Three-Chairs-760x507André Oosthuizen   andrej@webafrica.org.za

Braaivleis-stories is so deel van ons kultuur dat jy amper nie jouself ’n lewe daarsonder kan indink nie.  Maar het jy al gedink watter stories die Israeliete kon vertel as hulle in die aande in die woestyn om ‘n braaivleisvuurtjie gesit het!  Stories oor hoe die see oopgegaan het, stories oor water wat uit ’n klip loop, stories oor vleis wat uit die hemel reën, stories oor Jerigo se mure wat omgeval het.  En as jy mooi daaroor dink, was dit dié stories wat hulle geloof lewend gehou het!  Dit was die stories wat gemaak het dat hulle môre weer kon opstaan en aangaan.  Dit was die stories wat hulle herinner het aan God se getrouheid en sorg.  Dit was die storie dat God vir hulle ’n mooi toekoms belowe, met ‘n nuwe land waar hulle rustig kan bly en hulle kinders groot maak, wat hulle beweeg het. 

Daarom het ek in die week oor stories gedink. Wanneer is ’n storie ’n goeie geloofstorie?  En ek reken dat ‘n goeie geloofstorie veral gebore word wanneer dit swaar gaan. ’n Goeie geloofstorie is een waar jy kan vertel hoe die Here die onmoontlike gedoen het, hoe die Here jou in tye van hartseer of bekommernis gehelp en gedra het.  Hoe die Here jou uit benoudheid gehelp het en deure wat toe was oopgemaak het.  Dit is veral die moeilike tye in ons lewe wat goeie geloofstories maak.

Daarom het Israel baie goeie geloofstories gehad waarmee hulle die beloofde land ingestap het.  Maar hier, in die gemaksone van die beloofde land droog die stories toe op!  Want hulle was nie lank in die beloofde land nie, toe raak die afgode rondom hulle onweerstaanbaar en ruil hulle God in op ’n klomp afgode.  Met die gevolg dat hulle gou van die Here vergeet, Hom nie meer geken en aanbid het nie.

Nou vriende, die tergende vraag in hierdie stukkie geskiedenis is, hoe is dit moontlik dat ’n volk wat ’n rukkie terug nog goeie stories vertel het, wat by monde van Josua gesê het dat hy en sy huis die Here sal dien, nou eenvoudig die Here nie ken nie?

Ons kry die antwoord in vers 7: “So lank Josua geleef het, het die volk die Here gedien.  Dit was ook nog so terwyl die leiers geleef het wat vir Josua oorleef het.  Hulle het nog al die groot dade beleef wat die Here gedoen het om vir Israel te help.”  Vers 8 vertel dat Josua sterf en vers 10 dat al die mense van sy leeftyd sterf… en dan hierdie belangrike woorde … “en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie.  Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.”

Nou kom ek wys vir jou wat gebeur het.

Josua het die Here gedien.  En solank as wat Josua en die mense by hom (2de stoel) geleef het is die stories vertel van dit wat hulle van God beleef het.  En so lank as wat die stories vertel is, het die volk die Here geken en Hom gedien.  Maar die shocker is vriende, dat die volgende geslag mense nie die Here geken het nie (3de stoel)!  Maar dit is erger as dit, hulle het nie eers geweet van die groot dinge wat die Here gedoen het nie!  Nou jy sien, as die mense nie die Here geken het, kon ons nog vanmôre sê, ja – hulle het gekies om nie die Here te dien nie.  Maar dit is nie wat hier staan nie!  Hier staan, hulle het nie geweet van sy groot dade nie.  Met ander woorde, hulle kon nie eers vir of teen die Here kies nie, want hulle het nie geweet wat die Here gedoen het nie, want niemand (2de stoel) het dit vir hulle vertel nie!   (Stuur mense terug).

Nou vra ek jou met trane in my oë, hoe is dit moontlik?  Hoe is dit moontlik dat die stories eenvoudig opgehou het by hierdie “middelste” geslag?  En ek weet waaragtig nie hoe dit kan gebeur nie?  Want dit beteken dat hierdie middelste groep mense wat die stories of beleef of uit die perd se bek gehoor het, nie eers die moeite gedoen het om vir hulle kinders die stories van God te vertel nie!  En so kry ons ‘n verlore geslag,  mense wat nie van die Here gehoor het nie, en wie se lewe vieslik vuil uitgedraai het omdat hulle nie die Here geken het nie.  En Rigers vertel dan verder hoe hierdie bose kringloop van sonde lyk en hoe die Here hierdie mense op die regte pad probeer lei.

Dit is skrikwekkend om te dink dat stories binne 1 geslag kan ophou.  Dit is angswekkend dat daar binne 1 geslag ’n verlore generasie kan wees wat nie die Here ken of dien nie.  En weet jy, dit is presies wat vandag besig is om te gebeur!

Kom ek gee vir julle een voorbeeld.  Ek is die afgelope week weer opnuut bewus van die feit dat ons in ’n land leef met verskriklik baie uitdagings.  ’n Land waarin onverdraagsaamheid ongekende hoogtes bereik.  ’n Land waarin rassistiese vure aangesteek en gestook word.  ’n Land waarin daar onreg en geweld is.  ’n Land waarin daar hengse uitdagings aan Christene gestel word om kop te hou, om eerlik te bly, om met liefde en selfbeheersing te bly lewe.  En ek sê vir jou, die behoud van ons land vandag is nog die Christene wat kop hou! Wat aan God vashou omdat ons weet wat God kan doen en beleef het wat God kan doen!  Ons het beleef hoe God die denkbaar onmoontlike doen en die see oopgemaak het in 1994 om aan ons wonder bo wonder ’n vreedsame oorgang te gee.  Ons het die storie beleef van God se sorg en liefde en leiding en antwoord op gelowiges se gebede in daardie tyd.  Maar nie net toe nie, in baie ander soortgelyke krisisses in ons land ook.

Maar weet jy, hier is ’n geslag wat na 1994 gebore is.  Hulle het nie die Godstories self beleef nie.  Wat hulle weet, is wat hulle in koerante lees en op die nuus sien.  Wat gaan van hulle word as hulle nie God se stories oor ons eie land hoor nie?  Hoe gaan hulle met hoop hier verder kan leef as ons nie vir hulle die stories van hoop vertel nie?  Die goeie storie om te vertel is nie die ANC of die regering se storie nie soos hulle dink nie, maar God se storie!

Behalwe God se hand in ons land se storie, is ek baie seker jou ma en pa en oupa en ouma en oupagrootjie en oumagrootjie het ’n baie goeie geloofsfondament in jou eie lewe gelê.  Hulle was voorbeelde van hoe die Here gedien moet word.  Jy het by hulle Godstories gehoor, jy het gesien dat Boeke-vat deel was van ’n etenstafel, dat kerk-toe gaan nog belangrik was, hoe katkisasie en die ken van Bybelversies nodig was om die Here beter te leer ken en Sy stories te onthou.

Maar God skryf vandag nog stories om oor te vertel!  Jy het jou eie stories van hoe die Here jou deur vuur en water gelei en bewaar het.  Dit is die stories wat geloof lewend hou!  Dit is hierdie geloofstories wat maak dat ons môre weer kan opstaan en moed het om aan te gaan, al is die krag af en dit somtyds donker in en rondom ons.  Ja, die Here gee vir elkeen geloofstories, stories wat ons gehoor het en stories wat ons self beleef het.  Maar hierdie stories kan nie by ons eindig nie.

Hoeveel tyd word in jou huis spandeer om God se stories te vertel?  Hoeveel broodnodige, lewensbelangrike storietyd word in huise deur televisies en selfone en I-pads gesteel?  Ma’s en pa’s en oupas en oumas en oupagrootjies en oumagrootjies – ons het die verantwoordelikheid om geloofstories te vertel sodat ’n volgende geslag geloofstories het om te vertel.

Vanmôre word nog ’n kind gedoop.  Nog ’n belofte word afgelê dat hierdie kind die stories van God sal hoor.  Jy het dit ook op ’n stadium dieselfde belofte afgelê.  En om ’n belofte te maak is maklik, maar om ’n belofte na te kom is moeilik.  En kom ek sê sommer eerlik vanmôre, daar is baie mense wat hierdie belofte afgelê het, maar wat ’n klomp stories het waarom hulle nie hulle kinders eers kerk toe kan bring nie.  Ek verstaan nie hoekom moet ons ouers gaan soek en soebat en lek om tog asseblief maar die moeite te doen om vir hulle kinders Bybelstories te lees, en hulle kinders kerk toe te bring nie.  Ek verstaan nie hoekom ouers hierdie lewensbelangrike opdrag afmaak of verwaarloos ten koste van die heil van hulle kinders nie.  Want die grootste geskenk wat jy ooit vir jou kind kan gee is nie selfone of Solomon-tekkies nie, maar om die Here Jesus te ken!

Ek weet nie wat in jou huis aangaan nie.  Ek weet nie hoeveel tyd jy maak om God se stories aan te pass na jou kinders toe nie.  Ek weet nie hoeveel jou kinders van God se stories weet of in jou lewe kan raaklees nie.  Ek weet nie hoe gereeld jy jou kinders kerk toe bring en hoeveel keer hulle in ’n jaar by die Sondagskool uitkom nie.  Maar ek bid dat die Heilige Gees jou en my ongemaklik sal maak met hierdie boodskap.  En miskien moet jy die preek op die internet gaan aftrek en dit epos aan iemand anders wat nie hier is nie, om hulle ook ongemaklik te maak.

Want ek bid dat die Heilige Gees jou en my sal help dat God se storie nie by ons sal eindig nie.  Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons eie kinders en eendag weer hulle kinders se kinders.  Maar hierdie verantwoordelikheid strek veel wyer as net ons eie kringetjie.  Dit is nou die tyd in ons land om Godstories te vertel sodat God gehoor en gesien en beleef kan word.

Mag die Here ons lei om geloofstories te vertel sodat hierdie geslag en die volgende geslag geloofstories het om te vertel.  Amen