LeeuhartDie volgende verhaaltjie illustreer vir ons iets van wat gelowiges nodig het in ons dag – miskien meer as ooit in die geskiedenis:

Die towenaar sien toe een aand teen skemer ’n klein muisie groot-oog in die hoek van sy woonkamer by die kaggel sit – bewend en doodbang.

Die towenaar se sagte hart het die ou muisie so jammer gekry dat hy besluit om iets daaraan te doen:

“Muisie, jy is tog so bang vir alles.  Ek dink dit sal goed wees as ek vir jou die hart van ’n kat gee.”

En Poef…! daar toor hy hom as ’n kat.

Maar, vind hy toe uit, die kat is vreeslik bang vir ’n hond.

“Kaatjie, ek gaan jou dan maar toor as ’n hond.”

En Poef…! daar toor hy hom as ’n hond.

 

Maar, vind hy toe uit, die hond is vreeslik bang vir wilde diere.

“Hondjie, ek gaan jou dan maar toor as ’n leeu.”

Poef!

 

En hy hoop toe dat hy nou uiteindelik iets getoor het wat vir niks bang hoef te wees nie.

Maar, vind hy toe uit, ‘n leeu is vreeslik bang vir mense met gewere.

 

En moedeloos sê die towenaar:

“Ag nee! Dit sal nou nie deug om vir jou die hart van ’n mens te gee nie,

want hulle is bang vir vreeslik baie dinge!”

 

Sien, die towenaar het wel ’n plan gehad, maar dit het nie so goed gewerk nie.

Wat hy wel verstaan het, is dat ’n bang diertjie ’n groter hart moet kry.

 

Net so moet ons in ons banghartigheid ’n vreeslose hart kry.

Ons wat so bang is vir duisende dinge – realisties en onrealisties.

En 90% van alles wat ons vrees word in elk geval nie bewaarheid nie.

Maar steeds kan die 10% vir ons katastrofies wees en daarom is dit nodig dat ons met ons vreesagtigheid gehelp moet word.

 

Anders gaan ons ook maar soos die ou klein muisie versteen bly sit in ‘n hoekie van die lewe.

En dan kan ons nie doen waartoe die Here ons roep nie!

Dan kan ons bv. nie deel wees van ’n gemeente wat sentrum moet wees vir diens nie.

Dan kan ons nie (soos dit by die Teologiese Dag genoem is) ’n baken van hoop in die wêreld wees nie.

Dit gaan nie deug om met ’n muishart te sit en bewe nie.

Jy en ek het ’n leeu-hart nodig!

 

As Paulus met die gelowiges in Kolosse praat, dan is bemoediging by hom ’n baie sterk aksent.

Hy sê bv waarom hy hom so afsloof vir hulle:

 Kol 2:2  “My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.”

 

Hy wil dus hê dat hulle moet moed skep.

Hul muisharte moet vervang word.

En in hierdie proses het dit ook te make met liefde en die beter leer ken van die Here in Christus Jesus.

 

Vir ons wat in die kerklike tyd van Epifanie vra hoe moet ons nou as volgelinge van die Kersfees-Christus gaan leef, wil die Here vanoggend sê:

“Skep moed!  Ek gee vir jou ’n leeuhart!

…. wat nie bang is vir allerlei spookstories en bedreigings nie.

 

2 Kon 6:

Hierdie ou bediendetjie van Elisa skrik hom toe daardie oggend in ’n spasma in!

 

Skielik sien hy daardie oggend met sonsopkoms dat hulle omsingel is deur ’n magtige Aramese leër.

Hulle is agter die profeet Elisa se bloed aan want hy verklap al die militêre geheime van die Aramese leër aan die koning van Israel.

 

Nou word die hele magtige leër gestuur om die enkele profeetjie te kom vang.

Dit is soos om ’n muggie met ‘n 10-pond voorhamer dood te slaan.

 

Die bediende raak heeltemal histeries as hy die oorweldigende moeilikheid rondom hom raaksien:

“Ag meneer, wat gaan ons nou maak!”

 

Ek self ken hierdie taal van die muis!

Ons raak so maklik oorweldig deur die uitdagings en die vrese!

Molshope word Drakensberge

… en die vrees verlam ons.

 

Die profeet Elisa ken egter vir God.

En hy ken ’n kant van God wat ons so maklik uit die oog verloor.

 

Dan vra hy: “Here maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”

”Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.”

 

Dit is die magtige teenwoordigheid van God.

God en sy hemelse leërskare.

Dit is die God wat toe ook die wonder doen om die hele Aramese leër met blindheid te slaan.

 

Sien dit is die God wat in Moses se tyd in die tent van ontmoeting kom woon het en daar het sy “magtige teenwoordigheid die tabernakel gevul (Eks 40:34).

Dit is die God wat Elisa en sy slafie red.

Dit is die God wat van water wyn kan maak (soos ons verlede week gesien het) en Hy kan die fees in die lewe terugsit.

Hy is die Een wat met sy magtige teenwoordigheid die klip voor die rotsgraf weggerol het.

 

Ja, Hy is die een wat deur sy Heilige Gees in ons harte kom werk het om van ons muisharte leeuharte te kom maak.

 

En dit is met die leeuhart wat Petrus in Hand 2 vir die hoëpriester sê:

“’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.”

 

Dit is met die leeuhart wat Stefanus die evangelie verkondig en dan, as hy half onder die klippe lê kan uitroep:

“Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”

 

Weet u, dit help nie ons vier daaroor fees dat die Here vir ons deur sy Gees ’n klomp gawes gegee het om mekaar en die kerk te dien, maar ons het muisharte nie.

Jy kan so bang wees jy raak moeg…

Jy kan so bang wees jy doen alles nie 100% nie….

Jy kan so bang wees dat jy nie die carisma het om die leiding te neem  en die ander saam te neem nie…

Jy kan so bang wees jy het nie genoeg liefde nie…

… of jy sal nie kan volhard nie.

 

Alles hang daarvan af hoe jy kyk!

Dit is om die onsienlike te sien!

Dit is om God in sy Immanuel-gestalte te sien.

 

En dit gee vir jou ’n leeu-hart!

Die Here het klaar vir jou ’n leeu-hart gegee!

Amen

Prediker:  Ds Retief Botha