Ons onthou dat die Evangelie geskryf is vir Joodse Christene wat later in die omgewing van Antiochië gewoon het in die Siriese streek noord van Israel.

OlyfpersDit was mense wat swaar gekry het en begin wonder het of hul geloof regtig die moeite werd is. Hulle het begin twyfel of hul hoegenaamd in die geloof staande sal kan bly te midde van die moeilike omstandighede waarin hul vasgevang was.

Die tema van navolging kry besonderse klem in die voorafgaande gedeelte van Mat 26.

Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: “ ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’

En ook later:“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”  Hier is dit dus weer die navolgingstema wat ter sprake kom.

Sou die dissipels bereid wees om Jesus te volg?

En sou hulle in staat wees daartoe?

En sou ek en jy vandag nog bereid en in staat wees om Jesus oral te volg?

In ons teks is Jesus op pad na Getsemane – ’n plek van wroeging en angs.

En ons eerste reaksie sou wees:

“Ek verkies om nie daar in Jesus se voetspore te volg nie.”

En tog moet ons noodwendig soms daardie Getsemane-pad loop.

Soms ook baie meer gereeld.

Jesus se opdrag was verder dat ons “ons kruis moet opneem en Hom moet volg”.

 

Die tuin van Getsemane:  Eintlik is dit nie ’n tuin nie.  Dit is ’n boord bome.  Olyfbome.

Olyfbome groei steeds vandag daar.

In Jesus se tyd was dit ’n besigheidsplek.  Dit is waar olyfolie vir die gemeenskap vervaardig is.  Die olyfbome dra die olywe wat ryk is aan olie vir huisgebruik.  Hulle word dan met ’n spesiale oliepers geprosesseer vir olie.

Hoe?

Die mense het die olywe gepluk en die olywe is dan in ’n sak met baie gate (soos ’n lemoensak) op ’n kliptafel geplaas.  Die tafel was ’n kliptafel met gleuwe wat die olie sou kanaliseer na die tregter waar dit in die kan sou drup.  Die pers het bestaan uit ’n swaar klip, so groot as moontlik wat dan op hierdie sak olywe geplaas is en met sy ontsettende gewig die olie uit die olywe gepers het. Vir etlike ure, dae.

Dit is geen toevalligheid dat Jesus se laaste aand juis in Getsemane deurgebring het nie.

Te verstane was die naderende kruis en marteling vir hom ’n verskrikking.

Daar in Getsemane,  met die simbool van die oliepers langs Hom, het Hy die angs en worsteling oor hierdie volgende tree baie intens ervaar.

Vers 37 sê Hy het “bedroef en geangs” geword.

Hy verklaar self ook vir sy dissipels dat Hy “doodsbenoud” is.

Lukas praat van sy angssweet wat soos bloeddruppels op die grond geval het.

Sedert hierdie gebeure het Getsemane vir ons simbool geword van intense lyding en angs.

En hoeveel Getsemanes is daar nie oor die wêreld heen nie?

Die Getsemanes is besig om die wêreld te oorgroei.

 

In die Karoo is daar ’n indringerplant wat ’n groot nagmerrie geword het.

Dit is die Prisopus doringboom, ‘n indringerplant.  Hy is baie gehard en vermenigvuldig baie vinnig – veral in die rivierlope.  Daar waar hy eers oorgeneem het, kan geen ander weidingsgewas groei nie.

So is die “Getsemanes” besig om oor die wêreld heen te vervuil. Dit is bykans ’n indringer-verskynsel, want dit was nie daar met die skepping nie.

Marikana menseslagting, Twin Towers van 9/11, Beslan in Rusland waar 1100 mense in 2004 as gyselaars aangehou is en dit eindig met die dood van 380 kinders.  Of in die hof omdat ‘n modelmeisie doodgeskiet is.   Of op ’n Interstate bus wat op Outeniquapas omslaan en 11 mense sterf.                                          (Sien die projeksies!)

Die vraag is: Na wie draai jy en wat doen jy as jy so in Getsemane beland?

Jesus leer ons:  Jy draai na God! Hy word ook hier aangespreek as “Vader”.

In jou grootste nood kan jy maar by God gaan aanklop en jou krag by hom put.

Interessant is dat Jesus ook sy vriende rondom hom soek in hierdie tyd.

En so kan ons ook vir mekaar baie beteken as ons in Getsemane land.

Lig hulle in en nooi hulle om naby jou te bly.

Welliswaar is Jesus maar redelik teleurgesteld omdat die dissipels nie saam met Hom kan waak en bid nie.

Maar juis hierin lê ook ’n groot stuk evangelie:

Juis wanneer ons nie kan nie, dan doen Jesus dit vir ons en in ons plek.

Dit is ook so met ons redding.

Hy doen dit vir ons en in ons plek.

 

Ons sê ons gaan na die Vader.

Wat doen ons daar?

Ons bid!

  Waarvoor bid mens in sulke tyd?

Sien: Onder druk doen jy soms vreemde desperate dinge.

 

Die derde saak waarvoor ons in Getsemane bid is dat die Vader se wil sal geskied.

Ons kry in die verhaal van Getsemane ’n interessante beweging.  Dit is iets van ’n groeiproses.

Jesus gaan bid drie maal.  Sy gebed verander vanaf die eerste keer:

In die eerste gebed bid Hy:

“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.

Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Die tweede gebed (en ook die derde) is:

“My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

 

In die eerste gebed onderhandel Hy nog oor die opsies.

In die tweede gebed is daar ’n aanvaarding van “Nou goed, ek weet nou dit kan nie anders nie, daarom vra ek: Laat U wil dan geskied!”

 

En ’n derde gebed met dieselfde inhoud. Daar kom blykbaar vrede!

Dit is dieselfde as die gebed van die Ons Vader:  “Laat U Koninkryk kom en laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde.”

 

Nou vir die derde vraag:

Waarheen gaan ons vanaf ons Getsemanes?

Wel, dit is ’n moeilike een. Want die lewe is moeilik.

Jesus se weg lei van Getsemane se angs en wroeging na Golgota se lyding.

Partykeer is ons angs en wroeging nie die einde van die moeilike pad nie.

Soms is dit maar net die bruggie na die dieper lyding.

Josef se angs stop nie toe hy valslik deur ’n koningin aangekla word nie.  Hy eindig in die tronk.

Abraham se angs stop nie by ’n opdrag om sy kind te offer nie, maar hy moet meer as drie dae lank met hierdie wroeging loop tot by Moria.

Paulus se angs stop nie by die Damaskuspad en die donker blindheid daarna nie.

In sy briewe maak hy naderhand ’n lys met syfers van hoeveel keer hy gestenig is,

skipbreuk gely het, lyfstraf gekry het….

Getsemane se emosionele angs is dikwels nie die einde van die lyding nie.

En nou moet ons geen oomblik dink dat ons angs en lyding met die van Jesus vergelyk kan word nie.  Die angs en nood van Getsemane en die kruis is uniek.

Dit is meer as wat ons ons ooit kan voorstel, want die las van die hele mensdom se sonde druk op daardie Olyf en daardie Verlosser.

Afsluiting:

Gelukkig hoef ons nie desperaat te bly lê in ons Getsemane nie:

Want ons weet van die oop graf.

Ons onthou ook Jesus se laaste opmerkings:  “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde  …. en onthou, ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Ons hoef ook nie heeltemal desperaat en kleingelowig te raak nie, want God het ook sy Heilige Gees in ons gegee.

Dit vul ons “met krag, en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:7).

En dit laat ons nie paniekerig in die bebosde Getsemanes nie.

Amen