Niemand van ons hou van skynheilige mense nie.  Dit is nou die mense wat voorgee om iets te wees wat hulle eintlik nie is nie.  En tog ken ons almal sulke mense.  Want op ’n vreemde manier kom jy altyd agter wanneer iemand nie altyd 100% eerlik met hom/haarself is nie. 

Ek het dit al baie ervaar en jy sal nie glo waar nie, op die gholfbaan.  Voor jy afslaan vloek en skel die ou soos ’n matroos, vertel vir jou grappe waaroor jy skaam raak en hier na die 3de putjie, as die spanning bietjie verlig is, begin die ouens mos uitvind wie doen wat.  En dan begin die sports, veral as hulle die dominee woord hoor.  Dit is gewoonlik waar ek die meeste en vinnigste bekerings in my lewe sien.  Op die derde putjie! 

Want dan verander die manne radikaal, onmiddellik, handkomkeer.  So asof die Here Jesus hulle self uit die hemel met ’n transformerende weerligstraal bykom.  En dan moet ek gewoonlik, agv hulle skuldgevoel, vir die hele 18 putjies op my afdag oor die kerk praat en huisbesoek doen.  Iewers sit daar in die mens hierdie euwel om iets voor te gee wat of wie jy nie werklik is nie. 

Dit was iets wat Jesus eindeloos gegrief het.  Trouens, in die voorafgaande gedeeltes is Jesus besig om die fariseërs uitmekaar uit te trek.  En die rede daarvoor is eenvoudig hulle skynheiligheid.  Hulle gee voor om iets of iemand te wees wat hulle nie is!  Hulle loop met mooi deftige klere rond, staan op die hoeke en bid sodat almal hulle kan hoor, is die Godsmanne van die samelewing, maar agter die deur steel hulle die goed van armes en vat hulle die huisies van die weduwees.  Eintlik was godsdiens vir hulle ’n bysaak.  Dit was net ’n middel tot ’n groter doel en die doel was hulle eie selfverheerliking en  hul eie voordeel. 

So, net nadat Jesus met hulle gepraat het oor hierdie skyngodsdiens gaan sit Hy, soos Markus vertel, regoor die offergawekis om te kyk hoe die mense geld daar ingooi.  Nou dit klink vir ons na ’n snaakse ding om te doen, maar in daardie tyd was dit nie so vreemd nie. 

U sien, in die voorhof van die tempel, voor jy ingaan, het daar verskillende offergawekiste gestaan.  Tot soveel as 13 verskillendes!  Elkeen van hierdie offergawekiste het ’n projek of ‘n bediening verteenwoordig.  Jy het dan die keuse gehad in watter offergawekis jy jou dankoffer wil ingooi.  Nou die interessante is dat daar by elkeen van die offergawekiste ’n priester gestaan het.  Jy het dan die kerk ingekom, by die voorportaal jou offer vir die priester gegee en dan het die priester hardop die bedrag uitgespreek voor hy dit self in die offergawekis gegooi het.  Met ander woorde, hulle dankoffers is een een bekendgemaak.  Dit het dan gebeur dat daar mense bly staan het in die voorportaal om uit nuuskierigheid te luister na wat elkeen ingooi.  Dit is waar Jesus sit soos wat ons gelees het, regoor die plek waar die mense hulle dankoffers ingooi.    

So daar was nie sakkies soos ons vandag het wat lekker gerieflik is om net jou hand stilletjies in te steek en te maak of jy iets ingooi of ’n knoop of ’n ding ingooi nie.  Jou dankoffer is gevat en hardop uitgeroep!  Daar was nie hierdie sensitiwiteit oor dankoffers wat ons vandag het dat niemand mag weet wie en hoeveel ons gee nie!  Nee, in teenstelling met ons vandag was hulle dankoffer ’n baie belangrike deel van hulle openbare getuienis.  Die geld wat hulle gegee het was deel van die belydenis van hulle geloof in die Here wat die wêreld moes hoor. 

Ek dink baie van daardie mense het met trots en dankbaarheid hulle offers na die priesters toe gebring.  En jy kan seker net trots wees op jou offer as dit jou beste offer is.  Maar dit het natuurlik die deur vir skynheiligheid oopgemaak!  Want hoe lekker shine kan jy nou nie vang sommer daar in die voorportaal van die kerk waar almal verbyloop en almal kan hoor nie!  En so kom die rykes en gee met groot bravade hulle offers vir die priesters met die bybedoeling dat hulle die lof daarvoor kon ontvang.  Kyk hoe groot is Petrus se offer!  Hy is darem ’n gehoorsame man!  Om te gee met ’n bybedoeling, lyk my, is deel van die skynheiligheid!

Die ander kant van die munt was die vernedering wat dikwels met die offers saamgegegaan het.  ’n Vroutjie, ’n weduwee, miskien een van daardies wat deur die fariseërs uitgebuit is, sy kom met 2 muntstukkies.  In daardie tyd die kleinste van al die geld.  In ons tyd, 2 vyfsente.  Dink net hoe het sy rondgekrap in haar huis daardie môre opsoek na iets om in te gooi.  Dit was al wat sy in haar beursie gehad het, trouens, dit was al wat sy gehad het.  Sy sit dit in die priester se hand, hy kyk daarna en roep dit hardop uit, seker tot hierdie arme vroutjie se vernedering en tot reaksie van ’n klomp nuuskierige mense daar rondom die offergawekiste.  En Jesus reageer op haar offer.  Ek dink soos God in elk geval elke keer reageer op ons offers. 

En Jesus leer vir sy dissipels ’n waardevolle les uit die klein gawe van die arm weduwee.  Sy het alles ingegooi wat sy gehad het, sy het alles gegee waarvan sy moes lewe, sê Jesus.  Merkwaardig dat sy net 2 muntstukkies gehad het en altwee ingegooi het!  Sy het nie een terug gehou nie, sy het altwee ingegooi!  Alles wat sy gehad het, het sy gegee.  Dit was haar beste!  Die beste uit haar oes!  Sy het die Here vertrou met alles en die leë kanne uitgepak vir Hom om haar te versorg nadat sy alles vir Hom gegee het.  En anders as die fariseërs en die ryk jongman was haar toewyding aan God opreg.  Sy het haarself eintlik tekort gedoen om die Here te eer.  Sy het haar eie eer opgeoffer twv die eer van God.  En haar offer was ’n getuienis van haar Godsvertroue.  En wonderlik vir my in hierdie gedeelte, Jesus het dit raakgesien.  En opmerklik, Hy het haar daar, voor almal, openlik oor haar offer geprys.   

Dit is hoekom Jesus ’n rukkie gelede in die evangelie gewaarsku het teen mammon toe Hy gesê het: julle kan God en mammon dien nie.  Jy moet op of die een of die ander vertrou.  Jy moet of altwee muntstukkies gee, jou beste of die halfhartige skynoffer eerder vir jouself hou. 

In die kerk van die Here Jesus staan die offergawekiste uitgepak.  Nie net 13 nie, maar net in ons gemeente seker 30 of 40 bedieninge, plekke waar ons werk, plekke waar ons ’n verskil wil maak, waar ons wil help sodat God se koninkryk sal kom.  Dis nie die NG en gee en gee kerk nie.  Dis die Here se kerk.  Die offergawekiste het en sal altyd in die voorportaal staan solank as wat die Here sy kerk in hierdie wêreld wil gebruik.  Offers is nie die belangrikste deel van die godsdiens wat ons beoefen nie, maar die offers wat ons gee is tog ook die getuienis van ons vertroue en verbintenis aan God.  Vriende, dit wat ons gee sê iets van ons verhouding met die Here!  Dit wat ons gee sê iets van wie ons baas werklik is.  Gelukkig hoef hierdie dominee nie in die portaal vanmôre te gaan sit en offers uitroep nie.  Want dit is ’n stukkie dissipelskap wat gestroop is van skynheiligheid omdat net die Here daarvan weet. 

Baie bring uit liefde en dankbaarheid hul beste offer soos hierdie arm weduwee.  Ander kry alles, het deftige klere, staan bekend as kerkmense, sit selfs die banke vol, maar bring offers wat getuig van ’n ander baas en here.  Eintlik vriende, niks anders as skynheilig nie – dit is wat Jesus daar by die offergawekiste opmerk. 

Slot

Mag ons opreg wees in alles wat ons doen en sê as kinders van die Here.  Mag dit wat ons bely ooreenstem met dit wat ons doen.  Mag dit wat ons doen en dit wat ons gee getuig van die een Here wat ons dien.  Mag ons ons beste gee en ons beste ingooi in diens van die Koning – ons beste nie om ons eie eer nie, maar om God daardeur te verheerlik.  Amen