Blom in vreemdeEk is baie bewus van ‘n negatiwiteit en besorgdheid wat skielik al sterker oor ons gemeenskap spoel.

Dit hou sterk verband met die morele en sosiaal-politieke situasie waarin ons ons bevind.

Drie dinge het waarskynlik hierdie gevoel ontketen: xenofobie, beurtkrag en die beeldestorm.

Hierdie dinge help ons nie juis om ons situasie meer positief en hoopvol te beleef nie.

Dit voel vir my of ons mense hul situasie hier in Suid-Afrika al meer beleef as ongeborge.

Na al die jare voel ons in Suid-Afrika vreemdelinge.

Dit voel of ons in ‘n ander land sit. En of ons nie meer welkom is hier nie.

Dit is nie meer “ons land” nie. Ons is toenemend onseker oor die toekoms.

Wanneer kom ons op die “vreemdelinge-lys” wat uitgewerk moet word?

 

Ek weet ek bewoord dit kras. Hopelik beleef jy dit nie so negatief nie.

En inderdaad het ons baie om voor dankbaar te wees. Ons het baie voorregte.

Miskien help die situasie ons ook om ons baie seëninge weer een-vir-een te tel.

Maar tog is dit hierdie tuistelose en vervreemde gevoel, hierdie frustrasies, waaroor ons mense om die vleisbraaivure praat.

En dit is oor hierdie situasie waaroor ek en God ‘n paar weke al met mekaar worstel.

Hoe moet ons onsself as gelowiges in hierdie konteks posisioneer?

Wat is God se plan met ons in Suid-Afrika?

Wat is ons roeping as geloofsmense wat pas met ons hele hart Paasfees gevier het?

 

Terug na Jer 29:

Ons ervarings het miskien ‘n klompie sterk parallelle met die Joodse gelowiges wat weggevoer is in ballingskap.

Eers bietjie agtergrond:

Jeremia se waarskuwings oor komende oordeel het toe vir Jerusalem waar geword.

Die Babiloniese magte het toe in 587 vC vir Jerusalem ingeneem met ‘n groot bloedbad.

Baie van die leiers en invloedrykes is weggevoer in ballingskap. Babilonië toe.

Daar het ‘n groot klomp Jode in Jerusalem agtergebly, waarvan Jeremia deel was.

Nou skryf Jeremia, of liewer sy skriba, ‘n pastorale brief vir die ballinge daar ver in Babilon.

En dit word met ‘n koninklike afvaardiging saamgestuur na die ballinge daar in die vreemde.

Hulle was totaal ontwortel. Polities, sosiaal, ekonomies.

In ‘n vreemde en vyandige wêreld.

En tog het hulle hulle nog gesteur aan God en sy profete, al was dit moeilik om te onderskei wie nog egte profete was wat God se stem getolk het.

(Gaan lees bietjie die vorige hoofstuk.)

Hulle wou graag glo dat God steeds leef en met goeie bedoelings by hulle betrokke is.

Daarom sou hulle die woord van Jer 29:11-14 baie positief ontvang:

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.  Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit.”

Hierdie is egter een van die Bybeltekste wat gereeld misbruik word.

“Ek weet wat ek vir julle beplan … voorspoed en nie teenspoed nie.”

Dit is die soort teks wat ons vir graduandi by ‘n gradeplegtigheid gee.

Geluk! Daar is vir jou ‘n toekoms, ou maat!

God staan agter jou.

Jy kan Hom vertrou dat Hy ‘n voorspoedsdroom vir jou het.

Eintlik kan niks nou in jou pad staan nie. 

Jy voel aan dat alles nie reg is nie?

En tog, hieraan mag ons nooit twyfel nie: God is ‘n God wat goeie dinge vir mense wil gee.

En tog was die Woord nie ‘n goedkoop belofte van “alles sal maanskyn en rose wees nie”.

Trouens, die brief vertel van 70 jaar wat sou moes verloop voordat die volk uit die ballingskap sou kon terugkeer.

Die oordeel oor die volk se ongehoorsaamheid sal eers in de ballingskap uitgedien moes word.

Nou wat se “voorspoed” en “toekoms” is dit?

Wie sou so lank kon wag? Sou hulle my met ‘n rolstoek terugstoot tot in Jerusalem?

Nou is dit belangrik dat ons hierdie belofte as ‘n kollektiewe belofte moet sien.

Dit beteken dat dit nie ‘n maanskyn-belofte van voorspoed vir enkelinge is nie.

Dit is ‘n belofte van hoop wat vertel van terugkeer, maar wat oor meer gaan as ‘n politieke herstel in ‘n vaderland.

Hierdie is ‘n kollektiewe belofte wat sy grootste vervulling in Christus Jesus gevind het:   Jesus se koms, sy sterwe, sy opstanding.

Is daar ‘n groter positiewe belofte van hoop, verwagting en ‘n toekoms as juis dit wat ons in die geestelike verhouding met Christus en sy nuutheid kan vind?

Luister na hierdie drie betekenisdraers:

“Voorspoed”, “toekoms”, “verwagting”.

Letterlik in die Hebreeus:

“Gedagtes van vrede … en ‘n hoopvolle toekoms.”

 “Vrede” is tog meer as ons materialistiese “voorspoed”.

Dit is in Christus dat ons ware en egte vrede vind.

Hy het die oordeel, liefdeloosheid en skuld kom wegneem.

Hy het die bindings van onvrede kom wegneem en vir ons ‘n diep geestelike vrede kom moontlik maak.

Dit is waarom ons elke Sondag as gelowiges kan feesvier.

Dit maak ook die deure oop na ‘n hoopvolle toekoms.

Dit is nie ‘n toekoms met politieke mag en baie geld nie.

Dit is ‘n toekoms waar ‘n mens weet en glo dat die Lewende Heer saam met jou op reis is. Dit is ‘n toekoms waar jy aktief besig kan wees om die roeping wat Hy vir jou het uit te leef.

Die grootste vervulling van ‘n hoopvolle toekoms sal dan gevind kan word in die versekering van ‘n eskatalogiese toekoms in die hemel by God en jou Verlosser.

Sien, hierdie is dus nie ‘n kortpad na ‘n politieke of materialistiese voorspoed nie.

Hier gaan dit om die Bybelse “vrede”, die Goddelike “sjalom“.

Dit is ‘n korporatiewe geestelike Kersfees en Paasfees en Pinksterfees ineen.

 

Maar dit neem ons nie uit ons konteks uit weg nie.

Ons konteks kan juis uitdagend en sonder sekuriteite wees.

Soos in SA.

Soos in Babilon.

En wat moes die ballinge daar in die vreemde doen?

Moes hulle begin staak en toi-toi? Of moes hulle ‘n militêre weerstandsbeweging begin?

Of moes hul mekaar opsweep onder die wilgerbome van Babilon?

Nee! Hulle is geroep om te midde van die ontwortelde situasie as gelowiges

Die lewe moet voortgaan.

Die lewe moet voortgaan – al sit jy ook in ‘n vreemde situasie.

Die lewe moet voortgaan want dit is ‘n geskenk van God.

En hierdie God sou jou nie sonder rede op hierdie plek geplaas het nie.

Daar is die mooi spreekwoord: “Blom waar jy geplant is.”

Jy het as plant nie altyd seggenskap oor waar jy geplant word nie.

Maar jy het ‘n roeping om te blom, en te bly blom!

Baie van ons kinders moet nou in die buiteland blom.

Luister mooi:

“Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.” (:6-8)

Dit is Arbeidsondag. Om huise te bou, om tuine aan te lê, is deel van die lewe. Dit is deel van die skeppingsopdrag. Doen jou werk. Maak jou omgewing leefvriendelik.

Jy en jou kinders moet daar leef.

Die opdrag om kinders in die wêreld te bring, is iets wat half spontaan gebeur (!), die grootmaak van die kinders is die harde werk.

Daar is die een besonderse opmerking vir my: “… bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.” (:6-8)

Vir die Jood om vir die goddelose en heidense stad Babilon te bid, was maar ‘n vreemde gedagte.

Maar as jy deel moes word van daardie gemeenskap, dan is die belange van daardie stad ook jou belange.

Dit is niks anders nie as om sout vir die aarde te wees.

Al voel jy bietjie vreemd in jou nuwe konteks.

Bloemfontein se belange is ook my belange.

Maar vir my kinders is Bath en Jeju se belange ook hulle belange.

Want dit is hul leefwêreld – al is dit ook net vir ‘n beperkte tyd.

En dit gaan nie net om die voordeel wat hulle direk of indirek daaruit moet kry nie.

Dit gaan daaroor dat die Koninkryk van God in daardie gemeenskap moet deurbreek – juis vanweë die feit dat God se kinders daar is.

En hulle verstaan hopelik die belange van die Koninkryk van God beter as die ongelowiges.

Ek lees Donderdag met ‘n skok die koerant se hoofberig oor ds Gert Terblanche se seun wat in die fratsongeluk op die plaas in die VSA dood is.

Wat my tref terwyl ek besig is om oor hierdie Skrifwoord se toepassing te dink, is die opmerking van die Amerikaanse boer vir wie hy gewerk het:

” … ek het lanklaas so ‘n toegewyde mens gesien wat so goed met die ander personeel klaargekom het. Hy het nooit gekla oor die werk nie en alles vir die opbou van die plaas gedoen.”

Dit is ‘n outjie in die vreemde. Dit was nie eers sy land nie. Soos baie kinders kon hy ook net gegaan het om ‘n paar dollars bymekaar te maak.

Maar skynbaar was hy met meer besig as net vir homself te werk en te leef.

Suid-Afrika en Bloemfontein het ook nodig dat ons deel sal wees van die opbou van die land.

Al voel ons vreemdelinge.

Al voel ons half dat dit nie meer ons land is nie.

As die Jode hul moes beywer vir die belange van Babilon en vir sy belange moes bid, hoeveel te meer nie ons hier in Suid-Afrika nie.

Ek sluit:

Die vraag is nie of ons moedeloos raak met die land en alles wat hier gebeur nie?

Die vraag is of ons met die hoop en die vrede wat Christus gebring het, ‘n nuwe toekoms vir die land kan help skep?

Die manier waarop ek en jy ons werk doen, die manier waarop ons tussen ander mense optree, die toewyding waarmee ons blom te midde van ‘n sterk woestynlandskap waarin ons geplant is, dit is wat God van ons verwag word.

Dit is juis in ‘n woestynlandskap wat ‘n blom mense verwonderd sal laat staan.

En dit is in hierdie situasie dat mense sal ontdek dat dit juis die hoop van Jesus Christus is wat die verskil maak.

Amen.

 

 

 

Gebed:

Here, ons kom om U aan te roep, ons kom om tot u te kom bid.

Dankie dat Ugebede verhoor.  Ons vra na U wil ….n weet U sal volgens U belofte vir ons help om U wil te ken. Ons kom vra met ons hele hart daarna.

Dankie dat ons U so kan ontmoet.

Dankie dat u ons as’t ware terugstuur na ons eie leefwêreld – na SA en Bloemfontein.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Amen

 

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.

Dankoffers

Slotlied Lied Lied 527:1, 2 Die werk behoort aan u, ons Heer.

 

Seën

Respons: Vonnk 272:1, 2 “Heer, ons bid as reënboognasie”

 

Afkondigings:

Siek:       Oom Ronnie le Roux

Prof Ettienne Theron

Geen gemeente-ete volgende week.

Pastorale Spreekkamer: Dr Gert van Niekerk?

 

Pinkster voorbidding: 10 minute