer vroeg in hul getroude lewe.

By Anna was die trauma waarskynlik lank voor die dertigs, want mense het al lank voor twintig getrou.

Hierdie trauma het haar egter nie verbitterd gelaat nie.

Ons het seker elkeen die droom van die lewensmaat saam met wie ons gelukkig en geborge gaan oud word. En van wie die een verkieslik nie voor die ander gaan sterf nie.

 

So is hier vandag baie mense wat weduwee of wewenaar agtergebly het.

Mense wat vertel van hoe eensaam dit saans in die huis raak.

Hier is ander mense met ander teleurstellings, mense wat kinders verloor het –

en ons ander mag nie eers probeer om saam te praat nie.

Hier is ook verdere teleurstellings: verhoudinge, beroepsideale wat nie kon realiseer nie, finansiële teleurstellings…

 

Anna… sy het nie oor haar trauma verbitterd geraak nie.

Dit gebeur so maklik dat mense ‘n sondebok soek vir hul teleurstellings en dan is God dikwels die naaste Een vir wie hulle kan kwaad raak.

Rebelsheid en verbittering is die boeties van ongeloof.

By Anna kry ons die teenoorgestelde.

Anna het hoopvol bly leef.

Trouens dit lyk asof sy deur die traumas eerder geestelik gegroei en sterker geword het.

Hier leer ons ook ‘n ander ding: Anna het nie haar hoop op uiterlike dinge gebou nie.

Sy het haar hoop gesoek in God se belofte van die Messias.

Sy het haar hoop gevind in die belofte van die Messias.

 

Ek kan so oneindig moedeloos raak met die Suid-Afrikaanse konteks van politiek en gebrek aan dienslewering.

En in hierdie gedeelte leer ek toe dat my hoop nie gebou kan word op mense en politiek nie.

Ook nie my vermoëns of my pensioen mag die bron van my hoop word nie.

My hoop moet sy wortels anker in God en Sy betroubaarheid.

Dit is die hoop waarna Anna uitgesien het en toe uiteindelik met haar eie oë kon sien.

 

Wat leer ons? Moet nooit hoop verwag buite die Messias om nie.

Maar dit is natuurlik ook nie iets wat ons maklik self sal regkry – as die Heilige Gees nie vir ons die hoop kom gee nie.

Lukas-evangelie maak baie van die rol van die Heilige Gees.

Ons hoor ook hoe dit in Simeon, die mede-getuie, se lewe ‘n rol gespeel het:

“Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe.” (:27)

Ook hier kon dit net die Heilige Gees wees wat Anna se voete tempel toe laat loop.

Trouens, die pad tempel toe was nie vir haar voete ‘n vreemde pad nie.

“Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid.” (:37)

Haar hoop het haar gebind aan medegelowiges en aan die aanbidding van die Here.

So is die saam-aanbid van ons hier in ‘n erediens ook nie onbelangrik nie.

Waarvoor het Anna so volhardend bly bid?

Uit haar dankgebed is dit duidelik:

Sy het gebid vir twee sake:

Is dit nie ook maar wat ons Kersgebed vir vanjaar moet wees nie?

Terug na die teks:

Wat  gebeur as jy die Messias sien?

Dan begin jy daaroor te praat. Dit is wat Anna doen.

Oral waar sy mense raakloop wat moedeloos geraak het, wat “uitgesien het” na die verlossing, praat sy met hulle.

 

Wat gebeur egter in ons konteks?

Ons praat ook met “moedeloos mense” en ons kla saam en braak gal en haal die koerantopskrifte aan.

Miskien moet ons juis oor hoop begin praat.

En ek kry dit ook nie lekker reg nie, want die konteks is blykbaar vir my groter as die Hoop wat gekom het.

 

Ek sluit af.

Anna word deur die evangelis ‘n “profetes” genoem.

Die kanse dat sy hierdie titel gedra het voor Jesus se geboorte is maar baie klein.

Sy was ‘n gewone toegewyde vrou wat met geloof en hoop bly leef het. En soms ook maar aan haarself getwyfel het.

Eers as Lukas hierdie verhaal baie jare later skryf, dan noem hy haar ‘n profetes.

Na die kyk in die oë van die Messias en die oorborrel van haar getuienis, word sy n profetes genoem.

 

Ek en jy twyfel ook maar aan onsself.

Ons twyfel selfs soms daaraan of ons glo.

Ons twyfel daaraan of ons regtig ook draers van hoop kan word.

Anna se verhaal gee vir ons hoop oor onsself.

Met die adventskyk in die oë van die Messias en met God se genade word ons verander.

Jy word die Messias se “profeet” en “profetes”.

Miskien, êrens in die toekoms gaan mense na jou terugverwys en sê:

“Hy was ‘n profeet”.

“Sy was ‘n profetes.”

“Dit was iemand wat self in die yswater van die Noord-Atlantiese Oseaan aan die verkluim was, maar wat vir ander op die wrakstukke gesê het:

“Die Messias is hier!

Daarom: “Never, let go! Never let go!”

Amen

Speel Taize se Nunc Demittis (snit 23): Let your servant now go in peace. (nav Simeon se versoek tot “demissie”.

         Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.