André Oosthuizen: andrej@webafrica.org.za

Ons is ePicture1lke dag oppad iewers heen.  Of dit nou klas toe of werk toe of huis toe of winkel toe is, ons is feitlik elke dag op reis.  Gewoonlik werk dit so dat as ons in ons motors klim is ons doelgerig.  Ons ry nie sommer sonder dat ons weet waarheen ons ry of wat ons daar wil gaan doen nie.  Want tyd is kosbaar en petrol duur.  Daarom is ons op bestemmings gefokus.  As ons see toe gaan, sal ons as dit nodig is, vir brandstof stop, maar ons wil so vinnig as moontlik by die see as ons bestemming kom.  Vergeet van hardgekookte eiers en frikadelle by sement tafeltjies onder ‘n boom langs die pad.  Daardie dae is verby!    Ons ry om uit te kom waar ons wil wees.  Dit gaan vir ons oor die eindbestemming!

 

Om te verdwaal is lankal nie meer ‘n avontuur nie.  Dis ‘n frustrasie wat ten alle koste vermy moet word.  Gelukkig kan ons verdwaal weg koop met ’n GPS wat ons vinnig, maklik en met die korste pad vat waar ons wil wees.  Die GPS ken die pad, hy kan selfs vir jou waarsku waar die gevaarsones vir kapings is, en waar die verkeerskonstabels wegkruip.  ’n GPS vat ’n klomp onsekerheid en frustrasie by ons weg.    Maar ek wonder watter invloed hierdie GPS-kultuur op ons geloofslewe het?  Gaan die lewe vir jou oor die reis of oor die eindbestemming?

Die Here sê vir Abram om te trek.  En ek dink een van Abram se grootste vrae was: wat moet ek in my GPS intik?  Waar is my bestemming?  Hoe lyk die pad soontoe?  Ons lees in vers 1 dat die Here sê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land wat Ek vir jou sal aanwys.”  Ons lees in Hebreërs 11:8: “Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.”  Hy het nie die koördinate gehad nie!  Hy het nie eers geweet waarheen hy oppad is nie!  Al wat Abram geweet het, was dat God vir hom op reis wil neem.  Maar in watter rigting sy eerste tree moet wees het hy nie geweet nie.

 

En vir ‘n 75 jarige omie wat op aftrede gestaan het en wat rustig sy skapies in Haran versorg het, was dit ’n ontwrigting om te trek.  Dit is ook nie net van oppak en daar gaan ek nie.  Hy het ‘n klomp goed gehad, want hy was ‘n ryk man.  En hy moes ’n klomp goed agter los.  Die plek waar sy pa begrawe lê, waar hy die weer en die veld soos die palm van sy hand geken het en sy mense.  Alles om God op hierdie vreemde en onbekende pad te volg iewers heen.  En dit sonder ‘n reisplan of ‘n padkaart, sonder ‘n GPS in ‘n warm woestyn.  Ek weet nie of ek sou getrek het nie.

 

Maar dan lees ons die woorde wat hierdie hele reis betekenis gee in vers 4: “Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here…”  Abram neem die Here op Sy Woord.  En hy los alles sodat hy op hierdie avontuur saam met God kan gaan!

 

Jy sien ouens, om saam met God te stap is ’n avontuur.  En dit vra die meeste van die kere eenvoudig gehoorsaamheid en vertroue.  Want jy sien, as jy saam met God loop, kry jy nie altyd uitgewerkte reisplanne en eind koördinate nie.  Dis nie hoe God werk nie!  Hy sê Noag moet bou, terwyl daar nog nie ‘n druppel water geval het nie.  Abram moet trek sonder ‘n reisplan.  Moses moet ‘n volk vir 40 jaar deur ‘n woestyn lei!  Maar die bestemming was nie vir die Here belangriker as die 40 jaar wat Hy gehad het om Sy volk te vorm nie!  Vir die Here gaan dit nie net oor die eindbetemming nie, maar oor die reis oppad na die bestemming.  Jy sien, die Here neem mense op reis, en terwyl ons saam met Hom loop leer Hy ons, vorm Hy ons, laat Hy ons groei en leer Hy ons om Hom te vertrou – elke treetjie van ons lewe.

 

So sit jy dalk vanaand hier met ‘n klomp onsekerheid en vrae in jou lewe.  Goed wat jy nie verstaan nie, wat jy nie weet waarom God dit nie antwoord of uitsorteer nie.  Miskien is die reisplan van jou lewe deurmekaar of onseker as gevolg van jou verhoudinge of jou swottings of jou werk of sommer net die toekoms en waarheen jy oppad is.  En ek weet, om nie te weet nie, maak ons bang.  Ons wil koördinate intik en die uitgewerkte reisplan bestudeer voor ons loop.  Maar die dag toe jy by God ingehaak het, het jou geloofsavontuur begin.

 

Een ding van hierdie geloofsavontuur wat ek weet, is dat alles nie altyd seepglad en sonder probleme verloop nie.  Dit is dikwels ’n reis van val en opstaan.  Partykeer kry ons seer, ander kere word ons bang en twyfel ons oor God en waarheen ons oppad is.  Op hierdie avontuur maak ons foute waaroor ons spyt en skaam is en wat ons weer moet gaan regmaak.  Partykeer raak ons selfs die pad byster, draai ons verkeerd af of beland ons in doodloopstrate soos die verlore seun.  Jy sien, die lewe werk nie so dat ons bestemmings intik en sonder enige uitdagings arriveer nie.  Hoekom dan nie?  Want dan mis ons ’n reis saam met God!  ’n Geestelike avontuur waarin Hy jou ongelooflik baie wil leer.  Nie net oor die eindbestemming nie, maar oor die reis saam met Hom.

 

Slot:

 

Moenie moedeloos raak as jy nog nie by jou bestemming is of nog nie jou antwoord het nie, want God is met jou oppad.  Bly naby aan Hom.  Luister na Sy stem.  Laat sy Woord die lig, die GPS op jou pad moet wees.  En wees gehoorsaam as Hy wys waar jy moet afdraai.

 

Op hierdie reis saam met God sal alles nie altyd voorspoedig wees nie, maar die Here beloof hier dat Abram seën sal ervaar.  Ons het dit verlede week gehoor.  Ek sal jou seën.  En Ek sal seën wie jou seën.  En Ek sal jou tot seën vir ander maak.  Seën beteken om onder God se sorg lewensvervulling te bereik.  Met ander woorde om te wees dit wat God wil hê jy moet wees, dan is jy geseënd en gelukkig.

 

Jy sien, dit is hoekom ons reisigers is.  Ons is reisigers, sodat God ons kan seën.  Sodat Hy van ons kan maak wat Hy wil hê ons moet wees.  En sodat ons kan uitkom waar hy wil hê ons moet uitkom.  Dan is ons geseënd!

 

Live is a journey, enjoy the ride.  Om in die geloof te loop gaan oor veel meer as net die eindbestemming.  Dit gaan oor die avontuur om saam met ’n wonderlike God te stap.  Geniet die reis saam met Hom.  En op hierdie reis sal Hy jou seën.  Amen