Ons sê in Afrikaans, hy het nou deur die wingerd geloop.  Of hy het wingerdgriep!  Miskien meer bekend is; die elmboog gelig of te diep in die bottel gekyk of ’n oulike een, tiermelk gedrink.  Dit is nou daardie melk wat manne drink in lang glase met baie ys en dan vreeslik slim en sterk word! 

Wel, deur die wingerd geloop is nogal ’n mooi beskrywing vir die storie van Noag.  Want nadat hy die deure van die ark oopgeswaai en gesien het die grond is droog, moes hy begin boer.  Hulle moes van voor af begin om die grond te bewerk en te plant.  Die voortbestaan van Noag en sy uitgebreide familie het tog berus op die boerderyvaardighede wat hulle sou moes inspan.

Of ek nou ’n wingerd sou plant, dié weet ek nie.  Maar ons lees dat Noag die eerste wynboer in die geskiedenis van die aarde was.  So, hy was nogal ’n slim man.  Op ’n manier moes hulle agtergekom het dat as jy nou hierdie druiwe uitdruk en ’n bietjie in die son los, gebeur daar iets.  Waarskynlik was hy dan die eerste man wat wyn gemaak het!  En heel moontlik ook die eerste een wat deur die wingerd geloop het!  So, miskien was hierdie dronkenskap sy eerste kennismaking met die tiermelk uit sy eie wingerd!  Ek wil glo dat dit hom so bietjie onkant betrap het en dat Noag sekerlik nou nie ’n drankprobleem gehad het of ’n alkoholis was nie.

Die teks ondersteun dit, want daar word nie veel oor sy dronkenskap gesê nie.  Miskien as ons die geleentheid gehad het om die storie oor te vertel sou ons ’n paar waarskuwings ingesit het en die gevare van alkoholmisbruik uitgespel het.  Trouens, ons kry sulke waarkuwings op ander plekke in die Bybel, bv Spreuke 23:29-35.  En om die minste te sê stel dit nie ’n goeie voorbeeld as ’n pa kaal en dronk by die huis lê nie.  Maar amper so in die verbygaan, sonder dat daaroor eers ’n ophef gemaak word gaan die storie aan.

Dit is vreeslik interssant: ons onthou die storie omdat ons die dronkenskap onthou, maar eintlik is dit nie die hooftema van hierdie storie nie.

Wat ons wel maar weer in hierdie verhaal besef is dat Noag en sy familie nie as sondelose mense uit die ark gestap het nie.  Ongelukkig het die sonde nie met die vloed weggespoel nie!  Want sonde is iets binne in jou!  Jy word daarmee gebore!  Jy word gebore met die geneigdheid om eerder die verkeerde te kies en te doen.  So was die man wat in 6:9 beskryf word as ’n regverdige man wat onberispelik en naby God geleef het, ook maar eg menslik.  Hy het ook sy swakhede gehad.  Maar hy was onberispelik in sy opregtheid en toewyding aan die Here en nie in sondelose perfeksie nie!  God begin wel oor, maar met mense wat steeds inhirent vasgevang is in sonde.

En dit is vreeslik interessant vriende, waar steek sonde toe eerste sy kop uit?  In verhoudinge!   Die plek waar ons die effek van sonde op mense se lewens die duidelikste kan sien is in die verhoudinge wat ons het.  Dink ’n bietjie terug oor die eerste paar hoofstukke van Genesis en jy sal die verwoesting wat sonde gebring het in verhoudings raaksien.  Eers was dit die verhouding tussen man en vrou in Genesis 3, toe tussen broers (Genesis 4) en nou gaan dit om die verhouding tussen ouers en kinders.  En dit is hier waar Gam se storie begin.

Nadat Noag hierdie vreeslike misstap begaan het en eintlik skaamteloos daar in sy tent lê en sy roes afslaap, kom Gam by sy pa aan.  En in plaas daarvan om die tentvlappe toe te trek en sy pa verdere vernedering te spaar, gaan hy uit en vertel dit vol bravade vir sy boeties.  Jy sien, Gam het eintlik met sy pa gespot!  Hy wou sy pa verder verneder!  In plaas daarvan om met eerbied en respek teenoor sy pa te bly optree, buit hy die situasie uit om sy pa verder skaam te maak.  En daarom staan Gam se optrede in skrille kontras met dié van sy twee boeties Sem en Jafet.  Trouens, hulle sorg en besorgdheid oor hulle pa is opvallend.  Hulle het soveel respek vir hulle pa dat hulle agteruit loop, met ’n kombers oor hulle skouers om hulle pa toe te gooi.  Om eintlik Noag se skaamte te bedek!

En die Here seën hulle vir hulle respek en eerbied.  Calvyn sê so mooi dat Sem en Jafet, ten spyte van hulle pa se optrede met piëtyd teenoor hulle pa opgetree het.  Hulle het hulle steeds met deernis teenoor hom ontferm.  Hulle wou nie hê dat hy verder verneder word nie.  En dan trek Calvyn die lyn as hy sê: dit is met hierdie piëtyd of deernis waarmee die Here vandag teenoor ons en ons foute optree.

En hoe waar is dit nie!  Ons hemelse Vader werk ook met deernis en piëtyd met ons as sondaars.  Hy wil ons nie verder ontbloot en verneder as ons foute maak nie.  Hy gaan hang nie ons foute en sondes aan die groot klok nie.  Hy wil ons nie verder skaam maak en laat skuldig voel nie.  Ja, Hy haat sonde, maar Hy werk in deernis met die sondaar!

Gam het nie hierdie deernisvolle liefde gehad teenoor sy pa se foute nie, en is daarvoor gestraf.

Maar vriende, dit is vanmôre maklik om hier te sit en Gam se optrede te veroordeel.  Totdat jy jouself die vraag begin afvra: hoe lyk die liefde waarmee ek optree?

Jy sien, ons leef in ’n wêreld waarin mense min genade het teenoor mense en hulle foute.  ’n Wêreld wat hulle dikwels verlekker in ander se foute.  Trouens, ’n hele vermaaklikheidswêreld word aan die gang gehou deur flikkerende kameras wat skindernuus oor mense se foute probeer vasvang en uitbuit.  En dit het deel van ons kultuur geword.  Ons teegesprekke ontaard baie vinnig in ’n analise van ander se skaamtes.  Ons geniet die skinderstories en is lief daarvoor om ander se foute verder te ontbloot.

As ons die kringetjie nouer trek is hierdie Gam-liefde baie keer sigbaar in ons huwelike.  Ons kan mekaar maklik verder afbreek en verneder.  Ons ken mekaar se foute en swakpunte en weet hoe om dit uit te buit en selfs daaraan te bly herinner of daarop te hammer (dit te ontbloot).  Jy sien, hierdie Gam liefde het nie begrip vir ander se tekortkominge nie.  Gam liefde is krities en ongeduldig met ander se foute en verstaan nie dat die Here genadig is en met begrip en deernis my handel nie.

Miskien moet ons weer voorraad opneem van ons liefde.  Die liefde in ons huwelike, teenoor ons kinders, in ons werksverhoudinge en vriendekringe.  Want dit is in verhoudinge waar die sonde die maklikste vatplek kry en waar die duiwel wil breek en verwoes.

Gam liefde ontbloot.  1 Korintiërs 13:7 sê: “die liefde bedek alles”.  In 1 Petrus 4:8 sluit Petrus by Paulus aan as hy sê: “Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.”  Ontbloot jou liefde of bedek dit?  Vriende en ek het geworstel met hierdie ding dat die liefde bedek.  Wat beteken dit dan as die liefde toemaak?  Wat beteken dit as ons nie moet ontbloot soos Gam nie, maar toemaak soos Jesus.  Hoe lyk liefde wat bedek?

Dieselfde tekste word in die Boodskap soos volg vertaal: 1 Kor 13:7: “Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle.”  1 Petrus 4:8: “Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie.”

Met ander woorde die liefde is geduldig en verdraagsaam.  Want vriende, God verdra dan in liefde vir my my met al my foute, so hoe kan ek dan nie ander met hulle foute verdra nie?  Liefde wat bedek beteken dat ons eerder op mekaar se goeie punte fokus en die beste in mekaar uitbring en somtyds die swakpunte en selfs foute wat gemaak word bedek of toemaak of daarby verby kyk.  Liefde wat bedek weier om oor ander se foute te kere te gaan.  Liefde wat bedek is om soos Sem en Jafet somtyds hulle rug te draai en met ’n kombersie die skaamtes toe te maak.  En natuurlik beteken dit nie dat ons ooit die sonde wegsteek of goed praat nie.  Inteendeel liefde sluit ook nie teregwysing en selfs straf uit nie, maar in alles bewys ons net dieselfde deernis en geduld met ander sondaars as wat God met my het.

Slot:

Sonde het sigbaar geword in verhoudinge, maar net so word groei en genesing ook sigbaar in verhoudinge.  As ons as ’n Sentrum vir groei hierdie jaar ’n geestelike tree wil gee, sal ons moet let op ons verhoudinge.  Op ons huwelike, ons kinders, ons families, ons werksverhoudinge, ons vriendekringe, ons geloofsgemeenskap.  Ons sal met liefde moet leer leef en leer optree.  ‘n Liefde wat eerder wil bedek as ontbloot en oor foute tekere gaan.  Omdat God genadig is en God met deernis en geduld en genade teenoor my en my foute optree, daarom moet ek bereid wees om met dieselfde liefde teenoor ander op te tree.

“Die liefde waarvan 1 Korintiërs 13 praat, is nie ’n emosie nie.  Dié liefde is ’n lewenstyl volgens die bladmusiek van die lewe, wat in die hemel gekomponeer is.  Dit is nie iets  wat ’n mens “het” of wat jou sommer “oorkom” nie.  Dit is ’n lewenshouding en ’n leefstyl waarvoor jy bewustelik moet kies, soos jy ’n musiekstuk uitkies wat jy dan jou lewe lank moet inoefen soos jy in concerto instudeer”.  (Ferdinand Deist).

Mag ons die liefde wat bedek instudeer en inoefen in al ons verhoudinge.  “Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle.  Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie.”     Amen