Die duiwel is vandag die duiwel omdat hoogmoed hom tot ’n val gebring het.  Hy is uit die hemel gegooi omdat hy probeer het om groter as God te wees.  Jes 14:11: "Jy het met jou hoogmoed, met die klank van jou harpmusiek en al in die doderyk beland. Jy lê tussen die maaiers, jy is oortrek van die wurms."

Vandag nog word die wêreld ingekleur deur hoogmoed.  Kyk maar net hoe gekamoefleer is hoogmoed in iets soos byvoorbeeld menseregte.  Ons leef in ‘n wêreld waar die eie-ek op dit troon sit, waar elkeen vir homself en sy eie eer veg.  Waar mense sal kul en bedrieg om hulself te verryk en hul eie eer te beskerm.   ’n Wêreld waarin mense al hoe minder tyd het vir mekaar omdat alles draai om my – my werk, my prestasie, my inkomste, my kinders, my drome, my toekoms.  Me, myself and I.  En die een wil beter en grander en belangriker wees as die ander.  Gevolglik word kinders grootgemaak wat nie kan verloor nie en kan mense dikwels nie die son oor ’n ander sien skyn nie.  En ek wonder of ons soveel anders is en anders dink en anders optree as die miljoene wat hierdie leuen van die eie-ek, die leuen van hoogmoed begin glo het? 

Miskien is die prys vir nederigheid vandag te hoog om te betaal.  Want nederigheid is nie noodwendig iets wat ons vooruitgang en superster-status en kolligte in die lewe kan waarborg nie. 

Selfs Jesus se dissipels het met nederigheid gesukkel.  Om saam met hierdie Leermeester te loop het hulle natuurlik ook belangrik laat voel.  “Hulle het … met mekaar gepraat oor wie die grootste is. En toe Hy gaan sit het, … sê (Hy) vir hulle:  As iemand die eerste wil wees, moet hy … almal se dienaar wees.” (Mark.9:34–35).  Paulus praat met die gemeente in Filippi ook oor nederigheid.  Want jy sien hulle hoogmoed het probleme in die gemeente veroorsaak.  Kom ek verduidelik.  Filippi was ook maar ’n reënboog nasie stad.  Daar het soveel uiteenlopende mense gebly dat dit nie maklik was om vrede en harmonie te hê tussen al die kulture en statusse en agtergronde nie.  En daarmee saam het hulle in ’n kultuur geleef waar nederigheid ’n negatiewe betekenis gehad het.  Nederig en minderwaardig was sinoniem.  Gevolglik was nederigheid net iets wat slawe geken het.  Dit was vir mense bedoel met ‘n lae sosiale status.  Die nederiges was die low class slawe wat ander moes bedien, waarop ander neergesien het terwyl elkeen vir homself geveg en gespartel en vertrap het om hulle eie eer te beskerm. 

En dit het die gemeente baie seer gemaak.  Want jy sien, hoogmoed en selfsug maak jou nie diensbaar nie.  Want wie sou dit nou wou waag om ’n nederige, vernederende slawe-werkie te doen soos om siekes te versorg of armes kos te gee of weduwees te versorg?  En Paulus het die gevaartekens van hoogmoed onder die gelowiges gesien.  Daarom rig hy ’n dringende en eintlik emosionele oproep: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”  Vir Paulus was nederigheid die sleutel tot eensgesindheid en samewerking tussen mense. 

En vriende, ek dink ons maak baie keer die fout om te dink dat nederigheid is ’n karaktereienskap wat mense moet aanleer.  Ons dink nederigheid is net om nie te brag as jy goed doen of die eer te neem vir goeie prestasies nie.  Ons hoor dikwels as jy mense prys sal hulle uit ’n poging om nederig te klink sê: Ag, dit was nie ek nie.  Maar ek kon sweer dit was jy wat gehardloop het of jy wat so mooi gesing het.  Jy sien, nederigheid is nie ’n enkele eienskap nie.  Nederigheid is ‘n lewenswyse.  

En daarom gebruik Paulus vir Jesus as die voorbeeld van nederigheid.  En hy gebruik ’n ou liedjie (v 6-11) wat Christene in daardie tyd gesing het om te verduidelik hoe Jesus se gesindheid van nederigheid in ons lewens gestalte moet kry.   

Jy sien vriende, Jesus is die voorbeeld van nederigheid.  Nederigheid was nie net ’n karaktertrek of een van die dinge wat Hy gedoen het nie.  As jy aan Jesus dink, dink net met wie het Hy gemeng en geassosieer, hoe maklik kon Hy ’n voorskoot aantrek en voete was, hoe Hy by armes en melaatses kon gaan sit.  Nederigheid was oor sy hele lewe geskryf.  Op geen enkele plek in die Bybel, sou Jesus deur enige mens as hoogmoedig beskou kon word nie, want Hy was nooit te belangrik vir enige iets of enige iemand nie!    

God word mens, sing Paulus.  En juis dit is die grootste enkele daad van selfopoffering en nederigheid! Hy kon seker in die hemel bly sit het, weg van die swaarkry en stofpaaie van hierdie lewe, maar God kies om ‘n gewone mens te word, ter wille van mense. 

En toe God mens word in Jesus, het Hy nie net ’n gewone mens kom word nie.  Hy het Homself verneder deur op die ranglys van belangrikheid, die laagste en swakste tipe mens te word, naamlik ’n slaaf.  Hy het geword soos daardie mense wat as die nederigste en minderwaardige in die samelewing beskou is.  Hy kom nie aarde toe as ’n prins of ’n koning nie.  Die rooi tapyt word nie vir Jesus uitgerol nie, Hy kom op ’n donkie en word soos ’n slaaf behandel.  Erger nog, Hy word verneder en soos ’n sleg misdadiger aan ’n kruis gehang.  Sodat mense in Jesus se lewe selfopoffering en nederigheid kan sien. 

In vers 9 gebeur daar ’n wonderlike ding.  Die Slaaf kry ’n ander naam.  ’n Naam wat bo elke ander naam is: Jesus Christus die Here.  Om ’n naam te kry in daardie tyd was nie iets algemeens soos vandag nie.  Dit het iets gesê van wie jy was.  En deur aan hierdie slaaf, Jesus, die Naam Here te gee, erken die Vader Jesus se Godheid.  In die Naam Here, word Jesus erken as die Een wat die mag gekry het om oor alle magte te heers, in die hemel en onder die aarde.  Die Nederige word verhoog sodat elke tong en taal en nasie sal erken dat Hy God is! 

Slot

Albert Einstein het die grootste gedeelte van sy lewe klas gegee aan die Universiteit van Princeton.  Hy het sy bekende relatiwiteitsteorie daar ontwikkel.  Die vreemde is dat ’n mens geen museum of monument of gedenkteken in Princeton raakloop wat ter ere van dié groot geleerde opgerig is nie.  Blykbaar wou Einstein dit nie gehad het nie.  Maar die afwesigheid van monumente vir Einstein in Princeton vertel iets van wie hy was.  Dit vertel iets van sy lewe.  En in plaas van ’n standbeeld was sy geniale werk sy nalatenskap en monument.   

Wat Jesus agtergelaat het, dank die Vader, is nie ‘n standbeeld van Hom nie, maar ’n leë kruis en die voorbeeld van nederigheid en diensbaarheid.  Ek wonder hoe ver loop ons agter hierdie nederige Dienskneg aan?  Is ons bereid om roem en eer en erkenning en status prys te gee soos Jesus die voorbeeld gestel het?  Hoeveel van Jesus se nederigheid word vandag in en deur ons gehoor en gesien?  Word nederigheid gehoor in die goed wat ons sê en die goed wat ons eerder nie van onsself sê nie?  Word dit gehoor in ons afhanklikheid en dankbaarheid teenoor die Here?  Word nederigheid gesien in ons liefde vir die mense van hierdie rainbow nation.  Word Jesus se nederigheid gesien in die opofferings wat ons selfs ten koste van onsself wil maak?  Ag ons ander hoër as onsself, of is ons net besig om onsself op die leer van belangrikheid te verhef en in die proses oor mense te loop en dalk seer te maak?  Dink ons nog aan die belange van ander wanneer ons saam met mense werk of verby mense ry, of irriteer mense ons net deesdae omdat hulle ons terughou of ons spoed breek?  Is ons nog bereid om ’n voorskoot aan te trek en nederige slawewerkies vir Jesus te doen, selfs al sien niemand dit nie en al kry ons nie enige erkenning daarvoor nie?    

Jy sien, om nederig te wees is so teen die grein van mens-wees vandag.  Want jy word nederig deur -soos Jesus- kleiner te word.  Jy leer om nederig te word wanneer God groter word in jou lewe en jy kleiner.  Wanneer God groter word as my eie drome en ideale en besluite en ek kleiner.  Wat die wêreld nodig het is nie mense wat lewe om monumente van hulleself op te rig nie, maar mense wie se lewe ’n monument van nederigheid is.  Mense wat loop in die voetspore van ons groot Meester.  Mense wat nie net vir hulleself lewe nie, nie net hulself wil verryk en bevoordeel nie, nie net vir hulleself wil sorg en omgee nie, maar mense wat bereid is om nederige diensknegte vir Jesus te wees. 

Mag ons lewe, ons loop en ons dink en ons praat, ’n lewe van nederigheid wees waar ons eie eer en status en erkenning, ons eie lof en roem vae ondertone is in die groot simfonie van eer en lof en aanbidding aan God.  Mag dieselfde gesindheid van nederigheid wat in Jesus was, ook in ons wees.  Amen.