Rikus Botha

22 Julie 2018

Teks: Jeremia 17:5-13
Tema: Om anders te vertrou

 

Kort agtergrond oor teks:

Ons gaan vanoggend saamlees uit Jeremia 17 vanaf vers 5-13. Voordat ons dit lees is dit belangrik dat ons net eers iets van die agtergrond van hierdie teks verstaan. As profeet profeteer Jeremia in ‘n tyd waarin die volk begin het om eerder te vertrou in die dinge van die wêreld (dis so 50 jaar voordat Jerusalem tot ‘n val sou kom). Vertroue in God word as ‘n “alternatief” gesien, en Jeremia word die opdrag gegee om die volk te waarsku teen hulle verkeerde optrede. Hy ontvang egter baie teenkanting wanneer hy profeteer. Niemand neem hom eintlik ernstig op nie en dit word vir Jeremia al duideliker dat die volk in die rigting van die dood eerder as die lewe beweeg. Maar met die krag van God is Jeremia in staat om steeds te volhard in sy taak. Ons lees in Jeremia 17:1-4 byvoorbeeld van Jeremia wat die volk waarsku teen afgodery, en die mense probeer aanmoedig om hulleself te bekeer. En dan gaan 17:5-13 verder en praat oor vertroue in God. Wat sal gebeur indien die mense eerder in God vertrou teenoor om in ander mense te vertrou.

 

Teksgedeelte: Jeremia 17:5-13

5So sê die Here: Daar rus ‘n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai; 6hy is soos ‘n kaal bossie in droë wêreld (woestyn volgens die Hebreeus) wat nooit water kry nie; ‘n bossie wat in ‘n klipwoestyn staan, in ‘n brak wêreld waar niemand woon nie.7Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; 8so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie. 9Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? 10Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen. 11‘n Fisant wat broei op eiers wat hy nie gelê het nie, dit is die mens wat op oneerlike wyse ryk word. Hy sal sy rykdom moet agterlaat in die fleur van sy lewe, sy uiteinde is dié van ‘n dwaas. 12‘n Magtige troon, van die begin af verhewe, dit is die plek waar ons heiligdom staan! 13Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe.

 

Diens van die Woord:

Die dinge wat jy begeer is nie altyd dit wat jy nodig het nie. Daar is soveel aanloklike dinge in hierdie wêreld dat dit vir my en vir jou maklik is om dit wat ons nodig het te verwar met dit wat ons graag wil hê. In Jeremia 17:5-13 is dit presies dit waarmee die volk gekonfronteer word. Waarteen Jeremia die volk waarsku, omdat die verwarring wat hulle beleef veroorsaak dat hulle al minder in die Here vertrou en al meer in die aardse dinge. Hulle het toegelaat dat menslike wysheid en aardse begeertes hulle lewens bepaal en sodoende ook hulle vertroue daarin begin plaas. Hulle het vergeet wie die Here is, omdat hulle gekies het om van Hom af weg te draai. Om eerder in mense te vertrou. Vers 5 sê “So sê die Here: Daar rus ‘n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai;” En die ergste is dat ek en jy geneig is om vandag presies dieselfde doen. Meer as 2500 jaar later kom waarsku die Here ons ook om nie onsself só besig te hou met die dinge van hierdie wêreld, dat ons vertroue in Hom vervaag nie.

Ons het in ons ontmoetings as belydenisgroep soveel keer gepraat daaroor om wat ons hoor en doen aan die Woord te toets. Om nie net te vertrou in wat mense doen en sê nie, maar om seker te maak dat dit ooreenstem met wat die Here ook vir ons wil hê. En ek dink dit is presies waaroor vers 5 dan hier praat. Ek en jy kan nie so vertrou in wat die wêreld vir ons voorhou dat ons begin dink en vertrou dat dit die norm is nie.

Die mense waarmee Jeremia 17 praat het hulleself al minder besig gehou met die dinge van die Here en al meer met die aardse dinge. Met mooi klere, meer rykdom, meer “goed”. En wat gebeur wanneer jy jouself al meer besig hou met iets? Dit word al meer deel van jou en al meer deel van wie jy is en voordat jy jouself kan kry, kan jy nie daarsonder nie. Dan vertrou jy eerder daarin as in die Here. Die Here word vir jou baie maklik eerder ‘n alternatief. As jy sommer dink aan jou selfoon of jou rekenaar of sosiale media oor die algemeen… Spandeer jy nie meer tyd daaraan as wat jy aan tyd saam met die Here spandeer nie? Ek praat nie net van Bybel lees of kerk toe gaan nie. Dit gaan oor ‘n lewe waar jy voortdurend in gesprek is met die Here. Heeltyd dink aan wat Hy van jou verwag en waar Hy met jou op weg is.

Dis soveel lekkerder om op ‘n Sondagoggend maar eerder by die huis te bly en daardie taak klaar te maak as om erediens toe te kom. Om eerder bietjie later te slaap want jy was later saam met jou vriende Saterdagaand uit gewees. As ek die erediens mis… daar is volgende Sondag weer ‘n diens en die Here sal verstaan as ek hierdie Sondag nie daar is nie, Hy is dan genadig. Dit is makliker om eerder wakker te lê en ‘n boek te lees of video’s te kyk of op facebook te wees of om pryse te kyk van daardie item te kyk wat ons so graag wil hê as om Bybel te lees en vir ‘n oomblik stil te word by die Here. Ons kies om eerder te vertrou in die makliker, lekker dinge van hierdie lewe. Ons kies om eerder meer “followers” op Twitter te hê en ons raak soos die gelowiges van Jeremia 17. Ons raak droog en het al hoe meer aardse dinge nodig om enige vorm van bevrediging in ons lewens te ervaar. Ons vertrou al meer in dit wat die wêreld as belangrik beskou.

En dan, wanneer jy met droogtes, misdaad, siekte, armoede, probleme by die skool of probleme by die huis gekonfronteer word, blammeer jy die Here omdat dinge nie uitwerk soos wat dit moet nie. Jy blammeer die Here, terwyl jy eintlik net jouself kan blammeer. Want sien, dit was net so ook gewees vir die volk van Jeremia 17. Die Here het hulle gewaarsku. Hy het meer as een keer profete gebruik om die volk tot insig te probeer bring. Maar steeds, toe Jerusalem tot ‘n val kom, het hulle die Here daarvoor blammeer. Hulle het Hom blammeer, ten spyte daarvan dat dit hulle keuses was wat hulle tot op daardie punt gebring het. Vers 9 sê “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?”… Ons is so maklik beïnvloedbaar. As ons iets sien wat ons graag wil hê dan moet ons dit kry, want almal anders het dit. As ons weet dat dit wat ons doen verkeerd is, maar dit steeds doen… Ons kan nie onsself vertrou nie, want ons is sondige mense.

Dit is slegs God wat aan jou die lewe kan bring. Hy is die Een wat jou die beste ken, wat alles van jou weet. Vers 10 sê “Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen.” Die Here ken alles van jou en Hy het jou so lief dat Hy Sy Seun gegee het om aan die kruis te kom sterf. Maar Hy wil hê dat ek en jy Hom self moet kies. Jy kan nie verwag dat die Here net moet gee en gee nie. Dat Hy net jou gebede moet beantwoord en moet sorg dat jy alles kry wat ons van Hom vra nie. Dit gaan absolute chaos wees! Ons vergeet wie God is wanneer ons net ontvang sonder om aan Hom erkenning te gee daarvoor. En die enigste manier waarop jy jou dankbaarheid teenoor Hom kan wys is om ‘n lewe te leef wat getuig van Sy verlossing. Om ‘n lewe te leef waarin ons vertrou in die Here, want sonder Hom sou ek en jy niks gewees het nie. Ons sal, soos vers 6 sê, net ‘n kaal bossie in ‘n droë wêreld wees.

Ek en jy kan nie leef soos mense wat vertrou in ander mense nie. Mense wat die begeertes van hierdie wêreld nastreef en nooit die water, die lewe, by God gaan soek nie. Dit is nie ware geloof en vertroue in God nie. Dan is ons die tipe mens waarvan vers 11 praat. Dit sê “’n Fisant wat broei op eiers wat hy nie gelê het nie, dit is die mens wat op oneerlike wyse ryk word. Hy sal sy rykdom moet agterlaat in die fleur van sy lewe, sy uiteinde is dié van ‘n dwaas.” Ons plaas ons vertroue in die wêreldse dinge en verwag om steeds die ewige lewe te ontvang. Maar hoe kan ‘n vertroue in dit wat vir die dood bestem is lei tot die ewige lewe?

Vers 7 sê “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is;” Dit gaan goed wanneer jy jou vertroue in die Here stel omdat Hy altyd met jou is. Wanneer jy Hom kies kan jy nie meer dieselfde lewe leef nie. Jou vertroue is nie in die aardse nie, want Christus is die lewe. Om God te kies, is om anders te kies. Om anders as die wêreld te vertrou.

Vers 8 sê “so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.”… Ten spyte van uitdagings by die werk of by die skool. Ten spyte van besluite wat in matriek geneem moet word vir jou pad vorentoe. Ten spyte van konflik met jou ouers of met jou vriende. Ten spyte van probleme by die huis. Ten spyte van die dood waarmee jy gekonfronteer word. Ten spyte van al hierdie dinge… wanneer jy kies om die Here te vertrou sal Hy deur dit alles saam met jou die pad stap. Sal Hy dit wat jy nie self kan hanteer nie saam met jou hanteer en deurmaak. Daardie selfoon wat jy het gaan dit nooit kan doen nie. Die Here sal vir jou dit gee wat jy nodig het op die regte tyd. Al wat jy moet doen is om in Hom te vertrou.

Sien, ons dink dat aardse ryksom alles is en dat dit goed gaan wanneer mense van ons hou en ons kan vertrou in mekaar. Maar dit beteken absoluut niks. Die waarde van die lewe kan jy slegs vind deur ‘n diepe vertroue in Hom. Deur te besef dat jy nie sonder Hom kan nie. Hy is nie net ‘n alternatief nie, Hy is die lewe self. Die een op wie ons werklik kan vertrou en by wie ons ware rykdom vind. Vers 12 sê “’n Magtige troon, van die begin af verhewe, dit is die plek waar ons heiligdom staan!” God kom maak ons deel van wie Hy was, is en vir altyd gaan wees.

Hierdie gedeelte sluit af in vers 13 met die volgende woorde “Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe.” Die Here is jou Hoop net soos wat Hy Israel se hoop was. Hy ken jou hart en jou gedagtes. Hy ken jou toekoms ten spyte van jou verlede. Hy wil hê dat jy Hom moet kies, want Hy is die bron van die lewe. Al wat jy moet doen is om op Hom te vertrou en nie op die dinge van hierdie wêreld nie. Mag jy dit weet in jou pad vorentoe. Mag dit altyd vir jou ‘n troos wees. En mag jy altyd vertrou in Sy voorsienigheid en nooit vergeet wie en wat Hy is nie. Amen.