google7“Kan ek jou superman, batman, spiderman, ironman wees, ek sal jou oppas in die donker, vir jou hero wees.  Ek sal die wêreld vir jou aanvat, vir jou ’n hero wees.”  So soek ons almal na iemand wat ons kan oppas, wat ons kan vashou en beskerm, wat die wêreld vir ons kan aanvat, wat ons kan ondersteun en raad gee.

Die grootste superman vandag dink ek, is nie Batman of Spiderman nie, sy naam is GOOGLE.  Hy is die hero wat ons enige tyd enige iets kan vra.  Interessant in 2013 het Google alle rekords oortref met ’n astronomiese 100 Biljoen hits per maand!  Ek weet nie eers hoe lyk ’n biljoen nie, maar dit klink baie.

Nou het ek gewonder, hoeveel hits kry die Here per maand?  Is dit meer of minder as die 100 biljoen?  Wel, ek wil dink dit is heelwat minder, want jy sien, op ’n manier sê hierdie advertensiebord baie van die tyd waarin ons leef.  SKYFIE  (GOOGLE IS GOD) Dit is mense se nuwe kerk vandag.  SKYFIE (REFORMED CHURCH OF GOOGLE)

Efesiërs 6 begin met die woorde in vers 10: “soek julle krag in die Here en in sy groot mag!”  Soek die Here en sy groot krag!  Soek by die grootste, enigste, beste, soekenjin in die hele hele wêreld!  Soek by die  Een met die antwoord, by die Een met die raad, met die leiding, met die kennis, met die mag, met die krag!  SKYFIE – (There are some questions Google can’t answer. ) En hoe ironies, hoe tragies dat die Here tweede viool speel in mense se lewens omdat hulle eenvoudig nie die Here vra of soek of dalk vertrou nie.

En julle sien, hierdie soektog by die regte Soekenjin is vir kinders van die Here vandag, meer as ooit, krities belangrik!  Want die aanslae van die duiwel is besig om astronomiese afmetings aan te neem!  Jy moet net jou oë oopmaak om die oorlog rondom jou te sien.  En dit is nie ’n oorlog waar bomme geplant word en torings inmekaar geskiet word nie, die grootste oorlog is die oorlog soos Paulus sê in vers 12: “teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”

Dit is ’n oorlog teen God en ’n oorlog teen wat reg is!  En hierdie oorlog is nie net teen die kerk en teen godsdienstige instellings en morele verval en satanisme en kerkloosheid nie, die geveg is baie persoonlik.  Die geveg is teen jou!  Die geweerlope is op jou gerig!  Daar is ’n prys op jou kop gesit!  Die geveg is teen jou liefde vir die Here, teen jou toewyding aan Hom, teen jou vertroue op Hom.  En die strategie van die vyand is eenvoudig.  Kry hulle om by die verkeerde plek krag te soek!  Want as die duiwel dit in hierdie oorlog kan regkry om ons van God te verwyder of te vervreem, dan staan hy ’n kans om ons te wond!  Maar saam met God is hy oorwin!!

En al hoe ons as Christene staande sal bly in ’n tyd van oorlog teen God, sy kinders, teen Christelike waardes en norme is eenvoudig om die wapenrusting aan te trek soos Paulus hier sê.  En die wonderlike is dat die Heilige Gees die wapenrusting, die toerusting verskaf om in hierdie oorlog te oorwin.  Gratis en verniet!  Maar dan moet jy dit aantrek!

En dan gebruik Paulus verskillende dele van die wapenrusting as beeld om te wys watter toerusting God ons gee om in ons geveg staande te bly, op ons pos, soos daar in vers 10 en 13 se einde staan.

Wat alles bymekaar hou is die gordel, jou belt hou alles vas.  God rus jou toe met die waarheid.  Die waarheid dat Hy die Here is!  Die waarheid dat Hy die Enigste is!

Die borsharnas beskerm jou hart sodat jy nie begin twyfel of God jou regtig lief het nie.  Die borsharnas is die wete dat jy vrygespreek is.  Want jy sien, jou hart is ‘n sagte teiken waar die vyand gereeld wil aanval deur vir jou te sê: jy is nie regtig vergewe nie, of die Here sal jou nie vergewe vir dit wat jy gedoen het nie.  Hy peper jou met pyle van skuldgevoel en daarom trek die Heilige Gees vir jou ’n borsharnas aan om jou van sulke aanvalle te beskerm.

Jy moet bereid wees om met jou wapenrusting die pad te vat.  Om jou skoene aan te trek en gewillig met hierdie evangelie op reis te gaan deur die wêreld.

En as jy reis moet jy weet, die pyle gaan afgevuur word.  Jy loop die oorlogsveld binne, maar daarom kom sit die Gees ’n skild in jou hand om die pyle van die bose af te weer en dit is jou geloof.  Jy doen dit, omdat jy in God glo.  Jy doen dit omdat jy glo God is by jou , omdat jy vertrou op God en weet dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir jou.

Op jou kop sit die Here ’n helm van verlossing.  As jy eers begin twyfel en wonder of die Here jou verlos het, twyfel en wonder of die Here kan help, kan red, is jy gewond.  Daarom sit Hy ’n helm op om jou verstand te beskerm teen sulke gedagtes.

In jou hand kom die swaard van die Woord.   Dit is die enigste wapen waarmee jy veg.  Daarom moet jy jou oefen om hierdie wapen te gebruik.  As jou wapen stof vergader langs jou bed, gaan jy onmoontlik dit goed kan gebruik in hierdie oorlog!  Hoe hartseer dat gelowiges al hoe meer ontwapen word!  Hoe hartseer dat gelowiges eenvoudig nie meer vandag glo dat hierdie wapen die beste stukkie toerusting in ons hand is nie!

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee (v13)!  Hoe trek jy dit aan?   En ‘n 2de vraag: as jy dit aangetrek het, waar lê die sukses dan?  In ons oorlogsvermoë, in ons taktiek, in ons beplanning.  Nee, jy trek dit aan in gebed en jy veg in gebed!  Jy trek dit elke dag aan deur jou gebed.  Jou gebed is die voorbereiding elke dag vir die oorlog!

Die gedeelte begin in vers 10 met: “soek julle krag by Hom” en sluit af in vers 18 met: “doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.”

Geen kind van die Here kan sonder gebed bestaan, veg of oorleef nie!  Daarom gee die Gees in jou oorlog vir jou hierdie kragtige gebedswapen saam met die Woord.  En ek is seker jy sal kan getuig hoe die Here oorwinnings behaal het deur gebede in jou lewe.  Maar julle, gebed kan selfsugtig raak.  Ons kan so bid net vir onsself en vir ons eie oorlog dat ons vergeet van dié wat rondom ons daagliks aangeval word en hulle wat daagliks rondom ons sneuwel.  Daarom het ons ook die gebedsverantwoordelikheid om vir mekaar in te tree omdat ons mos saam met mekaar veg.

Dit is wat ons vanaand gaan doen as deel van die Global Day of Prayer.  Saam met duisende gelowiges gaan ons die wapenrusting aantrek en in gebed veg.  Ek nooi jou na die oorlogsveld as ons saam gaan bid, nou, maar ook wanneer ons hier uitstap, gewapen, toegerus met die Gees en met die Woord.

 

Prediker: André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za