Pray for SA

Prediker: André Oosthuizen (andrej@webafrica.org.za)

Om vir die toekoms te beplan is ’n baie belangrike deel van mense se lewe.  Van vroeg af word kinders geleer om te beplan, want so sê Dowwe Dolla, beplanning verlig spanning!  En elke lewensfase het mos sy eie stukkie beplanning om te doen.  Wat gaan jy swot, waar gaan jy werk, hoe gaan jy jou kinders groot kry, waar gaan jy aftree, waarmee gaan jy aftree?  Beplanning gee darem vir ’n mens so ’n idee wat om te verwag en die geleentheid om planne te maak of voor te berei vir die onbekende.

In Numeri 13 doen Moses so ’n bietjie toekomsbeplanning.  Hy wil darem net seker maak dat hulle in die regte rigting trek en of die eindbestemming, Kanaan, lyk soos hulle hoop dit lyk.  Daarom stuur hy verspieders vooruit om die land te gaan verken.  Dit is ’n baie belangrike les om raak te sien in Moses se storie.  Jy sien, selfs al is die Here by jou en lei die Here sy kinders, het ons steeds die verantwoordelikheid om vir die toekoms te beplan.  Natuurlik is die Here deel van hierdie beplanning.  Maar die feit dat die Here by ons is, beteken nie dat ons net handjies gevou agteroor kan sit nie.

So word 12 leiers gekies om die land te gaan verken.  Een uit elke stam.  En hulle lê die ongeveer 480 kilometer af in 40 dae voor hulle weer terug is by Moses en die volk. Hulle sien ’n land wat oorloop van melk en heuning, met vrugte en druiwe so groot dat 2 mans aan ’n tros moet dra.  En eintlik moet hulle bemoedig wees deur dit wat hulle gesien het, want wat die Here belowe het, is toe weereens waar!  Hy gesê Hy sal hulle lei tot in die land wat oorloop van melk en heuning.  En hierdie land het hulle nou met hulle eie oë gesien!  Deur al die beproewing, en die swaarkry kon hulle die toekoms sien, die beloofde land waarheen die Here met hulle oppad is!

So moet die 12 manne amptelik verslag lewer van wat hulle gesien het.  En hier begin die storie interessant raak.  Want twee groepe mense kyk na dieselfde situasie op twee heeltemal verskillende maniere.  En in die hele hoofstuk lees en ervaar ons die spanning tussen hierdie twee groepe se twee uiteenlopende perspektiewe.  Aan die een kant Kaleb en Josua, aan die ander kant die 10 ander leiers.  En ek wil ’n stukkie van die dinamiek tussen die twee groepe vanmôre uitlig.

In vers 26 praat die ander leiers eerste: “Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het.  Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.  Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot.  Ons het ook die nasate van Enak daar gesien.” (Dit is nou die reuse of die Enakiete).  Onmiddellik in vers 30 stel Kaleb die ander kant toe hy hulle stilmaak.  “Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan dit doen.”  Dit is die ander kant, ons kan!  Vers 31: “Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.” Jy sien, dit is twee perspektiewe op dieselfde saak.  Die een groep is negatief en pessimisties, die ander hoopvol en positief.

En hierdie twee kante of perspektiewe skep toe soveel spanning in die kamp van die Israeliete dat dit ’n opstand tot gevolg het.

Die manne wat nie kans sien om verder te trek nie en eerder wil terug draai Egipte toe, maak toe almal om hulle ook negatief!  Dis net soos vandag!  Een of twee negatiewe mense kan ’n hele groep negatief maak en in pessimisme dompel, want mense kan mekaar baie vinnig beïnvloed en bang praat!  Ons lees in 14:1 “Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla.  Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aaron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!  Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring?  Net om doodgemaak te word?” Vers 4: “Kom ons kies ’n leier en gaan terug Egipte toe!”

Totaal en al negatief!  Totaal en al pessimisties! Hulle het vir jare gesien hoe die Here hulle bewaar en versorg.  Hulle het vir jare die beloftes van die Here gehoor dat Hy hulle sal beskerm en hulle die land sal inlei, maar nou kies hulle om die slegte te sien en moedeloos en pessimisties te wees.  Soveel so dat hulle eerder sonder die Here sal omdraai as om saam met Hom verder te trek!

Sekerlik met die hoop dat die volk se perspektief sal verander, stel Kaleb en Josua vir oulaas weer die ander kant.  14:7: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n buitengewoon goeie land.  As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning.  Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie.  Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan.  Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie.  Die Here is by ons.  Moenie vir hulle bang wees nie!”  Ons kan dit doen, want die Here is by ons!

Dit het ook absoluut niks gehelp nie, want kort daarna wou die hele volk hulle met klippe doodgooi.  En vriende, die uiteinde hiervan was dat ‘n 40 dae trek na die beloofde land, toe ‘n 40 jaar trek geword het!  In vers 23 sê die Here: “Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie.” Vers 33: “…julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek.  Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê.”

Hoe vreemd dat mense na dieselfde situasies of omstandighede kan kyk en uiteenlopende reaksies kan hê!  Een sien nag en donkerte, die ander hoop en lig!  En jy sien, ten diepste weerspieël hierdie twee perspektiewe van die volk ’n bepaalde verhouding met die Here.

Die meerderheid het vasgekyk teen die reuse, die probleme en gevare.  Soveel so dat hulle nooit die uiters vrugbare land wat so aanloklik was, ingeneem het nie.  Hierdie verkenners was so bang en is so oorweldig deur hulle eie vrese dat hulle skoon van God se beloftes van leiding en beskerming vergeet het!  En weet jy, hierdie vrees was ’n gebrek aan geloof!  Hulle het eenvoudig God nie geglo nie.  Hulle het nie geglo dat die Here by hulle is en sal wees nie!

Kaleb en Josua het anders gekyk en anders gedink, maar hulle was in die minderheid!  Hulle het God raakgesien.  Hulle sê dit ook in 14:9: die Here is by ons, moenie bang wees nie.  Lyk my dié wat God raaksien is in die minderheid!   Hulle oog was op God se krag en beloftes gerig.  Daarom kon hulle, in teenstelling met die meerderheid sê: Ons kan!  Ons Here is groter as ons uitdagings!  En selfs die groepsdruk van die meerderheid se negatiwiteit en ongeloof kon hulle nie van mening laat verander nie.  Hulle het God gesien en God vertrou!

En dan reageer die Here in vers 14: “… omdat my dienaar Kaleb ’n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.”  Die ander sal sterf in die woestyn, maar Josua en Kaleb sal die vrugte van hul vertroue pluk.  Omdat Kaleb ’n ander gesindheid gehad het!

Vriende, hierdie gesindheid is nie net ’n positiewe ingesteldheid teenoor die lewe nie.  Dit is nie net “positive thinking” soos ons vandag gereeld hoor nie.  Baie keer hoor jy mense sê, jy moet net vir jouself sê dit is nie so erg nie.  Of, nee man, ignoreer die negatiewe en fokus net op die positiewe.  Dit is nie wat hier gebeur het nie!  Josua en Kaleb het nie die negatiewe geïgnoreer nie.  Inteendeel, hulle het die werklikheid raakgesien!  Hulle sien die reuse, hulle erken die uitdagings en gevare MAAR, hulle sien God daarmee saam!  En dit is die verskil!

Ek wil dit noem, ’n geloofsgesindheid teenoor die lewe!  Jy kan die lewe bekyk met God, of sonder God!  Jy kan jou omstandighede bekyk met geloof of sonder geloof!  En die waarheid is dat jou geloofsgesinheid jou lewensreis gaan bepaal.  Dit gaan bepaal of jy hier vreugde en vrede en tevredenheid gaan vind, en of jy eerder lewenslank gaan bly murmureer en kla en terugwens na die goeie ou dae en dalk in jou eie woestyn sterf!  Dit gaan bepaal of jy met moed en hoop die toekoms instap, en of jy moedeloos of pessimisties gaan bly!  Vriende, jou geloofsgesindheid het ’n hengse invloed op jou lewe!  Nie net op jou geloofslewe nie, maar sommer ook op jou emosionele toestand en selfs jou fisiese gesondheid!

My liewe broer en suster, jy kan nie altyd jou omstandighede verander nie, maar jy kan jou ingesteldheid, jou uitkyk, jou geloofsgesindheid op die lewe verander!

Soos ons uit Numeri leer, kan jy kies om na die lewe te kyk met God of sonder God!  Dit is ’n geloofsgesindheid!  Dit is ’n ingesteldheid waarin jy doelbewus kies om die Here by jou te sien!  ’n Ingesteldheid waarin jy kies om God te vertrou, kies om op Hom staat te maak, kies om Hom raak te sien, kies om met moed op te staan en aan te gaan.  Kies om vir jouself te herinner dat niks of niemand groter is as jou God nie!

En natuurlik kan jy nie jou omstandighede ignoreer nie!  Jy kan nie jou siekte of jou probleme of jou hartseer of jou bekommernis ignoreer of weg wens nie!  God vra dit ook nie!  En natuurlik is daar in almal se lewens reuse.  Reuse wat dikwels groot en bedreigend en lewensgevaarlik lyk.  Reuse wat maak dat ons wil gaan lê of eerder omdraai.  Maar jy kan kies hoe jy daarna kyk!  Jy kan kyk en God sien, of jy kan kies om sonder God daarna te kyk.  Die een lei tot oorwinning, die ander verloor eenvoudig lewenslank!  Verloor moed, verloor hoop, verloor vreugde en op die ou einde verloor hulle selfs geloof.  Want as jy iets sonder die lig van God bekyk, sal dit altyd donker bly!

Slot

Hoe kyk jy na die lewe?  Hoe kyk jy na jou uitdagings, jou gesondheid, jou kinders, kleinkinders, jou werk, jou huwelik, die omstandighede in ons land?  Hoe kyk jy na die toekoms?  Kyk jy met ’n geloofsgesindheid waarin jy God sien, of is jy dalk vanmôre ook op ’n plek waar jy moet erken, Here, ek is soos die meerderheid.  Ek kla, ek moan, ek kies om negatief en pessimisties en moedeloos te wees omdat ek vergeet hoe U my al gelei het, vergeet om U te volg, vergeet om U raak te sien, vergeet om U te vertrou.

Liewe kind van die Here, die Here stuur jou terug om verder te gaan loop.  Hy wil hê dat jy met vreugde en vrede sal loop, maar miskien moet jy jou lewensreis anders gaan aanpak.  Miskien moet jy vanuit ’n ander hoek daarna kyk.  Mag die Heilige Gees ons oë oopmaak sodat ons God sal sien en met ’n geloofsgesindheid kan lewe.