Sluk sonskynDie blydskap van Christus wat ons telkens verwonder

Ek wil eers ‘n gewaarwording met julle deel.

Ek was die vorige week by ‘n ander gemeente se pragtige Kerssangdiens.

Maar dit was vir my vreemd. Amper iets paradoksaal. My 2015-hart was nog nie op die golflengte vir blydskap nie   ………….. nog nie reg vir Kersfees nie.

Die Kersfeestema en die Kersliedere was vir my half wêreldvreemd.

Amper asof ek dit nie ken nie!

Amper asof ek dit nie wou hê nie.

Die jaar en al sy dinge was nog te intimiderend op my.

Amper asof ek eers vir Kersfees en sy blydskap ingestem moes word.

En dit is presies wat  nou hier gebeur:

Gebed: Here, dankie dat dit weer kan Kersfees raak. Nie net hier in ‘n erediens nie, maar ook in elkeen van ons se harte. Ons het soveel droogte hier buite … en hier binne.

       En ns bid vir ‘n nuwe stukkie Kersfees hoop in ons harte.

       Ons bid, Here Jesus, vir U self in ons harte.   En ons nooi u in!   Omdat U ons uitgenooi het na hierdie geloofsfees. Ons soek U! Ons soek ‘n lied oor u in ons harte. Ons soek ‘n lied op ons lippe.En ons vra dat hierdie lied op ore sal val.

 Eerstens, dat U ons lied sal hoor en dat U daaroor ‘n glimlag sal kry.   Ons bid ook dat die lied op mense se ore sal val en dat hul oë weer sal begin blink.   Omdat dit Kersfees raak.   Word verheerlik!     Amen

 Kersfees begin by God wat inisiatief neem.

‘n Graad 1 dogtertjie het eenmaal so mooi gesê:

“Kersfees is die dag toe God by die trappe van die hemel afgekom het met ‘n Babatjie in sy arms.”

God kom af na ons.

En die grootse/grootste Godsverhaal begin as ‘n engel van God by ‘n jong meisie, Maria, kom met ‘n groet uit Lukas se verhaal (waarby ons vandag aansluit):

   “Ek groet jou, begenadigde,! Die Here is by jou.”   (Luk 1:26-28)  

                           Dit is hoe die Here ons ook vandag groet.  

En dan breek die heerlikheid van God ook by ons deur…

Skriflesing: Lukas 2:18- 20

Ons lees van mense se verwondering.

Verwondering se eerste reaksie is gewoonlik stilte…

Maar verwondering lei daartoe dat die stilte nie kan voortduur nie.

Want mense reageer daarop. Hulle moet daaroor praat en sing.

Dit is wat ek hier in Lukas raaklees.

Die skaapherders was sekerlik nie gereed vir hierdie boodskap nie.

Hulle het nie gesit en wag vir ‘n engelekoor nie.

Hulle was soos ons maar besig met die uitdagings en die teleurstellings van die lewe:

En hierdie boodskap tref jou waarskynlik vandag ook onverwags, soos ook die heerlikheid wat oor jou skyn.

JK Gresset getuig:

“Sedert ek Jesus ontmoet het, voel dit vir my of ek sonskyn gesluk het.”

Die skaapwagters het sonskyn gesluk – in die middel van die nag.

Kersfees help ons aan ‘n slukkie sonskyn – God se lig wat in ons inskyn!

Totaal onverwags! Totaal verrassend!

En as jy so sonskyn geproe het, en jou daaroor verwonder,

dan kan jy nie stilbly nie.

Dan praat jy daaroor!

Dan sing jy daaroor.

En dan gaan jy terug na jou skapies toe, soos die skaapwagters – al prysende!

Want die sluk sonskyn was genoeg!

Maar daar is ook ander wat hulle begin verwonder:

Dit is die mense wat die boodskap van die krip hoor.

Dit is die mense hier buite wat fyn luister na die boodskap en die klanke van ons pryslied.

Party wag nog om die lied te hoor … sodat hulle kan begin saam sing.

 Gebed

Here, hiermee hoor ons weer die boodskap en ons omhels dit in die geloof.

Ons sing die lied saam en ons glo dat U dit geniet.

Ons glo dat die lied hier buite eggo en dat dit vir mense nuwe hoop sal bring.

Amen