30 Januarie 2011

Lukas 9:2: “Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak.  Hy het vir hulle gesê: ‘ Moet niks vir die pad saamvat nie, nie ’n kierie of ’n reissak of brood of geld of nog ’n kledingstuk nie.” 

Lukas 10:2,4: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.  Moenie ’n beurs of ’n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie.” 

Eers 12 en toe 72 na die 4 windrigtings van die aarde om aan te kondig dat die koninkryk van God naby is.  Met die laaste nagmaal saam met die 12 dissipels het Jesus gesê dis die laaste ete voor die koninkryk van God sou aanbreek.  Daarmee het Hy verduidelik wat die koninkryk is.  Die verlossing wat Hy vir die wêreld wil bring.  Die boodskap soos wat ek dit op ’n slagspreuk lees: God loves the hell out of you!  Dit is ook met die laaste woorde wat Matteus kon onthou dat Jesus ons opdrag kom onderstreep: Gaan dan na al die nasies toe en maak mense My dissipels.  Julle sien, reg deur Jesus se bediening is daar ‘n dringendheid in Sy opdrag.  Jesus is angstig as Hy sê: die tyd raak min!  Daarom wil Jesus so vinnig moontlik soveel moontlik mense uitstuur met hierdie boodskap van verlossing. 

En ongelukkig deel ons nie altyd die dringendheid van hierdie opdrag nie.  Ons is nie almal altyd so entoesiasties en opgewonde daaroor nie.  Jesus het self ’n rukkie gelede Hom vasgeloop in ’n klomp verskonings. 

Lukas 9:59sê Jesus vir iemand: Volg My.  Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.  Nog een het gesê: Ek sal u volg, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.  Sekerlik goeie sake wat meriete het, maar dit bly verskonings wat maak dat mense nie met hierdie boodskap op loop gaan nie! 

En as Jesus dan eers die 12 en later die 72 uitstuur, doen Hy nogal moeite om die verskonings te elimineer.  Moenie ’n kierie en ‘n reissak en brood en geld saamvat nie.  Maw Ek sal vir julle sal sorg.  Moenie nou eers ekstra skoene of klere gaan soek nie.  Dis asof die Here Jesus wil sê: Hou nou op beplan en worry en inpak.  Hou op tyd mors met ellelange voorbereidings wat uiteindelik verskonings kan word.  Gaan net!  Ek sal sorg vir die res!  Gaan soos julle is, sonder bagasie!

Ek wil twee opmerkings maak en daarmee afsluit vanaand:   

  1.  Hoeveel MAARs is daar in jou geloofswoordeskat?  Ek sal U volg, MAAR….  Ek sal doen wat U sê, MAAR…  Ek sal gehoorsaam wees, MAAR… Ek sal verander, MAAR…  Belemmer jou MAARs nie dalk jou geestelike groei nie? 
  2. Met hoeveel bagasie sit jy op hierdie stadium in jou lewe mee?  En met bagasie bedoel ek, goed wat maak dat jy nie voluit vir die Here kan lewe nie?  Goed wat jou so vashou of dalk so hard aan trek dat jy nie uitkom by dit wat die Here met jou lewe in die oog het nie.  Dit hoef ook nie altyd goed te wees nie, dit kan ook vriende of verhoudinge wees wat jy saamsleep.    

Nagmaal is vanaand die geleentheid om af te pak, om te draai, oor te begin.  Die geleentheid waarin jy die bagasie vir Jesus kan kom gee en sê: Here vat dit wat maak dat ek U nie voluit kan dien nie!  Vat hierdie gewoonte, of hierdie verhouding of hierdie bekommernis van my af weg sodat ek sonder bagasie vir U kan volg.  Jesus, vir die eerste keer in my lewe wil ek nie MAAR sê op dit wat ek weet U van my vra nie.  Ek wil nie meer verskonings uitdink nie.  Ek wil omdraai en half onvoorbereid op dit wat U van my mag vra, in die geloof dit waag om U te vertrou! 

Vriende, die Here stuur jou dalk nie vanaand Iran toe of iewers in donker Afrika in nie.  Hy wil die bagasie kom afhaal en jou stuur na jou kamermaat of na jou studentehuis of koshuis of vriendekring.  Hy wil jou stuur sonder ’n MAAR.  Sonder om verskonings te sit en uitdink sê die Here vir jou soos Hy vir die 72 gesê het: Gaan net, Ek sal sorg vir die res!    En jy sal met blydskap terugkom!

Gebed:

Here, my grootste bagasie is ekself.  My eie hart en my eie begeertes, die eie-ek wat dikwels so belangrik word.  Dankie dat ons met ons bagasie vanaand na U toe kan kom en dit kan kom aflaai, want U juk is sag en U las is lig.  Dankie dat U ons roep en stuur soos U vir Matteus en Johannes en Jakobus geroep en gestuur het.  Ons wil nie meer MAAR sê op U roepstem nie, juis omdat U nie MAAR gesê het aan die kruis nie.  U liefde is grensloos en sonder verskonings.  Ons kan ook nie vanaand nagmaal hou, feesvier sonder hart vir hulle wat nie deel van die partytjie is nie.  Daarom bid ons Here dat U ons sal voed en sterk sal maak, en dat ons getrou sal wees wanneer U ons uitstuur.  Amen