André Oosthuizen : andrej@webafrica.org.za

Picture1Ons hou daarvan om van mense sondebokke te maak.  Trouens, ons leef in ’n samelewing van sondebokke.  Ons word groot gemaak met die gedagte van sondebokke.  In my huis byvoorbeeld, as een van die kinders seerkry,  is een van die eerste reaksies altyd om te vra, wie van julle het hom seer gemaak?  So asof die identifisering van die skuldige party iets beter gaan maak aan die slagoffer se pyn en lyding! 

Jy sien, sondebokke laat ons beter voel oor onsself.  Dit laat ons voel daar is darem ander mense met groter foute en sonde as ek het.  Op ’n vreemde en slegte manier is dit lekker om te lees van sondebokke wat uitgevang en uitgelewer is.  Mense koop die skindernuus oor sondebokke.  Ons hou daarvan om sondebokke te soek.

Een van die bekendste sondebokke in die Paasfeesverhaal is natuurlik Judas Iskariot.  In die volksmond, die kerk oor die eeue heen, is Judas die ou wat heel waarskynlik by ons elkeen negatiewe gedagtes ontlok.  As jy aan Judas dink, dink jy waarskynlik aan die verraaier wat Jesus laat dood maak het en vir wie geld belangriker as sy verlossing was.  Judas is van die duiwel en brand seker vandag in die hel.  Trouens, 3 van die 4 Evangelies laat dit inderdaad klink of daar geen twyfel is dat Judas verlore is nie.

Maar voor ek aangaan, kom ek maak net ’n kantaantekening.  Reeds in die Ou Testament is daar voorspel dat iemand Jesus gaan moet verraai.  Die feit dat Jesus verraai moes word is belangrik in die verlossingsverhaal.  Hoekom?  Omdat Jesus niks verkeerds gedoen het nie.  Hy was onskuldig, sonder sonde!  En daarom moes iemand Jesus verraai om Hom uiteindelik dood te maak.  So, hoe vreemd, onverklaarbaar en onverstaanbaar dit is, daar moes ’n Judas in Jesus se storie gewees het, sodat ons verlos kon word.

Die vraag is net: Wat maak ons met Judas?  Hoe kyk ons na Judas?  Hoe kyk Jesus na Judas en… is daar dalk ’n ander kant aan die Judas storie?  Matteus 27 vertel ’n ander kant van Judas.

Skriflesing: Matteus 27:3-10

Opvallend vir my is die ooreenkoms tussen Petrus se verloëning en Judas se verraaiing van Jesus.

Kyk, ons het baie begrip vir Petrus.  Hy was die ou wat dikwels oorhaastig opgetree het, goed gedoen het sonder om mooi daaroor te dink.  Hy kap ore af en doen goed wat hy na die tyd oor spyt is.  En toe Petrus daar langs die vuur Jesus 3 keer verloën was hy na die tyd spyt daaroor.  Ons lees in 26:75: “En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.”  Hy het berou gehad, hy was jammer oor wat hy gedoen het.  En miskien daarom het ons simpatie met die ou.    Hy het droog gemaak, maar hy het dit erken en was jammer daaroor.

Maar wat van Judas?  Drie verse na Petrus se spyt en hartseer lees ons: “Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry.  Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: “Ek het gesondig.  Ek het ’n onskuldige man verraai.”  Judas was ook spyt!

En die woord wat vir spyt hier gebruik word beteken letterlik om jammer of hartseer te wees oor wat jy gedoen het, of “to change your mind”.  En die feit dat Judas regtig jammer was oor wat hy aangevang het, word ondersteun deur die simboliese betekenis daarvan om die geld terug te gee.  Jy sien, in die Bybelse tyd, wanneer jy ’n transaksie ongedaan probeer maak, soos wanneer jy iets wou terugkoop – soos ’n huis – maar die oorsponklike koper weier, het jy die terugkoopsom in die tempel gaan gooi met die hoop dat die koper tog later die geld sou vat.  Wat doen Judas?  Judas gooi die geld in die tempel om daardeur te probeer om die verraadtransaksie met die Joodse owerhede te kanselleer.  Judas wou die ooreenkoms ongedaan maak, maar dit het nie gewerk nie, want hulle toon geen simpatie met sy wroeging nie (vers 4).  En daar staan Judas by die tempel, hy kan nie ongedaan maak wat hy gedoen het nie, hy kan nie na Jesus toe gaan en jammer sê nie.  Matteus sê hy het homself gaan ophang.

Dit is so anders as Petrus!  Na Jesus se opstanding hou Jesus die versoeningsbraai en wie word eerste uitgenooi?  Petrus!  En Jesus sê daardeur dat Petrus vergewe is en dat die kruisdood en opstanding van Jesus vir hom nuwe lewe bring.  Ek begin oor Petrus – ook met jou!

Nou die vraag waaroor ek die hele week mee loop en wat die Bybel nie vir ons antwoorde op gee nie is, maar wat Matteus ons met ’n oop einde los is: as Judas nog gelewe het na die Here Jesus se opstanding, sou Jesus vir Judas genooi het na die visbraai toe?

Maar uit hierdie vrae wil ek 2 perspektiewe op Judas uit die Woord met julle dee deel vanmôre.  Twee perspektiewe waaroor jy asb. verder oor moet gaan dink.

  1. Deur die oë van Jesus

Opvallend vir my in die hele Judas verhaal is die sagte manier hoe Jesus met Judas omgaan.  Toe Jesus vroeër vertel dat iemand Hom gaan verraai, was die dissipels se eerste reaksie wat?… om die sondebok te soek.  Wie is dit?  Watter een van ons?

Wat doen Jesus?  Hy verneder nie vir Judas nie.  Hy laat hom nie opstaan tussen die ander en jaag hom uit nie.  Nee, hy steek sy hand na Judas toe uit.  Half subtiel, sagkuns.  Die een wat sy hand saam met my in die bak sit.  Dit is soos ons Jesus leer ken het.  Dit is Sy manier hoe Hy met sondaars omgaan.  Hy gooi nie klippe nie, Hy verneder nie, Hy maak nie mense in die openbaar tot skande nie.

Trouens, dit is hoekom Hy soos ’n sondaar in die openbaar verneder is aan ’n houtkruis.  Hy word verneder, sodat sonde ons nie hoef te verneder nie.  Jesus handel steeds liefdevol, met deernis en waardigheid teenoor Judas.  Dit is soos Hy met my en jou ook maak.

  1. Deur die oë van die dissipels

Opvallend dat ons nie weer van Judas saam met die ander dissipels lees nie.  Johannes sê hy het uitgegaan na die ete en dit was nag.  Dit was letterlik en figuurlik nag vir Judas.  Ek dink Judas wat bitterlik alleen, want jy sien hy is uitgeskuif uit die geloofsgemeenskap.  Hy was nie meer deel van die dissipelkring nie.  En waar het dit hom gelos?  Hy kon nie vergifnis by Jesus kry nie want Jesus is weggeneem om gekruisig te word, en ook nie ondersteuning by sy ander geloofsvriende nie.  Hulle het die sondebok uitgeskuif.  En hierdie eensaamheid glo ek, het hom sekerlik oorweldig.

En dit het my laat wonder hoe ons na mekaar kyk en hoe ons mekaar as gelowiges vashou.  Hoe hanteer en behandel ons ander mense wat foute maak en sonde doen?  Ja, ons lewe in ’n wêreld opsoek na sondebokke.  En in die proses skuif ons mense uit,  ignoreer ons mense,  beskinder ons mense, blameer ons mense, spot ons mense.  En dit los ook ’n klomp mense vanmôre alleen met sonde-wroegings wat hulle ook nie weet wat om mee te maak nie.  Mense wat nie vanmôre hier wil kom sit nie, skaam, verneder, alleen.  (Ondersoekkommissie)

Ja, geld was Judas se groot swakheid en hy het Jesus verraai.  Maar wie van ons kan vinger wys na Judas sonder dat ons nie ook gekonfronteer word met ons eie verraad en verloëning van Jesus nie?

Jy sien, so kom leer Judas my toe dat ons nie een beter is as ‘n ander nie.  Ons is op die ou einde almal mense wat Jesus daagliks teleurstel.  Ons almal het genade nodig.  Ons almal het vergifnis nodig.  Ons almal het ’n geloofsgemeenskap nodig wat mekaar in ons swakheid vashou en ondersteun.

Dank die Here dat ons na Paasfees vir Jesus het om na toe te gaan.  Dank die Here dat ons kan gaan jammer sê en dat Hy sonde en foute ongedaan kan maak.  Maar mag ons so ’n gemeenskap wees, ’n sentrum van heling wees wat nie sondebokke die wildernis in jaag en vereensaam nie, maar wat in liefde teregwys, ondersteun en vashou.

Miskien leer Judas ons juis om nie sondebokke te soek nie, maar met dankbaarheid teenoor God en mekaar te leef.  Dankbaar dat God ter wille van my vir Jesus die grootste sondebok gemaak het.  Amen.