tevredenheid-LRGHennie van Coller skryf in Maandag se Volksblad ‘n artikel oor geluk en gesondheid.  En dan haal hy ’n psigiater Dirk de Wachter aan wat sê: “Eise aan onsself en ander raak onrealisties.  Jy moet nie goed presteer nie, maar fantasties.  Geluk het ’n obsessie geword, sê hy.  Jy mag nie bloot net tevrede wees nie, maar dolgelukkig.”  Die artikel word afgesluit met die sinnetjie: “’n Klein bietjie meer ongelukkigheid is ons redding.”

 

Nou aanvanklik klink dit teenstrydig.  Hoe kan jy gelukkiger wees as jy ’n bietjie ongelukkiger word?  Maar hierin sit toe vir my ’n groot stuk waarheid opgesluit.  Niemand is vandag meer tevrede om net gelukkig te wees nie.  Of tevrede met dit wat jy nou het of waar jy nou is nie.  Dit kan nie net meer met jou goed gaan nie.  Dit moet met jou fantasties gaan!  Om ’n gewonde salaris te verdien is nie meer goed genoeg nie.  Jou kinders kan nie net op skool hulle huiswerk doen en sport geniet nie, nee hulle moet uitstekend wees en top presteerders in alles wat hulle aanpak.  Mense is eenvoudig vandag nie sommer net meer tevrede nie.

 

Jy sien, hierdie ontvredenheid word natuurlik in ons wakker gehou deur die advertensiewêreld.  ‘n Algemene bemarkingsbeginsel is dié van dissatisfaksie.  Met ander woorde, jy moet ontevrede gemaak word met dit wat jy het (al werk dit baie goed), sodat jy iets anders of iets beters of iets groters kan begeer.  Al ry jou motor baie lekker, daar is ’n vinniger of nuwer of luukser motor.  Of dit nou selfone of klere of meubels of yskaste of huise is, jy moet die hele tyd voel en weet, daar is iets anders of iets beters sodat jy ontevrede kan raak met wat jy het en iets anders begeer.  So eintlik hou ontvredenheid ’n groot deel van die ekonomie aan die gang!

 

Ek onthou as kind het daar van tyd tot tyd ’n tannie by ons huis aangekom met ’n stofsuier.  ’n Kirby stofsuier!  Dan het sy ons kinders gevra om ’n stukkie mat met ons eie stofsuiertjie te suig.  Ons het gesuig tot die riffels op die mat staan.  Dan het sy die Kirby ge-“start” en boeta dan suig die Kirby koppies stof uit die stukkie wat ons nou net gesuig het.  Maw ons stofuiertjie suig letterlik en figuurlik, ’n Kirby is beter en natuurlik duurder! My ma wou nog altyd ‘n Kirby gehad het.  Mense is voortdurend opsoek na meer en beter, soveel so dat ons glad nie meer tevrede kan wees met wat ons reeds het nie.

 

Paulus skryf aan die jong Timoteus oor tevredenheid in hoofstuk 6.  Jy sien, dit lyk vir my of daar ’n probleem of twee in die gemeenskap ontstaan het.  En die probleem was ontvredenheid.  Daar was verwarring onder mense.  Wie het nou genoeg, wie kan gelukkig wees, wie is die tevrede mense?  Mense se prioriteite het skeefgetrek geraak.  Hulle het godsdiens gebruik om ryk te word en daar was hierdie onversadigbare behoefte, of soos Paulus dit stel in vers 9, drang na meer.  Hulle is gedryf in die lewe deur die drang na beter en meer.  En die gevolg daarvan was dat hulle vasgeval het in hierdie bose kringloop waar die sinlose en skadelike begeertes hulle lewe oorgeneem het.

 

In vers 10 sê Paulus: “Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad.”  Jy sien geld het hulle baas geword.  Hierdie ding van meer en beter en grander het gemaak dat hulle van die geloof afgedwaal het.  Want as die Here nie meer die belangrikste in jou lewe is nie, as Hy nie jou grootste fokus en prioriteit is nie, maar jou eie begeertes en rykdom, dan is jy besig om van die geloof af te dwaal.  Dan is jy besig om stelselmatig van God af weg te dryf!  In vers 17 sê Paulus, hulle sit hulle hoop op die onsekerheid van rykdom en nie op God nie.  Maw, jou vreugde en jou tevredenheid berus op ’n lae petrolprys en ’n goeie rentekoers of ’n stewige bankbalans, maar nie op God wat vir jou sorg nie.

 

Paulus kom gee vir die jong Timoteus in hierdie laaste gedeelte van sy eerste brief ‘n lewensles oor tevredenheid.  En dit lyk vir my, vriende, in ons samelewing vandag, as jy waarlik gelukkig wil wees, sal ons die Christelike beginsel van ‘tevrede wees met wat jy het’, moet aanleer.  En ons sal dit moet leer, want dit is duidelik nie iets wat outomaties kom nie, omdat die meeste mense rondom ons vandag gedryf word deur die gees van ontevredenheid.

En Paulus wil Tomoteus tevredenheid aanleer.

 

  1. 1.      Heg waarde aan die regte goed (vers 6,7)

In die eerste plek moet ons waarde heg aan die regte goed.  Ek onthou die storietjie van ‘n klomp kwajongens wat by ‘n winkel ingebreek het, maar niks gesteel het nie.  Al wat hulle gedoen het was om al die pryse op die produkte om te ruil.  Hulle het lekker gelag toe die mense die volgende dag by die winkel kom en jasse koop vir 50c, silwer oorringe vir R5 en blikkieskos vir R300.  Weet jy, ek dink dit is presies wat in ons samelewing ook gebeur het.  Iemand het die pryse omgeruil!  Groot pryse word vandag op nietige goed geplak wat nie veel waarde het nie.

 

Vers 7: “Ons kom met niks in die wêreld en gaan met niks daar uit.”  My liewe vriende, dit wat van waarde is in hierdie lewe, dit waarop jy die grootste pryse moet plak, is dit wat jy saamneem die dag as jy jou kop neerlê!  Daarom het die Here Jesus self gesê: Maak eerder vir julle skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes dit nie kan verniel nie!  Met ander woorde: Word ryk in die geloof!  As jy ‘n goeie belegging wil maak, maak ‘n geloofsbelegging!  En weet jy, moenie net geloofsbeleggings maak in jou eie lewe nie, maar maak dit in die lewe van jou huweliksmaat en in die lewe van jou kinders en in die lewe van jou kleinkinders en in die lewe van die mense saam met wie jy werk.  Dit is die grootste enkele belegging wat jy kan maak.  En hoe hartseer dat ouers en huweliksmaats groot pryse plak op groot salarisse en baie tyd by die werk, en klein prysies op geloofsbeleggings in jou eie huis!  Of groot pryse op allerhande luukshede en klein prysies op die werk van die Here in en deur sy gemeente.

 

Ons is baie kere met alles in die lewe ontevrede behalwe met ons geestelike gesondheid en die geestelike beleggings wat ons maak.  Paulus sê in vers 18: “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam.  So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms sodat hulle die ware lewe sal verkry.”  Daar sit iets in van hande en harte wat dan nie net meer krampagtig vashou nie, maar wat oopgaan om te gee en te dien.

 

  1. 2.      Tevrede wanneer ek my seëninge tel (vers 8)

Die tweede beginsel vir tevrenheid vind ons in vers 8: “As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.”  Die Griekse woord wat hier vertaal is met klere is ‘skepasmat’.  Dit het ook somtyds die betekenis van onderdak.  Met ander woorde Paulus sê: as jy kos en klere en onderdak het, dit wat nodig is vir die onderhouding van lewe, moet jy tevrede wees.  Dit is duidelik vriende dat die Bybel vir ons wil leer: as jy kos en klere en onderdak het, het jy eintlik niks om oor te kla nie!  Want die Here sorg vir jou!  Jy kan kla en ontevrede wees wanneer jy honger gaan slaap, sonder klere en sonder ‘n dak oor jou kop.  En dan moet ons onsself vra: hoe ontevrede kan ons dan wees as ons motors en huise en werke en geleenthede het.  Hoe ontevtrede kan ons dan wees as ons dit meet aan die basiese Bybelse tevredenheid van kos, klere en onderdak?  En dit is wat Paulus ons wil leer.  Sê dankie vir wat jy het, want jy het vreeslik baie!  Wanneer jy jou seëninge een vir een tel sal jy tevredenheid vind.  Jou gesondheid, jou huis, jou werk, jou kos, jou klere, jou man, jou vrou, jou kinders, jou familie, jou kerk.

 

Slot:

Vers 6: “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het…” Ou vertaling:  “Maar die Godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.”  Die engelse vertaling sê: “Yet true godliness with contentment is itself great wealth.”  Wat is die grootste rykdom wat jy hier op aarde kan hê?  Godsaligheid en vergenoegdheid.

 

Godsaligheid beteken dat ek en jy vanmôre kan en moet raaksien dat die Here die duurste prys op my en op jou lewe geplak het.  Godsaligheid is die herinnering vanmôre wat in hierdie tekens lê.  Die godsaligheid wat vir jou en my bewerk is deur die kruis en die bloed van Jesus.  Wat vir ons ’n nuwe verstaan kom gee het van die hier en die nou en die hierna.  Vergenoegdheid kom wanneer ons van hierdie tafel af opstaan en ons seëninge begin tel.

Mag hierdie feesmaal ons met dankbaarheid vul tot ’n lewe van vreugde en tevredenheid.  Amen