Preek:  Kol 1: 15-23
Tema: Om die kerk, die wêreld en … dansjejouself te verras!

Ons hou almal van verrassings.
’n Verrassing is per definisie seker iets wat jy nie verwag het nie.
• Dit is daardie geskenkie in jou posbus of op jou kopkussing.
• Dit is daardie voordeurklokkie en ’n gesig wat jy lanklaas gesien het.
• Dit is daardie aalwyn in die tuin wat die eerste keer blom.
• Dit is die persoon wat drafstap om die deur vir jou oop te maak.

Maar ’n verrassing kan ook iets meer negatief wees.
• As jy nie verwag het die verkeerskonstabel staan agter die bos nie.
• As die ou van agter by die robot teen jou vas ry.
• As jy kritiek kry vanuit ’n oord dat jy dit nie verwag het nie. Die kritikus was dan altyd so ondersteunend.

Eers ’n stukkie agtergrond:

Op die kaart sou ons die stad Kolosse op die (huidige) Turkse vasteland kry.
En toe ontstaan daar ’n kerk in die eerste eeu.
Dit gebeur omdat Paulus die Evangelie in Klein-Asië kom verkondig.
Hy bring die Evangelie oa in Efese, die buurdorp, maar dit is Epafras wat die Evangelie na Kolosse neem. En (jou werklik!) daar skiet die kerk ook wortel in Kolosse!
Maar die kerkie het nie sterk leiding nie en die teologie is maar vlak en nie lank nie of daar is baie verwarring.

Dit is dan dat Epafras in desperaatheid en uit liefde vir die gemeentetjie afsit na Paulus.
Hy het gehoor Paulus is in die tronk, waarskynlik in Rome, maar hy is net in huisarres, en daarom kan hy gaste ontvang.

Let op al Epafras se opofferings: Minstens twee bootreise ver en minstens drie reise oor land – om by Paulus uit te kom in die wêreldhoofstad!
Dit is hoe belangrik die gemeente in Kolosse vir hom was.

Ons gaan netnou terugkom na die verrassende in die Skrifteks.

Maar eers wil ek jou op reis neem na ’n skildery van Marius van Dokkum, ’n Nederlandse skilder.
Hy skilder met so ’n stukkie onnutsige humor.

Die een kunswerk wat vir hom na aan die hart lê is die skildery genaamd “dansje in de kerk”. (Google die oorspronklike weergawe.)

Kyk bietjie mooi daarna:
• Wat is aan die gebeur?
• Wat is opvallend van die meubelment?
• Wat is die reaksie van die mense?
• Wat val op van die beligting?

• En wat wil die skilder hiermee sê?
Dit is natuurlik ook ons as kykers se volste reg om die kunswerk self te interpreteer.

Van Dokkum sê in ’n onderhoud dat dit wel bedoel is as kritiek op die kerk, maar meer vanuit solidêre kritiek.
Omdat hy met speelsheid en humor skilder beleef hy dit dat daar vanuit kerklike kant nie altyd waardering en begrip vir sy werk is nie.

Ek dink ons kry hier ’n verrassende liturgiese gebeure as metafoor.
Die spontane dans van die ou dogtertjie voor in die kerk vang al die teenwoordiges half onkant. Die vrolike rooi hempie mag wys na die inspirerende, en verrassende!, werk van die Heilige Gees. Of die bloed van Jesus Christus.
Daar is oorgawe, beweging, kreatiwiteit.
Sy sweef letterlik in die lug.
Die skapie op die hempie mag heenwys na haar identiteit as inherent deel van die kudde te wees.
Sy dans in ’n ligkring – wat van waar af skyn?

Die dominee kyk nuuskierig vanuit sy verhewe preekstoel. Sy baie woorde is skielik op.

Al die kerkgangers is saamgehok in ’n ewe hoë kerkbank. Hulle is letterlik “binne die box”!
Die kerkbanke het trappies waarheen jy oënskynlik moet opklim.
En daar is selfs grendels aan die banke se deurtjies wat waarskynlik sal inhok en nie innooi nie.
Die reaksie van die kerkgangers wissel van nuuskierigheid na geskoktheid.
Van vraende ontsteltenis na ongeërgdheid (van die jongman daar agter). Die orrelis loer onthuts oor die steurnis uit van agter sy orrel-domein.

As jy fyn oplet sal jy sien dat die kandelaar se kerse naaste aan die preekstoel uitgedoof is!

Maar uiteindelik nooi die hierdie skildery (minstens vir my!) in daartoe om die kerk te verras met ’n spontane en vreugdevolle dans van oorgawe.

As jy ’n rooi hempie het, en as jy ’n skapie as identiteit op jou hempie het, dan het jy ’n geloofsdans in jou tone.

En dan skuld jy hierdie dans aan die kerk.
En jy doen dit met oorgawe. Geïnspireer deur die Gees in jou.
Al steur jy ander in hul verhewe kerkbanke.
Jy kan dit maar buite die boks doen.

En jy skuld hierdie dans aan die wêreld.
Miskien ontvang die wêreld die oorgawe van die dans meer positief as die kerk.
Miskien het jy binne oomblikke ‘n “flash mob” wat saam dans – IN die kerk!

Ek dink ons word ingenooi om ligvoets, maar ook met oorgawe ons geloof uit te dans.
Tot ons bokstertjies wulps fladder en ons hande seënend rondomtalie.

Nou sou jy vra: En wat is die verband tussen die “klein dansie” en Kol 1?

Die boek van Kolossense sê vir ons dat Christene daar is omdat Christus daar is.
Christus Jesus maak die verskil.
Toe Hy gekom het, het ’n nuwe lig geval op alles wat tot daardie stadium as godsdiens geken is.
Jesus het die aanbidding van God tot ’n nuwe ervaring kom maak.

En dit staan teenoor al die verwarring wat daar in die gemeente was.
Die kerk, sonder goeie geestelike leiding, het gedink dat Jesus maar net nog een van die toegangsroetes tot God was.
En naas Jesus was daar die Joodse wetsonderhouding en die wysheid van die Sofiste en die Panteon van die Grieke vir wie jy net genoeg offers moes bring.

Paulus skryf vir die gemeente en sê: daar het iets baie groters by julle gebeur!
Julle het nie net nog ’n leer gekry om na God te probeer opklim nie!

Nee! Julle het Jesus leer ken.
En wat het Jesus kom doen?
Hy het julle deel gemaak van sy kerk, die “heiliges”.
Hy het julle uit die donkerte uitgeruk.
Hy het julle in die ligkring van Jesus se verlosssing geplaas.
Dit is waar julle julle verlossingsdans kan dans soos die dogtertjie in die kerk.

Maar wanneer dit in Paulus se brief kom by hierdie belangrike teologiese moment, dan doen hy iets verrassend:
Hy sing skielik ’n lied.
Hy skryf ’n lied.
Ek twyfel of die afgesonderde kerkie in Kolosse die lied geken het.
Daarom sou Paulus die lied vir Epafras in Rome geleer het.
En Epafras het al die pad huistoe hierdie lied gesing. Oor en oor!
En toe hy by die gemeente terugkom en hy lees die brief, toe verras hy hulle deur die voorlesing te onderbreek en skielik die lied te sing.
En daarna sou hy die voorsanger wees wat vir hulle hierdie lied sou leer.
En hulle sou dit sing. Oor en oor.
En deur al die eeue sing die kerk hierdie lied.

En waaroor gaan die lied?
Dit handel oor Jesus!
En as ons alles wat hier gesing word in twee gedagtes sou saamvat, dan gaan dit oor
• Jesus as Middelaar van die skepping.
• Jesus as Middelaar van die herskepping.

Ja, Jesus, was die Kontrakteur/Middelaar wat die skeppingsplan van die Groot Argitek in werking gestel het.

En Jesus het, toe alles skeef geloop het, as Middelaar aan die kruis gaan hang om so vir Hom ’n verloste kerk te red.

Hy is Skeppingsmiddelaar en Herskeppingsmiddelaar.

En dit is Hy wat in die ligkring van ons as Sy kerk vereer moet word.
Net Hy!

Dit is van Hom alleen wat ons moet sing!
Dit is vir Hom alleen dat ons moet dans!

En miskien is dit baie beter om te sing as om te preek.
En miskien is dit beter om te sing as om gestelike briewe te skryf!

Ek sluit af:
In Kol 3:16 (bietjie later in die brief) kry ons nou ’n opdrag:

“Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.”

In Kol 1 was dit verrassend deel van Paulus se kreatiewe bediening.

Marius van Dokkum en die Heilige Gees stuur ons vanaand uit om die kerk, maar ook die wêreld, te gaan verras! – met ’n “dansie in die kerk…”
– Of deur iets anders moois te gaan doen….?

Kan ek jou uitdaag om vanaand/môre by een van jou bure wat jy swakker ken te gaan inloer en gaan stel sommer net belang – met Jesus se liefde.
Miskien skok dit hulle.
Of miskien verras dit hulle!

Miskien verras jy jouself ook in die proses.
Miskien word jy meer verras as jou bure!

Haal uit en dans vreugdevol!
Want Jesus verdien hierdie voorrang!

Amen