Universitas NG Gemeente » 'n Sentrum vir Aanbidding, Heling, Groei en Diens

Oë vol dankbaarheid – Lukas 11:33-36

                 Dankfees

Jou oë is die vensters van die siel.  Daardeur bedoel ons dat oë op ’n manier ’n storie vertel.  Hierdie foto van ‘n Afganistan meisie het die harte en verbeelding van die wêreld aangegryp.  Seker een van die bekendste foto’s.  Baie interpretasies is hiervan al gemaak, maar haar oë was die storie wat vertel is.  Die lamp van jou liggaam is die oog.  As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig sê Jesus. 

Ek wonder hoe goed is ons oë vandag? 

Want dit lyk vir my of ons almal maar deur die bril van die nuus en koerant na die wêreld kyk.  Met die gevolg dat dit wat ons in die môre saam met ons koppie koffie afsluk grotendeels bepaal hoe ons die dag begin.  Want dit wat ons inlaat bepaal of die liggaam verlig of donker voel.  Ek hoef nie vanaand verder te verduidelik hoe mense in ons land voel oor dit wat hulle sien nie!      

Maar dit lyk vir my of daar twee maniere is waarop enige oog kan kyk.  ’n Goeie oog, soos daar in ons gedeelte staan, sien lig en ’n slegte oog, sien donker.  Twee oë kan op 2 verskillende maniere na dieselfde ding of situasie kyk.  Dit kan die slegte sien, of selfs in die slegte die goeie raaksien.  Dit is iets wat ons by Zanelle gehoor het.  Jy kan met ’n donker oog na enige iets kyk en donker sien, of jy kan lig sien selfs in die donker waarin jy is.  En die manier waarop jou oog kyk bepaal hoe jy gaan lewe.  William Law het in die 1700’s gesê: Mag ons leer om dankbaar te wees vir wat ons het, voordat die tyd ons dwing om dankie te sê vir wat ons gehad het

Vriende, oor ’n jaar of 2 van nou af gaan ons ook maar terug verlang na die goeie en lekker tye wat ons nog in 2011 kon beleef, want dan kyk ons weer met ’n ander oog na dit wat jy gehad het.  Daarom, kyk vir ’n slag met ’n goeie oog en sê vandag dankie vir jou gesondheid, sê dankie vir jou gesin, vir jou ouers, vir jou huweliksmaat, jou kinders, vir jou werk, want dalk dwing die tyd jou ook om dankie te sê vir dit wat jy gehad het.    

As jy met ’n oog kyk wat lig raaksien sal jy nog baie kry om voor dankbaar te wees.  Miskien word ons maar net op ’n dankie-sê-aand herinner dat ons nog baie lig rondom ons het om raak te sien en in te laat.  Alles wat mooi is, alles wat rein is, alles wat nog rondom ons prysenswaardig is, daarop moet ons ons gedagtes rig, dit moet ons raaksien.    

Vers 35 is regtig verwarrend.  Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie.  Hoe kan lig donker wees?  Die gedeelte begin om te sê dat jou oog die lamp is.  Met ander woorde jou oog gaan nie net oor dit wat die liggaam inkom nie, maar ook dit wat jou oë uitstraal.  Mag ons lewe met oë vol dankbaarheid!