Ons is nie altyd so ingestel op die ontwikkelings in die geskiedenis nie.

Maar die Renaissance ontwikkelings in die 13e tot 17de eeu, beginnende in Italië, was ’n ongelooflike ontwikkeling in die kuns en kulturele wêreld.

Moses glansDie Renaissance (“Verligting”) het Europa uit die stagnasie van die “donker” Middeleeue geruk.

Ons sou op kunsgebied kon sê dat drie-dimensionaliteit en volmaaktheid ontdek en uitgebeeld is.

Een van die grootste kunstenaars van daardie tyd was Michelangelo.

Sy kunswerke (veral sy marmerkuns) sal vir altyd as die grootstes in die geskiedenis erkenning kry.

 

Hier dink  ons aan kunswerke soos die Dawidbeeld en die Pieta.

Die een is ’n verering van die wonder van die fisiologie, die ander van emosie en empatie.  Vir Michelangelo om mensbeelde volmaak uit te beeld het hy vergunning gekry om in die plaaslike  mediese skool lyke (“kadawers”) te gaan bestudeer om te sien hoe die spiere presies geplaas is.

Maar dan is daar een besondere werk wat relevansie het vir ons teksgedeelte vandag.

Dit is die Mosesbeeld….!

Hierdie werk is geskep in opdrag van Pous Julius II.  Michelangelo skep hierdie beeld in die jare 1513-1515 en dit staan meer as twee meter hoog.

’n Ongelooflike beeld  van Moses met ’n massiewe baard “amper asof die staalbeitel ’n sagte borsel geword het”, skryf een kommentator.  Die regterarm rus op die twee kliptafels van die wet wat hy beskerm.   Die linkerarm met bultende are word as’t ware teruggehou van ’n aggressiewe handeling.

Die gesig is helder en glansend soos die van ’n heilige wat eintlik ’n sluier nodig het.

Wat egter vir ons opval is die twee horings van die figuur.

Waar kom die horinkies nou vandaan?

Dit is vreeslik interessant:  Dit kom uit die Bybel.  Dit kom uit die teks wat ons gelees het in Eks 34:29.   Maar ons teks lees:

 

Toe hy van Sinaiberg af gaan met die twee plat klippe in sy hand, die klippe waarop die getuienis was, was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie.

 Die Hebreeuse woorde keren en karan  (horings /blink) is baie naby aan mekaaar.

Toe Hieronimus die Hebreeuse Bybel in Latyn vertaal het, het hy hierdie woord קָרַ֛ן met “horings” vertaal in plaas van “blink” of “glans”.

En ’n glans wat uitstraal en horings wat uitsteek is ook nie so ver van mekaar nie

Dit is trouens dieselfde woordstam.

Maar dit het gemaak dat Moses toe horinkies op die Michelangelo-beeld gekry het.

 

Die saak waarop ons egter fyn moet let is juis die glans op Moses se gesig toe hy van daardie berg Sinai af kom.

Vir 40 dae is hy daar in die teenwoordigheid van die Here.

Die heerlikheid, die glans en die heiligheid van God, smeer as’t ware aan sy gelaat af.

Nog altyd is God se heerlikheid en majesteit voorgestel asof dit ’n helder lig of ligglans is.

Wat alles nou daar op Sinai-berg gebeur het in 40 dae is baie van ’n misterie.

Maar ten diepste is dit ’n Godsverskyning, ’n teofanie waar God hom openbaar  – selfs in woorde daar op die berg.

Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.” (:6, 7)

God bely en verduidelik sy karakter:

Sy liefde en genade, maar ook sy regverdigheid en heiligheid.

Die een kant van Sy karakter koester die sondaar, die ander kant veroordeel die sonde.

Dit is na hierdie God se ongelooflike teenwoordigheid dat Moses uitgenooi word….

ingenooi word … opgenooi word.

En so vertoef hy daar by God vir 40 dae (daar is nie eers tyd en behoefte aan eet nie).

Onwetend is hy besig om verander te word. Die grootste verandering is sekerlik geestelik innerlik.

Trouens, kommentatore sê hy was al klaar verander voordat hy die berg opgaan.

Hoe anders sou hy so passievol kon pleit dat die Here tog met hierdie hardkoppige volk moet saam trek?

 

Deur die braambos-gebeure en sy gereelde omgang met die Here by die tent van ontmoeting het hy al meer van God leer ken.

En in die proses het die Here sy hart en denke begin verander.

Sy vurige passie vir die heiligheid van God kom uit sy teenwoordigheid in die

heiligheid van God.

 

Maar blykbaar is hy nie eers bewus van die feit dat hy ook uiterlik anders lyk daarin dat sy gesig begin blink het nie.

Dit maak dat die volk vir hom bang is.  Trouens daar is ’n heilige ontsag vir hom.

Dit maak dat die opstandige volk ook luister na hom as hy God se gebooie vir hulle bring.

Maar hulle versoek hom om sy gesig met ’n sluier toe te maak as hy met hulle praat.

En as hy weer na God toe gaan dan haal hy die sluier af om met ’n oop gesig by God te wees.  By herhaling. En telkens blink sy gesig as hy van God af terugkom.

 

Ten diepste word jy as kind van die Here vandag ingeroep/opgeroep tot God se teenwoordigheid.  Dit is waar jy God leer ken.

Maar juis dit is waar God jou verander.  Innerlik en selfs uiterlik.

 

Later neem Paulus hierdie beeld oor in die NT as hy praat oor die werk van die Heilige Gees wat ons transformeer.

In 2 Kor 3:

Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” “Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

 Hierdie “verander”  is die woordjie “metamorfose”, ’n wesensverandering.

Ja, die Here is vir jou lief net soos jy is, maar Hy is vir jou te lief om jou te los soos jy is.

Hy moet jou verander.

Hy moet wegneem wat nie pas by Sy heiligheid nie.

Hy moet oorplant wat deel is van Sy wese.

Dit is wat die Heilige Gees besig is om ook in hierdie oomblikke van ontmoeting met Hom te doen.

Dit, presies is heiligmaking.

Al minder van die “ek”, al meer van God.

Ds Andre sê dit werk soos met ’n selfoon wat met sy laaier elke dag gelaai moet word.

Sonder die daaglikse inprop op die krag, raak die ou batterytjie al papper en gaan die liggie op die skerm dood.  Dan moet hy weer gelaai word.  Dan skyn die liggie en dan gebeur daar al meer goed in die telefoontjie en deur die telefoontjie.

God nooi jou in.  Nee, God nooi jou op na Sy teenwoordigheid,

sodat jy daar gelaai kan word.

 

Nou sou ons kon vra: Nou waarom was hierdie nodig?

Was die “demonstrasie” regtig nodig?

 

Dit was wel instrumenteel omdat Moses ’n groot roeping gehad het.

Hy moes hierdie volk priesterlik en profeties teruglei na God.

Die voorafgaande hoofstukke het vertel hoe Moses die eerste keer die twee kliptafels die berg af dra – net om te vind die volk is besig om rondom ’n goue kalf te dans!!!

Hy het die kliptafels woedend stukkend gegooi!

Dit is simbool van die verbond wat eintlik klaar verbreek is.

Toe moet hy by God pleit dat God tog, ten spyte van hul ondankbare afvalligheid, verder saam met hulle moet trek.

Uiteindelik stem God in.

Maar nou moet die verbreekte ooreenkoms weer geteken word tussen die twee partye.

En die “prokureur” wat die die kontrak vir die volk moet kom voorlê is Moses.

 

Ons het in Eks 2 gelees dat, by sy geboorte probeer Farao al die seuns ombring deur hulle in die Nyl te gooi. Maar sy ma het gesien dat hy “mooi” was, Heb toof.

Dit is dieselfde woord by die skepping wat sê dat alles wat God geskep het “Goed” was.

Moses was dus die regte man / God se goeie keuse om die volk te lei en by herhaling die verbondsherstel te bewerk.

Hiervoor moes hy geloofwaardig wees.

Sonder sy glansende gelaat sou die volk hom heel moontlik nie ernstig opgeneem het nie.

 

(In 2 Kor 3:13 is daar die baie interessante sinspeling dat die ligglans op Moses se gesig besig was om te verdof.  Maar Moses hou die doek op dat die volk moes dink daar is steeds die ligglans.   So word sy status gehandhaaf.)

 

Ek en jy het geen ander roeping as Moses nie.

Ons is geroep om kontrakte tussen God en mense te beding.

Ons moet mense herinner aan die wonderlike genadige God wat saam met hulle op reis wil wees en vir hulle wil sorg – al die pad, selfs deur die woestyn.

Ons moet mense oproep om die pen op te neem en die verbondskontrak te teken.

Dit gaan nogal help as jou gesig blink.

Want dit sal die teken wees van ’n getekende kontrak tussen jou en Jahwe.

 

Die Here Jesus het Nuwe Testamenties iets van hierdie kontraksluitingsrol kom oorneem.  Want Hy is die Een wat self die versoening bring.  Hy is die Middelaar!

Hy word eintlik meer:   Self die versoening.

Hy is die kontrak tussen ons en God.

 

Maar Hy het klein prokureurtjies met blink gesigte nodig wat die ooreenkomste kan ronddra.

Dit is ek en jy.

 

Jesus het self gesê:

 “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Mat 5:16)

 

Maar, eintlik het ons geen lig in onsself nie.

Ons is soos die maan.

Ons het net weerkaatsde lig.

Sluit af:

Die Here roep jou op tot ’n daaglikse vertoef in sy teenwoordigheid.

Mettertyd gaan jou gesig ook begin blink.

Die wêreld rondom jou het hierdie glans nodig, want hulle weet nie veel van die Lig nie.

Die glans van jou gesig mag net vir iemand die leidraad wees na die Lig.

“Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Amen

 

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.